Gepubliseer in Reisjoernaal

8-mere (8-lakes) vakansie-oord buite Almaty – ‘n juweel

Ek moet oor ons besoek aan hierdie vakansieplek vertel. Want Ust-Kamenogorsk het nie veel van toerisme geweet nie. En hierdie soort plek sal daar net so goed werk. Almaty ken darem die behoeftes van toeriste …

Vriendin Mia het in September vertel hulle wil Almaty toe kom. Dan gaan hulle na die 8-lakes vakansie-oord toe. Daar is massiewe swembad, die kinders sal graag wil swem. Tydens die inperkings mag die swembaddens egter nie oop wees nie. Weet ek hoe lyk die plek?

Ons was nog nie daar nie, dus besluit ons Sondagoggend om deur te ry om te gaan kyk. Dit is nie ver nie, seker so 54 km buite Almaty. Maar, mens ry deur beboude gebied, wat die rit baie langer maak as jy 40 km/h moet ry.

Soontoe het vinnig gegaan. Google het ons op die pad gesit en ons was redelik gou uit die stad. Die lughawe pad. By die groot sirkel wat nou nie meer bestaan nie, hou mens reguit aan.

Terug het manlief vir 2GIS gevra om ons huis toe te vat. En sy kan haar snaaks hou wanneer sy kans kry. Maar ek het tog besef ons is op ‘n ander pad. Manlief het op pad soontoe so gekonsentreer dat hy nie besef het die pad is anders nie.

Ek het op pad soontoe nie veel opgelet nie, hier en daar foto’s geneem. Die meeste van die tyd van die berg langs ons. Wat 350 km ver strek en baie, baie hoog is. Ek vertel later in die week van die berg.

Toe ry ons ‘n plattelandse dorpie binne. Kan mens aan iets soos Chrissiesmeer laat dink. Dalkies Jachtfontein waarnaby ek groot geword het. Skep idee van verwaarlosing, die inperkings net nie tyd gelaat dat mens hulle huisies kon regmaak nadat die sneeu gesmelt het nie.

Op pad na die mere

Ons ry om ‘n draai reg op die hek af, een van daardie soort waar jy moet wag dat hulle die houtpaal oor die pad lig dat jy in kan gaan. Sekuriteit. Maar manlief draai regs, verby die ingang waar motors geparkeer staan en weer links agterom die omheinde gebied en weer links in. Na waar motors staan. Ek dink dit is verkeerd, maar bly stil … Ons wil mos net kyk.

Aan die agterkant van die vakansieplek

Kyk die oulike windmeulens langs die pad.

Ons was skaars in die gangetjie af, toe ‘n vrou ons deur die venster roep en praat. Ons verstaan niks, maar uit neto en die twee hande wat voor haar kruis verstaan ons dat ons nie daar mag stap nie.

Ons vra foto? (klink net so in Russies, die o’s word net gerek) – sy wys nee. En ons besef dat ons nie verder mag gaan nie. Ons draai maar om, wat nou gemaak? Ons het nie die woorde om te vra nie.

En ons is teleurgesteld. Het al die pad gery om niks te sien nie.

Op pad terug na die kar toe loop ons vrou raak wat van ‘n gholfkarretjie afgeklim het. Vra vir haar of ons kan kyk, maar sy verstaan net Russies. Tog verstaan sy ons wil net kyk en is sy terug na die vrou wat net nee en klaar.

Later kom sy terug. Wys vir my ons moet om ry terwyl sy Russies praat. Dan gaan ons by die hek in waar die motors geparkeer is. En in, wys sy. Ons moet in die gebou ingaan.

En dan avtobus – ons moet op ‘n bus klim, verstaan ekke.

Manlief verstaan anders – ons moet die bus volg wat nou net by ons weggetrek het met mense in.

Toe ons by die ontvangs aankom, verwag hulle ons.

Vra eerste keer en ons sê ja. Sê ons moet deurstap na buite en daar staan mense en wag. Ons wag maar saam.

Daar is gereël dat ons gratis ingaan om te kyk. Hoe oulik is dit nie?

Toe kom die oulikste gholkarretjie bus daar aan. En ek was reg, ons moet op die bus klim. ‘n Vrou bestuur. En weg is ons, af in ‘n baie lang laning waarin die wind waai dat my hare punt na agter staan. Verby vakansiehuisies wat gehuur kan word.

En in by ‘n ingang tussen die bome. Regs. Sy stop by oulike busstop met bushuisies en ons is af. Geen idee waarheen nie, dit is baie stil.

Ons is by ‘n groot kompleks afgelaai wat klere verkoop. Ek neem aan dit is duur, dit lyk eksklusief. Ons gaan nie in nie, stap eerder agter die mense wat ook opgeklim het aan. Deur ‘n gangetjie tussen die bome om op ‘n plein te kom.

Ons word op toer geneem in die vakansieplek

Daar is ‘n fontein en tafeltjies met stoele en sambrele waaronder mense sit.

Voor ons is ‘n huisie waar mens fietse en visstokke huur. Snaakse fietse met hoë sitplekke teen die kleinerige wiele. Drie meisies het so pas gehuur en hulle is besig om te oefen-ry.

Ons stap na die tafeltjies en eers verby om verder te kyk wat aangaan. Om die agterkant van ‘n groot gebou. En af na die dam se kant – ons het drie van die mere gesien, ek gaan by dam bly.

So vra my dogter wat die verskil is. Vir my is ‘n meer groter, soos Chrissiesmeer se meer. En die water blou, soos Kazakhstan se mere. Die water van hierdie meer lyk vir my soos ‘n dam s’n, sy grootte ook. Dus gaan ek by dam bly.

En toe kom ons op stukkie hemel af.

Vakansiegevoel in Kazakhstan

Die dam strek na links en regs, met ‘n hangbrug oor die water wat mens aan Sun City wil herinner.

Sonskerms teen die wal, met tafels onder die dekke, elkeen het ‘n dekkerige effek waarop mens kan loop om by ‘n kleinerige tafeltjie te sit. Op die water.

Oulike dekke op damwalle waar mens piekniek kan hou

Ons het toe regs gedraai om oor die brug te gaan stap. Na die ander kant, waar ook oulike eetplek is. Die soort wat tafels het wat so laag is dat mens op kussings moet sit. Ons het nie gaan sit nie.

Daar het ek weer foto’s geneem. Ook van die eende wat nie bang vir my is nie. Net gereed was om in die dam in te gly as ek te naby sou wou kom.

Oulike eetplek aan die ander kant van die dam

O ja, en oulike speelplek vir kinders.

Toe is ons weer oor die hangbrug om foto’s van die klippe op die brug te neem. En haastig, ons was honger.

By die restaurant het ons gaan sit, maar geen menu’s gekry nie. Toe ons vra, hoor ons dat etenstyd pas verby is. Dit was al naby twee, manlief was honger.

Ek wou nog verder met die karretjie-bus gaan om die ander damme te sien. Maar manlief het gesê ons kan later weer terugkom. Dalk sommer oorslaap so by die vaknsieplek.

Toe wag ons by die bushalte vir die karretjie om ons te kom haal.

Reg om huis toe te gaan

Op die foto is die restaurantjie, die bus, kindervervoer, manlief by bushalte, ek wat laf is met selfie en ‘n kaart van die plek.

Toe is ons weer terug in die lang laning tussen die bome. Met die wind van agter wat my hare punt in die wind na voorkant van my gesig gewaai het. Sodat toutjies hare seer op die wang kan piets.

Ons kon nie die swembad sien nie, dit was toe weens die inperkings. Dit was die eerste naweek wat ons uit die stad kon gaan. En nie binne moes bly nie. En die eerste naweek wat die plek oop was.

Sal ek die plek aanbeveel?

Beslis. Dit is ‘n juweel in Kazakhstan en behoort beslis benut te word. Nie te ver uit die stad nie, maar ver genoeg dat mens skoner lug kan inasem. ‘n Moet as mens in die stad bly waar die lug permanent vrot is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “8-mere (8-lakes) vakansie-oord buite Almaty – ‘n juweel

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.