BB is my miniatuur Schnauzertjie; sy is so bietjie meer as tien jaar oud. As jy hier lees, sal jy verstaan hoe ek my hart styf toe mies maak terwyl ons in Kazakhstan geleef het. Om nie aan haar en my ander woefkinders te dink nie.
Die afgelope 10 jaar moes ek so nou en dan ingryp ter wille van haar. Wat haarself nie kan – of is dit soms wil – beskerm nie.
Ek wou graag dat BB babas kry, want sy is die oulikste, saggeaardse hondjie. Sy dink sy is ‘n mens. Dus het ek haar nie laat regmaak nie.
En die besluit het drama in die erf en in die huis veroorsaak.
In die huis het sy druppels gemors, wat vir my altans, uiters onhigiënies was. Ek kon nie vir BB buite laat slaap nie, sy is gewoond om in die huis te slaap. Om die waarheid te sê, om in my bed te slaap. Dus moes die probleem opgelos word.
My kleinkind was so pas gebore en hy het weggooi doeke gedra. Toe koop ek vir BB weggooidoeke, kleintjies, sny gat vir stertjie uit en die probleem is opgelos.
BB is soos my katte was toe ek klein was. Ek het haar op die bed laat lê, op haar ruggie. Dan het sy beentjies oopgegooi dat ek die doek maklik kon aansit. En so is die gemorsery in die huis gekeer.

En in die kar. En op my skoot, want BB weet mos nie sy is ‘n hondjie nie. O my jitte, en kom daar mos nou ‘n vreemde gedagte in my kop op. Dalk weet sy nie dat ek ‘n mens is nie? Iedergeval, die doeke het die morsery gekeer en ons almal gelukkig gehou.
Behalwe vir Nevan.
Nevan, ons Husky, was buite sy verstand van belustigheid. Hy het glad nie verstaan dat sy klein en hy baie groot is nie.
Hy het sy behoefte hard en duidelik uitgekerm, al om die huis.
Wonder bo wonder het die bure nie gekla nie. Sit ek nou en wonder of hulle sy nood verstaan het? Natuurlik weet ek ook dat die bure nie wou hê dat Nevan weggevat word nie. Volgens hulle het ons blou-oogkind gekeer dat boewe lus was om oor mure te spring. Nie dat dit in ons kompleks ‘n probleem is nie, maar dit het klagtes oor ons kermende woef gekeer.
Hy het ook nie verstaan dat sy ‘n ander soort woef is nie. Beide was geregistreerde woewe, maar ek kon hom nie toelaat om haar te nie dek nie. Klink in elk geval vir my absoluut onmoontlik, maar dit is blykbaar volgens die veearts in Heidelberg moontlik, moes ek hoor toe ek my lot gaan bekla.
Die tefies staan op trappies om die mannetjies te help om die ding gedoen te kry. Ek wou net iets kry om aan te smeer om hom af te skrik. Want ek het al peper op haar ruggie probeer. Hy kom nader, nies en dan moet ek haar in die huis invat. Want die peper kon Nevan nie keer nie.
En BB het ook nie verstaan dat sy die oorsaak is nie. Die doek het nie gehelp nie, Nevan kon dit deur die doek ruik. En dan bekla hy sy lot dat hoor en sien vergaan.
Ek wou gek raak van die gekerm, daarom is Nevan die tweede rondte maar veearts toe dat hy die nodige kan doen. Om die man teen sy begeertes te beskerm. En my ore.
Soos ek geskryf het, Bb het oral saam gegaan. Dus bly sy ook nie in die huis as ons met die boot op die Vaal se water is nie. Ek sal haar ou vaal lyfie glad nie in die water van die Vaal herken nie, daarom moet BB, soos al die ander op die boot, ‘n veiligheidsbaadjie dra.

Die onderste ene het ek gemaak deur ‘n ou baadjie te sny en aan te pas om haar te pas. Sy swem saam met seun in die Vaal, so met die baadjie aan.
Ek het met BB pop gespeel. Sy is saam hokkie toe as seun speel, dan speel ek met my donkerbril op haar neusie. Sy is in sakke rondgedra en het ook saam met my op die karretjie gery terwyl manlief gholf speel.

Kyk hoe oulik “bestuur” sy.
Sy kan lekker poseer as sy wil, daarom neem ek gereeld foto’s van haar. Of sies, ek het. Ek moet weer plan maak.
Ek het al vertel dat sy onlangs ‘n groot operasie gehad het. Nierstene verwyder. En dit is die rede vir hierdie artikel.
BB, Shilo en Sobek het lank voor ons Kazakhstan toe is, reeds buite geslaap. Omdat die mannetjies nie wou leer dat my huis nie ‘n piepieplek is nie. Kwaad word het nie gehelp nie, neusie in die piepie druk ook nie (sies, ek weet dit is nie mooi nie, maar dit was raad wat kastig help).
My woewe verstaan alles, ek praat mos met hulle. Maar nie gaan piepie buite nie.
Ons het huis groter gemaak en ‘n hok vir die woewe onder die huis gebou. Waar hulle lekker warm kan slaap. Sodat ons in vrede in die oggend kan wakker word.
So het hulle by seun ook buite geslaap. Hulle was gewoond daaraan.
Nou slaap hulle by my in die kamer, langs my bed. In ‘n nuwe mandjie wat manlief vir hulle gekoop het. Met die houtvloere hoor ons as hulle snags wakker word, kom trippel hulle langs die bed om te vra vir ‘n piepie. Dan staan ons deur die blare op, vat hulle uit en hulle mors nie meer in die huis nie. Het my dalk altyd probeer wakker maak?
Ek sal nou nie weet of die jare buite hulle geleer het waarom hulle buite slaap nie. Ook nie of hulle maniere geleer het om binne saam met ons te slaap nie. Maar, hulle is soet. Stroopsoet. Geen plassies in die huis nie. Wat ook beteken dat ek nie meer deurslaap nie, maar dit is veel beter as om plassies droog te maak en te ontsmet.
Die slapery in die kamer veroorsaak ook dat ek ‘n lekkery en krappery hoor. En so ontdek ek dat die twee mannetjies BB se sny lek. Dit is nou die een waar die nierstene uitgehaal is. Dit was lankal toegegroei, steke uit en als.
Toe ek haar omtiep, sien ek dat die snyplek al rou gelek is. Veearts toe wil ek nie, ek moes die probleem self oplos. Die ou swart velletjie het so wit geword waar dit gaar gelek is. Plek-plek wou die velletjie aftrek.
Toe vat ek ‘n groot pleister, plak die sny toe en dit sit sowaar aan die haartjies vas. Sy het glad nie gekrap nie en die mannetjies het nie gelek nie. Drie dae later is die rougeid weg en maak ek die sny oop. Gesond.
Die naweek kom ek agter dat die manne weer lek.
Stouterds.
Hulle het geleer om dit nie te doen waar ek is nie. Buite op die gras word die lekwerk gedoen, met BB op haar rug!
By die rivier is ook pleister, manlief dink mos ek dink hy werk hard as sy hande, bene, arms en kop snyplekke het. Ek moet gereeld bloed keer en snye toeplak.
Maar, ons was lanklaas daar. Die groot pleisters is op, ek moet maar kleintjies gebruik.
Ons het ook spuitpleister daar. Dit is nou vir my wat gereeld blase kry van die vloere was by die rivier. Dit kort meer skrop as in my huis, want vlermuisgemors moet skoongemaak word.
Een spuut en die rouplek het ‘n papierdun pleister op wat mettertyd afgewas word. Terwyl die sny daaronder gesond word omdat geen vuilgoed daarin gaan nie.
Dit brand soos vuur as dit aangespuit word, maar sere word so mooi gesond dat ek dit toe maar op BB se rouerige velletjie spuit. En sy is baie beter as ek, sy het nie gepiep nie. Ek vermoed die seer en jeuk was erger as die kortstondige brand van die pleister. Dit word gou droog en toe plak ek die pleistertjies op.

En dit werk weer. Die manne lek nie, BB probeer nie krap nie.
Ek vermoed sy is op daardie stadium van herstel waar wonde jeuk soos dit gesond word. Dus sal ek maar mooi dophou. En plak wanneer die manne probeer help sonder om te weet dat hulle ‘n probleem skep.
Die pleister se naam is Netcare, ek kan dit aanbeveel vir hondjies ook. Dit plak ten minste drie dae lank liggies oor die seerplek terwyl dit gesond word. BB s’n. Dit hou nie so lank op vingers wat gewas moet word nie …
Die BB is ‘n bevoorregte dame!
LikeLiked by 1 person
Laat ek verduidelik, bederf eerder as bevoorreg dalkies? Haar naam is B(bederfde) B(brak). Toe seun haar die eersta dag ontmoet, is sy so genoem. Ek het maar afgekort na BB.
LikeLiked by 1 person
My een sus het ook een van die honnes. Ek hou nogal van hulle. Ons praat ook Afrikaans met ons hond en sy verstaan als, maar eintlik moet ek se sy het als verstaan, maar raak nou doof en nou begin ons handgebare gebruik. Joune word regtig egtig bederf en dis reg so, hulle verdien dit. BB lyk asof sy als geniet en verstaan!
LikeLike
Baie dankie, ek het intussen so bietjie afgekoel met bederf. Vir haar babas laat kry dat sy maatjies het en minder op my aangewese is. Maar ek kan nie help om hulle te bederf nie, hulle is my vriende wat my aanvaar net soos ek is. Goeie en slegte dae.
LikeLiked by 1 person
Jy kyk so mooi na hulle, Christa, dis wonderlik!
LikeLiked by 1 person
Ek is mal oor hulle, Una, my hart se vreugdes
LikeLike