Gepubliseer in Reisjoernaal

Urban Coffee Almaty

Ek skryf so nou en dan oor die plekke in Almaty waar ons eet. Dan neem ek foto’s van manlief, die kos en moet hy verpligtend ‘n foto van my neem. Want anders is ek die onsigbare metgesel. Agter die kamera. Nooit op foto’s asof ek ook daar was nie.

In Almaty verseg ek om selfies te neem. Ek het nog nie sulke meisies soos hier teëgekom nie. Mia was ook verras. Hulle loop met sulke ligte op staanders rond. Om die lig vir die foto’s ook reg te kry. Laat ek tog ‘n foto soek om te wys hoe dit lyk. So lyk dit …

Ek jok nie, hulle loop met hierdie hele kontrêpsie rond. Ek sien mens kan dit vir vlogging gebruik. Hulle doen nie. Hulle poseer en pruil oral! In die restaurante, op straat, in parke, op die trappies waar jy moet op as jy by die restaurant op Kok Tobe geëet het. Almal staan en wag dat sy opstaan dat ons op kan gaan. Sy dink ons staan in verwondering, hoor nie die ongeduld in die mense onder se stemme nie.

Oral! En dan bekyk hulle die selfies. Blaai en blaai. En dan neem hulle weer foto’s. Mens sal sweer ek is op ‘n fliek se stel, so moet ek koes om nie in hulle selfies te wees nie. Sommiges het vriendinne of vriende wat die foto’s moet neem. Soms is ek vreeslik lus om tussendeur te stap …

Iedergeval, dit sitt my so geweldig af dat ek nie selfies neem nie. Beslis nie op straat nie. Manlief moet myne neem. Ons is mos toeriste?

Urban Coffee is baie oulik. Mens sit buite op die stoep op twee verskillende vlakke, met nagemaakte pers blomme wat oral hang en rye liggies wat oral onder die tentdak gespan is. Seil oor die stoep, ons mag mos nie binne sit nie.

Ek het geweifel tussen borscht (pienk beetsop) en ‘n smoothie in ‘n bord! Met canola en vrugte en kokosneutmelk. Maar toe is ek nie so seker of canola goeie keuse is nie. En ek het pomelo framboos tee gekies. Wel, dit is lekker, daar was geen tee in nie, dit is warm pomelo/framboossap. Ek vergeet altyd dat ek framboossap verpes. Die honderde pitjies! Maar dit was lekker.

Manlief het hamburger gekies (wat anders?). Hy kry oor twee weke of so uiteindelik wat hy soek. Want geen van die hamburgers proe soos Wimpy s’n nie.

Onder is foto’s van die lanings bome waaronder ons stap om by die restaurant uit te kom wat besig is om van grasgroen na ougoud te verander, lattté wat manlief gekies het en die smoothie in ‘n bord.

Ek kan Urban Coffee aanbeveel. Daar is interessante keuses vir kos.

Ons het, sonder om te vra, ons tee en koffie gelyk gekry. En ons kos het gelyk opgedaag. Wat ‘n verfrissende gedagte dat ‘n restaurant in Almaty met ‘n Engelse naam ‘n Engelse soyskaart het. En … ons kos gelyk bring. Gewoonlik sit een van ons twee en kyk hoe die ander een eet, die kos daag selde gelyk op. Selfs al vra jy mooi.

Dit bring my nader aan Suid-Afrika, een van die dae eet ons so. Dit is nou as ek in ‘n restaurant sal gaan sit om te eet. In Suid-Afrika is ons lekkerste kuiers saam met ons kinders en vriende in ons huis – of hulle s’n. Daar doen ons restaurante selde. Soms wel vir ‘n Mug & Bean ontbyt.

Ewenwel. Ek kan Urban Coffee aanbeveel.

Dit is heerlik en rustig so onder die pers trosse blomme met die liggies teen die dak. En met jong manne wat die bedienwerk doen.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Urban Coffee Almaty

  1. Sjoe, dit sal my net so irriteer – al die selfies wat mense neem en nie aan hul medemens dink nie – pure selfsugtigheid. Dis darem ‘n yslike kontrepsie om rond te karwei vir selfies. Ek is nie een vir selfies nie – ek verpes dit eintlik. 🙂

    Liked by 1 person

  2. Ek pes ook selfies. kom nooit goed uit nie. En my geliefde hou nie van uiteet nie. Hy verkies om self sy kos te maak. Moet sê, ek verkies ook om tuis te eet. Die enkele keer wat ons wel uitgaan, geniet ons dit albei.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.