Vanoggend herinner my iPad my aan hierdie foto wat in 2011 geneem is. Die swembad van ons huis in Ruimsig Country Estate. Met die piesangbome, wat ek moes uithaal omdat hulle vervuil … Toe was dit al ses jaar lank ons tuiste.
Ek is mal oor die kleur van die swembad, dit voel soos Seychelles en Mauritius, selfs soos dele van die Kaapse see rondom Houtbaai. Dit was sestien jaar lank ons familiehuis, al was seun en dollatjie reeds uit die huis.
Ons het ons huis in 2019 in die mark gesit toe ons Kazakhstan toe is. Nie net omdat ons vir ‘n jaar of drie weg sou wees nie, maar ook omdat die huis heeltemal te groot vir ons twee geraak het.
Ons het al ons meubels in die huis gelos, want ons het ‘n baie spesiale vriend van seun gehad wat daar kom bly het, met die agente sou onderhandel vir tye om na die huis te kyk en veral na my drie Schnauzers sou omsien. Tot hulle na my toe kon gaan in Kazakhstan.
In daardie tyd het seun my oortuig om die drie woefkinders van my eerder by hom te laat bly as om hulle 10 000 km ver na ons te vlieg. Ek wou nie, het my stukkend verlang na hulle doer in die verre land. Ek het niemand geken nie, daar was niemand anders wat Afrikaans kon praat nie. My woefkinders het my mos verstaan. Maar dit het sin gemaak en hulle het by hom gaan bly omdat hy ‘n huis gekoop het waar ons motors kon staan en my drie woefkinders veilig sou wees.
Ons het die huis in Maart 2019 in die mark gesit. Aanvanklik kon enige agent ons huis bemark, maar nou moes ons seker maak dat ons huis veilig is.
En ‘n aanbod op die huis in Junie 2019 gekry.
Toe vat manlief verlof en kom ons terug na Suid-Afrika, pak die groot huis op. En kry die verrassing van ons lewe. Die “koper” het ons agent gebruik om hom te help om ‘n lening te kry by die bank. ‘n Aanbod op twee huise gemaak en die bank het slegs een toegestaan. Die goedkoper huis. En daar val die hele kooptransaksie deur die mat.
Toe teken ons 6-maande kontrak het ‘n agent. Die agent kon mense neem net wanneer sy sou wou, want die huis het leeg gestaan. Sy het egter nie haar kant van die ooreenkoms nagekom nie. My huis se alarm het my nie meer as drie keer laat weet dat sy oopgesluit het nie.
Toe haar 6-maande kontrak verstyk, het ons ‘n nuwe agent alleenreg gegee. Wat ‘n fout!
Die poppie het met styfpassende gymkleertjies die huis vir voornemende kopers gewys. Niks vir die verbeelding oorgelos nie. Alles behalwe professioneel en haar lyfwystruuk het nie gewerk nie. Sy het die huis vir meer mense gewys, maar ek kan verstaan waarom hulle nie by haar wou koop nie. Ek was baie ongemaklik as sy met my vergader het.
Toe haar kontrak verstryk het, het ons die huis dus ‘n jaar later huis by die derde agent in die mark gesit. Met die gevolg dat die huis tot Desember 2020 onder haar sou wees. Ons was mos 18 maande in die buiteland. Sy het die huis vir baie mense gewys, maar sy ken nie haar klante nie.
Daarvan kan ek getuig. Toe ons in Oktober 2020 permanent huis toe kom, het ons die sleutels teruggeneem en met ‘n paar meubels in die huis teruggetrek. Twee beddens, yskas, skottelgoedwasmasjien, yskas, TV en kopstukke vir die beddens teruggetrek. Een waentjievrag wat maklik uitgetrek kan word.
Toe kon ek sien dat sy nie haar klante ken nie.
Bring ‘n vrou wat so groot is dat sy nie kans sien om die trappe te klim nie om bo te kyk. Al die slaapkamers is bo, hoe gaan sy elke dag bo kom?
Bring ‘n gesin met ouma wat onder moet slaap. As daar geen slaapkamer onder is nie. Ook nie regtig ‘n manier waarop mens een van die sitkamers in ‘n slaapkamer met badkamer kan verander nie.
Bring ‘n vrou wat nie van regte egte houtkaste hou nie om na die huis te kyk. Alhoewel die kombuis my oortuig het dat dit my huis is, soek sy plastiese kaste. Ek sou natuurlik maklik my kaste uithaal en vir haar plastiese kaste insit, maar ek kon sien dat dit nie haar huis was nie. Sy soek ‘n mansion en my huis spel om elke hoek en draai duidelik uit dat sy ‘n familiehuis is.
Dan vertel sy vir die mense hoe hulle hier kan afbreek en daar kan anders bou as die huis pas uitgeverf is, binne en buite. Net reg vir nuwe eienaars!
Toe ons middel Desember see toe gaan, het ons nie die sleutels by haar gelos nie. Want haar kontrak het 15 Desember verstryk.
Ons het besluit om ons huis self te bemark – as ons nie self terugtrek nie. Maar eers sou ons die huis ‘n regverdige kans gee om iemand te kry wat dit geheel en al kan benut.
Manlief het begin Desember in Kuruman begin werk. En ons het die week vakansie reeds betaal, dus kon hy die middelse week die verlof neem. Toe is ek saam met hom Kuruman toe, om vir die lang naweek oor die einde van die jaar huis toe te kom. Na die kinders toe.
Die dag toe ons die pad terug wou vat, oujaarsdag, net voor ons ry, kry ek oproep van die agent. Sy het ‘n koper.
Ek wou eers lag, maar toe sê ‘n Stem dat ek baie verkeerd kan wees. Ek vertel toe vir haar dat ons op pad Kuruman toe is. En dat ons regtig nie tyd het nie. Want sy bring mense wat kamers onder soek en die huis kan nie so verander word nie. Buitendien, die huis is pas geverf en net reg om in te trek. Sy skrik mense af as hulle dink dat daar baie werk aan die huis gedoen moet word.
Sy verseker my dat dit nie die geval is nie.
En ons besluit om die mense te laat kom kyk.
Moeilike besluit omdat ons reg in die sakkende son inry as ons later uit die stad wegkom. Maar, ‘n Stem het ons oortuig om te wag.
Toe die man by die voordeur instap, het ek net geweet dat die Here die regte koper vir die huis gestuur het. Hy is saam met agent deur die huis en toe vra hy of ons so rukkie sal wag. Sy vrou moet kom kyk. Ek was op pad na onder toe ek hoor hoe hy vir sy vrou vertel dat hy haar huis gekry het.
Sy het kom kyk en die aanbod is dieselfde dag gemaak. Skaars minder as waarvoor die huis in die mark is.
Ons het geteken, hulle huis het ‘n koper gehad. Hulle wag net vir die geld om ons huis te koop.
En toe val hulle kopers se koop deur die mat. Hulle koper kon nie lening kry nie.
Ons agent het met die nuus gebel, sy het ander koper. Kan sy die huis wys?
Maar manlief het vir haar gesê dat ons self in die huis gaan woon as hierdie kopers nie regkom nie. Hulle het dus tyd om nuwe kopers vir hulle huis te kry. Ons is moeg vir mense wat deur ons huis loop.
Sy het aan die werk gespring, ‘n koper vir hulle huis gekry en toe ons weer sien, is die prosesse so goed aan die gang dat ons enige tyd uit ons huis sou moes trek.
Dit het ons einde Junie kom doen, want ons het beplan om ‘n klein meenthuis naby seun in Pretoria te huur tot ons ‘n plekkie kry wat ons wil koop.
En toe kon die dominoes, soos ek reeds vertel het, begin val. Want ons moet uit ons huis dat ons kopers kan intrek. En hulle moet uit hulle huis dat hulle kopers kan intrek. Ons was dus die eerste dominoes wat moes val om die registrasie van die huise te bespoedig.
My huis het die wonderlikste mense gekry. Afrikaans. Christene. Hou met ons kontak, maar kla oor niks nie. Sy is so opgewonde oor haar huis, het reeds einde Junie ingetrek. Al moet sy okkupasiehuur betaal.
Maandag bel die agent my, die huis is so pas op die nuwe eienaars se naam geregistreer. Ek stuur boodskap vir haar en haar man om hulle met hulle nuwe huis geluk te wens. En net voorspoed toe te wens.
Dit was 16 jaar lank my droomhuis, maar dit het soveel vertrekke dat ek die hele dag huis moes skoonmaak, al het ons net die TV-kamer, braaikamer, kombuis, opwas, ons slaapkamer en ons badkamer gebruik. Die huis het 3 volledige badkamers en ‘n gaste-toilet, ‘n wynkelder onder die trappe, 4 slaapkamers, groot ontvangsitkamer, nog ‘n sitkamer, TV-kamer, baie groot kombuis en eetkamer, groot opwas, en groot portaal onder, met groot studeerkamer bo. Dan het dit groot stoepe, drie bo en een onder. Nadat ek besluit het om nooit weer ‘n werker in my huis te vat nie, was die skoonmaak daarvan my werk …
Ons het die huis halfklaargebou gekoop, dus was ons die eerste eienaars van Utopiastraat nommer XX. Ons het wel intussen aangebou. Die braaikamer en die nuwe ontvangsitkamer. En ‘n stoep bo wat twee slaapkamers verbind het. Hulle hou van die verbeteringe, dit het hulle getrek om die huis te koop.
En van die kleur van die huis. Want dit het ons ‘n arm en been gekos om die huis te verf. Ons het gevoel dat die nuwe kopers hulle eie kleur kon kies. Maar kopers dink nie so nie. Hulle dink aan werk voordat hulle kan intrek. En ons het goed gekies toe ons die kleur gekies het … Hulle hou baie daarvan.
Ek het elke plantjie, grassie en boom in die tuin self geplant. Elkeen daarvan het ‘n geskiedenis. My Jakaranda troon groot bokant die hekke uit.
So, bykans tot op die dag twee jaar nadat die eerste voornemende koper ons so ingeloop het, het ons huis ‘n nuwe eienaar.
Sy is nou iemand anders se huis.
Iemand wat deur die Here self gestuur is om die huis oor te neem.
Ek weet sommer dat hulle net so gelukkig soos ek in die huis gaan wees. Want, sy voel soos ek oor die huis. Die huis is baie groot en baie ruim. My kleinseun het eendag te vertelle gehad dat hulle in ‘n huis bly, maar ouma bly in ‘n paleis! Ek het so daaroor gelag, want ek het nie so oor my huis gevoel nie. Dit was ons familiehuis.
Die nuwe eienares het nie ‘n mansion gesoek nie, sy het ‘n familiehuis gesoek. Soos wat ek daardie tyd gevoel het toe ek die huis as my huis gekies het. En dit het sy gekry.
Elke huis lê soos ‘n familielid in jou hart.
LikeLiked by 1 person
Inderdaad!
LikeLike
Om ‘n wonderlike bly-huis te verkoop voel vir my soos ‘n sterfgeval van ‘n geliefde. Daar het soveel liefde, bloedsweet en trane in die huis ingegaan.
So bly dat julle wonderlike mense gevind het wat nou die nuwe eienaars is. Hoop en vertrou jul nuwe nessie gaan net sò lekker bly!
LikeLiked by 1 person
Danki4, dit is die mooiste boodskap. Ek waardeer dit baie.
LikeLike
Dis soos ek oor my huis voel. Dis my leefhuis, my perfekte woonplek
LikeLiked by 1 person
Dit is wonderlik as mens se huis jou familiehuis kan wees.
LikeLike
Om ‘n huis waarvoor jy lief is te laat gaan is ook ‘n verlies, maar as daar mense intrek wat dit ook soos jy sal lief hê voel mens meer gerus.
LikeLiked by 1 person
Dit is so waar, Sonell. Ek vermoed ek het toe ons oor is Kaz toe reeds begin afskeid neem. Want my hart huil nie. En my familie is verstom daaroor. Ek het egter twee en ‘n half jaar laas regtig daar gewoon.
LikeLike
Lekker om kopers te kry wat jou ou huis net soos jy sal geniet! Geniet jou nuwe huis Christa!
LikeLiked by 1 person
Sommer baie, Aletta, veral as ek nie meer die huis ten volle kan benut nie.
LikeLiked by 1 person