Gepubliseer in Reisjoernaal

As dit soos melkskommel lyk in Almaty

Vanmiddag is ons bank toe. Oorkant die straat by Ramstore. Om na ‘n jaar uiteindelik die toep op my foon in te stel. Dan hoef ek nie teller toe te gaan om te kyk hoeveel geld ek in die bank het nie. Dit gaan toe vinniger as wat ons gedink het. Al het ons en die bankbestuurder mekaar skaars verstaan.

Ek bedoel, hoe moeilik is dit om te verstaan dat ek die kaart het en dit op my foon wil gebruik? Wys kaart, wys foon, wys help asseblief. Hy verstaan handgebare, ons verstaan syne en dit is gedoen. Baie vinniger as wat ek ooit in Suid-Afrika by ‘n bank gehelp is. Waar ek wel verstaan is …

En so oortuig ek manlief om saam met my vir ‘n koeldrank by een van die kafeetjies by Ramstore te sit. Mangal. Blykbaar Turks as ek na die naam en goed op die spyskaart kyk.

Dit is warm, ons sit mos op die stoepe, mag nie binne sit nie. Ek besluit op Cranberry sap. Manlief is lus vir melkskommel en kies die Turkish Ayran met die mooi prentjie en die geklitste room bo-op. Op prentjies is ons tevrede met wat ons bestel.

En … ek kies Tiramisu, sal maar met die gevolge saamleef vir twee weke, ek moes net proe. Manlief gaan al langer as ‘n jaar aan oor die koeke in Qazaqstan wat verby lekker is. Hy kies kaaskoek.

Die koue drankies kom eerste. My sap is suurderig, maar lekker. Ek verkies dit bo soet vrugtesap. Manlief vat een lang teug, skuif die glas terug op die tafel en sê dit is nie lekker nie. Ek moet proe.

Toe sit ek met die dilemma. Ek het so pas tiramisu bestel. En dit het beslis room in. Ek weier egter volstrek om sy “melkskommel” te proe. want toe is daar net een ding op my brein.

Hoe proe dit?

Is dit suur? vra ekke. Want as dit is, het hy waarskynlik perdemelk bestel. Perdemelk is blykbaar suur. En ons twee weet nie wat dit in Russies is nie. Ons ken al mooi van kaniena (perd) en dit gaan ons nie eet nie. Maar wat is perdemelk dan in Russies?

Ek sien voorspooksels van Ayran as perdemelk maar die woord klink verkeerd.

Manlief is nie gelukkig omdat ek op die grond wil kruip van die lag oor sy drankie nie.

****

Nou moes ek eers op opsoek. Terwyl ek hier skryf. Airag, ook gespel as ayrag. Perdemelk! Genade tog, dit is naby Ayran. Maar die woord wat hier vir perdemelk gebruik word, is kumies. Ons moet nou in elk geval al twee name leer ken, want hier het ons in ‘n Turkse restaurantjie gesit.

Kumies, ala ayrag, is gefermenteerde perdemelk. Suurgemaakte perdemelk. Ek het op ‘n plaas grootgeword, en ek het nie geweet ‘n perd het spene soos ‘n koei wat gemelk kan word nie. Tog is dit half logies, want hulle voed tog hulle vulletjies. So lees ek dan dat kumies amper iets soos biesmelk is – die melk van ‘n mamma koei met pasgebore baba.

Kumies kry mens net wanneer die mamma ‘n vulletjie het. En nou gril ek selfs meer vir die melk. Ons het nie biesmelk gedrink toe ons kinders was nie.

In Maart, die naweek voor die grendeltyd begin het, was hier in die stad op ‘n daglange staptoer saam met ‘n gids. Sy bestel toe by ‘n eg-Qazaq restaurant vir my Qazaq kos. Perdewors was op die borde en toe dra die man vir ons elkeen ‘n koppie vol kumies aan. Ek verstaan dit is duur …

Die gids moes maar die perdevleis eet. En haar koppie perdemelk drink. Sy het nie vir myne ook kans gesien nie – en ek het my slap gelag vir haar gesig toe ek haar aangepor het … toe, drink, want ek wou haar gesigsuitdrukking sien.

Ek kon gelukkig wegkom met ek is laktose weerstandig. Ek kyk gereeld heel wantrouig na hierdie restaurant as ons daar verbyry noudat ons in Almaty woon. Dankie, maar nee dankie, daar word goed aangebied wat ek nie gaan eet of drink nie.

Ewenwel, op een letter na het manlief toe nie perdemelk ingekry nie.

***

Terug by die storie.

Toe die kelnerin met die koek kom, sê hy verleë vir haar. This is not nice, wat sy natuurlik nie verstaan nie. Maar sy verstaan sy gesigsuitdrukking en die wegstoot van die drankie soos ‘n kind maak as hy of sy nie daaraan gaan proe nie. Sy verstaan die gebaar en vat dit weg, bring vir hom die spyskaart en wys lemonade. Ja, dit sal hy probeer, vat daai weg.

Sy stap met die drankie weg en kom terug met lemonade en net so drankie. Ons twee kyk dit so, daai een gaan sy maar net moet vat. Sy sit die lemonade neer en stap twee tafels verder met die wit melk.

Ons verstar. Kan sweer sy het net strooitjie geruil en dit vir die man aangebied, maar dit is seker nie so nie? Ek sit verstom vir die man en kyk. Een lang sluk en die glas is driekwart. Hy hou beslis daarvan.

Manlief sit so ingedagte. En toe doen hy daardie ding wat mens doen as jy perd wil verduidelik. As jy jou lippe so half opblaas en dan die lug trillend uitdruk dat jou lippe so bewe. Daardie een, dit is nie regtig runnik nie, is dit?

Wel, toe kruip ek soos ek lag. Want dit is dan verseker perdemelk wat hy ingekry het. Is dit nie? Hy maak nooit so nie. Hy lag maar verleë saam, wat kan hy maak? Sy vrou dink dit is so snaaks dat sy vergeet dat sy in die openbaar is.

Ons het eers die koek klaar geëet en toe huis toe gekom om te kyk wat dit was wat hy gedrink het. Terwyl hy regmaak om weer uit te gaan, soek ek die woord op.

En hy dink nie dit is snaaks toe ek skree soos ek lag nie. Nee, gits kyk, ayran word blykbaar van skaapmelk gemaak. Ek moet eers asem skep voor ek kan verduidelik hoekom ek soos ‘n heks lag. Perd? Skaap? Wat de ongeluk is die verskil? Mens drink nie een van die twee nie. So eenvoudig soos dit. En die name vir die goed verskil met een letter!

Manlief wil weet wat so snaaks is en ek sê hy het die verkeerde geluid gemaak, dit was eintlik skaapmelk. Siestog en toe moet ek hom maar reghelp toe ek sy gesig sien.

Dit kan wel van skaapmelk gemaak word, maar ek dink nie dit is nie. Daarvoor was die drankie regtig te goedkoop. Hoeveel skape moet mens melk om soveel melk te kry?

Dit kan ook van Griekse joghurt gemaak word verdun met water en met sout vir – let wel – smaak bygevoeg. Dit word dan geklits om ‘n koel drankie vir die somer te maak. Met die geklitste room bo-op.

Dit lyk regtig baie lekker, maar kyk net arme manlief se gesig …

***

So van skaapmelk gepraat. Ek weet hoeveel mens moet melk om ‘n kwart koppie melk uit ‘n skaap te kry. My nefie van die stad het dit ook geweet nadat hy op die plaas kom kuier het.

So kom hy van die groot stad af by sy niggies op die plaas kuier. Familie aan my ma se kant.

Ek was jonger as standerd 5, kon standerd 3 of vier gewees het. Nefie sē hy weet tog melk kom van koeie af. En die tergduiweltjie neem toe heeltemal by my oor.

Regtig? vra ekke. Nou hoe weet jy dit?

Die bokse waarin hulle melk koop, het ‘n koei op, verdedig hy.

O, en die wat blommetjies op het, word van blommetjies gemaak? vra ekke?

Nefie is verslaan. Ek het ook maar net geweet dat melk so verkoop word van sien in die winkels. Ons het plaasmelk gedrink.

Nou sien, neef, verduidelik ek. Melk kom eintlik van skape af.

Nooit, sê hy.

Ag man, mens doen dit mos nie met ‘n plaasmeisie nie. Dan moet sy jou mos oortuig. Natuurlik, verduidelik ek. Dan nou net vir jou verduidelik dat die maatskappy enige prentjie op die boks kan sit. Dit pas by die maatskappy, nie by die inhoud nie. Blommetjiesmelk?

Kom saam, nooi ek dan gaan wys ons jou.

So is ons na die skaapkraal toe. Ek verduidelik hoe om die speen te trek. Vat hoog bo vas en trek dan af. Hy sukkel eers, dit is piepklein ou speentjies teen ‘n koei s’n. Maar toe kry hy hy die dunste straaltjie melk uit die arme skaap. Wat nie baie gelukkig is nie, maar die plaaswerkers speel saam. Hulle hou die skaap vir hom vas.

Ek kan nie onthou hoe lank hy gemelk het nie, maar daar was na ‘n lang ruk so kwart koppie melk in die koppie.

Toe maak ek vir ons koffie en hy gooi sy selfgemelkte melk in syne in. Ek drink die dag swart koffie.

Ek het so gesukkel om my lag te hou, seker waarom ek vandag soos ‘n heks klink as ek onbedaardlik aan die lag gaan.

Toe die koffie klaar is, sê ek vir die arme stadsjapie dat hy die eerste mens is waarvan ek weet wat skaapmelk gedrink het.

Hy was naar, die koffie kon nie binne bly nie.

En … hy het eers so twee jaar gelede vir my pa daarvan vertel.

My pa wou hom nie glo nie, sê toe vir my dit is wat die mannetjie te sê het. (Wat natuurlik nou al in sy 60’s is).

En ek moes bieg. Jip, ek het daardie een gedoen. Hy het met my gestry, toe kyk ons wie se bluf hou. ‘n Meisie moet doen wat sy moet doen om haar stadsjapie nefie op sy plek te sit …

Seker dié wat ek so dankbaar is dat ek melk weerstandigheid so op my ouerdag ontwikkel het.

Karma is ‘n heks, is sy nie?

My kinders sē natuurlik dat sy nie net die stout na jou laat terugkom nie, sy laat die goed ook terugkom.

Net vir ingeval, bly ek in Kazakhstan van alle melkprodukte af. Net vir ingeval …

Ons het besluit ons bestel nooit weer iets as ons nie die naam ken nie. So eenvoudig soos dit.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “As dit soos melkskommel lyk in Almaty

  1. Hierdie plaasmeisie lag nou lekker saam. Maar blykbaar word skaapmelk wel deesdae gebruik in delikatessen. My pa het grootgeword op bokmelk en dis lekker soet – het dit al geproe. ek bly maar by die koei.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.