Ek het vandag eers kans gesien om hierdie inskrywing te maak. Want my BB het ek agt maande laas gesien. En al hoe ek dit oorleef, is om nie daaraan te dink nie. Nou kan ek egter daaroor skryf, want ek weet dat ons huis toe gaan. En sommer baie, baie gou. Die Here het ons pad vir ons mooi gelyk gemaak.
Onlangs skryf een van my blogvriendinne dat haar Schnauzer nierstene kry. Dink dit was Scrapy, maar ek en Perdebytjie het ook daaroor gesels. Toe ek hoor dat dit algemeen by Miniatuur Schnauzers voorkom, moes ek weet hoe mens weet. Nierstene.
Maartmaand het skoondogter laat weet hulle gaan BB dokter toe vat. Sy staan verskriklik baie om te piepie. Maar dit het beter gegaan en ons het gedink dat dit nie ‘n probleem is nie.
Daardie selfde dag bel seun my.
Ma, BB moet Maandag ingaan vir ‘n operasie. Sy piepie weer baie, toe vat skoondogter haar veearts toe.
Sy het nierstene. Veearts het gevoel. Dit is so groot dat dit onnodig is om x-strale te neem. Dit moet sjirurgies verwyder word.
Ek kon nie die toeval glo nie. Presies op die dag wat ek lees oor nierstene by Schnauzers!
Ek kyk na my bank, want die dokter se rekening gaan my R4000 uit die sak jaag. Daar is genoeg.
Dit is egter nie probleem nie, sy is mos by Dotsure verseker, noem seun. Ek het so bietjie vergeet daarvan, al betaal ek elke maand. Omdat sy ouer as my ander woewe is, is sy volledig gedek.
Wel ja, dit is die eerste keer in 3 jaar wat ek gaan eis, mens sal maar moet sien. Ek het nog nie hulle beloftes getoets nie.
My hart is die hele naweek swaar. Nie omdat ek dink dat sy iets kan oorkom nie, ek glo sy sal goed daardeur kom. Ook nie oor die geld en of dat Dotsure gaan betaal of nie. Maar eerder omdat ek nie daar is om my kind te gaan afgee en weer te gaan haal nie.
Seun troos, hulle kyk die afgelope 18 maande na my kind, dit sal goed gaan en hulle sal haar baie mooi oppas. Dus moet ma ontspan. Maar ek sukkel om te ontspan.
Ek is bekommerd ek sou nie opgemerk het dat BB ‘n probleem het nie. Sou ek dit agtergekom het? Ek sou dalk net gedink het dat sy te veel water gedrink het. Soos ek soms maak? En dan is dit die logiese gevolg?
Ewenwel, Maandag is ek toe vroeg reg met vrae. Is BB al in? Is sy OK? Lyk sy bang? Ek is bang as ek operasies moet kry.
Nee, sy gaan eers later in.
Hulle sal laat weet, veearts sal hulle laat weet sodra sy uit die teater is.
Ek hou my in, maar kan aan net mooi niks dink nie.
Later laat weet seun sy het goed gedoen, hy kan haar vyfuur die middag gaan haal.
En toe kry ek die skok: ‘n Foto van die nierstene! (Hooffoto). Seun het nie klein hande nie!
Hoe de ongeluk het sy dit oorleef met sulke goed in haar lyfie? Hoe vorm dit? Waarom vorm dit? Hoekom het sy nie gekla en gekerm nie? Ek sou!
Ek sou steen en been gekla het.
Daardie goed het hopenlik met verloop van tyd gevorm. Maar hoe het die veearts dit nie tydens haar Desember ondersoek opgetel nie? Kan dit so vinnig so groot word? Of moet mens hulle vra om spesifiek daarvoor te voel?
BB was blykbaar dadelik pure vrou. Het rondgeharloop asof sy nie ‘n operasie gehad het nie. Die sny uitgelos dat hy gesond kan word.
My hart was so seer oor my kind. Veral omdat ek dink dat ek nie sou agterkom nie. Dat sy gelukkig by seun en skoondogter was. Dat hulle dit agtergekom het.
Foto’s onder: BB; die nierstene wat uitgehaal is; BB (regs) en Sobek (links) op die rivierhuis se stoep; Middelste kleinseun speel altyd met hulle, BB probeer letterlik op sy kop sit; En ek en BB op my Quad. As ek op is, is sy by vir ‘n geleentheid.

Groot foto: Ons was in November vir ‘n besigheidsbesoek na Suid-Afrika. Ek was op toe ons by seun land, na omtrent twee dae in die lug en op lughawens in Turkeye en Almaty was ek gedaan. Toe sak en net so in hulle mandjie neer, met my liefies op my skoot. Waar hulle hoort. Bekka lê styf teen my, Shilo se koppie steek net uit en BB lê dat ek haar ruggie krap. Ek mis hulle so baie.
Ek wou nie skryf nie, want dan moet ek foto’s van my kinders soek. Van ons tye saam. En dan sou ek weer sukkel om sonder hulle klaar te kom. Nou kan ek met ‘n lied in my hart skryf – ek is so dankbaar dat die Here ons kom help het om veilig huis toe te gaan.
Ek kan haar weer druk en vashou. Sy gaan weer op my skoot sit terwyl ons plaas toe ry. My liefste Schnauzertjie gaan weer oral gaan waar ek gaan. My volg waar ek gaan. Ons gaan weer wegkruipertjie speel. Ek kan nie wag om huis toe te gaan nie.
O ja, Dotsure bluf. Ek het R1700 van die R4000 teruggekry, dit as operasie geklassifiseer en nie as ‘n dringende prosedure nie. Soveel vir die R370 wat ek elke maand betaal. Vir gemoedsrus. In die bank sou my geld gegroei het, hier verloor ek al die pad.
Ek kyk uit na beter versekering vir woewe, dink ek gaan dalk net Outsurance oorweeg! Laat assbelief boodskap as jy beter ondervinding met ‘n troeteldierversekeraar gehad het.
Ek kan nie glo dat so ń klein hondjie se nierstene so groot kan wees nie, Christa! En soos jy sê, hoe het haar lyfie dit gehou. Dankie tog dit klink of sy nou weer perdfris is. Of is dit hondjiefris.🤗
LikeLiked by 1 person
Dankie, Una, ek was absoluut geskok. Die arme hondjie. Ek het nie eens gaan oplees daaroor nie, ek wil liewer nie weet hoe dit uitgehaal kon word nie.
LikeLike
Ek is bly alles is nou reg want ek het hoendervleis gekry terwyl ek lees hoe jy moes wag – dit is altyd moeiliker vir die persoon wat nie daar is nie. Jou honde gaan baie bly wees wanneer julle weer by die huis is!
LikeLike
Dankie, Anne, dit was die langste wag want ek kon nie die hele tyd pla nie, daar is ‘n baba in die huis.
LikeLike
Ongelooflik!Die nierstene is baie groot en ek kan my voorstel BB se niere is piepklein.Sy moet verlig wees noudat dit uit is.
LikeLiked by 1 person
Ek kan my nie eens voorstel hoe dit in haar lyfie kon inpas nie. My arme kind.
LikeLike
In die Boland kry mens wynsteen…….hehehe
LikeLiked by 1 person
Ai tog, die arme mense.
LikeLiked by 1 person
Goeie genade vrou dis m….se stene. Het hul n verduideliking gegee hoekom hul so groot geword het sonder dat hul/jul iets agter gekom het? Lyk omtrent of haar niere versteen het! Ek is baie bly dat alles goed afgeloop het. Jy gaan binnekort haar weer styf vashou en verduidelik dat jy haar goed gaan oppas.
LikeLiked by 1 person
Ek sal net moet Scrapy, ek sal net moet. Ek sien verskriklik baie uit daarna.
LikeLike
Als sal reg wees jy sal sien.
LikeLiked by 1 person
Sjoe! Te verskriklik vir woorde. Ek kan skaars glo dat dit uit daardie woef se lyf kom! Liewe genade, arme dier. Ek’s bly vir jou dat sy nou okay is. Onthou een ding – niks oor veearts ens nie. Ons het ‘n Jack Russeltjie gehad – wat ‘n pragdier! – en mal oor rosyne. Min het ek geweet dat daardie rosyne ‘dodelik’ vir haar klein liggaampie was. Sy was byna ‘n jaar toe ons haar wou laat regmaak het en toe kom die nuus dat sy dit nie onder die operasie gemaak het nie – agv haar hart. Lank agterna lees ek dat rosyne sleg vir honde is en voel ek daar onmiddellik verantwoordelik vir ons brakkie se dood! Jou hondjies lyk pragtig. Ek sal vir jou ‘n blok-link stuur oor ons huidige woef. ‘n Border Collie, maar nie opreg nie, 80% ons dink sy het so bietjie ander woef-bloed in haar.
LikeLiked by 1 person
O ja, wou nog byse, my een sus het presies so hond soos joune. Oulike honnes.
LikeLiked by 1 person
Nikita, ek is get oor Schanuzers, hulle is soos klein mensies.
LikeLike
Ag Nikita, stuur asseblief die skakel. Ek is mal oor vriende se stories oor hulle hondekinders. Dankie vir die raad, dit is verskriklik om tedink dat mens vir jou woef se dood verantwoordelik kon gewees het. Moenie so voel nie, dalk het die dokters ‘n fout gemaak, en dan leef jy in skuldgevoelens.
LikeLike
ek wens mens het ‘n plek waar jy advertensies verkeerd kan bewys. My pa het altyd gesê jy kan verseker, maar net die volgende dag sal hulle fout vind met iets of kleinskrif uithaal of praat van te min/te veel geld. Mens kan net nooit wen nie.
maar eks bly jou hondejiekind is okay.
happy reunion
LikeLiked by 1 person
Dankie, Appeltjie. Ek skat die beste is om met mense daaroor te praat, jou ervaring te vertel en hulle te laat besluit of hulle die maatskappy verder vertrou. Dankie, sien so baie uit, my hart pyn daarvan.
LikeLike
Sjoe dis verskriklike klippe daardie! Ek is bly dit het goed afgeloop, Christa.
LikeLiked by 1 person
Nie geweet dit kan in ‘n woefie wees nie.
LikeLiked by 1 person