Ek het al vertel dat BB my Miniatuur Schnauzer is. En dat sy babadoeke gedra het toe sy op hitte was. Om vir Nevan die Siberiese Husky van sy luste te laat vergeet. Kliek hier as jy dit nog nie gelees het nie.
Die veiligheidsbaadjie wat sy op een van die foto’s daar aan het, het ek self gemaak deur een van my eie op te sny om hare te kan maak.
Vandag wil ek vertel van die probleem wat ek moes oplos. Haar een volwasse kind, Sobek (Bekka), is een stoute woef. Sy het September ‘n sny gekry waar yslike nierstene uitgehaal is. En die sny was mooi gesond toe ons haar op 4 Okober by seun gekry het toe ons in Suid-Afrika land.
By seun-hulle het hy nie aan haar sny gelek nie. By my het hy en die sny het op twee plekke oopgegaan en ‘n sweer gevorm. So is ek terug veearts toe, sy moet asseblief kyk.
Daar is fout met BB se sny. Want sien, woewe lek mos ook aan mekaar se seer. En dit is waarskynlik waarom BB stil lê dat Bekka nou aan die sny lek.
Skoondogter het aangebied dat BB by haar bly tot die wond weer mooi toe is. En sy en seun het salf gesmeer en antibiotika gegee.
‘n Week later kon ek BB weer gaan haal, die wond het mooi genees. Ons was op pad rivier toe om die watertenk te gaan regmaak wat omgeval het terwyl ons in Kazakhstan gebly het.
En wat ontdek ek?
BB lê op haar ruggie op die gras soos ‘n baba wat ‘n doek moet aankry. En Bekka lek alte lustig aan die plek waar die wond so pas weer genees is.
Ek was so kwaad. Maar wat kan mens doen?
My woewe verstaan baie woorde, ek gaan nog een dag moet sit en tel. Maar blykbaar verstaan Bekka en sy glad nie dat lek aan die sny taboe is nie.
Ja, ja. Hulle sit dadelik regop. Ore na agter getrek.
Gesiggies die ene Jannie Jammergat.
Iets soos ons is jammer, hou net op met raas.
Maar dan doen hulle dit so wraggies weer.
En toe moet ‘n plan gemaak word.
Dorp toe gaan ek nie ry om babadoeke te soek nie. Bothaville is maar kleinerig, ek sal wel doeke daar kry.
Maar …
My naaimasjien staan reg vir werk. En daar is ‘n kis met materiaal wat nog iets wil word. Ek wou rompe maak – dus was daar ook rek. Mooi rek.
En die beige onderrokmateriaal was heel bruikbaar om ‘n broekie vir BB te maak. Lig genoeg dat sy nie warm kry nie. Beskerming genoeg dat Bekka nie kan lek nie.
Ek het ‘n reguit pant gesny en om daar lyfie gevou. Toe sny ek twee gate vir beentjies uit. En werk die sye aanmekaar. Daarna is dit gepas en die goue rek is gesny om gemaklik om die lyfie te gaan. Ek het ongelukkig nie die regte kleur gare daar gehd nie, die blou op die masjien moes maar genruik word om die nodige te doen.
Toe die broekie aan is, het BB vir ‘n oomblik of twee snaaks geloop. En toe besluit dat dit maar aan kan bly. Sy ken my goed genoeg. Kerm en vloermoere gaan nie help nie.
‘n Probleem moet opgelos word.
Die broekie was skaars aan, toe besluit sy sy het lank genoeg by seun en skoondogter gebly om te weet dat ‘n nat broekie vervang moet word. Hulle het mos ‘n babatjie in die huis. Dus piepie sy in die broekie (laaste foto onder) en ek moet was. Dat sy kaalbas kan rondhardloop!
BB lê self so dat ek doeke ruil en na snye kyk. Nes soos ‘n babatjie …
En toe die broekie aan is, doen sy dit sowaar weer. Nat broekies kan nie aanbly nie, dit is haar plan om daarvan ontslae te raak.
Toe beraam ek maar weer ‘n plan.
Gryp die skêr, sny die broekie uit daar waar die oorsaak van die nattigheid is. En daar is vrede in die huis.
BB kan hom nie weer natpiepie nie.
Maar die broekie beskerm steeds die plek waar die sny is dat Bekka kan ophou lek. ‘n Wen-wen situasie?
Wel, die broekie is tans af. Want ek dink BB het ‘n gesprek met Bekka gehad. As sy gestraf word omdat hy lek, sal sy hom aanval as hy lek. Maar die mensding werk nie vir haar nie.
Sy verkies om kaalbas te loop. Soos woewe moet.
Die lekkery is van die baan.
Maar, die broekie lê in ‘n laai.
Gereed om weer aangetrek te word as dit noodsaaklik is.
Ek kyk die broekie so en dink daaraan dat ek nog nooit probeer het om my eies te maak nie. Die goedjies is tans so duur dat ek dalk net kan oorweeg om die paadjie te loop … Daar is juis sulke pragtige kant op die mark beslikbaar.
En skielik is ek dankbaar dat die probleem nie in Öskemen ala Ust’-Kamenogorsk gebeur het nie …
Daar was nie regtig materiaalwinkels nie. In Almaty was daar wel, nie naastenby so toegerus soos wat hier is nie. Behalwe natuurlik vir gare. Daar is gare koop een fantastiese ervaring – ek het al daarvan vertel. Lees gerus hier as jy mog nie gelees het nie.
Genade, dit is wat dit is om in Suid-Afrika klere te kan maak. Dit is absoluut heerlik om hier in ‘n materiaalwinkel in te stap en te koop wat ek nodig het. Veral omdat die mense agter die toonbank verstaan wat ek vra. Ek kan my woorde gebruik om te koop wat ek nodig het.
Woorde gebruik.
Dit het ek van my dogter se grootmaak van die kleinkinders geleer. As hulle huilend by haar aankom, het sy hulle gekry om op te hou huil. En dan die volgende gesê:
Gebruik jou woorde dat ek kan verstaan wat jy wil sê.
En dit het gewerk. Hulle ken groot woorde om te vertel wat om hulle aangaan. Soos regtig baie groot!
Vindingtyk!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, die werk is nie so netjies nie, maar dit dien die doel …
LikeLike
Dis nou n boer maak n plan.
LikeLiked by 1 person
Inderdaad, wat gaan jy met die toiletpapier doen dat Dawie dit los.
LikeLike
Wag tot hy groter is en dan weer probeer. Hy het vandag vir die eerste keer sonder om te protesteer met sy leiband gestap en dit geniet
LikeLiked by 1 person
O my jitte, jy vorder! My ene weier steeds volstrek. Ek moet hom dra en hy is bie, baie swaar na ‘n ruk.
LikeLike
Ek het lanklaas tyd gehad om te kom lees. Jy het sulke oulike idees en ja, ek stem saam oor die materiaalwinkels in SA, baie beter en so ‘n groot verskeidenheid! Ek mis dit nogal, dieselfde met kunswinkels. Ek hoop daardie woewe van jou los hul stoutigheid met die lekkery. lol
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, Nikita, het jou gemis. Ek het weer lanklaas geskryf. Ek dink dit is omdat ek nie in woonstel vas is nie, ek kan beweeg ..
LikeLike
Hou van jou praktiese oplossing
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Trommeltjie, soms moet mens net planne maak.
LikeLike
Hier dra al die babahond dogtertjies broekies om hulle teen die wrede aanslag van moeder natuur te beskerm..jy kan baie geld maak met daardie broekies.. dit kos n arm en been.
LikeLiked by 1 person
Regtig, dit klink na ‘n plan. Ag Skottie, lekker om van jou te hoor. Ek ken daardie gevoel van in ‘n ander land woon.
LikeLike
Ek wil graag vir jou n foto van DAAI broek stuur, die arme Rosie het ‘n persoonlikheidsverandering (is dit een woord??) ondergaan ek sal kyk of ek dit nog het
Waar in die wêreld is jy?
LikeLiked by 1 person
Hallo Skottie, ons het 18 maande in Kazakhstan gebly, maar ons is permanent terug in Suid-Afrika.
LikeLike