Gepubliseer in Reisjoernaal

So, wat het ek nog nie in Qazaqstan probeer nie?

Ek het gister, op navraag van ons predikant in Suid-Afrika, ‘n brief aan ons gemeente in die RSA geskryf om hulle so bietjie oor die lewe hier in Qazaqstan in te lig. Soos altyd is daar mos na die tyd dinge waaraan mens dink, wat ook vertel kon word. Soos die dinge wat ons nog nie gedoen het nie.

Veral toe ek vanoggend in die supermarkie onder een van die geboue naby ons in is om brood te koop, en op die ingewing van die oomblik besluit om in die piepklein winkeltjie wat tussen die twee buitedeure van die groter winkel ingespasieer is, in te stap om nuwe sykouse te koop.

Hmm, ek het beslis nog nie hier probeer om sykouse te koop nie. Daar was ook nie tyd om tuis te probeer vasstel wat sykouse is en hoe ek vir my grootte vra nie. Dus moes ek weer op handgebare en Afrikaans of Engels staatmaak om te vra vir my grootte sykouse.

Noudat ek daaraan dink, dit is nie soos in die geval van babas nie, dit is eerder asof ons stomstreke speel …

Ek wys na die sykouse en sonder my bril op kan ek nie groottes lees nie. Maar dit maak mos ook nie saak nie, ek weet nie wat is klein, medium of groot in Russies nie. Dus wys ek na die sykouse en sy verstaan. Ek verduidelik met my hande en kop nie groot nie en sy verstaan. Ek wys klein en sy wys na my, sy verstaan, ek soek my grootte sykouse. Sy vat beige en ek wys na my rok, ek soek swart. Sy verstaan ek gaan nie weet wat dit kos nie en vat haar sakrekenaartjie om die getal te tik. Sjoe, dink ek, 800 tenges is darem duur vir die piepklein stukkie klere, maar ek het dit nodig. En wil nie verder gaan soek nie. Dus betaal ek en stap daar uit.

Buite lag ek lekker vir myself. Dit is een van die redes waarom ek nog nie hier probeer het om ‘n bra te koop nie. In die eerste plek het ek nog nie ‘n winkeltjie gesien waar ek kan gaan aanpas nie. En hierdie kledingstukkies kan nie sonder pas gekoop word nie. Tweedens, gaan dit moeiliker wees om te verduidelik watter grootte ek soek. En daar lag ek nog harder so in die straat toe ek aan een van die ou Afrikaanse flieks dink. Pappa Lap as ek reg onthou. In die fliek het die pappa mos so met sy hande grootte geskat en so met die gebolde hande na die naaldwerkster geloop om te verduidelik hoe groot die rokkie aan die bokant moet wees …

Noudat ek aan naaldwerk dink, ek het ook nog nie probeer om die nodige goed te koop om my eie klere te maak nie. Ek sien sommige van die goed wat ek nodig sal kry in die winkels, soos naaimasjiene. Nie te duur nie. Spoeletjies vir die gare. En so aan. En ek het al op die mark materiaal vir gordyne gesien. Wat ek nie hoef te maak nie, die woonstelle is tot met mooi gordyne toegerus! Waar mens materiaal vir klere kan koop, weet ek egter nie. Dit sal eers gesoek moet word.

Maar, die probleem kan dalk gouer opgelos word as wat ek dink omdat ek materiaal van die huis af kan bring. Dit lyk of ons gouer na die RSA sal gaan. Ons het beplan om September te gaan om daar te wees vir die kleinkinders se ouma en oupa dag. Soos sake nou staan, sal ons reeds vroeg in Julie moet gaan om uit ons huis uit te trek. Omdat ons ‘n aanbod daarop gekry het.

Ek het nogal uitgesien om September daar te wees. Nog elke jaar kyk ons hoe oumas en oupas van Namibië die prys kry vir die oupa en ouma wat die verste gereis het om daar te wees. Die jaar sou dit beslis ons wees. Nog nooit was iemand van die deel van die aarde daar nie.

En daar kan ons met ons woorde verduidelik hoe ver dit is. Net oor 10 000km. Dit is hoe ver ons van ons kleinkinders af is …. Dit is hoe ver ons sal reis as ons steeds September kan gaan om vir ons kleinkinders te gaan kuier by hulle kleuterskool.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “So, wat het ek nog nie in Qazaqstan probeer nie?

  1. Een van ons gereelde passasiers is ‘n man wat in Qazagstan werk en so elke drie maande huistoe kom vir drie weke. Hy het nog nie kleinkinders nie, maar elke keer as hy sy vrou en dogter groet is die hartseer erger.

    Like

      1. EK vra my man vanoggend dieselfde ding. Sy ontmoet hom Vrydag in Taiwan en dan gaan sy bietjie daar kuier as die toer verby is…wie weet, miskien bly sy agter.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.