Ek is op die oomblik besig met ‘n Bybel leesplan wat my sowaar laat lê het van die lag. Want ek kon die prentjie wat geskep is in my gedagtes voorstel. Verleenthede by lughawens. Daarvan het ek en manlief genoeg gehad die afgelope twee jaar.
Eers die storie:
Die vertelster se vriendin se ma is 60 met – volgens haar – ‘n baie mooi figuur. Wat sy nie ten toon stel nie. Inteendeel, sy het eerder baie prim en propper aangetrek. Waarmee ek kon vereenselwig. Dus het ek hierdie storie glad nie sien kom nie. Sy het vir haar vlug ‘n styfpassende tenktoppie aangetrek, met ‘n baadjie bo-oor. En “skinny” jeans. Iets wat ek heeltemal vermy, want styfpassende bloesies en broeke raak regtig onaangenaam op ‘n vlug. Toe sy wil deurstap, sê die sekuriteitspersoon vir haar dat sy haar baadjie moet uittrek. Sy het botweg geweier, want dit was nie ‘n jas nie. Maar die persoon het voet by stuk gehou – die baadjie (blazer) moet uit. Sy het verduidelik dat sy ‘n piepklein bloesie onderaan het en nie die baadjie kan uittrek nie. Maar, tot haar grootste verleentheid moes sy die baadjie uittrek. Daar en dan.
Die prentjie wat ontvou het, het my laat skree van die lag. Want daar staan sy by die skandeerder, arms in die lug, met ‘n jean waarvan sy die ritssluiter niee toegerits kan kry nie om plek vir haar maag te maak. ‘n Maag wat by die ritssluiter uitpeul en bo-oor die band van die jeans. Met ‘n piepklein bloesie wat veronderstel is om net onder die baadjie te wees. En sy kon met al haar mag en krag nie daarin slaag om die bloesie en die broek se band te laat vriende maak nie – en natuurlik kon die bloesie ook nie verberg wat alles by die gapende ritssluiter uitpeul/uitsteek nie.
Veral nie toe sy met haar hande in die lug moes staan nie.
***
Ek sou dooi. Regtig.
Self het ek nog nie so ‘n slegte ervaring gehad nie. Ek maak seker dat my klere gemaklik is. En gemaklik pas.
Ek verpes daardie skandeerders wat van jou verwag om soos ‘n makgemaakte aap met die arms in die lug te staan – bene ver uitmekaar. Asof jy ‘n misdadiger is.
Dit is nou nadat hulle geen probleem gehad het om ‘n kaartjie aan jou te verkoop nie. My geld is so vinnig uit die bank dat ek nie eens kon keer nie …
Ons stories is nie so snaaks nie, maar laat ons wel nou lag as ons daaraan dink.
Ek is nogal lief vir Suid-Afrikaanse lughawens. Kaapstad, Durban, Lanseria, George, OR Thambo. Ek onthou hoe my pa en ma ons toe ons klein was na Jan Smuts lughawe geneem het. Om van die tweede verdieping af op die vliegtuie wat styg en land af te kyk. Dit het ‘n liefde vir vliegtuie en veral hierdie lughawe wat nou as OR Thambo bekend staan gekweek.
Ek het ‘n geweldige gly in Australië gekry in lughawens. Die ene in Brisbane waar ons geland het, het ons soos misdadigers behandel. My suster het buite vir ons gewag, maar soos wat ons in die gebou ingestap het, het sekuriteit ons in twee rye ingedeel: gewone mense en K9, die potensiële misdadigers uit Suid-Afrika.
Ek het so gestres dat hulle die lekkers gaan ruik wat ek vir my suster se kinders moes vat. Peanut Puffs. Maar die honde was nie in my tas geïnteresseerd nie. Ek onthou egter die nare gevoel dat ek as moontlike misdadiger uitgekeer gaan word …
Manlief word weens sy ysterknie by elke skandeerder as moontlike misdadiger uitgekeer. Dit veroorsaak dat die masjiene piep en hy na ‘n hokkie moet gaan vir verdere ondervraging. Soms verstaan hulle “iron knee” soos in Dubai, waar hulle saam met my gelag het toe ek praat van my “iron man.” Ander kere is dit baie moeilik as jy nie die taal (Russies of Kazakh) kan praat nie. Die een keer het hy sommer sy broek afgepluk in die ondersoekkamertjie om te wys … operasie … sny … yster in knie! Die sekuriteitsmannetjie het verleë gewys dat hy sy broek moet optrek.
In Maart 2019 het die skandeerders op Frankfurt lughawe my Thermomix masjien met sy ysterlemme laat deurgegaan sonder enige probleme. Maar polisie met gewere is geroep om na my tas te kyk wat volgens hulle tekens getoon het dat dit daar wapenstof of kruit op my tas was. Is dit nodig om te skryf dat ek my wit geskrik het? Terwyl mense deurbeweeg en my aangaap omdat die polisie op my toegesak het? Ek was nog nie weer in so ‘n verleentheid nie. Maar ek hou nou niks van daardie lughawe nie. Ons is in Lufthanza se besigheidsklas soos konings daarheen geneem en behandel, net om op die grond soos misdadigers te voel.
In Februarie 2010 het manlief hom lelik op Singapore lughawe vererg toe hy die mooi drankbottel moes weggooi met drank en al. Ons het dit nie op die lughawe gekoop nie. En ons tasse was reeds ingeboek.
Op elke lughawe waar jy jou water wat jy op die vorige vlug gekry het moet weggooi voor jy deur sekuriteit gaan, word ek vies. Dit is nou die vloeistof wat jy nodig het om te oorleef. Ander kant kan jy koop en drink soos jy wil. Soms wonder ek of dit gehersirkuleer word …
Ons het ons ook op Johannesburg lughawe lelik vererg vir die vrou wat die vliegtuig volgens sitpleknommers gelaai het. En die bus laat wag het tot ‘n laatkommer opgedaag het. Ons vlug is daardeur met 30 minute vertraag. Hoe breindood is dit nie? Die laatkommer – wat agter in die vliegtuig sit – kon mos maar heel laaste opklim – nadat almal hulle sitplekke gekry het. As straf vir laat wees. belaglik laat. Toe moes ons almal klim en druk en stoot op die volgende bus om die vlug nie nog verder te vertraag nie.
Die hooffoto is geneem toe ons die Seychelles gaan besoek het. Ek wil nog oor die mooi plek skryf. Ek hoop ek het die foto’s iewers op ‘n CD, want dit is nie op my wolk nie.
Mense op lughawens is fassinerend maar ai,die arme vrou sonder die baadjie.
LikeLiked by 2 people
Ek het haar so jammer gekry, maar ek dink mens moet maar sorg dat broeke kan toe.
LikeLiked by 1 person
Hierdie is interessante stories 🙂
LikeLiked by 2 people
Dankie, Anne, ons het dit nogal op lughawens gehaat.
LikeLiked by 1 person
Lekker lag ek nou vir daardie einste arme vrou
LikeLiked by 2 people
Ai seegogga, mens moet seker nie lag nie. Maar dit is baie snaaks.
LikeLiked by 1 person
Dis wat die lewe interessant maak
LikeLiked by 2 people
Kyk, dis waar ek gesig- make over beplan, of begin Sheila dra
LikeLiked by 1 person
Ek dink ekke ook, sommer hare net daar en dan kleur en manlief ruil vir iemand anders langs my. net vir ingeval hulle hom herken …
LikeLike
😄😄
LikeLike
Whaaaaa, Niqaab, nie Sheila nie😄😄😄😄😄😄
LikeLiked by 1 person
Daai kan werk hoor, alles weggesteek.
LikeLike
Dis snaaks dat hulle my ook altyd kies om te deursoek! Moes in Dubai to my skoene uittrek! Was nie beindruk nie!
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam, mens voel so ongemaklik
LikeLiked by 1 person
Al wat ek nie van lughawens hou nie is daai tyd wat verlore gaan met wag.
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan, dit is nie lekker nie.
LikeLike