Vir die eerste keer in ons lewe het ons ‘n landlord. Ons het woonstelle gehuur toe ons studente was, maar ek is nie seker hoe dit toe gewerk het nie. Het mens deur ‘n agent gewerk? Want die term was vir my tot baie onlangs onbekend. En nou het ons sommer binne ‘n kort tydperkie twee gehad.
Die eerste een was ‘n Rus. Hy was Engels magtig, sy vrou nie. Sy het my vreeslik aan ‘n Russiese ballerina herinner toe sy die huis met teatrale gebare vir ons gewys het. Om te verstaan hoe pragtig dit is en hoe baie plek daar was. Sy het vergeet om te noem dat die akoestiek swak is en dat mens elke mens bo jou hoor hardloop. Of dat die gebou nog in aanbou was nie, die geboordery het tot 11 uur in die nag aangehou. Ons sou ‘n Rus kon gaan aanval om te slaap, dus was dit beter om pad te gee. En die plek was baie ver uit die stad, ver van alles, 25 minute per taxi vanaf die naaste plek waar mens brood en melk kon koop. En ek het alles gesoek toe ek huis opsit in Qazaqstan. Gemmer, kaneel, meel, en nog baie meer. Ons het sy woonstel gou opgegee, en hy was baie kwaad. Ons het die deposito (R21 000) opgegee om sy argwaan gespaar te bly. Dit was makliker om die deposito te verloor in ‘n stad waar ons niemand geken het nie.
Die tweede een en sy vrou verstaan geen woord Engels of Afrikaans nie. En ons ken (nog nie) Russies nie. Aanvanklik het ons manlief se tolk gebruik om te kommunikeer. Veral toe ons die kontrak moes sluit. Maar Dimitri verkies dat ons direk met hom praat. Ons wonder nogal hoekom? En gebruik Google Translate as hy hier is om met ons te kommunikeer. Hy probeer sy woorde gebruik, sien dat ons ‘n blank slaan, gebruik Tak wat enige iets beteken van Ek verstaan jou nie tot Ek weet nie hoe om te verduidelik nie. Haal dan sy Google Translate uit en praat met ons in Russies en Google Translate praat met ons Engels.
En so kry ons baie reg. Hulle het verstaan dat ek geWhasApp het dat manlief die pyp agter die toilet, wat gelek het, reggemaak het. En dat manlief dit self reggemaak het. En ons het verstaan dat hulle die geld wil teruggee. Ons het verduidelik dat ons dit nie gaan vat nie, dit was goedkoop en manlief het ewe trots verduidelik dat hy ‘n handy man is. Maar ons kan ook nie alles self regmaak nie.
Gister het ons mekaar nie mooi verstaan nie en tog goed verstaan.
Ek het ‘ns WhatsApp gestuur met twee versoeke. Sal hulle asseblief gaas voor die een venster sit. Dit is op die oomblik baie warm hier, en regtig, ek wil nie daaroor kla nie. Dit het so pas begin warm word en die eerste sneeu begin in Oktober val. Die laastes eers teen die einde van April gesmelt. Ses maande se ysige koue klink erg. Oor die kortsondige hitte wil ek nie kla nie, oor die vlieë inkom wel. Daai spesie wat ek alla Langenhoven sitte wil noem. Ek sien hulle nooit vlieg, sien hulle sit. Net so min as wat ek Suid-Afrikaanse padmakers sien padmaak. Hulle staan mos altyd iewers, ons kan maar maande sukkel met ‘n halfgeboude pad. As ek net sien dat hulle werk sal dit my minder pla. Tweedens was ‘n kas in die tweede slaapkamer ‘n noodsaaklikheid. Vir lang jasse. Ek het foto geneem om te wys waar die kas kan pas. Net vir ingeval. Ons sukkel met een kas vir twee mense. Die jasse wat mens hier nodig het, is baie dik en vat baie plek! En manlief se klere moet alles gehang word, dus word myne gevou.
Ek het in Engels gevra en hy het in Engels geantwoord. Ek neem aan Google het vertaal. Die vertalings is nog nie goed nie.

Goed: Hulle sou betaal. En ek het darem verstaan dat hulle my gaan kom disturb en dat ek nie myself moet disturb nie. Wat die gaas betref, neem ek aan dat dit beteken dat die wind dit uitgewaai het. Dit is ‘n probleem, want ons woonstel is direk bokant ‘n deurgang tussen geboue. Waar ons en ander mense heel dag per voet en kar deurgaan na die hoofstraat toe. As so iets agt verdiepings ver val, kan dit skade aanrig. Aan mens en motor.
Later die dag vra hulle of hulle gou kan kom meet. En ek sê ja. Die volgende oomblik was ek disturbed …
Ons woonstelle het twee deure, ek is nog nie mooi seker waarom nie. So 20 cm uit mekaar. Uit hulle beduie as ‘n woonstel wel twee deure het, neem ek aan dat dit vir veiligheid is. ‘n Binneste ene. En ‘n buitenste ene.
Die vorige keer het ek my alie afgeskrik. Hy het reeds die buitenste een oopgesluit toe hy klop, dus het hy teen my gestaan toe ek die binneste een oopmaak en my hand wou uitsteek om die buitenste ene oop te sluit. Mens verwag mos nie ‘n mens tussen die twee deure nie. Hy was verbaas omdat ek skrik, het dan laat weet hy is op pad. Hy het nie gesê hy gee my twee sekondes om te reageer voor hy homself inlaat nie. Ek kon op die toilet gewees het! By gebrek aan woorde anders as Ti Grobie (jy is ongeskik) het ek maar stil gebly. Ek dink ook nie mens gebruik daai een vir ‘n landlord wat in jou huis inkom nie …
Die keer was ek reg. Die binneste deur half oop sodat ek die klop kan hoor. Vir ingeval ek doof is. En naby om oop te maak voor hy oopsluit. Toe ek weer hoor, draai die sleutel in die deur sonder ‘n klop. En stap hy en sy vrou met ‘n Zdrastwiesje binne. Ongenooid. Ek het maar omgedraai om vooruit te loop na waar die kas ingesit moet word. En agtergekom hulle staan nog by die deur. Ek sukkel nog met daardie ene, vreemdelinge wat hulle skoene by my voordeur uitskop.
Manlief nie, hy oefen elke middag as hy huis toe kom. My dragon is mooi geleer, gaan daarop aandring wanneer ons terug is. Huise bly regtig skoon. En ek moet natuurlik seker maak dat die vloere wel skoon is. Omdat mens elke dingetjie onder die kouse kan voel.
Hy en sy vrou het die plek gaan meet waar hulle die kas kan insit. Anders as wat ek voorgestel het. Sy het met haar hande malienkie (klein) beduie. En geglimlag. Sy gaan groot kas insit, beduie sy met haar hande. Ek wonder of dit die kamer nie baie kleiner gaan maak nie, maar berus daarby. Haar plek, sy kan besluit. Ek kry my sin.
Hulle stap deur die sitkamer terug en meet nie die venster vir die gaas nie. Ek beduie na die oop gat van die oop venster. Ons vensters maak op twee maniere oop, dit kan tilt (foto) om lug in te laat en dit is baie handig in die winter wanneer dit te warm in die huise word. Jou eie lugverkoeler, ysig. Dit kan ook gewoonweg oopmaak. Dit was baie warm en altwee vensters was gewoonweg oop om ‘n trek in die huis te kry.
Die een venster kan tilt (sien foto), die een sonder gaas. Die ander een nie. Hy beduie dat ek die venster sonder gaas moet tilt. Ek weet dit kan, ek soek gaas beduie ek by die ander venster wat gaas het. Hy sê Tak wat vir bykans enige situasie gebruik kan word. Om te sê jy het nie op die oomblik die regte woorde nie.
Ek loop na die ander venster, wys na die gaas. Loop terug na die een sonder gaas en wys daar is niks. Hulle sê да (ja), hulle verstaan, maar meet steeds nie. Stap verder na die voordeur toe. Om hulle skoene aan te trek. Ek is nie seker of die versoek nou toegestaan gaan word, soos per WhatsApp verstaan, of nie. Die gaas is seker maar spesifieke groottes?
Ek staan nog so en dink dat ek nie ‘n antwoord gekry het nie, toe draai sy om, wys na die gaaslose venster, hou haar arms soos V’s styf langs haar lyf en waai met haar hande soos ‘n voëltjie wat vlieg.
En ek is op daardie oomblik in ‘n vreemde land dankbaar oor die WhatsApp boodskap wat die konteks van hierdie handgebare verduidelik. Dit is darem nie ek wat kan gaan vlieg nie. Ook nie ek wat deur die venster gegooi gaan word om soos ‘n voëltjie te vlieg nie as ek weer oor die gaas verduidelik nie. Want dit sal ek moet kan doen as ek ‘n 8-verdiepingval wil oorleef.
Sy beduie dat die gaas gevlieg het, die winde se skuld, volgens die WhatsApp boodskappie. Ek word egter nie so maklik oortuig nie. Hoe kan die wind dit uitwaai? Wag tot hulle weg is, gaan staan op ons babastoepie en bekyk die raamwerk van die venster langs die stoepie. Daar is geen teken dat daar gaas was nie. Wys dit die middag vir my man en hy stem saam, die venster het nooit gaas gehad nie.
Gaan dit die keer gaas kry?
Hemel tog maar jy het omtrent al jou vaardighede nodig om verstaanbaar te wees. Ek het dit baie geniet om hierdie stuk te lees.
LikeLike
Dankie, hoor. Ek was maar bekommerd dat ek gaan vlieg
LikeLiked by 1 person
Wens ek nou ek kon bietjie daar by jou kom inloer en tee drink. Ek verwonder my aan julle uitdagings, hier doen jy mos net.
LikeLike
Dit is waar! Hier moet mens uitdagings oorkom
LikeLiked by 1 person
Ek het nou lekker geglimlag vir jou geselsies met jou landlord. My landlord verstaan blykbaar Engels baie goed, maar hy ly aan seletiewe geheueverlies. Dis hoekom ek met hom kommunikeer per e-pos en ek stuur elke boodskap aan al drie sy e-pos-adresse en sy WhatsApp. Soms antwoord hy.
LikeLike
Ja, nee, kyk. Daai is moeilik. Op skrif is die beste
LikeLiked by 1 person
Ek het hierdie nou geniet 😂😂😂 ja nee jy sal jou vlerke moet sprei as jy daar afgegooi word.
LikeLike
Ek sal moet kameel, ek sal goed moet kan vlieg …
LikeLiked by 1 person