Vanoggend deel een van ons groepie blogvriendinne wat na onsself as die Goue Vroue verwys ‘n video. Een wat ek dalkies net baie letterlik gaan opneem. So, hier gaan ek …
Volgens die vrou in die video het sy vir ‘n 83-jarige tannie gevra waarom sy so gesond is. Behalwe nou vir God se aandeel daaraan. En die tannie het beweer dat haar gesondheid toegeskryf kan word aan drie dinge, waarvan een is dat sy nie kwaad word nie.
Wel, ek dink almal wat die afgelope weke my plasings gelees het, weet ek dat kwaad kan word. Maar veral dat ek vir twee mense kwaad is wat my blogs lees. Veral omdat ek weet dat hulle geen goeie bedoelings het nie. Hulle het hulself net as sensuurders aangestel. Hmmm, so wat is die tannie se raad?
Volgens haar moet ek aan elke ding wat my kwaadmaak dink as ‘n klip. Een wat ek kan optel, bekyk en weggooi. Of een wat ek sorgsaam in my rugsak kan pak om dit baie swaar te maak. Dit is nou die rugsak wat ek op my rug dra terwyl ek teen ‘n steil berg opklim – dus op my lewenspad wat moeiliker en nie makliker word nie weens die impak van ouderdom op enige mens se bergklimvermoë.
Natuurlik maak elke klip wat ek optel en saamdra my laste swaarder, nie ligter nie. Kan dit selfs my wil beïnvloed om verder op te klim.
Die vraag is of ek wil voortgaan om die twee klippe saam te dra, Natuurlik ‘n baie gepaste metafoor, want mens moet ‘n klipkop hê as jy lees dat jou ongevraagde besoeke aan my blog die lewende duiwel uit my irriteer. So erg dat ek al meer as een keer daaroor geskryf het. En die antwoord is natuurlik nee.
Ek wil die twee klippe nie saam met my dra nie. Ek wil hulle nie naby my hê nie. En beslis nie in my rugsak nie. Hulle maak my rugsak loodswaar. Ek wens eintlik dat ek die twee klippe tot in Griekeland (ek sien die VPN is nou Duitsland?) kan gooi om raak te gooi!
Maar, dan dink ek weer aan die tannie se woorde. Tel die klip op, kyk of jy dit saam met jou wil dra (die kwaad) en laat val dit om net daar te lê waar jy dit opgetel het.
En dit is wat ek gaan doen. Natuurlik gaan ek dit nie net laat val nie. Ek wil hulle nie onthou as iemande wat ek op my lewenspad raakgeloop het nie. Ek gaan dit oor die krans gooi en kyk hoe dit breek en in stukke versplinter soos wat dit na benede stort. Om nie weer per ongeluk opgetel te word nie.
Dit gaan nie so moeilik wees nie omdat ek van nous af ook nie na die stats gaan kyk nie. Wat ek nie weet nie, kan my nie kwaad maak nie. Die twee klippe is te veel keer opgetel as ek na die stats kyk.
Want, as ek dit bly doen, verloor ek my lus om te skryf. En so laat ek twee onbeduidende mense toe om my lag uit my dag te haal. En hulle weet dit, daarom kom hulle lees dat ek weet dat hulle lees.
Die raad het my vanoggend so bietjie laat speel. Manlief kan my kwaad maak met sy kommentaar as hy besig is en hy dink ek moet ook wees. In gelyke hoeveelhede.
Ons is by die rivier, hy is weer in skoonmaakbui. Die woonstel gedeelte word vandag gepak. En met sy kragspuit spuit die slik van die mure af. Oranje mynoorpak aan, gumboots, ek is mos met ‘n mynman getroud!
En as hy moeg is, marsjeer hy in die kombuis of slaapkamer in om my te hiet en te gebied. Of om aanmerkings te maak wat my regtig baie kwaad maak.
Ons het die geveg al gehad, vandat ons die plek in 2002 begin bou het. Die rivier is my plek om te ontspan, syne om te werk. Omdat hy dit wil doen.
En dan moet hy sy kommentaar vir homself hou.
Ek was die koppies en borde en messe en vurke en glase en panne en potte wat die ene slik is. Want dit is die eerste keer wat ons oorslaap. En ook wat die water reg is, die pompe is mos tydens die vloed beskadig.
Toe staan ek die man net so en kyk. Maak of ek ‘n klip optel, staan en kyk na die “ding” in my hand en oorweeg of ek dit in my rugsak gaan pak en toe laat ek dit ongeërg weer val.
Ek het nie gegooi om raak te gooi nie, maar eerder net laat val. Omgedraai en my eie ding gedoen.
Ek rus nie, speel nie. Terwyl rakke vol goed droog word, werk ek aan my nuutste artikel. Ek moet, want as die muse daar is, moet ek benut. Sy verdwyn sommer maklik vir dae lank …
En ja, liewe tannie, dit is sulke goeie raad. As mens dit so staan en letterlik uitvoer.
Daar is heelwat klippe in my rugsak wat een vir een uitgehaal moet word om te bepaal of dit die moeite werd is om kwaad te word daaroor.
My rugsak moet so lig word dat ek dit nie hoef saam te dra nie …
Siestog, as ek so na my hoofprent kyk, het ek nie ‘n keuse nie. Dit gaan my rug breek as ek die klippe nie uithaal en laat val nie ….
Ek het hieedie klippe video vanoggend by n vriendin gekry en dit was vir mt so n praktiese lewensles dat ek dit vir my vriendinne aangestuur het.. En nou vertel jy hoe jy dit gedoen het. Ek gaan nou dadeliknn klip uit my rugsak haal en bekyk voordat ek dir laat val.
LikeLiked by 1 person
Vriendin, ek twyfel of jy enige klippe het. Jy is so ‘n vriendelike vrou.
LikeLiked by 1 person
Klein klippies …
LikeLiked by 1 person
Oooooo, ek hou hiervan, dis sulke goeie raad.
Op n privaat punt, wat was die uitdrukking op jou man se gesig toe jy jou “klip laat val”. Hy sou dit nie verwag het nie
LikeLiked by 1 person
Hy het nie eens raakgesien nie. Dit is wat dit so lekker maak, ek kan vir die “vallende”. klip kyk tot dit op die grond is waar dit hoort. Opkyk en ongeërg aangaan. Sy woorde het regtig nie meer saak gemaak nie, dit het saak gemaak om toe laat los. Want die vurigheid in y wil nie laat los nie …
LikeLiked by 1 person
Ek het nie vir die klip gekyk asof dit die spesifieke kwaad verwoord nie. Eerder asof dit ‘n swaar ki- is wat ek nie wil saamdra nie. Net ‘n klip. Niks meer nie.
LikeLike
Ek tel ook klippe op, gooi neer en tel weer op, en laat val. En so voeter ons voort.
LikeLiked by 1 person
Ne, dit is so. Maar, ek het besluit om op te tel, te bekyk asof daar regtig ‘n klip sit en dit net weer te laat val. My rug wil nie gewig dra nie.
LikeLiked by 1 person
Die klip ding is baie wyse raad, meestal weet die klip-persoon nie eers dat hy ‘n klip in jou rugsak is nie, dis net jy wat die saamdra
LikeLiked by 1 person
Jy verstaan. Ek laat die persone ook heeltemal te veel ruimte in my brein toe. Dit is so lekker om nie meer te kyk of hulle lees nie. Hulle bestaan nie meer vir my nie. Hulle weet dat ek hulle hier verskeie kere gevra het om my uit te los. Meer kan ek nie doen nie, gaan ek ook nie doen nie. Ek kyk net nie meer van waar die lesers kom nie. En dit is bevrydend.
LikeLiked by 1 person