Ons is mos in die proses om die rivierhuis te verkoop. Aangesien ons die plek sedert 2001 het – en intussen ‘n baie groot stoor opgerig het – is daar baie stoorplek. Nie in die huis nie, maar wel in die stoor.
Intussen het ons Kazakhstan toe getrek vir 18 maande. En uit ons huis in Ruimsig kom trek dat dit verkoop kan word. Die bokse is net so in die stoor geberg. ‘n Week is nie genoeg om te kuier, te reis en te trek nie.
Intussen is ons terug in die RSA, is ons huis in Ruimsig verkoop, nou ‘n jaar gelede. Aangesien ons ‘n piepklein meenthuis gekoop het, kon baie min na die stad toe kom. Veral nie bokse en bokse vol klere nie.
Ek weet, baie sal nou raad gee dat ek bokse vol goed moet weggee as ek dit nie die afgelope drie jaar gesoek het nie. Want dit is ongeveer hoe lank gelede ons uit ons Ruimsig huis getrek het …
Wel, ek is besig om uit te sorteer, ons het geen keuse nie. Daar is nie plek by ons meenthuis vir nog goed nie. Al het ons mos intussen die eerste een verkoop en ‘n tweede, groter ene aangeskaf … Ons is wel in die proses om ‘n huisie by die see te koop, maar daardie huisie het self baie min bergplek.
Dus moet ons uitsorteer.
En as ons uitsorteer, ontdek manlief skatte. En ook dat ‘n muis aan sy skatte gaan kou het. Die skatte is klere …
So maak ons een van die hangbokse oop, om te ontdek dat aan sy dasse gekou en geknaag is om bedjies vir hulle babas te maak. Van die muis is daar geen sprake nie, want ‘n uil het in ons stoor gaan nesmaak. En die muis en haar babas was seker lekker kos?
Dit was so grillerig. Mens wil kyk wat die skade is, jy wil dasse red, maar die reuk van muis is nie aangenaam nie. Dus het ‘n groot klomp dasse in die asblik beland. Sommiges was net rafels!
En mag ek skryf dat ek nie dink dat daar ‘n man is wat my man se dasskat in hoeveelheid kan oortref nie? Ek dink ek moet gaan tel, maar daar is beslis honderde dasse.
Dasse van spanne waarvoor hy gespeel het. Dasse wat vir spesiale geleenthede gekoop is om by my rok te pas. Dasse vir werk, hy het jare lang gedas gaan werk. Dasse vir die kinders se troues. Dasse van groepe en myne en die Universiteit van Pretoria. Ou soort dasse wat baie smal is, ou soorte wat soos ‘n nekdoek kan wees so breed is die voorkante. Mooies en een of twee lelikes. Die meeste onvervangbaar. Hartseer, maar seker ook tyd om dit te laat gaan?
So ontdek die manlief die vorige keer ‘n boks vol warm klere. Truie en sweetpakbaadjies. Het ek al vertel dat ek in Kazakhstan nie een enkele trui gedra het nie? Ons het baadjies vir elke seisoen gehad. Truie is ‘n nee-nee, die koue wind lag daarvoor en sny deur die gaatjies om jou lyf met ysige vingers te vries waar dit aan jou vat.
Iedergeval, manlief ontdek toe truie. En daarvan het hy ook baie, myne en universiteite het mos truie met logo’s op. En sweetpakbaadjies.
Dan word die goed huis toe gebring en moet ek was dat hy kan dra.
Ek wil my elke keer wip, want ek het reeds beperkte tyd tot my beskikking aangesien seun se seuntjie drie dae per week by ouma bly. Voldag. Van net na sewe tot naby ses saans.
In die somer was dit nie regtig voldag nie, want die son het my net na vyf al uit die bed gejaag en saans eers laat gaan slaap. Nou is dit basies van net na sonop totdat die son weer sy slaapplek gaan opsoek vir die nag.
En om een of ander rede wil my brein en hande saam met die son gaan slaap en opstaan. Verstaan jy? Ek is nie lus vir die berge wasgoed wat aangedra word nie …
Iedergeval, gister word die een sweetpakbaadjie gedra (hooffoto). En dit is steeds pragtig, mooi deur die dekades gegaan. En ek probeer my bes, maar ek kan nie onthou in watter dekade hierdie soort sweetpakbaadjies mode was nie.
Ek weet dit was terwyl my kinders op skool was, want hulle het soortgelyke baadjies vir die skole gehad. Net ander kleurkombinasies. Soos blou en wit. Of swart en rooi. En dit bring my dan moontlik nader aan datums. Jongste is in 2005 deur die skool, dus moet dit voor 2005 wees.
Kan selfs voor 2000 wees, dollatjie se skool het drimacs gedra, nie meer hierdie soort nie – toe sy matriek was.
Dus is die baadjie al 22 jaar oud, of selfs ouer.
Dus was hierdie sweetpakbaadjie in ‘n tydkapsule uit die vorige eeu …
Daarna het mooi eenkleur sweetpakbaadjies ingekom en hierdie vreemde baadjies se plek gevat.
So terloops, ek het meer as een soortgelyke baadjies self gemaak. Dit was hoogmode!
Gister deel ek hierdie foto met die kinders. En skryf by dat pa, wat dink dat hy baie jonk is, sy ouderdom lelik weggee.
En daar het ek vir pa en die kinders vas. Hulle het geen idee waarvan ek praat nie, want pa is besig om my drie woewe se landmyne op die gras te verwyder.
Vanoggend is ek teleurgesteld omdat daar steeds geen reaksie is nie. En vra ek manlief of hy weet wat ek bedoel. En nee, hy weet nie. Kan ook nie saam raai hoe oud die baadjie moet wees nie.
Dus moet ek dalk eers verduidelik waarom dit my getref het?
Ek het die meeste van my onderwysloopbaan sport afgerig: Atletiek, seunshokkie en netbal vir ‘n baie baie kort rukkie. Dus was sport deel van my lewe, en veral sportdrag. En ek kan spesifiek onthou dat ek so dankbaar was toe hierdie vreemde soort sweetpakke weer die pad gevat het.
Warm was hulle inderdaad met die binnevoering van katoen. Lelik was hulle egter beslis met die skuins stroke materiaal waarvan dit gemaak is.
Kan jy dalk help?
En nou moet ek bieg …
As atletiek- en sportjuffrou het ek self ‘n voorraad sweetpakke. Maar daardie soort van my het ek lankal weggegee. Ek het die soort wat van ‘n sagter materiaal gemaak is. Met ‘n netagtige voering. Hoofsaaklik Nike s’n. Nie dat ek ‘n logo snob is nie, dit was net pragtige sweetpakke wat steeds lekker dra.
Kom ek nou weer agter – na soveel jare …
Ek het ook soos manlief in die bokse gedelf. Maar ek is kieskeurig oor wat ek nog sal dra.
So speel ek juis in die week met die gedagte oor hoe oud my Nike sweetpakke kan wees.
Ek het in 2008 opgehou skoolgee, dus is dit ten minste 14 jaar oud.
Goed, ek weet nou die swart een is selfs ouer as dit.
‘n Skielike onthou terwyl ek skryf.
My skoonma het net voor sy hemel toe is, by ons by die rivier gaan kuier. Ek was besig om te merk en vraestelle op te stel en het per ongeluk ‘n druppel flaterwater (Tippex) op my broek laat val. Waarom sou ek dit gebruik het? Ek haat dit!
En skielik kan nie ek of manlief nie die datum onthou nie. Skoonma is daardie jaar oorlede, enkele weke nadat sy heel gesond by ons gekuier het. Longkanker.
Sy is oorlede terwyl ek nog by Gimmies skoolgehou het. En ons het die rivierhuis in 2002 begin bou. Die huis was al ingewy.
Dus spot ek nou verniet met manlief, my broek dateer uit die eerste jare van die eeu, wat al meer as twee dekades aan die gang is. My broek is dus maklik 20 jaar oud? Maar ek wen tog – syne dateer uit die vorige eeu!
Goeie genugtig! Hoe oud is sy baadjie dan?
Want dit is beslis baie ouer as my sweetpakke. Terloops, sy broek is wel van die nuwer soort. Ek het geen idee hoe sweetpakke tans lyk nie, was jare laas by atletiek of skole of sport betrokke. Hoe lyk sweetpakke nou?
Nie die soort wat na gimnasiums gedra word nie. Dit span mos oral en lyk nie meer soos sweetpakke nie.
Die soort wat skole dra?
En watter verrassing was dit nie om sommer op die internet te Safari nie? Ek Google nie meer nie, Google moes al hoe minder van my weet.

Gimmies se sweetpakke gee die effek van drimacks (Rooi), Waterkloof s’n voel na gebreide sweetpak met die rib-effek onder? Wonder hoe lyk dit, want gebreide sweetpakke was voor die een wat manlief dra. En aaklig, die goed het maklik in die was gerek en dan moes mens nuwes gaan koop as die huishulp ‘n fout gemaak het. Ek neem aan dit is van ‘n beter stof gebrei.
Maar, die verrassing is op my!
Daar is so wraggie steeds skole wat manlief se soort sweetpakke dra (geel en maroen) Na al die jare.
Ek dog ek los ‘n tydbom.
Toe is die sweetpak nie heeltemal in tydkapsule wat oopgemaak is nie … Dit is eerder vir sommige skole tydloos.
Sug, daardie oopmaak van weggepakte goed. Bly maar n gedoente. My goed is gestoor van Februarie af, dis nou my wintersklere wat in twee tasse was. Nat geword buite en begin muf. Wat n teleurstelling. Het my n nuwe bed moes koop want n muf matras is nie moeite om te gebruik nie, sug.
LikeLiked by 1 person
Ag vriendin, dit klink sommer sleg. Hoop iets daardie kant kikker jou op ook.
LikeLike
Tussen jou en my, het sommer ‘n klompie nuwe nodige klere gekoop asook my bed en stoel. Eks spyt oor skade maar dis tot daarnatoe. Hoop net my boeke en fotoalbums hetskade gekry nie. Wil nie eers gaan kyk nie.
LikeLiked by 1 person
ai vriendin, is jy okay na die saam intrek?
LikeLike
Was maar erg, kry toe maagvirus en het terug na ou huis gegaan om by toilet en water te wees. Begin nou eers weer mens voel. Nou het kleuterskool gesluit weens Covid en klein Amelia is tuis. Pappa het vandag van huis af gewerk want hy weet ek kan nie Amelia optel om doek te ruil. Sug, ek het darem dag oorleef. rus nou eers bietjie in my kamer voordat ek laaste draai by huis maak voor ek in bed klim. Ek het darem ‘n kamptoilet in my kamer vir nagtelike gebruik.
LikeLiked by 1 person
Scrapy, ek kan nie help om te dink dat jy ongelukkig is nie. Ek wonder of ek eendag by my kinders sal gan bly, hulle is so besig en het nie regtig tyd vir gesels nie. Maar, dan sal hulle seker ook ouer wees en tyd kan maak vir my?
LikeLike
Dis juis die ding, daar is net nie tyd of regtig behoorlike kommunikasie nie. Ag jong, sal dit seker oorleef.
LikeLiked by 1 person
Ek dink aan jou, gelukkig kan jy darem ry en goed gaan doen. Kan jy by vriendinne uitkom en net bietjie gaan gesels?
LikeLike
Ek doen die uitry na vriendinne maar afgelope twee weke was ek siek en hierdie week is kleuterskool gesluit en moet Amelia opgepas word. My vriendinne sê natuurlik dis elder abuse wat veral skoondogter doen. Gelukkig lees sy nie wat ek hier sê nie. Vriendinne wil sommer die sosiale werker laat kom. Tipies ek, ek wil nie moeilikheid maak nie, haat dit.
LikeLiked by 1 person
Ai Scrapy, ek sal graag meer oor die abuse wil hoor, maar ek neem aan jy wil dit nie hier bespreek nie. Dalk wil sy jou net betrek dat jy nie vereensaam nie en nie soos ‘n gas in die huis voel nie? Maar jy sal weet, want dit gaan met gevoelens gepaard as jy dit sleg ervaar. Ek gaan vir jou ‘n e-pos stuur met my WhatsApp nommer as jy wil gesels. Het jy WhatsApp?
LikeLike
Ek het WhatsApp maar wil nie dit daar bespreek omdat my seun ook met tye my foon oopmaak om dinge reg te stel en dan kan dit dalk op ou einde gelees word wat ek gladnie wil hê nie. Hierdie storie loop al ‘n lang pad saam. Vandat hul getroud is het dit net nie verbeter nie. Het al hard probeer maar telkens doen ek iets wat haar nie pas nie dan skel sy op my uit haar eie frustrasie. Ek weet waar dit vandaan kom. Dis hoekom ek maar stil bly. Kry nie ‘n woord in nie. Als het nou weer afgekoel. Sal sien hoe week verder verloop. Sy wil gladnie hê dat ek enige iets sê. Praat ook bv nie met my soos om my in die oë te kyk sodat ek weet sy praat met my. Sit so sodat sy met rug na my kant toe sit. Sy weet ook ek hoor nie meer so goed nie. Ek word net geignoreer. As ek nou iets wil weet gaan ek reguit na haar toe. Praat met haar tot sy vir my kyk dat ek weet sy luister. Ai, jong dankie dat ek ‘n plekkie het om dinge te sê. Sal maar een of ander tyd die staat op hul moet sit om my te help. Wil net nie my seun in so ‘n posisie plaas nie. Hy doen alles wat hy kan om my te help en te versorg ook. Gelukkig kan ek nog self ry om goed te gaan koop. Dis nou eers genoeg. Ek geniet my kind en kleinkinders baie. Die res is maar ‘n kleinigheidjie as mens dit so vat. Maak mens net baie seer want die houding skemer nou al deur na Beatrix toe want die gevegte vind altyd voor kinders plaas wat vir my die ergste is.
LikeLiked by 1 person
Ag vriendin, dit is sleg. Maar hoe gaan dit help as die sosiale werkers kom inmeng? Hoe kan ons ander eerder help om die probleem op te los? Soos byvoorbeeld om meer gereeld met jou te gesels dat jy nie vereensaam nie? Self sal ek nooit so iets doen nie, sal my seun in ‘n baie moeilike posisie stel. Dus wonder ek hoe ons kan help? Dalk weer saam stories skryf? Dalk iets anders?
LikeLike
Dankie jong, ek waardeer jou antwoord. Dit het my al baie gehelp om net dit van my hart te kry. Dit gaan op oomblik weer beter omdat ek dit nou maar net verby laat gaan ter wille van my seun en kleinkinders. Ek sal maar net weer moet begin skryf ook. Daar is net op oomblik nie regtig tyd nie. Hopelik as kleinkind weer kleuterskool toe is behoort ek weer my eie dingetjies te kan doen. Die skilder en skryfwerk hou my goed besig. Ek lees darem steeds al my bekendes se blogs wat ook help. Is reeds weer meer belangstellend in Goue vroue se stories of so-iets.
LikeLiked by 1 person
Scrapy, as jy weer Goue Vroue Stories skryf, sal dit verskriklik spesiaal wees. My vrees is maar dat my skoonkinders my kinders en kleindkinders van my weg kan hou. Ek dink aan jou kant het jy vryheid ingeboet, rustigheid, tyd vir jouself. En ons moet sit dadelik verander kry. Sodat jy ook net kan: “Ek is jammer, ek is besig. Kan jou nie nou help nie.” Dit kan dalk help?
LikeLike
Jong, ek het een Saterdag gesê ek sien nie kans nie en dis toe onder andere in woede bui ook voor my voete gegooi dat ek nie wou kyk na kinders die aand nie.
LikeLiked by 1 person
Gits, Scrapy, dit is sleg. Ek ondervind dit nie met my skoonkinders nie, dus weet ek nie hoe ek dit sal hanteer nie
LikeLike
Dis vir my ook maar ‘n nare ondervinding en alles het by skoondogter se ma begin wat onwaarhede en beswadderinge in my gesig gegooi het dat haar man haar moes stil maak. Ek kan mos nie bekveg nie. Jammer ek saal jou op met my probleme. Like mother like daughter of is dit anders om. Ek onttrek my net dis nou maar al. Mooi dag vir jou.
LikeLiked by 1 person
Die Ingelse het mos ‘n gesegde: Kille them with your kindness. Ek sukkel egter as familie met my lelik is, daarom kan ek regtig nie preek nie. Kan ek die Goues vra om jou te nooi om saam te skryf? Of wil jy eerder net inval? Ek dink nooi gaan spesiaal wees, jou laat welkom voel en ‘n plekkie bied waar jy tuis kan voel as die huis moeilik raak. Self sien ek nie kans vir dit wat jy deurmaak nie, ek bly eerder alleen. Nou is jou huis verkoop en die droom is nie joune nie.
LikeLike
Hang net nog eers bietjie aan met die skrywery. Eks nog nie heeltemaal op daardie golflengte ingestel nie. Ek moet eers weer in ‘n roetine kom om te gaan sit en te skryf. OP oomblik pas ek nog kinders op wat baie tyd vat. Sodra die ander huis klaar reg is vir huurders behoort ek ook my voete gevind te hê. Sal jou dadelik laat weet. Behoort so oor twee weke dalk reg te wees, Ek het hele Junie geen aantekening van iets gemaak nie wat natuurlik nie normaal vir my is nie. Als was net te deurmekaar.
LikeLiked by 1 person
Ek sien uit, dit sal lekkerder wees as alles na normaal terugkeer.
LikeLike
Ek ook!
LikeLike
Van watter soort storie sal jy hou? Dan stel ek dit sommer ook voor.
LikeLike
Storie maak nie regtig vir my saak nie. My verbeelding is nogal goed om dinge uit te dink.
LikeLiked by 1 person
Ek weet daardie een beslis, maar lig eers?
LikeLiked by 1 person
My pa het so ‘n (soortgelyke) sweetpak baadjie gehad … en dit was in die 80’s (vorige eeu)! Dalk is dit net tydloos (as mens dit dan nog steeds by sekere skole kan kry). Jou man is dus glad nie besig om sy “ouderdom weg te gee” nie, maar hy’s net tydloos 😉 .
LikeLiked by 1 person
Ne, ek kry ook daardie gevoel. Tydloos. Die baadjies is vir my tydgebonde, hy dra tot dit gaar is. Ek hou wel, maar dra nie. En gee later weg.
LikeLiked by 1 person