Gepubliseer in Joernaal

Skoonmaak by die Vaal

Ek wou nie eintlik hieroor skryf nie, maar genugtig, dit is een baie lang proses as mens werk, see toe ook moet gaan om dinge daar reg te kry en die rivierhuis skoon moet kry.

Ons het eers verskeie kere net vir ‘n dag die drie ure daarheen gery, goed gedoen en die aand weer drie ure huis toe gery. Sien, dit is alles behalwe ‘n grap om te gaan skoonmaak na die vloed van 2023.

Ek het geweier om in die huis te slaap, dit het iets vreesliks gestink. Hoe sal mens nou verduidelik? Ek wonder hoeveel mense weet hoe rivierslik stink? As dit nie meer in die water is nie, maar in dik stukke droogword? Bedompig? Soos vis? Ek weet nie hoe om te beskryf nie.

Dan was die kombuiskaste mos nat ook. Ons het nie die boonste kaste uitgehaal nie, die water was nog nooit 1.9 m deur die huis nie. Daardie kaste stink ook en moet oop staan om goed droog te word.

Die mure was 1.9 m hoog vol slik, soos die water gestyg en weer gesak het.

Die vorige kere het manlief met sy waterkanon – of wat noem mens dit? – ons kamer, die kombuis, woonvertrek en twee badkamers skoongespuit. Hulle het baksteenmure. En toe staan die huis weer vir ‘n maand om uit te droog.

Hierdie keer het ons besluit dit is lang naweek, ons gaan rivier toe. Ons het vars lug nodig. En die stilte langs die Vaal. Ons mis die plek en die rustigheid daarvan.

En natuurlik weer werk. Manlief het die woonstel se mure skoongespuit. Dit was ‘n heel ander storie, want daardie vier slaapkamers en badkamer en kombuis het – op my aandrang wit mure.

Ek het koppies en borde en messe en vurke en potte en panne en deksels en poedingbakkies en glase en wat nog alles gewas. Vir die hoeveelste keer.

En terwyl wat vragte droog geraak het, het ek aan my nuutste artikel gewerk – plagiaat, meer wil ek nie vertel nie, mens gooi nie jou kaarte op die tafel voordat dit gekies word om gepubliseer te word nie.

Iedergeval, wat ek eintlik wou skryf, is dat dit heerlik was om weer by die rivier te slaap. Om die maan te sien, die sterre. Om die uil te hoor wat die keer besluit het dat hy baie, baie hard by ons kamervenster gaan kom hoe, hoe-hooeeee! Gelukkig is ek nie bygelowig nie, ek is mal oor uile.

Ek sê netnou vir manlief dat die jaar ‘n f-op is. Ek weet, ek het iewers geskryf dat ek wil ophou om onnodig lelik te praat. Maar, sjoe, elke maand kry ons slegte nuus, gebeur iets slegs. Ek gaan nie opnoem nie, want sommige goed is te persoonlik om hier te skryf. Maar julle weet tog van ‘n paar.

Op die 3de Januarie 2023 het ons by die see nuus gekry wat my fondamente geskud het. Dit het my stukkend gelaat en laat wonder of dit dalk my skuld kon wees. Al is ek verseker dat dit nie is nie. En soos die maande aanloop, is daar ‘n seer in my hart.

Januarie – terug by die huis – het Shilo skielik kruppel geloop, en nadat ek amper R30 000 gespandeer het, het ons eers geweet dat hy kanker het wat nie genees kan word nie. Shilo leef steeds, maar ek weet nie vir hoe lank nog nie. En my hart is stukkend. Net as ek dink dat ons by die punt is wat ek hom moet vat om aan die slaap gemaak te word, sê ek dit vir hom. Sê ek vir hom ek is jammer, en dan loop hy deur die hele huis agter my aan. Asof hy vir my sê: “Is jy van jou kop af? Ek wil nog lewe.” En dan kap ons twee maar verder aan … Dit is moeilik, want hy kla nie. Dus weet ek nooit of hy seer het nie.

Februarie was kleinseun hondsiek by my, ek het my opgestres oor die kindjie. Hy het mooi gesond geword en is elke week my ligstraaltjie wanneer hy Donderdae middae by sy ouma kom kuier. Maar die stres het my ‘n hele paar grys hare by gegee.

Maart het ons rivierhuis oorstroom en ‘n week in die water gestaan. Ons maak steeds skoon en die skade is nie gering nie. Nuwe pomp vir die water, ook in die rivier nuwe een nodig. Die jetti is gebreek en teen die wal opgestoot. Die blindings het skade gekry en moes vervang word. Ons was so vies dat die huis sommer vir ‘n maand oopgestaan het dat die wag kan slik uitvee. Daar was baie. Ons werk steeds om skoon te maak. Ons, wat nie eens die sleutel vir vriende gee om alleen daarheen te gaan nie …

April het ek nog ‘n skok op persoonlike vlak gekry, een wat my laat wonder wat nog kan kom …

Groot skokke op persoonlike vlak wat ek nie hier gaan bespreek nie. Al wat ek gaan skryf is dat dit my in die gim ingejaag het. Ja, toe, jy mag lag. Ek is nie ‘n gim-lyf nie, het dit nog altyd vermy. Behlwe om te gaan spin om bergfietswedrenne te oorleef. Maar dalk het ek een na hierdie twee skokke ‘n gim-fanatikus?

Maar, manlief. antwoord droog. Dit is ‘n ‘challenging” jaar. En ja, dit is wat dit is. Uitdagend. Nie onoorkomelik nie. Dit bepaal net ons lewens op maniere anders as wat ons ooit sou droom hoe 2023 daar sou uitsien.

Klink ek swartgallig? Ek weet ek doen, ek sukkel net so bietjie om weer vaste grond onder my voete te vind ….

O wag, is dit eerder dat ek wonder wat hierdie maand ons fondamente gaan skud? Nee, wag, ek dink ek bring dit na my toe aan.

Ek sluit dan eerder af met:

Ek sien uit na ‘n vreugdevolle, ysige Mei-maand.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Skoonmaak by die Vaal

  1. Uitdagende jaar is dit beslis! Maar ten minste is ons darem al in Mei, ne … wat beteken ons is amper halfpad deur 2023. Ek soek maar altyd daardie goue rantjie om die wolk en hoop op die beste! Sterkte daar by jou 🌸.

    Liked by 1 person

  2. My hart gaan na jou toe uit oor elke maand se klip in die pad. Ek bid saam met jou dat Mei maand ‘n gladder een sal wees. Sonskyn, al is dit ‘n flou amper-winter-sonskyn. Voel my drukkie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.