Gepubliseer in Resensies

Spoorloos 3 Steynhof: Wat ‘n kragtoertjie!

Ons het weekliks voor die kassie vasgenael gesit terwyl on Spoorloos 1 en 2 gekyk het. In die twee reekse was een mens vir die verdwyning van kinders verantwoordelik. En die meeste van die kinders het dit nie oorleef nie. En ons kon nie wag dat Spoorloos 3 begin nie.

Spoorloos 3 is soveel anders as sy voorgangers. In hierdie reeks verdwyn ‘n enkele babadogtertjie, maar nie omdat een of ander mens met ‘n geestesversteuring haar gesteel het nie. Haar oppasser het haar van ‘n gewisse dood gered toe haar ouers op die plaas vermoor is. Die reeks speel ook nie in ‘n piepklein dorpie af nie, maar op een groot rykmansplaas.

Die storielyn is uitstekend en ons kry elke week so bietjie meer insig in wat eintlik daardie nag op die plaas gebeur het.

Ek dink die akteurs en aktrises speel hulle rolle uitstekend.

Ek sal graag die jong aktrise (Jane de Wet) wat die gesteelde baba (Rochelle Steyn gedoop maar as Adri van Tonder grootgemaak) was, wil uitsonder. Sy is blykbaar pas opgelei, maar mens sou dit nooit kon raai nie.

Dalkies omdat die vrou wat haar grootgemaak het (Therese van Tonder gespeel vertolk deur Franci Swanepoel) iemand is wat akteurs en aktrises (Binnelanders) met hulle dialoog help? Of dalkies omdat die vrou wat op haar erfplaas bly (Joey Steyn vertolk deur Diaan Lawrenson) die hoof van ‘n opleidingskool vir akteurs en aktrises is en self baie raad en leiding kon gee?

Ek geniet Xander Malherbe (vertolk deur Brent Vermeulen) se spel ook baie. Hy is ‘n outisme grensgeval, perfeksionisties, kan nie jok nie en lojale vriend van Adri. Hy sê wat hy dink want hy verstaan nie waarom mens soms nie moet sê wat jy dink of met die hele sak patats moet uitkom nie.

Ek geniet ook Annabel Kohl (wat die rol van Liena April vertolk). Sy moes haar naam na Veronique Jacobs verander nadat sy die baba gered het. Sy is ‘n nuweling, en ek verwag dat sy baie ander rolle aangebied gaan word.

Ek is nie van plan om die storie weg te gee nie, maar ek wil graag noem dat ek raai dat die “moordenaar” van haar ouers wat hierdie week geïdentifiseer is, nie die werklike moordenaar is nie. Ek raai dat sy vrou die moordenaar is. Om twee redes. Eerstens het sy vir Adri gewys hoe goed sy kan skiet. En tweedens word daar te gereeld in die storie deur verskeie karakters genoem dat haar man nie die “balls” het om iets te doen nie. Ek dink hy beskerm haar om sy familieplaas te beskerm.

Sy het – na my mening – goeie rede gehad om die twee mense te vermoor. Sy is ambisieus, en noem gereeld dat sy nie maklik terug sal gaan na niemand wees nie. Sy misbruik mans om haar doel te bereik. Goeie motiverings om te kry wat jy wil vat.

Ek dink regtig nie dat haar man sy eie broer en sy vrou koelbloedig sou doodskiet nie. Veral nie omdat hy Adri met ope arms op die plaas verwelkom het nie. Hy het wel die geweer gedra, maar hy kon dit by haar afgeneem het. Hy het – vir my – ook nie soos ‘n moordadige mens gelyk toe hy deur die huis gestap het nie. Maar dalkies lees ek te veel in die storie?

Ons taaljuffrouens hou mos van stories wat meer om die lyf het. Soek die meer om die lyf om die kinders te lok om die verhaal te wil lees. En geniet dit om uit te snuffel wat nie in woorde geskryf staan nie …

Dus wag ek in spanning vir volgende Dinsdagaand se episode.

Is ek reg? Lees ek verkeerd tussen die lyne? Dit is heel moontlik, maar daar is ten minste nog twee of drie episodes oor. En dit voel net vir my of dit te onmoontlik is dat hy sy eie broer doodgeskiet het. Dalk is dit die rede waarom hy sy vrou wil skei?

Volg jy Spoorloos 3? As jy nie doen nie, loer gerus na die voorsmakie.

https://youtu.be/55FbY4TmWx0

Lees gerus hier meer oor die reeks wat op Catchup beskikbaar is.

Haal asseblief net oor Dinsdag 17 Augustus in dat jy die res van die reeks kan volg.

En as jy die reeks wel volg, wie dink jy is die regte moordenaar?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “Spoorloos 3 Steynhof: Wat ‘n kragtoertjie!

  1. Ek geniet ook Spoorloos 3, Christa. Ten minste weet ons nou die moordenaar is nie Liena se broer nie. Sou dit die boer se vrou wees, het beide haar eie man én Liena se broer haar beskerm want sy het met albei van hulle ‘n verhouding.

    Liked by 1 person

    1. Lag ek nou baie lekker vir jou. Nee, ek skryf dit vir myself en dalk hou ander mense ook van die reeks. Daar is soveel reëls aan resensies dat myne nie as een sal kan deurgaan nie. Maar dit is vir my ‘n resensie van die reeks.

      Like

  2. Ek stem 100% saam met jou. 1) Ek dink dit is ‘n uitstekende reeks. 2) Die akteurs is ALMAL topgehalte. 3) Ja, ek dink ook soos jy oor die moordenaar.
    Dinge het hierdie week begin draai. Mense wat ‘baie weet’ en dit nog altyd stilgehou het, begin nou wyer dink, haal hulle oogklappe af. Ek dink die poppe gaan al hoe meer begin dans. Sefls die plaaswerkers gaan draai. Die oom gaan al hoe meer besef dat sy vrou vir hom jok. en en en

    Liked by 1 person

          1. Die Afrikaanse reekse is goed. Net soms ontspoor hulle by seisoen 2 en 3. Hierdie een het sy spanning behou sonder dat hulle by allerhande vreemde plekke hulp moes gaan soek om die storie interwssant te hou.

            Liked by 1 person

          2. Soms speel dinge waarmee die oorgrote meerderheid van die samelewing nie saamstem nie, ‘n al hoe groter rol. Biekklub was vir my so. Die eerste reeks was regtig oulik. Die tweede het my al effens ongemaklik gemaak. Die derde reeks het ek so iets soos 3 episodes gekyk en opgehou.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.