Gepubliseer in Bloguitdagings

Kersfees in Julie in Rebusfontein …

Ek weet daar is mense wat kersfees in Julie vier, en dit is miskien presies wat ek hierdie jaar met my kleinkinders moes doen. Want daar is ‘n groot moontlikheid dat ek nie kersfees saam met hulle gaan wees nie. In blogland is daar egter ook mense wat kersfees in Julie vier – naamlik 14 vrouens wat hulself as die Goue Vroue gedoop het omdat elkeen van ons iets gouds aan ons het. En dit is juis hierdie winter kersfees wat tot hierdie bloguitdaging aanleiding gegee het.

Ek is ongelukkig tans nie meer in Kazakhstan nie, anders sou dit vir my ‘n aangename gedagte gewees het. ‘n Warm kersfees soos in Suid-Afrika, met alles groen en kersfeesbome (die regte soort) oral. Ek is juis in Suid-Afrika – en dit is ‘n vreemde gedagte om weer kersfees in die koue te vier. Gelukkig nie naastenby so koud soos 25 Desember wanneer dit maklik -38 grade Celsius in Kazakhstan raak nie.

Die vraag op jou lippe is seker waarom ons kersfees in Julie hou?

Wel, die antwoord is eenvoudig – een van die Goue Vroue het besluit dat mens nie tot Desember hoef te wag om ‘n persentjie te kry nie.

So maand gelede het ek ‘n oproep van seegogga, kan sy asseblief my adres kry? En dit beteken net een ding, sy wil iets vir my pos. Ek was verras, wanneer laas het ek ‘n pakkie gekry van ‘n penvriendin? Ek gaan liewer nie die jaar raai nie. Ek was vresslik opgewonde, maar ek het geen vertroue in die Suid-Afrikaanse posstelsel nie, daarom het ek aangebied om vir die posgeld te betaal.

Seegogga het egter vertroue in die posdiens, sy was van mening dat ek dit wel gaan kry, al pos sy van ‘n piepklein Wes-Kaapse dorpie naamlik Bredasdorp na ‘n piepklein Nood-Kaapse dorpie – Kuruman.

En ek weet reeds dat Carmién tee en Takealot wel in Kuruman by my adres uitkom. al moet ek, wat die dorp maar sleg ken, soms vir die koerier verduidelik hoe om tot by my huis te ry. Gelukkig het ek Geografie gelief, kyk ek om my rond, is die dorpie werklik piepklein met vier strate wat uit die dorpie gaan, dus kan dit nie te moeilik wees nie. Veral nie as die koerier die twee winkelsentrums ken nie. En dan hoef ek net die kleur van my huis te gee om die persoon doodseker te laat weet dat dit wel my huis is. Daaroor sal ek eers gesels as ek nie meer hier bly nie.

Ons was vir ‘n groot deel van ‘n week op pad Gauteng toe, dus wou ek eers vra dat sy dit na Gauteng stuur. Daar het die pakkie dalk ‘n kans. Maar toe onthou ek dat pakkies na my toe ‘n lang pad vat. Dit gaan om een of ander duister rede Johannesburg om gestuur word.

En toe gaan twee weke om, met geen pakkie wat kom nie. Ons was stad toe en ons is weer terug, geen briefie of pakkie vir my nie. En ekke raak dikmond vir myself: Waarom het ek haar nie net oortuig dat ek vir ‘n koerier sal betaal nie? Die Courier Guy is juis so ‘n betroubare man van daardie omtes af, Toortsie weet dit ook. Hulle bring my pakkie vir my van die Kaap af, al is dit lang pad om. Ek sou dit lankal gehad het.

Intussen volg ek die geregistreerde pakkie se spoor op die internet. Seegogga het afgegee, laaste wat dit opgedateer is, is dat dit wel in Bredasdorp by die poskantoor ingedien is.

Seegogga volg ook, sy het dan 13 pakkies uitgestuur – sy stres waarskynlik baie meer as ek. Ek wonder of die poskantoor weet dat beide partye stres, die een wat stuur en die een wat onvang? En op die dag wat ek nie kyk nie, kry ek die boodskap van Seegogga – die pakkie het in Kuruman aangekom, die briefie is na my huis uitgestuur. Wat ek nie ontvang het nie, dalkies omdat ek geen posbus het nie? Ewenwel, met ‘n opsporingsnommer het ek die briefie nie nodig nie.

Volgens Seegogga was dit nie ‘n pakkie nie, eintlik net ‘n groot wit koevert.

Ek was by nuuskierig verby.

Ek het gebel, die dame het gesê dat ek drie minute later weer moet bel, sy gaan gou kyk. Aangesien niks in Kuruman gou gebeur nie, bel ek maar twee ure later weer. En ja, mevrou se pakkie is hier. O my jitte ek was opgewonde.

Ek kon nie wag dat manlief huis toe kom nie, want ek is mos in Kuruman – soos in Kazakhstan karloos, op manlief aangewese om te kom waar ek wil wees. Die poskantoor is werklik naby my, stapafstand, maar dit is – anders as in Kaz – nie veilig om die entjie te stap nie. Ek is selfs gewaarsku dat ek nie na die materiaalwinkel oorkant die straat moet gaan nie, dit is nie veilig nie.

Toe hy stop, is ons poskantoor toe, waar dit aansienlik langer geneem het om my brief te kry …

Ons was skaars in die bakkie toe ek die brief oopskeur. Jammer, maar ek het nie geduld nie, as ek wil sien wat binne is, is oopskeur die vinnigste keuse. Ek is nie een van die mense wat pakkies daarna weer kan gebruik nie. Noudat ek daaraan dink, moet ek bietjie daaraan werk. San dink juis dit is tyd vir groei, al is dit nog winter.

En toe haal ek die inhoud van die pakkie uit.

‘n Briefie van Seegogga oor waarom sy die pakkie vir my gestuur het – ja, dit was toe ‘n pakkie, geteken in haar kraphandskrif – of sal mens eerder skryf geseël met ‘n krap?

‘n Egte Seegogga skilderytjie om my te herinner aan my denkbeeldige huisie in Rebusfontein – die tuiste van die GV’s as hulle wil ontlaai.

Twee van daardie ronde serpies wat tans baie nuttig as maskers dien. Buffs – wat sou dit in Afrikaans wees? ‘n Witte met die woorde Goue Vroue in fyn skrif in geel daarop gedruk en ‘n gele met Goue Vroue in wit daarop gedruk.

Vier liefdesgeskenkies van een van die kunstigste vrouens wat ek ken.

Ek het Seegogga nog nooit ontmoet nie, het haar deur haar kommentaar op my skryfsels en haar eie skryfsels leer ken. Ek voel werklik geëerd om die mooi geskenkies van haar te kry.

Ek het die woord skryfsels die week by ‘n ander blogger geleen, en dit is soveel beter as artikels wat ek nog die hele tyd gebruik. ‘n Groot deel van ons groepie het verlede jaar ‘n sak sout in blogland opgeëet het. Iemand wat my nie regtig ken nie, maar vir my ‘n persentjie oor die grense van provinsies gestuur het. Hoe kosbaar is dit?

En so groei ek en die ander vrouens sommer saam met haar. In ‘n land waar alles verval, in so mate dat Unisa nie eens meer die poskantoor gebruik nie omdat take in die pos wegraak, het sy wel ons geskenkies gedurende grendeltyd by ons afgelewer gekry. Dit wil gedoen wees, Seegogga, ek haal my hoed vir jou af. Ek het ernstig getwyfel, maar die idee van ‘n pakkie in die pos was so aanloklik dat ek my deur jou entoesiasme laat verlei het.

Ek het rede om die poskantoor nie te vertrou nie. Onthou julle die groot, maandelange staking in 2014? Dit was hierdie tyd, het in augustus en September in geduur. Wel, sommige van my studente se take het my nooit bereik nie, ander s’n is eers ontvang lank nadat hulle reeds eksamen geskryf het. Terugvoer daarop sou hulle kon help om beter te presteer – ‘n voorreg wat ‘n klomp stakers hulle misgun het. Maar, ek moet ook byvoeg dat die staking hulle glad nie sou raak as hulle die take elektronies ingedien het nie. Maar Seegogga, daarna vertrou Unisa ook nie meer die stelsel nie, dus voel ek nie heeltemal bygelowige Thomas nie.

***

Seegogga het die geskenkies laat aflewer, en daarom dink ek dit is gepas dat ons haar bedank. Met ‘n regte, egte Rebusfontein ete aan ‘n lang tafel. Positief, Seegogga en Scrapy is klaar besig om die tafel te verf. Ek wou nog vra vir windpompe, maar ek laat dit liewer in hulle kreatiewe hande.

Ek sal die tafel begin dek. Goudgeel tafeldoeke met spierwitborde om die goud in elke vrou te gedenk. Aalsie en Appeltjie sal help om die tafel verder te dek. Wit servette met ‘n goue kartelrandjie om te vertel dat elke donker wolk ‘n goue randjie het – ek het met my vorige skryfsel harte geraak. Ek hoop die goue randjie maak op daarvoor. My eetgerei uit Kazakhstan wat manlief spesiaal vir my gekoop het om my verjaarsdag te vier – word gebruik. Julle is die eerste gaste wat daarmee gaan eet, ek is seker Virgo gaan dit waardeer, sy woon ook in ‘n land van klatergoud. Ek moes darem ‘n stukkie Kaz in die prentjie inbring om by my jurt te pas.

Sonell sal die tafelgebed doen en San sal ‘n gedig skryf wat ons op Seegogga se bord kan sit. Wat daarin gaan staan, is een groot verrassing, sy was nie voorheen bekend as Gedigte Wat Jou Laat Dink nie …

Jasmynbloeisels op die tafel, ek het gaan soek – om dit in die winter te kry is ‘n storie en ‘n half. Maar dit moes daar wees, om my aan hierdie groep vriendinne te herinner. sal jy nog blomme bring, Frannie? Vrouens wat mekaar met sagte arms omhels, soos die geur van Jasmyn my in my Utopia huis omhels het. ‘n Geur wat ek altyd met sagtheid in verband sal my bring – al het dit my hooikoors gegee. ‘n Rustigheid moet aan die tafel wees, saam met baldadigheid – of wat praat ek alles Una, Woordnoot en Trommeltjies ?

En nou die uitnodiging aan die vrouens aan die tafel: Neem asseblief ‘n foto van jouself met die twee persentjies. Seegogga het in daardie geheime skryfsel van haar baie idees gegee. Ek het sowaar die rompie en toppie oorweeg, maar gou besef dit is nou een stukkie lap waarin my lyf nie gaan pas nie. Seegogga, presies hoe klein is jy?

So hoe gaan hierdie uitdaging werk?

Ek besef dat daar een of twee dames is wat nog nie hulle pakkies gekry het nie, of liewer laas toe ek gevra het, was daar pakkies wat nog nie hulle bestemming bereik het nie. Maar, ek het toestemming om nou daaroor te skryf.

Ek het sommer met my foon se studio beligting gespeel om hierdie foto’s te neem. Grimering en my Kaz warm pet en mooi aangetrek om nie uit te gaan nie …

Dankie, liewe Seegogga, ek waardeer dit verskriklik baie.

***

Dus gaan ek vra dat almal wat wil saamspeel. Neem ‘n foto (of baie foto’s) van jou met die buffies en die gebruike wat jy daarvoor ontwikkel het. Ek moet eerlik skryf dat ek nie geweet het dat mens so baie daarmee kan maak nie. Skoonseun het gesê dat ek dit as ‘n “boob tube” kan dra, maar ek het reeds geskryf dat ek nie daarin pas nie. En gebruik die foto as jou hooffoto dat dit gaan deurtrek in die Inlinkz. Hier is die skakel. Waaroor jy gaan skryf? Wel, wie kan die GV’s voorskryf? Die buffies moet net op ‘n manier deel van die skryfsels wees om Seegogga so vir haar liefdesgeskenke te bedank.

Is julle in? Gaan ons so ‘n collage vir Seegogga maak? Las jou storie en foto by hierdie skakel. Kliek greus daarop as jy saam wil lees.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

50 gedagtes oor “Kersfees in Julie in Rebusfontein …

  1. Ooo, Dankie vir die lof, Christa! Jy lyk pragtig met albei so saam gebruik! Moet ons dit aantrek na jou ete toe? Ek dink dis n lekker uitdaging. Terlooos. Ek vertrou nou glad nie meer d poskant nie. Ek het maar nuwes gestuur vir die 2 wat verloor het.

    Liked by 1 person

          1. Ja maar my blog was verondeestel om privaat re wees met wagwoord. Tensy mense dalk daarop kliek maar nie kan ingaan nie omdat hulle nie wagwoord het nie, maar dit steeds registreer as n besoek….

            Liked by 1 person

          2. Jy kan omdat dit jou blog is. As ek op jou blog op die skakel klik, vra dit ‘n wagwoord. As ek verkeerde wagwoord intik, werk dit nie. Jy kan ontspan. Jou geheimpie met oulike rompie is by ons veilig.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.