Gelukkig kan 2020 nie reboot nie!

Vanoggend kry ek aanloklike voorstel van die verkopers van een van my webwerwe:

Reboot 2020 en kry 86% afslag

Dankie, maar nee dankie, wil ek laat weet. Ek wil 2020 nie herhaal nie. Selfs al moet ek 86% meer vir ‘n produk betaal. Hierdie jaar wil ek beslis nie oorbegin nie, dit word net al hoe beter. Waarom sal ek dit wil oorbegin?

Nie eens op tegnologiese vlak is ek nie gaande oor die term reboot nie. Ek onthou hoe pieperig rekenaartegnologie in 1992/3 was toe ek my meestersgraad gedoen het. Mens het daardie tyd floppies en stiffies gekry. My verhandeling was so “dik” dat ek dit op meer as een stiffie moes berg. Vandag het ek vele baie groter dokumente op my eksterne stoorplek. En ek het nog nie eens 50 G van die beskikbare terragrepe opgebruik nie. Een blikkie wat met my lewe kan wegloop as hy wegraak en nie net met ‘n gedeelte van my M nie.

Met my PhD in 2009/10 het ek moedeloos geraak as ek halfpad getik was en my rekenaar besluit het om te hang. Dan moes hy gereboot word. Om oor te begin. En hy was glad nie haastig nie, dit is nou as daar krag was, want krag is daardie tyd ook mos uitgedeel aandiegene wat nie betaal nie. Toe, wonderbaarlik met die 2010 beker is daar genoeg krag, oral, om net weer weg te raak. Intussen het die rekenaar baie lank gevat om weer te laai. Terwyl ek probeer onthou hoe lank gelede ek op die liewe save knoppie gekliek het. Want, as dit te lank gelede was, moes ek maar weer die artikel lees. En probeer onthou wat ek geskryf het. Ek sukkel steeds om gereeld te stoor, miskien omdat my rekenaars selde so koppig is om soos ‘n steekse donkie vas te skop. Om weer te begin. Selfs toe wou ek ‘n jaar nie oorbegin nie.

Maar, dit is nie waaroor ek wil skryf nie.

Ek wil oor die aanbod om 2020 te reboot skryf, want dit is een jaar wat ek nie oor wil begin nie. Die emosionele jaagtog is aan die taan, die kinkels en kabels is besig om te ontlont. Mense wys hulle ware kleure, nee, ek nie wil 2020 beslis nie herhaal nie.

Eerstens het ek die oulikste kleinseun bygekry in hierdie grendeltyd. En sy ouma het hom nog nie eens vasgehou nie. Hy is al amper vyf maandjies oud. Dit raak nou al moontliker dat ek hom vir die eerste keer sal kan vashou. Troetelwoordjies in sy ore fluister. Vir hom vertel dat hy altyd veilig by sy ouma sal wees. Drie weke, dan is ons in die land, met die Here se genade. Twee verdere weke en dan kan ek al my kleinkinders gaan vashou en hulle druk. Ander moet asseblief nie die herstelknoppie klik dat 2020 oor begin nie, ek weet mos nou dat ‘n oulike knapie op sy ouma wag, dat sy drie nefies ook nou baie na ouma verlang.

Die tweede rede is dat ek onverwags en skielik nie vir vakansie huis toe kon gaan nie. Nou vir meer as vyf maande lank. Dit begin beter lyk, so ander kan maar skree en pleit soos hulle wil. Maar na 5 maande sukkel mens om te glo dat die jaar anders kan uitsien as hy oor begin. Grense gaan stuk-stuk oop. Nee, wat, 2020 moenie oor begin nie.

Derdens het ek die ronde getal ouderdom bereik. Ek kan dit in Suid-Afrika gaan oordoen, nuwe herinneringe oor die huidiges van die aand bou. Moet asseblief nie die herstelknoppie druk nie, ek weet nou dat dit ‘n werklikheid is dat ek die dag binnekort saam met my kinders en kleinkinders gaan vier.

Vierdens het ek ‘n artikel gepubliseer gekry. Die spanning is gelig, die druk is minder. Ek hou van dit wat gedoen is, wonder of ek dit beter sal kan doen as ek oor begin. Na maande se werk aan ‘n artikel, wil ek dit nie oor doen nie. Moet asseblief nie ‘n knoppie druk dat 2020 oor begin nie,ek is besig met ‘n ander ene.

Vyfdens werk manlief van die huis af. Ek is gelukkig, ek luister onlangs in ongeloof hoe vrouens hier brom oor hulle mans by die huis. My man maak dit lekker met hom by die huis, stort steeds vroegoggend, trek skoon en vars aan, ek kry goeie idee van hoe aftrede eendag gaan wees. Hy neem my in ag, word nie ‘n slonskous nie. My kos word soms steeds koud, maar dit is buite sy beheer. Hy hoor darem nie ewe skielik dat sy drywer myn toe moes gaan en dat hy huis toe moet stap nie. Sy werkdag begin lank voor ses en daar is nie iets soos naweke nie, maar hy kom nie dikmond by die huis omdat hy in die verkeer vasgesit het nie. Asseblief moenie die 2020-herstelknoppie druk nie, dit is lekker, maar ek weet dit was ‘n gejaag na wind.

Sesdens is ek na meer as vyf maande moeg vir inperkings, moeg vir masker dra, moeg vir plekke wat nou oop is en dan nie weer nie, moeg vir mense wat vir my besluit wat ek mag koop en wat nie, moeg vir buite sit en koud kry as ek uiteet en graag binne ‘n restaurant wil sit as dit koud is, moeg om met gif bespuit te word as ek in ‘n winkelsentrum instap. Ek oorweeg dit ernstig om handeviervoet deur te gaan – net om te bewys dat ek nie ‘n gogga is nie. Moet asseblief nie op die herstelknoppie klik nie! Selfs al het die lente en die somer ongemerk verby gegaan. Ek kry die kans om dit in SA te gaan herhaal.

In die sewende plek wil ek 2020 nie reboot nie, want ons gaan voor die winter ernstig byt huis toe. Die byt is reeds in die lug, mens kry selfs koud. Dit het eergisteraand op die berg agter ons gesneeu! Die pieke was vandag vol sneeu. Mooi soos dit is, weet ek hoe min my bloedgroep van die koue hou. Ek het uitgehou en aangehou en bek gehou en slefs oor die sprokiesmooi daarvan geskryf. Positiewe denke maak enige ondraagbare situasie moontlik, selfs maklik. Ek het aan my man se sy gestaan, nie gekerm oor die koue nie. Maar, moeinie op die herstelknoppie druk nie, winter in Kazakhstan is beslis te koud vir hierdie boorling van Afrika.

Agstens het ek hierdie jaar ‘n hele paar verkeerde besluite geneem. Verkeerde mense na my binnekring genooi, verkeerd teenoor ‘n spesiale vriendin in Ust opgetree, verkeerdelik gedink dat ek ‘n probleem in groepe kan help oplos, verkeerdelik nie besluit om sekere groepe waar ek geplak is nie te verlaat nie, nog ‘n paar verkeerde besluite geneem. Moet asseblief nie die 2020-herstelknoppie druk nie, ek sou steeds die verkeerde besluite geneem het.

Laastens het die emosionele las gelig. Ek dink nie mense wat veilig in hulle lande sit, waar hulle nie maand na maand wag dat grense oopgaan en dan hoor dat hulle nie na hulle land kan teruggaan omdat politici dit vir eie gewin misbruik, weet hoe ons daardeur geraak word nie. Hoe dit voel as datums beskikbaar raak om vlugte te bespreek, dit wel te bespreek en dan die e-pos te kry dat die vlugte gekanselleer is nie. Diegene wat in ander lande bly en nie daardeur geraak word nie, word deur niks geraak nie, is emosioneel afgestomp. Het nie dieselfde verhouding met hulle kinders en kleinkinders nie, sal nooit verstaan nie. Ons het hierdie keer nie ‘n e-pos gekry dat die vlug gekanselleer is nie. Ons moes kanselleer omdat die Here ‘n beter vlug vir ons in gedagte gehad het. Los asseblief die herstelknoppie uit, ons emosionele las is verlig. Ons gaan huis toe.

Dus, hoe sleg my 2020 ook al in die beskrywing moet klink, dit was oorwegend ‘n jaar waarin die Here telkemale onverdiende genade geskenk het. Ek noem dit bloot om my lesers te verseker, ek wil 2020 nie oorbegin nie. Selfs nie as 86% afslag verseker word nie, die huidige deel van die jaar toon belofte van hoop, liefde, geluk, vryheid, by my eie mense wees. Soos dit eintlik moet wees.


Gesels asseblief saam: Moet jou 2020 oor begin? Jy kan hier kommentaar lewer, of op jou eie blog skryf en, as jy lus is, ‘n skakel daarheen hier in die kommentaar plaas, dat ander saam kan lees.

Die afslag klink goed: 86% van al die probleme en sorge van 2020 kan uitgevee word. Die probleem is, sou mens anders gekies het?

23 gedagtes oor “Gelukkig kan 2020 nie reboot nie!

  1. My seun was vir drie maande hier vasgekeer – die grendel beperkings het die nag voor hy huistoe oorsee sou vlieg begin, so ek kan dink hoe julle voel oor besprekings, kanseleerings en so aan. Hierdie beskrywing is ‘n baie goeie venster vir ons om agter die skerms te sien hoe moeilik lewe ver van huis en familie kan wees. Dit is wonderlik dat julle binne weke tuis sal wees. Ek hoop jy sal met jou blog sal aanhou.

    Liked by 1 person

    1. anne, ek dink ek sal aanhou. Daar is nog soveel stories om te vertel. Buitendien, as ek ophou, mis ek jou, julle wat saamgesels. Ek sal baie arm wees daarsonder. Snaaks dat ek juis dit gister geskryf het. In die blog wat more sal publiseer.

      Like

  2. Nee, ek wil 2020 nooit oorhê nie. Wat wel wonderlik was, is hoe God my en my geliefdes deur alles gespaar het, bewaar het van alles wat sleg is. Maar binne my is daar hierdie begeerte na my lewe soos dit altyd was. Ons is na 2 maande terug by ons huis. Ons huishulp is na 6 maande terug en ek leef vandag ‘n stukkie van die ou normaal – soos in 2019! 😄😄😄

    Liked by 1 person

  3. Reboot klink soos nuwe skoene en ek hou van skoene, maar reboot 2020, nee dankie. Hoekom sal mens enige jaar van jou lewe wil oorhê? My storie is goed en sleg maar dis my storie, elke jaar vorm deel van my storie. 2020 was definitief anders as baie van die ander jare, maar nie noodwendig beter of slegter nie

    Liked by 1 person

  4. Nee dankie. Ek wil 2020 nie oorhê nie. Nooit nie. 2020 was vir my uiters sleg, maar ook baie goed. 2020 was ‘n hersteljaar. Die einde van die winter. Die begin van die lente. Ek het hom geloop en dit was nodig, maar nóg ‘n keer? Nee dankie. Dit is nou vir vorentoe. En jy, Christa, geniet die laaste paar Kaz dae. Maak hulle spesiaal. Gaan doen daardie dinge wat jy nog graag wou voor jy huis toe kom. ❤️

    Liked by 1 person

  5. Verstaan ek reg dat julle permanent terugkom? 2020 was vir my moeilik omrede Ken se siekte. As ek kon sê hy is na al die maande van verpleging gesond sou ek so dankbaar gewees het. Maar dinge lyk nogsteeds sleg. Wat 2021 gaan bring sal net die tyd leer. Ek sal die knoppie uitlos ok…. wil ook nie dié maande herleef nie.

    Liked by 2 people

    1. Dankie, Una, dit was vir my regtig onaangenaam om nie huis toe te kon gaan nie. Gisteraand het ons saam met vriende wat in Atobe bly gaan uiteet. Suid-Afrikaanse man. Russiese meisie hier kom vat. Hy gaan huis toe, sy moet bly tot die grense oop is. En skielik besef ek daar is mense vir wie dit nog erger is. Geliefdes word deur die grense wat toe is, geskei.

      Like

  6. 2020 het vir my, soos met die rekenaar se reboot alles tot stilstand gedwing en kopskoon gemaak en nuwe maniere van dink daar gestel en ou maniere van dink geskaaf en daarop gebou en opgegradeer. Ek sal nie volunteer vir nog ‘n 2020 nie,maar ek is dankbaar vir al die nuwe vaardighede wat ek in die proses aangeleer het.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.