Ek het al genoem dat ons van Coffee Boom hou. Ook dat ons die een by Dostyk Mall al verskeie kere besoek het.
Wel – dit was vandag ons derde besoek aan Coffee Boom by die Forum Mall. En ek is so effens geïrriteerd dat ons buite moet sit. Want die son is nie vriendelik met ons nie. Ek sit elke keer in die son. En hy is so teen twaalfuur in die middag erg warm.
Ek het ook genoem dat ek die tee met die dennebolle wil probeer. Wel – ek het. En ek kan nie sē dat ek dit weer gaan probeer nie. Dit is soeterig. En ruik soos bos. Darem ‘n goeie herinnering aan die bos by Knysna. Ons het mos al daar gaan stap toe die kinders klein was. Maar, ek kan nie onthou of ek al ooit lus was om ‘n blaar of ding op te tel en te eet nie.
Dit ruik ook soos lente in Ust’-Kamonogorsk, wanneer die sneeu smelt en die dennebolle wat lank in die sneeu gelê het, begin ontvries. Of wag, dalk juis soos lente in Ust, wanneer mens verby die dennebome stap. En die nuwe bolle hang vars en nuut aan die nuwe takke, wat liggroen teen die ander vertoon.
Ja, dit is hoe dit ruik. En nee, ek was nog nooit lus om ‘n dennebol te pluk en te eet nie. Nog heelwat minder was ek lus om dit in my tee te gooi. Om die waarheid te sê, toe ons aan die begin nie vuuraanstekers kon kry nie, het ons droë dennebolle opgetel om onder die charcoal te sit om die vuur aan die gang te kry.
O jitte, daar het ek lekker afgedwaal. Wat anders kon ek van die geur verwag?
Manlief is lankal lus vir ontbyt wat Suid-Afrikaanserig is. Ek het op soppe begin besluit. Want soms is my kos net heeltemal te veel vir een mens. Ek het hierdie ene gekies.

Dit is ‘n sop eg aan hierdie deel van die wêreld. Dalk nie noodwendig Qazaqstan nie. Want hierdie mense is soos ek, niks brandkosse nie. Dankie! Dit het kokonut melk in. En brand nie regtig nie, kan nie glo ek het die chilli-deel misgelees nie. Ek hou niks daarvan as my mond brand nie …
Hier is dan die foto’s vir die vandag, Saterdag 22 Augustus 2020.

Manlief het melkskommel gekry. Uitiendelik! Dit was al op hoeveel spyskaarte, om dan te hoor hulle het nie. Die keer het hy weer bestel. En gekry. Ek het al vertel dat hulle nie van bacon soos ons dit ken weet nie. Bacon en eiers en roosterbrood is iets wat nie in ‘n restaurant bestel kan word nie. Daarmee bedoel ek nou soos ‘n Wimpy ontbyt.
Kyk hoe oulik lyk die piepklein dennebolletjies onder in die teepot. Ek het nie vir meer as een en ‘n halwe koppie kans gesien nie. Die res moes maar weggegooi word. Siestog, wonder waar kry hulle die piepklein bolletjies?
***
Let daarop dat ek my plasings skeduleer. Soms gedra die muse haar nie mooi nie, dan skryf ek sommer 6 of 7 plasings op een dag. Dan skeduleer ek maar dat dit nie alles op een dag deurgaan nie. Daar kan dus staan vandag, dan was dit al ‘n week gelede …
Ek hou baie van julle uitetery. Alkes klink so avontuurlik en interessant. Wat is die volgende gereg of drànkie op jou spyskaart?
LikeLiked by 1 person
Hi Bitterbossie, ek het geen idee nie. Ons wil in die week teen die berg op by Kok Tobe om daar bo te gaan eet. Ek vermoed dit gaan Qazaqerig wees, maar ek kies dan gewoonlik ‘n deurskynende sop. Of hoender. Sal skryf sodra ons dit gedoen het. Dankie vir die saamgesels.
LikeLike
Ek hou ook van geure, na die reën, sonskyngedroogte wasgoed, bloekomboomgeur in die lug vroeg in die oggend, die veld soggens en saans, my kleinkindbabatjie se nek.
LikeLiked by 1 person
Ai Appeltjie, ek mis daar die laaste reuk vreeslik. Hopenlik sal hy nog baba wees as ons hom uiteindelik sien.
LikeLike
DENNEBOLLE?! Slim om plasings te skeduleer.Ek gaan dit ook probeer.
LikeLiked by 1 person
Dit werk so lekker. Soms is ek te besig om te skryf, ander kere het ek honderde wat ek wil skryf, ek bedoel genoeg vir twee weke. Dan skeduleer ek hulle sodat alles nie op een dag gepubliseer word nie. En gee dit my ruskans om aandag aan ander werk te gee.
LikeLike
😃
LikeLiked by 1 person
Ja dennebolle, regtiges
LikeLike
Ugh!
LikeLike
Hmmm, dit het houterig geproe as ek nou daaraan dink.
LikeLike
Georgainiseerde vrou!
LikeLiked by 1 person
Nie regtig erg nie, dit frustreer my man. Hy wil alles voor die tyd beplan.
LikeLiked by 1 person
Ek dink julle is albei baie georaniseerd.
LikeLiked by 1 person
Dankie Seegogga, jy is baie gaag om so mooi van my te dink. Ek is nogal wat navorsing betref, het op die harde manier geleer. Mens moet vinnig leer fokus anders kry jy nooit klaar nie.
LikeLike