Gepubliseer in Reisjoernaal

Grappige karwas stories …

Ek het nou die dag so lekker gelag toe ek blogvriendin Una se karwas storie lees dat ek lus is om saam te gesels. Dankie, Una.

My karwasstories is soveel anders as Una s’n …

Manlief het aanvanklik self ons karre gewas. Niemand mag daaraan geraak het nie, dit sou gekrap word. Hy is mal oor sy karre en gradeer gereeld op. Ons was aanvanklik BMW-mense, maar toe raak die pryse van hierdie motors – waarna die spotters as Blik Met Wiele verwys – belaglik.

En elke Jan Rap en sy Maat ry een, met die gevolg dat die karre se herverkoopwaarde belaglik is. Jy kan dit maar weggee ook. Die prys wat jy daarvoor kry as jy wil verkoop is werklik baie laag, so asof dit regtig van blik gemaak is. Ek neem aan vraag en aanbod het met die lae herverkoopwaarde te doen.

Seun het ‘n rukkie lank by Volkswagen gewerk en Volkswagens verkoop. En ons so aan die Amarok – waaroor ons voorheen vreeslik gespot het oor die rokkie naam vir ‘n bul van ‘n bakkie – voorgestel. En so het ons Volkswagen mense geword.

Ek het ‘n CC (Comfort Coupe) gekry, wat seun se troukar was. Pragtige motor, maar baie laag op die pad. En sy het glad nie van grondpaaie gehou nie. Toe moes my kar opgegradeer word na ‘n Tiguan toe. Wat tans my ryding is. Dit is nou die een wat al meer as twee jaar in die garage staan – saam met manlief se Amarok. Terwyl ons oor die aarde heen rondtrek – eers Kazakhstan en nou Kuruman.

Maar ek dwaal af, wil eintlik oor karwas gesels.

Iewers tussen hier en nou het manlief opgehou om sy eie karre te was.

Ek dink dit het in Virginia begin. Daar was die alleroulikste karwas, een wat manlief tot vandag toe nog inspireer om selfs so ‘n plek te wil besit. Dit het ‘n koffiekroegie gehad, waar ons kon koffie drink terwyl ons kar gewas word. Het soos hemel op aarde gevoel. Ons hande die saligheid belowe.

Dit is ook daar waar ek vir die eerste keer vir ons tuinman gevra het om die kar te was. Manlief het op daardie stadium ‘n 735 BMW gery. ‘n Kar wat orals aandag getrek het. Daar is eintlik ‘n staaltjie te vertel oor die kar van hom.

Hy was op pad Gauteng toe vir ‘n vergadering. En die man van my was in sy jonger dae – dit is nou die dae voor Kazakhstan – ‘n spoedvraat. So trek ‘n spietkop hom by Kroonstad af. Ek gaan maar liewer nie die telling op die spoedmeter vertel nie. Hy was beslis in groot moeilikheid. Toe die ou hom wou beboet, het hy met die vreeslikste hartseerstorie losgekom. Dit is nie sy kar nie, dit is sy baas s’n. En hy mag nie laat wees nie. Hy kan nie ‘n boete bekostig nie, hy het ‘n vrou en baaaaaaie kinders by die huis. Die ou het hom jammer gekry en laat gaan …

Iedergeval, ek het besluit die tuinman kan begin om sy kar te was. Maar ons het nie mekaar se taal verstaan nie. Ek wou hom nie in my huis laat ingaan om op die foon te praat nie. Ek kan nie onthou of dit voor selfone was en of ek nie my selfoon wou gebruik nie. Dalk wou ek die tuinman net verras?

Want die 735 was van die eerste motors wat ingeboude telefone gehad het, dit net in die duur modelle beskikbaar.

Toe bel ek maar manlief vanaf die 735 se ingeboude foon. En roep die tuinman om met manlief te praat. Hy was absoluut verstom. Het om die kar geloop, afgebuk en onder die kar gesoek. Want die man praat met hom, hy hoor hom in die kar. Maar hy sien hom nie …

Intussen het manlief verleer om sy eie kar te was. Word daar naweke met die een na die ander na ‘n karwas gery om daar te sit terwyl dit vir hom gewas word. Ek het my CC self gewas, niemand mag aan haar geraak het nie. Soms gaan ek saam, maar dit is inderdaad ‘n vervelige spul om te kyk hoe iemand anders die kar was.

Hier in Kuruman ry manlief met ‘n wit Toyota bakkie van die werk rond. Dit is waarom ons eie karre in die garage vir ons wag om naweke gery te word. En hy is net so erg oor die werk se bakkie as oor sy eie karre. Dit moet gereeld gewas word.

Maar, sedert ons einde Desember 2020 hierheen getrek het, kan ons nie ‘n karwas kry om die bakkie vir ons te was nie.

In Kathu maak die karwasplekke eenuur toe opSaterdae, vyfuur in die week, Sondae is dit toe. Die manne kom eers na 5 in die week en na 12 Saterdae by die huis.

Ons het die een Saterdag teen 12 uur by die karwas langs Nando’s gestop, net om deur die bestuurder/eienaar verjaag te word. Jammer, daar is vier motors voor ons, ons moet gaan. Hulle maak eenuur toe. Net so … Ons het ons lelik vererg en nie weer teruggegaan nie. Hoe lank voor toemaaktyd moet mens daar wees om gehelp te word? Buitendien, die geld was steeds in ons beursies, syne het die geld gekort. Wat ‘n swak besigheidsman …

Ons kon in Kathu geen karwas kry wat die kar vir ons wou was nie. Hulle was te besig kort voor toemaaktyd. En dit is een ding van hierdie klein dorpies wat my verstom. Dit is fantasties om so vroeg toe te maak, maar weet hulle nie dat daar nie ‘n volgende keer gaan wees nie? Ons gaan nie twee keer na dieselfde klip terug nie …

In Kuruman het ons wel ‘n tweede keer die karwas by Tiger Wheels & Tyres probeer. Elke keer het die vrou wat daar werk, ons verjaag. Te vertelle gehad dat daar karre voor ons is, en sy maak eenuur toe. Al lyk dit vir ons of almal geholpe geraak het. Sal nie eens ‘n was-en-gaan oorweeg nie.

Toe wip ons ons. Koop by Westpack die nodige om die kar self te was. Onthou, ons dorp het nie iets soos Game of Makro nie. En ‘n klein stofsuier om die matte skoon te maak. Is mos maar net die voorstes wat stowwerig raak, niemand sit agter nie …

En was die bakkie self. In ons voortuin, ten aanskoue vir elke een wat verby ry. Ons is van die enigste mense wat self kar was.

Ek is sopnat daarna, want die bakkie is baie, baie hoog. Die water loop teen my arms af, by die mou in en koud teen my lyf af. Maar dit is heerlik. En ons is waarskynlik vir die buurman oorkant die straat iets vreeslik arms om te aanskou.

Want hy het vier mense wat vir hom werk. In die week, want hulle is elke naweek weg. Twee mans en twee vrouens. Elke liewe dag. Ek is so nuuskierig om te weet wat hulle die hele dag doen. Want ‘n tuin en ‘n huis kan seker op geen manier so vuil raak dat soveel mense daaraan moet werk nie? Die tuin is ook nie groot of uitermatig mooi nie. Dit is Kalahari onthou. Hulle het nou wel drie kinders, maar selfs dan kom my dollatjie reg met een vrou wat vir haar werk. En ‘n tuinman wat weekliks gras sny.

Nou kyk, tot so maand gelede moes die kar gereeld gewas word. Want dit het baie en aanhoudend gereën. Die kar het sleg gelyk. En met ‘n vuil kar ry my man nie rond nie.

Maar nou reën dit so min, die bakkie bly spierwit skoon.

Ek spot met manlief dat hy dit doelbewus so skoon hou … omdat hy nie vir karwas lus is nie.

Hy geniet dit egter om sy bakkie self te was. Buitendien, ons is darem seker ook nou so nie so verleë om iemand in Kathu of Kuruman te smeek om ons kar te was nie?

Hoe gaan daardie spreekwoord van Afriforum?

Ons kan dit self doen …

Wanneer ons egter stad toe gaan en met ons eie karre ry, besoek hy steeds ons gunsteling karwasplek. Hierdie selfwas gaan nie hou as ons eers weer is waar besigheidsmense verstaan dat mens nie klante wegjaag lank voor die toemaaktyd nie. Want dan is dit – in ons geval – die laaste sien van die blikkantien.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Grappige karwas stories …

  1. Die Oom hou van skoon karre maar sy karre was altyd by die werk gewas toe hy nog bestuurder was. Noudat hy dit self moet doen, is dit ‘n perd van n ander kleur…..gelukkig is hier redelik baie karwasse.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.