Daar is min name wat my aan ‘n spesifieke persoon laat dink, maar veral aan die karaktereienskappe van ‘n spesifieke mens. Een daarvan is Tjaart …
Miskien omdat ek baie min mense met dié naam ken?
Ek het ‘n Voortrekkerspan met 25 leerders vanaf graad 9 tot matriek gelei. Die span het tussen graad 9 en graad 12 gegroei, maar daar is mos streng reëls oor hoeveel jare lank ‘n kind ‘n Voortrekker moet wees voordat hulle vir die finale twee eksamens/toetse kan slaag, naamlik Hoofleierswag en Presedentverkenner.
Daarom was my matriekgroep kleiner as 25, as ek reg onthou het 15 leerders gekwalifiseer, maar sommiges het nie geslaag nie. Ek sal bietjie foto’s moet soek.
Een van my Voortrekkers se naam was Tjaart.
‘n Groot seun, groter as die res van die groep seuns. Mens is geneig om te glo dat die groter seuns meer as die ander geneig sou wees om met moeilike take te help, maar Tjaart het die teendeel bewys.
Anders as wat mens sou verwag, was hy ‘n lamsak.
Ons het gereeld by ons plek langs die Vaal gaan kamp. Toe hulle graad 9 was, het ons die plek gekoop en begin bou. En ‘n jaar later was dit klaar. Ons het eers in die rivier gebad en hare gewas en later was die huis reg om binne te bad en so aan. Mens moes ook maar sommige goed in die bos gaan doen, jy sal verstaan wat ek bedoel.
Tjaart het met bykans niks gehelp nie, was dikbek as hy moet help tente regkry en veral as hy moes help skottelgoed was.
Maar, een gebeurtenis staan uit as dié dag waarop ek my voet moes neersit om die lamsak reg te ruk.
Ek het die skoolbussie bestuur en hy wou altyd voor by my sit. Dit het die ander kinders nie gepla nie, hulle het agter gekuier.
So ry ek op na die hek toe, stop en vra dat Tjaart die hek oopmaak.
En sy antwoord:
“Waarom moet hy?”
Groot seun, in graad 11 of 12.
Een van die seuns agter wou uitspring om die hek oop te maak. Maar ek was moeg vir sy lamsakkigheid.
Het vir die seun gesê hy kan sit, Tjaart sal die hek oopmaak. En vir Tjaart gevra:
“Verwag jy wragtig na ‘n naweek waarin jy niks wou doen nie dat ek die hek moet oopmaak?”
Hy het dikbek uitgeklim en oopgemaak en dit het my kwater gemaak. Daarom moes hy agter gaan sit sodat een van die ander kinders voor kon sit. Voorreg is weggeneem, veral omdat ek nie al die pad Welkom toe wou ry (uur plus) met ‘n dikbeklanggesig langs my nie. Hoe laat die titel my nou aan een van Steve Hofmeyr se liedjies dink?
Dikbeklangesig, ek dink nie ek sou die woord gebruik het as dit nie vir sy liedjie was nie …
Daarna kon hy nie weer voor by my sit nie. Ook nie agter langs die deur nie. Hy moes maar inskuif in die heel agterste ry, ver van deure. Dat hy in sy lamsakkigheid kan vergaan.
As ek aan hom dink, onthou ek nie wat hy ooit gedoen het om te bewys dat hy ‘n Voortrekker is nie. Ek onthou net die geval. Ek wat na ‘n naweek van kinders oppas doodmoeg was en net by my huis wou uitkom. Veral omdat hy nie wou help nie, net eet en niks doen. Niks anders nie. En dan natuurlik ‘n lamsak wat nie vir my die hek wil oopmaak nie.
Snaaks hoe ‘n naam spesifieke karaktereienskappe na vore kan roep.
Tjaart het toe nie vir Hoofleierswag of Presidentverkenner gekwalifiseer nie.
Nie weens my toedoen nie, net ingeval jy wonder. Ek werk hard aan leerders om wel te slaag. Voel of ek ook faal as hulle faal. Ek het niks met sy faal te doen gehad nie.
Hulle het jaarliks in Julie ‘n kamp by Doringkloof gaan bywoon. Dit is die Vrystaatse Vorotrekkers se kampplek naby Kroonstad, ‘n plaas wat aan die Voortrekkers bemaak is. Ek het nie een keer saamgegaan nie, want dit het gebots met die Suid-Afrikaanse seunshokkie kampioenskappe wat jaarliks in Port Elizabeth gehou is. En ek moes my die Noord-Vrystaatse span bestuur.
Dus het ek geen sê gehad in die feit dat hy nie gekwalifiseer het nie.
Hierdie tien leerders het Hoofleierswagte geword in 2005.

En ek probeer onthou wie het toe nie die finale hekkie oorgekom nie, naamlik om Presidentsverkenners te word. Dit is waarskynlik omdat elkeen van hierdie kinders na my mening dit wel moet bereik.
As ek so na die gesiggies kyk (wat nou al in hulle mid-dertigs is), dan onthou ek goeie eienskappe van elkeen van die kinders. En mens hou ook so half en half op Facebook kontak. Wat ek daar raakgelees het, het my verwar. Want twee van die kinders het soveel anders uitgedraai as wat ek as juffrou en Voortrekkerleier raakgesien het.
Iedergeval, ek wou eintlik oor Tjaart die lamsak gesels. Ek dink ek sou werklik teleurgesteld gewees het omdat hy nie die finale twee eksamens kon slaag nie.
Ek kan dus net aanneem dat hy tydens die kampe net so lamsakkig was soos daardie dag toe hy geweier het om die hek vir my oop te maak nadat ek hom ‘n naweek lank vermaak het.
Mens sou dink dat hy ten minste dit kan doen, dit is nie moeilik nie.
Toe ek die hooffoto gesoek het om ‘n prent van ‘n lui mens te kry, het hierdie een my opgeval. Ek hoop werklik dat hy beter uitgedraai het as dit. As hy nie het nie, sal ek egter glad nie verbaas wees nie. Nie eens die Voortrekkers kon hom reg help nie.
Gesels gerus saam, want ek ken geen ander Tjaart nie.
Snaaks genoeg dat daar altyd so een tussen ‘n mooi groep moet wees. Hul maak dit net onaangenaam vir almal.
LikeLiked by 1 person
Is waar vriendin, daar moet altyd so een in ‘n groep wees. Snaaks dat ek na al die jare steeds omgekrap voel as ek aan die dag dink? Dalk omdat ek teen daardie tyd al alles probeer het?
LikeLike
Presies en dan hou ouers of grootmense dit teen jou omdat hy so lamsak is.
LikeLiked by 1 person
Sounds funny Norm lying on the couch
Back soon
LikeLiked by 1 person
Hi, I miss you. How are you doing, my friend?
LikeLike
Dis ‘n pragtige foto van jou en jou span. Ek onthou met hoeveel sorg daardie kentekens vasgewerk is.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Frannie, hulle was my rede om skool te wil hou. Een van hulle is ons seun.
LikeLiked by 1 person