Gepubliseer in Joernaal

Ons is te besig om huis te groet …

Ek was van Donderdag af stil. Doodstil. Want ek het ‘n wilde naweek agter die blad. En ek voel vandag eers half mens. Steeds doodmoeg. Miskien omdat ek die hele dag gesukkel het om ‘n artikel vir ‘n bloguitdaging te skryf. Nou goed, nie die hele dag nie, maar tot naby 11 uur nadat ek net na vyf al begin het. Omdat die blok-redigeerder van WordPress ‘n nagmerrie is. In my boek voel dit soos ‘n hele dag.

***

Op hierdie oomblik wil ek werklik niks meer met WordPress te doen hê nie, maar dan dink ek weer aan die ander kant van die muntstuk. As ek net loop omdat ek so sukkel, gaan ek spesiale vriendinne misloop wat hard probeer om my te help om ander maniere te vind om my artikel te skryf – sonder WP se baie ongasvrye blok-redigeerder. Daaroor wil ek nie vandag skryf nie, behalwe natuurlik dat ek nou Vuurslag se raad volg en hierdie artikel eers in my Mac se Pages skryf. Dankie Vuurslag, dit vat die meeste van die kwaad weg, ek sal môre daaroor skryf.

***

Vandag wil ek eers oor die naweek skryf.

Ek is nog so bietjie versigtig om te skryf dat ons stadshuis verkoop is, die geld is nog nie in ons bank nie. Maar, ek gaan seker daaroor moet skryf want … ons het die naweek uitgetrek dat die nuwe kopers kan intrek. Aanvanklik wou ons niks weet van intrek voor registrasie nie, maar daar is twee redes waarom ons dit nou toelaat.

Ons koop-en-verkoop proses kan met domino’s vergelyk word, wat een na die ander moet val, maar in die verkeerde volgorde. Daar is drie domino’s wat moet val omdat vier gesinne binne ‘n onbekende tyd moet trek – naamlik ons kopers sodat hulle kopers in hulle huis kan intrek, ons sodat ons kopers in ons huis kan intrek, die eienaars van ons nuwe huis sodat ons weer kan trek – die keer in ons nuwe plekkie in. Die kopers se huis se verkope is bykans afgehandel, dus gaan hulle kopers nou enige dag in hulle huis wil intrek. As hulle nie kan nie, moet die kopers okkupasiehuur vir hulle eie huis betaal – dubbeld die bedrag van hulle paaiement. As hulle dan okkupasiehuur moet betaal, sal dit eerder in hulle nuwe huis as hulle oue wees. Hulle wil eerder in ons huis okkupasie huur betaal, maar kan nie uittrek as ons nog nie getrek het nie. Ons kan nie enige dag uittrek nie, dan moet manlief te veel verlof vat, dus is ons net elke tweede naweek gereed daarvoor. En omdat die kopers liewer in ons huis wil okkupasiehuur betaal, moet ek twee keer trek. Eers uit my stadshuis uit en dan uit my Kuruman huis uit, want ons bly nog tot einde van Julie in Kuruman. Ons was dus die eerste domino wat moes val dat die ander ook kan val anders vertraag ons die koopproses.

So besluit ons om die naweek maar uit te trek. As hulle wil en betaal, kan hulle Woensdag intrek. Daardie huis het nie te veel om uit te trek nie, bed, yskas, skottelgoedwasmasjien, klein yskas, tuingereedskap, klere wat ons vanaf Kazakhstan gebring het en nie na Kuruman gebring het nie. Dit sou iets soos twee waentjievragte wees om by seun te gaan stoor tot die einde van die maand wanneer ek in my eie huis kan intrek. ‘n Naweek is voldoende daarvoor, is die nie?

Die naweek was reeds goed vol. Ons moes Donderdag al huis toe gaan, want nuwe plek se prokureurs het laat weet dat ons dokumente in Pretoria moes gaan teken. Saterdagoggend se verjaarsdagpartytjie van twee van my drie kleinseuns by dollatjie is lankal gereël, juis om by ons naweke wat ons stad toe kan gaan in te pas. Maar dit is mos nie probleem nie? Ek gaan die huis nie skoonmaak nie, eerder skoonmaakdienste bel om ‘n kwotasie te kry om ons huis Maandag 28 Junie mooi skoon te maak. So reël ek sommer met die nuwe eienares om Maandag te gaan toesig hou dat haar nuwe huis na haar smaak skoongemaak word – op my onkoste. Ek kan mos nie vir my huis in die steek laat en haar vol stof aan die nuwe eienaars oorhandig nie. Buitendien – sy kry ‘n la-die-da vrou wat in haar gaan bly …

Toe raak dit ‘n besige naweek.

Donderdagoggend bel die agent my, nuwe eienaar wil reeds Sondag intrek. Ek vertel dat ons gereël het vir Woensdag, maar nee, hulle wil Sondag al intrek. Sy werk by die bank en die banke kry vooraf waarskuwing van saint Cyril se besluite – die kans is 99% dat daar na vlak 5 beweeg gaan word – en dan wil sy eerder Sondag al intrek. Sien ek kans?

Sekondes voordat ek betaal vir die kwotasie om die huis Maandag skoon te maak. Ek bel haar en sy sê sy verstaan sy druk my in ‘n blik, ek hoef nie die huis skoon te maak nie. Ek sê vir haar dit is maklik om te praat, maar as sy eers elke kas moet was voordat sy gaan goed kan inpak, gaan sy my kwalik neem – vertel ek het vir haar ‘n vuil huis gegee. En glo my, ‘n huis wat nou bykans twee jaar leeg gestaan, is wel wol stof in kaste en laaie en oral waar dit in kan sweef. Dus sou ek nou onverwags die groot huis moet skoonmaak voordat ek Sondag huis toe kan kom – en glo my, die huis word nie so vinnig soos my Kuruman huis skoongemaak nie.

Daar is vier slaapkamers bo, met drie badkamers. Al die kamers het baie kaste – ek hou van kaste. Twee van die badkamers het elk ‘n groot bad, ‘n hoekbad en ‘n gewone bad, maar die groot soort, nie die klein soort wat nou ‘n moet in my nuwe huis geword het nie. Ek is verby die mooi van ‘n bad, ek kies nou prakties. In hierdie Kuruman huis het ek ook twee groot baddens, waarin ek basies moet klim om dit oral skoon te kry. En daar is drie storte. Dan is daar ‘n studeerkamer, met ingeboude swarthout kaste. Pragtig, maar baie afstofwerk. Onder is vyf leefareas, met ‘n groot ingangsportaal by die ronde trappe wat na bo lei. En my kombuis is baie groot, met baie eikehoutkaste, ook in die opwaskamer. Dit neem ‘n goeie deel van ‘n oggend net om die vloere te vee en te was.

Donderdagaand besef ons die besproeiing van die tuin se buitenste vier sproeiers gee ‘n probleem. Die water moet toe, iemand moet Vrydag kom regmaak. Ek moet dus Vrydagoggend tussen regmaak om te gaan teken en pak ook nog soek na ‘n persoon wat die besproeiing kan kom herstel. Baie goeie swart besigheidsman, ek kan hom aanbeveel. Hy het by ons skedule ingepas, ‘n redelike kwotasie vir die noodwerk gegee en binne ‘n rekordtyd die probleem herstel – ek kan nie die huis sonder water skoonmaak nie.

Vrydagoggend is ons Pretoria toe, het sommer by Menlyn ontbyt geëet en ook weereens besef waarom ons die stad mis. Hier in Kuruman is restaurante beperk, keuses is beperk. Daar kan ons net op die dak van die sentrum stap en kies en keur waar ons ontbyt wil eet. Hoe sou ons ooit kon raai dat dit soort van die laaste keer in maande sou wees wat mens kan gaan aansit en eet? Want saint Cyril gaan beslis nie die vlakke sommer vinnig na vlak 1 terugvat nie – daar is ‘n verkiesing wat vermy moet word. Terwyl almal smeek dat hy die land moet inperk vir hulle gesondheid, doen hy mos maar net sy vaderlike plig? Soos wat hy sy vaderlike plig in elke ander opsig van ons vaderland doen.

Vrydagmiddag terwyl ons die huis en klere pak, kry ek die volgende boodskap, kan hulle die sleutels maar Saterdag 3 uur kom haal, sy wil solank met haar klere oortrek na ons huis. En ek dink dat ek darem nou erg in ‘n blik gedruk word.

Maar ek is ‘n juffrou en juffrouens kan sperdatums haal, ons skrik mos nie vir ‘n sperdatum nie? As huis Saterdag 3 uur gereed is, kan ek lekker by my dogter gaan slaap en Sondag rustig opstaan. Dus laat weet ek ek sal haar laat weet as ek nie drie-uur gereed kan wees nie, anders kan hulle die sleutels kom haal.

Ek vra vir dollatjie of hulle nie asseblief na ons wil kom nie, dit sal tyd spaar. Dit is net ons gesin wat die verjaarsdag gaan vier. En daar is foto’s om geneem te word: Laaste trapfoto van die gesin – ons tradisie is verlore, ons nuwe huis het geen trappe nie. Foto’s van die drie kleinseuns aan dollatjie se kant by hulle roosbome wat hulle in ouma en oupa se tuin help plant het. Foto van oudste kleinseun by sy halfmensboom wat geplant is toe hy gebore is. Weens ‘n misverstand is daar toe nie vir die ander seuntjies ‘n boom geplant nie. Almal willig in, hulle is nou ook in ‘n blik gedruk om die huis, wat sestien jaar lank ons s’n was, te groet.

Saterdagoggend pak ons die laaste klere in ons Kurumantasse. Manlief is so moeg, hy vra sommer dat ons dit in die Kazakhstan tasse pak! Ons giggel daaroor, genade nee, nie sommer weer so ver trek nie. En dan lag ons gelukkig. Met die nuwe praatjies van na vlak 5 beweeg, weet ons dit was die beste besluit ooit om Oktober huis toe te kom. Al is ons toekoms so effens onseker.

Toe die kinders kom, is die kombuiskaste en die kosvoorraad wat die afgelope ses maande daar opgebou het, gepak. Nadat ons partytjie gehou het, moes ek begin huis skoon maak.

Manlief is ongeskik en ongeduldig, seun moet saam met hom ry want hy moet die eerste vrag in sy garage gaan stoor – daardie vrag is reeds gepak. Ons sukkel om hom by die foto’s en die sing te kry, maar as ek eers baie kwaai oë maak, raak hy darem rustiger.

Seun en skoondogter dink, soos altyd, verder oor hoe hulle ons kan help. Haar suster het hulle by ons afgelaai, dus kon hulle elkeen met een van ons karre na hulle huis ry, waar die karre ook vir die maand gaan staan. Ons derde kar staan reeds by hulle in die garage. Ek weet, hulle offer baie vir ons tweetjies op. Want, hulle het die drie Schnauzers van my ook saam met hulle gevat. Hulle sou eers van die middel van die maand af daar gaan bly het omdat ons sukkel om met hulle te trek. Hulle is die hele tyd onder die mense se voete en hier is nie ‘n agtertuin waar ek hulle kan los dat die mense werk nie. Ons het beplan om dan te doop en om dogter en haar gesinnetjie te groet – want hulle trek die 14de of 15de Julie ver weg. Sal maar sien wat tyd bring …

Ons huis het baie buite stoepe. Een grote bo by my kamer, een baie grote bo wat as uitkykpunt ook dien, een grote by twee van die slaapkamers, ‘n stoep by die swembad. En by twee van die kamers is daar ook klein stoepies by die deure. Dus sit manlief Serge, ons jarelange tuinman wat ons swembad en tuin so mooi versorg het terwyl ons twee jaar weg was, aan om stoepe te was.

Sodra my sersant-majoor egter in die bakkie klim om ‘n vrag in Pretoria af te laai, roep ek Serge. Kom help in die huis. Ek het net drie ure tyd en ek weet ek gaan dit nie maak nie.

Ek sit hom aan om die vensters en vensterbanke te was, net binne, buite sal nuwe vrou kan laat doen – ek bewys haar ‘n guns, ek moenie komkommer nie.

Serge is ‘n masjien. Sjoef-tjaf en die vensters en deure is gewas. En glo my, dit is baie werk, my huis bestaan uit groot vensters en min muur. So min dat ek nie eintlik goed teen die mure kon opsit nie.

Ek het twee van die kamers se kaste Vrydagaand reeds uitgewas en die boonste kaste van die kombuis. Dus was ek die onderste kaste in die kombuis. Kom agter presies hoe oud ek is, want dit is regtig moeilik om die kaste te was. En genade tog, waarom het ek so baie laaie in die kombuis. Elke enetjie moet uit, skoongemaak word en weer terug.

Ek laat weet ek gaan nie klaar wees nie, ons werk nou vir vieruur.

Manlief kom weer terug en Serge help die waentjie pak. Sodra manlief ry, werk ek en Serge. Nuwe eienaar bel drie-uur, kan hulle kom. Ek sê ek het boodskap gestuur, hulle kan vieruur kom.

Daar is ritme in die skoonmaak. Serge was vensters onder en as hy klaar is, vee ek die vloer en was dit. Terwyl hy werk, was ek kaste uit.

Ek sien Serge buite, hy is klaar met die vensters, hy gaan nou buite ook was.

Ek roep hom in, want hierdie man moes ek lankal gebruik het om my in die huis te help. Hy kry vir elke venster wat hy was, skoon water. Ek het nog nie een enkele huishulp gehad wat die konsep verstaan het nie. Jy kan nie my vloere met vuil water was nie, gaan haal skoon water.

So kry Serge al meer werk. Was asseblief die twee kamers waarvan die kaste nog gewas moet word se kaste bo – en die studeerkamer se rakke. En as ek weer sien, is die masjien klaar, wil hy weer buitenste vensters gaan was.

Dan kry hy weer werk, was asseblief die bad van die hoofslaapkamer, ek sal die ander een was. Halleluja, een minder om mee te sukkel. En as ek weer sien, is dit gedoen terwyl ek die kamers se vloere vee en dan was.

Toe hy klaar is, vee hy vir my van my badkamer af die vloere terwyl ek agter hom aan mop. Hy wou sowaar die mopwerk ook doen.

Manlief laat weet hy gaan nie vieruur maak nie en ek laat weet ek ook nie, die mense moet maar kom en wag. Ek gaan ook nie nog boodskappe stuur nie.

Vieruur bel sy, hulle is by my hek. En ek staan verstom. Sonder dat met ons gereël is, is die sake reeds by die hek gereël dat hulle inkom want hulle is nou die nuwe eienaars van Utopia straat straat. Dit is reg, dit was my adres, pure Afrikaans vir 16 jaar lank. En ja, dit was my Utopia …

Gewoonlik moet die hek my bel en moet ek toestemming gee dat mense na my huis toe kom. So sou ek weet hulle is amper by die huis. Hoe dit sonder ons toestemming by die hekke gereël kon word, is natuurlik iets wat aangespreek behoort te word. Dit is steeds ons huis, hulle is tans slegs huurders …

Ewenwel, ek was besig om die laaste deel van die kombuisvloer te was, dus staan ek met mop in die hand toe hulle inkom. Sy spot ek lyk mooi met ‘n mop … en ek lag. Nou ja toe, mag so wees, maar dit is nie my idee van ‘n grap om ‘n huis in ‘n rekordtyd skoon te maak nie.

Ek stuur hulle om solank met die tuinman te gesels, hulle vat Serge oor. Die man is dankbaar, ons ook. Ons het vir hulle vertel hoe betroubaar hy is. En hulle is van mening dat hy die tuin ken, waarom iemand anders kry. Wat hulle nie weet nie, is dat hulle ‘n masjien gekry het. Hierdie lekkerte van iemand wat nie draai met sy werk om te keer dat hy meer werk kry nie, is iets wat ek baie gaan mis in Pretoria …

Moeg handig ons die sleutels oor, leer hulle om die toep te gebruik om die alarm te stel, wys ons hulle waar die stelsels se borde is – sekuriteit, besproeiingstelsel, swembad, visdampomp.

Teen vyf is ons op pad om by dollatjie-hulle te eet en dan te gaan slaap.

Ek laat weet agent dat hulle sleutels het. Sy huil en vra of ek gehuil het toe ek moes groet. Die kinders was ook blykbaar hartseer, dit is ‘n groot deel van hulle lewens wat daar afgespeel het.

En ek … ek huil nie.

Ek vermoed ek sou dalk as ek nog nie ‘n nuwe huis gehad het nie, maar ek dink dit gaan veel dieper. Die dag toe ons die huis twee jaar gelede in die mark gesit het, het ek reeds stadig maar seker begin afskeid neem. Ek sal ‘n artikel oor die huis skryf, dus gaan ek nie hier skryf nie.

Ek dink ook ek en manlief was te moeg om te groet, ons wou net padgee en van ons voete af kom. Dus het die nuwe eienares eintlik ons kans om te groet gesteel. Hoe ek daaroor voel, sal ek seker eers regtig weet wanneer die huis op hulle naam is en nie meer ons s’n nie …

Ek en oupa word mos by altwee kinders soort van in die bed gesit so teen agtuur in die aand. Vroeër by seun. Dan is pappa en mamma besig om baba of kleinkinders aan die slaap te maak. Wat soms lank kan vat. Ons glimlag, ons twee is vir niks anders lus nie.

Het ek vertel dat manlief ook ‘n masjien is?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

30 gedagtes oor “Ons is te besig om huis te groet …

    1. Anne, so baie dankie vir die mooi wense. Jong, dit het regtig moeilik gegaan. En as ek terugdink, wou ek nog teruggaan en net seker maak elke toilet is getrek. Ek het darem vir hulle toilet papier gelos, dit is mos een aaklige ding om ‘n nood te kry en daar is geen papier nie. Gelukkig het ek nie van ‘n stoel afgeval en iets gebreek nie. Die Here is vir ons twee genadig, ons loop ook nie kruppel na die woeste inspanning nie. Ek sien uit na die nuwe huis. Dit is baie kleiner, geen trappe of vlakke in die huis nie. Ons huis se trappe is verskriklik mooi, maar glo my, die skoonmaak en vee daarvan is een baie groot taak.

      Liked by 2 people

    1. Ek stem saam, Appeltjie, en dit is waarom ek uitgetrek het. My hande is gaar, die skoonmaakmiddels het my seer gebrand en my naels is verwoes, want ek en die handskoene wou nie saamwerk nie. Ek is egter dankbaar die huis is van my skouers af. Ek kan nie soveel huise skoonmaak nie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.