Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 15: WRG se 21 dae van dankbaarheid

Vandag moet ek skryf oor iemand wat my altyd laat lag. Al my kleinkinders laat my altyd lag, maar ek gaan vandag spesifiek oor die jongste enetjie skryf.

Ons jongste kleinkind is in Maart 2020 gebore, toe die strengste inperkings oor die hele aarde geheers het. Ons – wat ‘n jaar tevore vrywillig na Kazakhstan gegaan het vir ‘n drie jaar kontrak – het skielik daar vasgevang gevoel. Want ons kon vir sewe maande lank nie huis toe kom om hierdie kleinkind van ons te ontmoet nie.

Ons het ons bietjie goedjies daar opgepak en vir goed huis toe gekom. Om geen regering weer toe te laat om te besluit wanneer ons mag huis toe kom nie.

Tans woon ons naby jongste kleinkind. En bly hy twee dae per week by sy ouma terwyl sy mamma werk. En tydens hierdie daglange kuiers het ek al soveel pret gehad en gelag dat ek begin het om bloginskrywings #kleinkindpret te skryf waarin ek prettige oomblikke saam met ons jongste patroontjie deel.

Hulle was vir die kerstyd saam met ons by die rivier. En hier was ook prettige oomblikke.

Hy is tans amper twee – 21 maande om presies te wees. En hy gooi ewe skielike vloermoere as hy nie sy sin kry nie. Almal is verbaas, ekke nie. Want ek het al vertel dat hy dink dat hy 21 is. Dus wag hy nie tot sy tweede verjaarsdag om dan eers die “terrible two’s” te bereik nie. Hy doen dit sommer op 21 maande!

Die tweede oggend hier maak enige iets wat hom net effens kan omkrap dat hy verskeie kere sy humeur vir ons verloor. En toe hoor ouma in die verte dat oupa besig is om haar vierwielfiets (quad) aan die gang te kry.

Ek besluit om hom by ander ouma te vat en met hom na die stoor te stap.

Dit was anders as wat hy beplan het. Hy wou eers weer sy humeur verloor, maar ek weet na al die kere wat hy ‘n dag lank by my is, hoe om hom te hanteer. Ek praat altyd al hoe sagter en sagter met hom terwyl ek met hom stap. Soos wat juffrouens doen as die klas rumoerig is. Sagter en sagter tot fluistersag. En nuuskierige agie wat hy is, moet hy ophou huil om te hoor wat ek vir hom wys en vertel.

Toe hy oupa op ouma se fiets sien, is die Kaap lankal weer Hollands. Ons het oupa afgekommandeer en self opgeklim. En gelag vir die patroontjie wat soos ‘n regte “biker” vorentoe leun om die handsvatsels vas te hou, magie plat op die petroltenk.

Ouma se bene naby die enjin wat mos baie, baie warm word. Sy beentjies op haar bene sodat hy nie brand nie. Want o my genade, daardie seer moet ouma keer. Ek wil nie eens dink watter trane dit gaan veroorsaak nie.

En toe begin die ding.

As ouma stop, wys een vingertjie vorentoe. En wil hy net huil as ek nie die enjin weer begin dat ons kan ry nie. Vorentoe.

Terwyl ons ry gesels die mannetjie al die pad. En vertel ek hom van alles wat hy sien. Bome, gras, huis, plante, stoor, honde – elkeen by die naam (hier was ses honde), deur, venster en so aan.

Ek weet nie hoeveel keer ek die paadjie op en af en om die huis gery het nie. Ek weet net dit was so baie dat ek begin wonder het wanneer die mure gaan val (soos Jerigo s’n) as ek nog een enkele keer om die huis ry. Hoeveel keer was dit nou weer om Jerigo se mure te laat val?

As dit meer as twintig keer was, moes ons mure geval het. Maar dit het bly staan.

As ek stop en mamma wil hom vat, is dit oorlog. Dan ry ons maar weer.

Intussen het dit al hoe warmer geword.

En het die koppie al meer na een kant gehang. Ouma kon dit met die een hand vashou – en as dit eers gebeur – is die mannetjie so na aan slaap dat ek hom net kan vashou om te slaap.

Ek het egter gestop en gevra dat hulle sy kossies regkry. Hy kan nie tienuur in die oggend al slapies nie. Sy magie was leeg.

Ons het later bietjie rytyd gespaar deur vir die massiewe sproeier te wag om sy rondte te voltooi. En as ek die sproeier dan kastig jaag, het hy uit sy magie gelag. Ons twee weet hoe om enige situasie prettig te maak.

Dit was toe oorlog om hom af te kry en daarna is my quad sommer na die buitenste duisternis verban. Nie deur ouma nie, maar ek kon ook nie alleen op haar ry nie, dit sou die kind ontstel.

Elke dan en wan het hy na die fiets gegaan en probeer opklim. En dan moet ouma keer omdat hy kan seerkry. Sit sy saam met hom op ‘n dooie fiets.

Speel hy met die knoppies en is ouma se hart sommer seer. Want sy het al drie haar drie ander kleinkinders so op die plasie van ons vermaak. En as hulle nie hier is nie, ry haar woewe saam met haar. Nou staan die vierwiel verlate langs die huis.

Die laaste oggend pak almal en is hy weer by sy ouma. Hulle beplan om teen sy slapietyd te ry.

Oupa spring op sy geel fiets om die boonste hek vir die skoonfamilie van seun oop te maak omdat hulle eerste ry. En ouma sit met ‘n dilemma. Ons twee sit op ouma se dooie fiets.

Soos ek vermoed het, word ek eers met die vingertjie gewys vorentoe.

Ek besluit om my fiets aan die gang te kry, dat sy net luier. Maar hy onthou soos ‘n olifant. Daardie geluid beteken net een ding: Vorentoe.

Ouma leer darem uit haar foute. Laas keer was dit te ver van slapietyd, vandag is ons minder as ‘n uur weg van sy slaaptyd.

Ek het reeds geweet dat die vierwiel se eentonige (harde) geluid, hom aan die slaap gaan sus. Veral toe hy nie vorentoe leun nie, maar sy koppie en lyfie teen ouma s’n vasdruk.

Ek het mos al vertel ek ken die baba van ons se gewoontes goed?

Ek weet wanneer hy moeg raak en aan die slaap gaan raak. En dit was nou. As hy nie in my arms aan die slaap gaan raak nie, gaan hy skaars in die kar wees voordat hy vas slaap.

Hy is te naby aan slaaptyd om om te gee as mamma of pappa hom by my kom haal. Daar gaan geen vloermoer wees as hy afgetel word nie.

So hoe weet ek dit?

Die eerste keer wat ons gery het, het hy eers vooroor geleun en help bestuur. Ek moes basies reguit ry, want die armpies kan nie rek as ek wil draai nie. Draaie is dan vorentoe en agtertoe tot ons weer reguit kan ry. Toe leun hy terug in ouma se maag en bors in. Vergeet van saambestuur, hy wil slaap van die eentonige geluid. Maar dit was te ver van slapiestyd, dus het hy ‘n vloermoer gegooi toe hy afgetel word.

Vandag was naby slapietyd. Ouma was gereed om een uur lank met hom om en om die huis te ry, op in die paadjie en weer om die huis.

Ouma was daarvan bewus dat sy senuagtige kyke kry, want dit is onaangenaam om ‘n skreeuende baba in die kar te tel. Nog meer as die tog drie uur lank gaan wees …

Toe stop ons so rukkie onder ‘n boom. Dit was warm. En hy was na aan slaap, sou geen drame wees as ek stop nie.

En toe lag ek vir die intelligente mannetjie van ons.

‘n Babahandjie vou om die sleutels van my quad, draai dit net een keer na regs. En dan gaan die handjie vinnig na links om die knoppie wat my vierwiel se enjin aanskakel te druk. Om vinnig na die handvatsel terug te keer, hy moet mos ry!

En lag hy terwyl die enjin brul omdat die fiets hom dadelik gehoorsaam, terwyl ouma dit oopmaak. Al staan ons op een plek stil. Vorentoe maak nie meer saak nie, hy gaan nie meer stry nie. Dit is sy slapiestyd.

Daar is geen drama toe sy mamma hom optel om hom kar toe te vat nie. Geen kwaaigeid tot hy ouma groet nie. ‘n Lagbekkie toe sy hom soos altyd “last touch” en kry ouma ook ‘n rotsvuisie toe sy daarna vra.

Ek ken my kleinkind baie goed.

Weet wat sy hartjie nodig gehad het voordat hy die lang pad terug aanvat.

‘n Laaste rit saam met ouma op haar vierwiel. Om soete drome te maak terwyl hy terugaan stad toe waar ouma nie ‘n vierwiel het nie …

Soos wat ek verwag het, kry ons minute later die foto van ‘n slapende baba. Hulle was nog nie eens by die boonste hek nie, toe slapies hy lankal.

En ouma lag uitbundig terwyl sy haar 30 minute om die huis stap.

Ek ken hom, ek dra sy beste belange op die hart. Hy kon met ‘n gelukkige hartjie aan die slaap raak.

Daar is natuurlik nuwe iets om voor op die uitkyk te wees. Sluetels mag nie in die vierwiel gelos word nie.

Hy kan sy ouma se vierwiel aan die gang kry.

As sy dit doelbewus afskakel. Wat natuurlik beteken dat ouma die sleutels veilig moet bêre as hy hier kuier wanneer hy groter is. Anders gaan hy dalk nog agterkom hoe mens vorentoe ry ook.

Wie sou kon raai dat ‘n 21 maande oue baba jou dophou en dit dan self doen, in die regte volgorde, sonder dat hy geleer word dit is hoe dit werk?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.