Ons het mos die naweek uit ons stadshuis getrek – sy is basies verkoop. Ek het gister daarvan vertel. Ons het Saterdagaand by dollatjie gaan slaap. En Sondagoggend die pad veel vroeër as gewoonlik gevat omdat hulle ander verpligtinge gehad het.
Die vroeër wegspring sou ons egter ook help om nie in die son in te ry al die pad wes na Kuruman nie – want hy sit gewoonlik baie laag terwyl hy ondergaan as ons huis toe ry. Kan ek noem dat dit nie aangenaam is nie?
Ons het by Hillfox en McDonalds regs op Hendrik Potgieter gedraai om op die N14 net anderkant ons stadshuis te gaan klim. En toe eers by die groot Spar gestop om proviand te koop, daar is nie veel plekke op die N14 om proviand aan te vul nie.
Nadat ons by Spar was, het ek egter gevra dat ons nie weer regs op Hendrik Potgieter draai nie, maar eerder links. Die N1 suid neem, by Parys afklim, daar middagete eet en dan eers ‘n draai by die rivier maak voordat ons Sweizer Reinecke om die pad huis toe aandurf. Jy verstaan waar ek bly, hoop ekke. Want Kuruman is nie regtig my tuiste nie – eerder ’n tussen in verblyf.
Dit was moeilik om manlief te oortuig, maar toe ek eers daarop aandring dat hy die battery van die boot moet gaan afhaal omdat hy dit die vorige keer op die splinternuwe herlaaier vergeet het en dat ons moet gaan seker maak dat beide nie beskadig is nie, het hy daaraan gebyt.
Ek was verlig.
Daar kan twee redes vir my verligting wees.
Eerstens is die pad tussen Krugersdorp en Ventersdorp baie swak, my longe skud uit wanneer ons met die werk se bakkie daar ry. En dit is meer as 50 km ver in ’n baie swak toestand, hoofsaaklik weens sub-gehalte herstelwerk aan die pad.
Maar ek vermoed dit was om ‘n heeltemal ander rede, want 40 km van die pad tussen Sweizer Renecke en Wolmaranstad is ’n riller weens slaggate. Daar ry mens die meeste van die tyd liewer op die grond langsaan as op die pad.
Ek vermoed dit was ’n emosionele besluit.
Dit sou die eerste keer wees wat ons verby ons stadshuis gaan ry nadat ons uitgetrek het. Ons het die vorige dag sleutels oorhandig. En mens kan haar van die straat af sien, al is sy in ‘n estate. Sy het hoogte bo die ander en van sekere hoeke af is daar niks wat haar wegsteek nie. Sy hou daarvan om uit te staan. Soveel anders as ekke tans. Ek vermoed ek het nie daarvoor kans gesien nie, dus het ek gevra dat ons in die teenoorgestelde rigting ry …
Die pad rivier om is so effens langer, maar nie regtig ‘n draai nie omdat ons dan sommer ook seker maak dat alles by die rivier steeds klopdisselboom gaan. Ons ry dikwels Vrydagaand tot by die rivier – wat so vier ure vanaf Kuruman is. So ry ons dan nie alleen op ‘n stiller pad nie, maar ook nie in die nag in nie. Want dan kan ons teen sononder reeds die kar onder die afdak parkeer. As ons die pad na die stad vat, is ons lank na donker eers by die huis – iets wat ons probeer vermy want die N14 is die laaste deel van die pad – soos ek reeds genoem het – in ’n baie slegte toestand. Maar ook omdat die N14 tussen Krugersdorp en Kuruman bekend is vir roekelose bestuurders wat ‘n string motors en trokke verbysteek waar hulle nie mag nie. Ons – of die motoriste voor ons – moes al dikwels van die pad af om ‘n kop-teen-kop botsing te vermy.
Ons het Sondag eers in Parys gestop, maar ons was steeds vol na dollatjie se groot ontbyt. Dus het ons eerder ‘n Wimpie koffie gedrink en wegneemete bestel om by die rivier op die stoep te gaan eet. Ons moet tog volgende keer onthou dat koue slap skyfies regtig nie lekker is nie. Maar, die wag het dit baie waardeer, dus is dit ook goed.
Daar gekom, het ek gesien dat my hartsnaar blinkblaar wag-‘n-bietjie ‘n hoop blink wit goed onder haar het, met blink wit goed in die takke. Wat net een ding kan beteken. Die sproeiers het heel nag gesproei en dit was vriesend koud, sy het verys. Hierdie stukke ys het nog nie genoeg gesmelt om te val nie.

Dit is prentjie-mooi, daaroor kan ek nie stry nie. ’n Foto-geleentheid en ek het baie geneem.
Maar, ons wag en tuinier het al soveel keer preke van my af gekry. Moenie die sproeiers snags op die piesangbome spuit nie. Dit veroorsaak swart ryp, wat die bome laat vrek. As jy dit mooi oppas, het jy kos. Trosse piesangs om te eet. Hy verstaan nie, en die bome vrek elke jaar om in die somer weereens op te kom. Sonder dat vrugte kon vorm.
Dus voel ek ook of dit dalk my skuld was, ek moes seker elke boom uitgewys het.
Ek hoop maar net dat hierdie wag-‘n-bietjie die straf gaan oorleef. Swart ryp is ’n gevaarlike ding, die sappies in die blare en takke vries, rek die selmembrane wat bars en dan sterf die plant of boom. Die moontlikheid is groot dat sy wel gaan oorleef, ek het al vertel waarom sy my hartsboom is. Sy is die gebuigde boom op die hooffoto van hierdie skakel.
Sy is voorheen deur ‘n doringboom in repe verskeur toe die ou grote geval het. Anders as die doringbome groei die wag-’n-bietjies stadiger, vorm hulle beter wortelstelsels en kon sy die val weerstaan – met letsels om van haar stryd en oorwinning teen die val van die ou grote te getuig.
Doringbome verstaan mos nie dat hulle nie so hoog kan groei as hulle sulke pieperige wortelstelsels het nie. Sy het bly staan en weer begin mooi word. Daarom het ek ‘n baie sagte plek vir haar – al is sy skeef en krom. Sy leer my om die steke in my lewe te hanteer, al buig dit mens seer, om te leer en te groei.
Teen middagete het die meeste van die ys reeds van die takke afgeval om in silindervorms onder die boom op ‘n hoop te lê. So anders as in Kazakhstan, waar sneeu verys gedurende koue nagte (en dae) en in piepklein kristalletjies ontvries. My naam daarvoor was slush puppy tyd. Seker maar omdat dit soos die drankie lyk en ek so baie van hierdie drankie in die flieks hou?
Hier langs die Vaal het die waterdruppels teen die takke gevries en elke laag het veroorsaak dat die stuk ys al groter word. Amper soos wat haelkorrels doen. Om ‘n groot ysblok om die takke te vorm. Die dele op die foto was nader aan die sproeiers, was dus langer aan die vriesende weer blootgestel en daarom het dit ook dikker gevries om teen middagete nog steeds aan die takke te hang.
En dit maak my moedeloos.
Verstaan hy nie dat hy die natuur vernietig met agtelosigheid nie?
Is dit regtig nodig om hom oor die natuur te leer?
Dis waar dat die bome seerkry, maar ia…dit maak darem ‘n mooi prentjie!
LikeLiked by 2 people
Vir my ook, Woordnoot, ek moet eitnlik die fot’s van die silinder ook deel. gelukkig is dit nie aspris gedoen nie, net onkunde.
LikeLiked by 2 people
Ek het nog nooit aan sneeu geraak nie
LikeLiked by 1 person
Appeltjie, wens ek kon jou laat voel. In Kaz is dit amper soos stof. Jy kan dit wegblaas of met jou skoene wegvee. Maar, op ‘n koue dag vries dit jou vingers vinniger as vinnig. As dit om jou val, is dit soos veertjies, sag, elke briesie waai hulle weg. Maar as hulle op jou kraag land, kry jy ‘n yskoue verrassing as dit teen jou nek afgly. Dit is hemels en terselfdertyd weet mens dit kan gevaarlik word. Help die beskrywing?
LikeLike
Baie mooi beskryf . Ek kan dit voel.
LikeLiked by 3 people
Ek hoop jy sal dit eendag kan beleef.
LikeLike
Ongelukkig is dit nodig vir baie mense om oor die natuur te leer, veral mense wat in ‘n stad groot geword het en ander vir wie daar geen verduideliking was vir die natuurlewe om hulle nie. Jou foto is uitstekend.
LikeLiked by 2 people
Dit is so waar, Anne, daar is baie te leer. Ek het aangeneem hy gaan verstaan dat die piesangbome kos is.
LikeLike
Baie dankie.
LikeLike
Nee, sommige mense het geen begrip nie
LikeLiked by 1 person
En dit is so jammer, so sit mens kos op die tafel.
LikeLiked by 1 person
Stunning foto. Vandag dink ek weet min mense oor natuur. Mal oor jou boom, so mooi gestel hoekom sy so belangrik is🌻
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Virgo, ek is baie lief vir daardie boom.
LikeLike