Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Inkopies in ‘n vitamienwinkel in Qazaqstan

Ek het so gestaan en wag by die een aptekie toe ‘n pakkie my aandag trek. Kollageen wat op die gesig geplak word. Ek het net daar gekoop, want my brein het half laat weet dat dit is wat my gesig nodig het.

Is sy nie slim nie?

Tuis gekom lees ek meer oor kollageen en moet ek agterkom dat die wat aangesmeer word nie eintlik waardevol is nie. Ek moet die goed inneem.

So lees ek ook dat ek dalk te min kollageen in my lyf het. En dat dit dalk die rede kan wees waarom my gesig se vel so sukkel wanneer die temperatuur onder vriespunt daal.

Op my wange is twee opgehewe kolle wat dringend aandag nodig het.

Nou waar sal ek kollageen kry in hierdie stad?

Ek onthou toe dat Mia vir my vertel het van ‘n vitamienwinkel in Öskemen waar die produkte Engelse name het. En ek op die bottels sal kan lees watter bestanddele dit het.

Wat ‘n genade!

Ek loop juis vroeër vandag deur die rakke van Arzan, my gunstelingwinkel vir kos en skoonmaakgoed en dink hoe ons die jaar gevorder het.

Ons was aanvanklik verlore tydens inkopies in winkels in ons stad.

Öskemen lê in die noordoostelike hoek van Qazaqstan, 1000 km noord van Almaty, die ou hoofstad en 1000 km oos van Astana, die nuwe hoofstad. In beide die hoofstede is daar wel mense wat Engels verstaan omdat die stede kosmopolitaans is.

In Öskemen is ons die uitsondering. Hier is baie min mense wat Engels magtig is. Wat Afrikaans betref, is ons een hand vol.

Alles maar alles in die winkels is in Russies of Qazaq geskryf. Op die blikkies en bottels en pakkies word alles vertel, ons verstaan net niks. En die verkoopsmense verstaan nie Engels nie. Ons het goed met groot moeite gekoop.

Ons moes by elke ding wat ons wil koop stilstaan, die vertaaltoep uithaal en vertaal om te sien wat ons koop. As ons besluit het ons weet wat dit is, het ons verskeie kere tuis gekom om te ontdek dat ons die verkeerde ding gekoop het.

Nou weet ons darem al hoe goed lyk. Het ons “brands” wat ons verkies.

Soos Fairy vir skottelgoedwasseep. Lyk amper soos my Suid-Afrikaanse gunsteling, Sunlight Liquid.

Maar wie sou nou die naam kies? Hier is geen feëtjies wat my skottelgoed was nie.

Sommige etikette is bekend. Soos Lays aartappelskyfies. En Nestlé sjokolade. En Arial wasgoedseep

Hmm, daar is eintlik baie, maar op die pakkies is nie net in Russies geskryf nie, maar ook in die Sirieliese alfabet.

En al kom die name ooreen, het hulle vergeet om te colour-code. Dan kry ons slegte verrassings.

Soos ek geskryf het, wat ‘n genade om ‘n winkel te ontdek waar ons in Engels op die etikette kan lees om die produk te koop.

Mia het gesê dat ek tussen die rakke van Ant, die naam van die winkel, kan rondloop en kyk wat ek wil koop. Maar, wat ‘n ander genade! Ek kon self op die rakke soek wat ek wil koop.

Hier is aptekers agter glas. En moet mens soos by outydse banke en huidige kassiere by sommige petrolstasies afbuk om deur glas met die vrou te praat.

En met foto’s en handgebare en die vertaaltoep verduidelik wat ons wil koop. Want hulle verstaan nie Engels nie.

Ek leer Russies, maar praat nie sommer nie. Dus is dit regtig moeilik om inkopies te doen. Dus is ek vanoggend opgewonde die strate in om die kollageen te gaan koop.

Om Ant te gaan soek. Vreemd nê? Mier. In Engels. Wonder wie die naam sou kies?

Mier soos vlytig? Of mier soos pyn in elke huis wanneer die reën moet kom, maar nog nie het nie. Ek het lanklaas so ‘n probleem gehad. Ek dink die agtste vloer is so bietjie bo hulle vuurmaakplek.

Punt is, ons stop toe om is toe by Ant in te wals. En voor ek in is, moes ek eers weer stop om ‘n foto van gevaarlike Öskemen te neem …

Kyk net hoe hang die ysswaarde bo die deur. ‘n Ongelukkige mens kan op die verkeerde tyd onderdeur stap. Om ‘n seer hou op die kop te kry. Van ‘n wapen wat smelt om die forensiese ouens te laat kopkrap oor waar die wapen nou is.

Ewenwel. Ons is opgewonde in die plekkie in.

Om gou afgeblaas te word.

Sy is vriendelik maar praat Russies. Ek verstaan haar nie. Sy kom help mens, ek wou self deur die rakke soek. En ek het nie eens daaraan gedink om die woord te vertaal nie.

Ek vra Kôlâgeen? Om so na as moontlik aan Russies te klink.

Sy het, wys sy met da-da-da, en vra iets in Russies.

Ek verstaan nie.

Sy beduie met frons na elke liggaamsdeel om vraag aan te dui:

Gesig? Of hare? Of skarniere van die lyf?

Genade, ja, ek het vergeet dat kollageen vir die alles nodig is. Is daar sowaar ‘n soort vir ‘n spesifieke area? Kan ek nie net een bottel vat en loop nie?

Ek beduie dat ek vir my gesigvel soek.

Sy loop om die rakke en kom met drie bottels goed aan. Vloeistof in die bottels. Beduie en manlief verstaan uit die handgebare dat ek die drie moet koop en meng om hare, vel en skarniere te dokter.

Ek gril by die gedagte van vloeistof, gaan dit nie oud word nie?

Ek hou ook nie van die meng gedagte nie. Waarom is dit dan nie in die eerste plek gemeng nie?

Volgens Google moet ek ‘n pilletjie kry.

Sy sien ek huiwer en sê: Hmmmm, Russia.

Sy het die produk nie vir my gewys nie. Verdwyn om ‘n rak. Gaan haal dit en die beskrywing is sowaar in Engels. Ek skud daaraan en vra of dit pilletjies is.

Sy verstaan nie. Ek vorm met duim en wysvinger ‘n sirkel en beduie insluk?

Njet, njet, njet, sê sy. Beduie daar is ‘n lepel in en beduie asof sy glas in haar hand het dat ek dit moet aanmaak. Met water.

Sjoe, goed, dankie, ek soek dit.

Nee, beduie sy. Chas. Wag ‘n bietjie. En weg is sy. Kom met drie ander terug, wys op elke etiket dat dit ‘n ander geur is.

Bessies klink goed, ek gril vir goed wat aangemaak word met water.

En as dit na lemoen ruik, trek my keel saam, my maag op ‘n knop en ek raak sommer paniekerig.

Jy sal verstaan as jy daardie medisyne moes drink wat ek twee jaar gelede moes drink om my maag skoon te maak om die kameras te sluk.

Ek sal daardie dikkerige goed nie sommer weer drink nie! Ruik soos lemoen en dan het dit die walglikste smaak as dit in jou mond kom. My keel wou elke sluk weer teruggee.

Word nou selfs naar van ander goed wat so ruik. Na lemoen. Dit is die walglikste goed wat ek nog moes drink. En toe hulle nonsens aanjaag, moes ek dit binne ‘n week vir die tweede keer drink.

Die gevolge is ook te onaangenaam om aan te dink.

En nou moet ek weer goed met water aanmaak.

Ons betaal en is daar weg.

Tuis gekom wil my hart dit nie proe nie. Maar manlief het betaal en moedig aan en ek moet gehoorsaam. Kan nie vir hom sê dat ek my opgril nie.

Ek maak toe maar een lepelvol aan. Dit lyk of dit dikkerig gaan word en ek voel die naarheid opstoot. Maar dan word dit nie nog dikker nie.

Dan gee ek die sprong en proe daaraan.

Heerlik. Net effens dik. Wonder of dit gaan werk?

So van werk gepraat. Die ander dag staan ek so in die apteek en wag om my beurt te kry om deur die glas te praat. Voor my en regs van my is medisynes in glasrakke uitgestal. Ek kan nie daaraan vat nie.

Ek staan en toets my Russiese kennis deur die name van die goed in my gedagtes te probeer uitspreek.

‘n Blou pakkie trek my aandag en ek lees виагра. As jy die alfabet ken, kan jy dit lees. Toe eers tref dit my wat ek lees: viagra!

En langsaan staan ‘n boksie met die naam Viagra wel in Engels.

Ek kyk verleë rond, vas in die oë van ‘n man wat gesien het waarvoor ek kyk.

En dus ook my veranderde gesigsuitdrukking verstaan toe ek besef wat ek so staan en aangaap het in die apteek.

Nou ja toe, soms moet mens vinniger besef wat jy lees! Dit is dalk iets wat jy nie so oop en bloot in ‘n apteek wil staan en bestudeer nie!

Toe neem ek maar ‘n foto van die rakke agter glas. Om die stoute boksie later uit te sonder om hier te vertel van ‘n ongemaklike oomblik in ‘n apteek.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Inkopies in ‘n vitamienwinkel in Qazaqstan

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.