Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Freeze!

Ek het die kleinkind van my vandag weer so baie geniet. Ons het hoim by die skool gaan haal. En oupa het bestuur, met my kar se sleutels in my handsak. Toe kan hy nie by die skool uitklim nie, want my sleutels was nie by hom nie.

Ek is in en kleinseun het lekker by maatjies gesit en inkleur. Koppie af, maar ek sal hom tussen duisende herken aan die effens krullerige haartjies. Toe vra ek:

“Wil jy saam met my kom?”

Al die kleintjies het my aangegaap en hy het opgevlieg, reg in my arms in, met:

“Hallo my ouma.”

En daarna:

“Waar is my oupa?”

Ek het verduidelik dat oupa in die kar is en toe vra hy vir my waar sy kossies is, hy is baie honger.

Gelukkig het ek mooi geleer by mamma, dus was sy Spiderman kosblik in die kar, met hoenderworsies, mielies en druiwe in. ‘n Nartjie op die sitplek en sy koeldrankies.

Toe sit hy langs my agter, laai ons sy mamma by die huis op en kom ons na ons huis toe. Hy het so ‘n rukkie gesit en toe sê hy vir my dat hy nie lekker voel nie, met die koppie so teen my bors. Ek wonder of die kind karsiek raak? Want tuis was hy reg en het ons weer Paw Patrol gekyk terwyl hy eet.

Daarna het ons met die alfabet-prentjie legkaarte gespeel. Die kind is te slim vir sy grootte, maar laat ek dit eers vertel.

Vanaand sit ons almal in die TV-kamer en toe sê ek vir hom hy is te groot vir sy skoene, bedoelende dat hy slim is, nie iets anders nie. En sy antwoorde?

“Nog nie.”

Ons het gelê soos ons lag, natuurlik is hy nog nie te groot vir sy skoene nie.

Iedergeval, ons pak toe die legkaarte aan. Dit het 28 pare wat gepas moet word, ‘n letter en ‘n prentjie.

Ek het die S voor hom neergesit en gesê dat ons die skilpad moet soek. En toe sê hy vir my:

“Ssss vi Skilpad!”

Hy kon dit met nog van die letters doen. Hy het ook na die prent van die x-strale gekyk en gesê dit is x-strale, die zoeloe en gesê zoeloe en toe kry hy die prent met die water op en sê:

“Dddd vi dam!”

Die prentjie het egter by ‘n “w” vir water gepas, maar ek het hom geprys. Hy is reg, dam begin met ‘n “d”.

Later die aand het hy met sy mamma en met ons almal “freeze” gespeel. Ons moet hardloop, dan vat hy sy visstokkie en wys na een en sê:

“Freeze!”

Dan kraai hy van die lekker as ons vries, en hy vries ook as ons sê vries. Hy weier natuurlik om ouma en oupa te ontvries, en dan lag hy lekker as hy weghol, ons kan mos nie saamhol nie.

Net nou die dag nog het hy langs ons gespeel, nou is ons sy speelmaatjies.

Iewers in die middag het hy oupa erg laat bloos. Hy is mos nou net mooi oupa se gulp se hoogte. Toe wys hy na daardie gedeelte en sê:

“Daar is ‘n monster! Hy gaan oupa se t@@@@tie opeet!”

Manlief het so vinnig weggestap dat ek gelag het, lekker bloedrooi oor die onverwagte sêding van ons kleinkindjie.

Hy praat nie veel oor skool nie. As ek vra wat hulle gedoen het, sê hy net maatjies speel. As ek vra wat juffrou sê, dan sê hy:

“Nee!”

“Los die mat!”

“Moenie so huil nie!”

Shamepies! Arme kind, ek hoop werklik dit is nie al wat die juffrou sē nie. Maar, dit steek vas, weke later is dit steeds wat hy vertel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Kleinkindpret: Freeze!

  1. In n stad is dit moeiliker, maar shop around en vra by ouers wat in die omgewing woon. Hoor watter kleuterskool of speelgroepie die hoogste aanbeveel word, deur mense wie se kindertjies daar was. Daar moet wonderlike plekkies wees.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.