Gepubliseer in Reisjoernaal

Tyd vir vere regskud in nr 17 Rebusfontein

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

Ek het reeds vertel dat ons besig was om te toer toe die nuus inkom: Rebusfontein, ons skilderagtige dorpie in Suid-Afrika, het, net soos hy verskyn het, weer in die niet verdwyn.

***

Maar toe begin ons so huiwerig daaroor gis. En ons babbel en gesels in ons WhatsApp groepe en op die kommentaar van die hoofstuk waarin Rebus verdwyn het. En ons besef:

Dit is mos nie hoe dit werk nie. Dit is juis die lekker van ons vervolgverhale.

Elkeen bied aan om ‘n hoofstuk te skryf, afhangende van jou eie omstandighede. Soms het mens nie tyd nie, ander kere het jou muse so bietjie ruskans nodig. Ek maak tyd en dan raak die spanning in ons huis hoog as ek sukkel om werk binne sperdatums klaar te maak. Maar, towerinne altyd eerste as dit my beurt word.

Iemand gebruik elke keer die geleentheid om ‘n kinkel in die kabel te maak. Wat die skryfster na jou noodsaak om haar hoofstuk aan te pas wat reeds ver beplan was.

***

Toortsie, ons towerin wat haar nie deur inperkings laat hiet en gebied nie, het eerste met die nuus gekom, Rebusfontein is nie weg nie, dit het net tydens die inperking vreeslik verwaarloos. Ons is mos al maande in ons regte huisies vasgevang. In so mate, dat Rebus verwaarloos het. Siesa vir ons!

Sy en haar man het die nodige briewe en toestemming gekry om Rebus te mag besoek. As sy alleen was, was dit easy peasy, maar dit is so effens van ‘n probleem om die mans van een plek na die ander te vervoer. Hulle wil self bestuur.

Hulle wou gaan groet, afskeid neem, en wat ontdek hulle twee? Broodina het die brief geskrryf, niemand anders nie. Sy het ons vir ‘n aap gevat. Of soos die Kaapse mense sê, vir ‘n pop. Ampertjies het ons almal haar geglo!

Rebus se huisies was net leeg, want almal was of op toer, of ingeperk.

Seegogga het nie op haar laat wag nie, sy is dadelik in die pelikaan se bek saam met meneer Krap na Rebusfontein.

En sy het skoongemaak en die allermooiste hoofstuk geskryf oor hoe sy haar huisie gaan regpak het.

Una het vir ‘n vale gaan werk, mens sal nie sê sy is op die oomblik ‘n baie besige vrou nie. Maar sy het dit terdeë geniet, niks so lekker soos om op Rebusfontein te gaan skoene uitskop, hare los te maak en in vriendskappe te belê nie.

En twee nuwe inwoners het die dorpie binnegeval, letterlik, want ons het hulle op die toere raakgetoer. En ek dink ek bewoord almal se gevoelens as ek sê dat ons twee hartsmense bygekry het. Soms wen mens vriendskappe, soms verloor jy weer. Hierdie twee gaan sommer gou agterkom. In Rebus wen mens meestal vriendskappe … ons vriendskappe is nie duur nie.

Dit is die absolute lekker om deel van die towerinne te wees. Hierdie groepie vrouens kan met woorde toor. Die woord sal seker nog in die woordeboek opgeneem word? Dit is ‘n nuutskepping wat verwys na vrouens wat met woorde kan toor en ‘n hele dorpie met sy inwoners laat verskyn. Maar meer nog

Ons vriendskappe is regtig egtig. Eg.

Ons leef ons ook in mekaar se werklike lewe in. Daar waar ons die towerin mantels afskud om kykies in ons ander lewens te bied. ‘n Groepie vrouens wat vir mekaar omgee, mekaar se gevoelens in ag neem en saamvoel as iemand seer het. Ons troos waar ons kan, ons lag saam, ons het ongelooflik baie pret saam.

En dit is heerlik. Want, ek sukkel met vriendinne wat soos stekelballetjies is. Jy weet, daardie soort wat jy graag wil koester, maar watter aanslag jy ookal probeer, kry hulle wel ‘n kans om ‘n seer steek in te kry.

Ek besef sulke mense het iewers seer, maar daardie steke is soos turksvy dorings. Jy sukkel om die dorinkies daarna uit te kry. Goeie les by my suster se kind geleer toe hy nog ‘n kleuter was. Tannie, ek kan nie nou praat nie, ek is te kwaad. Soms moet mens egter juis die kwaad weggesels, uitredeneer. Dit is nie baklei nie, dit is groei. Omdat mens onwetend op baie seer tone kon getrap het. En moet aanvaar dat jy ook verkeerd kon wees.

Vriendskap gaan nie oor reg of verkeerd nie, ook nie oor kante kies nie. Dit gaan oor ons is vriende … ten spyte van … en ons gesels dit uit ter wille van groei en nuwe hoogtes in die vriendskappe.

Iemand sê onlangs dat vriendskap duur is. Ek heg geen monetēre waarde aan vriendskap nie. Vriendskap is vir my kosbaar, en ek sal soms agter die gordyn werk om vriendinne weer te laat onthou dat hulle vriendinne is … Oudste sustersindroom …

Dus, liewe vriendinne, dankie vir die vensters Toortsie, die huis ruik sommer weer vars. Dankie dat jy die goggas verjaag het, jy weet hoe bang ek vir hulle is. En ek weet hoe bang jy is. Ek is jou ewig dankaar, die spinnerakke het gelig …

Appeltjie en Aalsie, ek geniet die manier waarop ek julle twee leer ken. Dit is absoluut heerlik om julle twee as buurvrouens te hê. Veral omdat ek so aangemoedig word om my huis te kom regmaak.

Positief, ek het heerlik saam met jou gaan kuier toe jy jou huisie gaan regskud het.

Kameel, Auf Wiedersehen, ek skat jy gaan nie te lank kan wegbly nie. Daar is dinge om te doen, plekke om te sien.

Tannie Frannie, ek hoop die seer is sommer gou oor. Gelukkig het die donkie jou nie weggevat nie. Ek was bekommerd toe hy so weghol, maar hy het jou mooi teruggebring.

Perdebytjie, Woordnoot, Scrapy, Virgo, Bondels en Sonell, dit is lekker om saam met julle in Rebusfontein te bly. Wanneer kom julle vir ‘n vinnige kuier?

Ek het so pas ingevlieg, dit was ‘n besonder lang reis met al die reëlings op lughawens. Het nooit geweet dit kan so sleg wees om te reis nie.

Dan gaan ek persente uitdeel …

Dan gaan ek aan die werk moet spring, daar is ‘n huisie wat ‘n regskud nodig het.

Tyd vir verandering, groei is belangrik, ontwikkeling ook.

Ontwikkeling beteken egter nie dat ek bereid is om my vriendskappe te verwaarloos nie. Dus is dit lekker om te sien hoe ons vriendskappe hegter geword het. Daar is niks so lekker soos om in vriendskappe te belê en saam te groei nie.

Daardie huisie moet mooigemaak word om my so bietjie aan Qazaqstan te herinner. Dankie vir die idees …

En dankie vir die opneem van ons motto, wat Bondels as ek dit reg onthou, die eerste keer tydens een van ons onlangse reise gebruik het. Ek sien ek was verkeerd, ek het dit by Woordnoot raakgelees.

All for one!

Uitgebrei na Brakkenjan se stelling: Een vir almal en almal vir een …

Hoe laat dit my nou na my kinders se kinderstories van toentertyd verlang? Toe ek die kenwysie van ‘n spesiale nuwe vriendin kry, het ek dadelik daarop aan die dans gaan. Ek kan my lekker in stories inleef …

Die lewe is goed en mooi en reg.

One for all and all for one …

Foto: My BB met ‘n doek om die mannetjies van haar weg te hou. Algehele vrede in die huis gewees, dan stuur die twee mannetjies, wat haar kinders is en so bietjie vergeet, nie hulle klaagliedere die hele wye wêreld in nie. Sy gaan elke keer saam Rebus toe, Shilo en Sobek ook.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Tyd vir vere regskud in nr 17 Rebusfontein

  1. Goeiste, elke keer as een van ons oor haar huisie en Rebus skryf, wil wil die trane loop! Nes jy, is ek hoogs opgewonde om te sien wat die towerinne nog gaan aanvang, Christa.

    Liked by 1 person

  2. Jy het so ‘n lekker vertel skryfstyl. Ek het so lekker gelees en kan met alles saamstem. Ek lig ‘n glasie op nuwe vriendskappe.
    Ek moet nou net ‘n balans kry, want die geliefde soek aandag en ek kan nie wag om te sien wat die towerinne whatsap of blog nie.

    Liked by 1 person

  3. Dis die mooiste skrywe, Christa! Pragtig! K waardeer jou towerinvriendskap so! Dankie vir jou entoesiasme om Rebusfontein weer te herstel. Hy is alreeds mooier en veiliger as wat hy ooit was.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.