Ons woon in ‘n pragtige, groot woonstel hoog in ‘n woonstelblok in Almaty.
Sommer binne die eerste dae verlede jaar in Qazaqstan het ons besef waarom ‘n woonstel baie lekkerder as ‘n huis is. So vertel my sus vandag vir my, asof ek nie in ‘n stad gebly het wat ses maande onder sneeu is nie, dat dorpe die strate laat skoonvee na ‘n sneeustorm dit toegemaak het. Dus kan mens ‘n huis verkies.
нето (Nee!), ek stem nie saam nie. Ons het na huise gekyk, die deel tot by jou garage is jou verantwoordelikheid. En as manlief gaan werk voor die paaie geskraap is, is dit ‘n probleem. In ‘n woonstel, bel ons die landlord met ‘n probleem. As die krag uit is, bel ander die gebou se eienaars en word dit opgelos, ons het nie die woorde nie om dit self te doen nie.
Buitendien, om eerlik te wees, stel ons glad nie in ‘n huis belang nie. Ses maande van die jaar is jou tuin een sneeubad, wat weer moet smelt om een modderige aarde agter te laat. Die blommetjies word net weer mooi, dan is die sneeu op jou. En as jy nie oppas nie, bou dit teen jou deure op dat jy nie kan uitgaan nie. Ook op jou dak. Ek sal dit sowaar nie wil afhaal nie.
Daar is min woonstelle per vloer, al is ‘n vloer baie lank uitgestrek. Want die woonsteblokke bestaan uit blokke. Jy kan in jou blok tot op al die vloere gaan, maar jy kan nie op jou vloer na al die woonstelle gaan nie, omdat elke blok afgeperk is en sy eie deur onder het – en jy by die regte deur moet ingaan om by jou woonstel uit te kom. Dit is nou in die lang geboue. Ons gebou is vierkantig en ronderig en daar is net vier woonstelle per vloer.
Ek weet nie wie die paadjies gaan skoonmaak as die sneeu val nie, want dit gaan nie ekke wees nie. Ek kry baie koud buite, moes dalk hier groot geword het om dit te kan doen.
Iedergeval, ek wil vertel van sonde met die bure.
***
In elkeen van die woonstelle waar ons gebly het (3 tot nou) was daar vinkwyfies bokant ons …
Ek het al vertel dat ons skaars in die eerste woonstel in Ust ingetrek het toe ek gek wou word van die gekappery en boordery in die gebou. Alhoewel die woonstelle baie nuut was, het die geboue twintig jaar lank leeggestaan. En ons was, onwetend, van die eerste intrekkers. Dus is daar van soggens 7 uur tot snags 11 uur gekap en gebou in die woonstelle, wat lyk my net doppe was wat versier moes word.
Ons kon nie kla nie, aldus die landlord, dit is so in Qazaqstan. Jy kan na 11 slaap en moet voor 7 uit wees. Wat ek nie kon nie …
Gelukkig het ons die volgende maand getrek, anders het ek dalk die bouers gaan probeer stilmaak. Hoe, weet ek nie, want ek het nie die woorde daarvoor nie. Maar ek het al agtergekom ek kan goed beduie wat ek wil sê.
Ek het ook al vertel dat die vinkwyfie bo ons in die tweede woonstel in Ust haar nes uitmekaar gepluk het in die maand toe ons sou trek. Dus was ek dankbaar toe ons Almaty toe verplaas is. Na een maand van kap en dril sou ek graag daar wou gaan help kap en dril. Nie noodwendig aan mure of vloere of plafonne nie.
En so wraggies, die eerste maand in ons nuwe woonstelblok in Almaty het my nie van kap en boor verlos nie. Inteendeel, ek het nie geweet wat bo ons aangaan nie, want die harde geluide van goed wat val, het my laat dink dat die plek nie net oorgedoen word nie, maar afgebreek word.
Ek het al vertel dat ek die agent gekontak het, asseblief vind net vir ons uit wanneer dit ophou. En dat sy teruggekom het met die nuus dat die landlord (vrou) se drywer hulle kom vra het. En dat hulle klaar is.
Wel, hulle was vir een week klaar. Die volgende drie weke is gekenmerk aan kap, boor en lawaai. Ek het al vertel dat ek gaan kyk het, dit was nie direk bokant ons nie, daar is ‘n hele vloer tussen ons en die gekappery.
Dinsdag is my humeur op breekpunt, ek sal iemand wil gaan kap, nie meer net help kap nie. Dus kontak ek die agent weer.
Nee, skryf ek, hulle het toe nooit ophou kap en boor nie. Ons werk van die huis af, kan nie eens hoor tydens vergaderings nie. Kan sy help?
Ek soek twee antwoorde: (a) tot wanneer nog en (b) tye wat hulle nie gaan kap nie, dan kan mens jou lewe daarvolgens beplan.
Sy sal help. Ek gaan op en gee die foon vir die lawaaimaker. Sy doen die praatwerk. Soek antwoorde op twee vrae.
Ek is in die hysbak op na die vloer en stap na die deur. Ek het al vertel dat ons verskriklike dik deure het om koue uit die huise te hou in die winter. Ek hoor niks binne nie, al weet ek dit lawaai erg. Ek klop, maar kry geen antwoord nie.
Klop weer, geen antwoord. En agent is in my hand op die foon, wagtend om die praatwerk namens my te doen.
Loer deur die loergaatjie wat my vreemd toelaat om na binne te kyk. En voel die wind van binne so reg in my oog. Dit is regtig nie ‘n lekker gevoel nie, mens skrik jou koud. Onder normale omstandighede.
Hierdie is nie normale omstandighede nie. Ek soek antwoorde, vandag nog. Intussen bly sy op die lyn.
Daarom druk ek die handvatsel af en die deur gaan oop. Om vas te kyk in die grootste gemors wat jy jou kan voorstel.
Dit is een groot, vet gemors. Hierdie vinkwyfie was ernstig. Alle deure is af, mure se sement afgekap, sakke en sakke sement en sand in die vertrek wat my kombuis is, dik laag stof net waar ek kyk. Dit lyk soos ‘n huis wat pas gebou is, met mure wat nog gepleister moet word!
Ek roep, maar niemand antwoord nie, maar ek weet hulle is in die huis. Dus stap ek in. Ek ken mos die uitleg van die plek, myne lyk ook so. Dink ek, want ek voel verdwaal in die gemors.
Toe stap ek in die vertrek in wat my hoofslaapkamer is op my vloer. En daar staan die rede vir my humeur.
Drie groterige Russe/Qazaqs is besig om iets soos rakke teen mure vas te boor en kap. En ek weet sommer, maak jou reg vir ‘n ding, as dit na ‘n maand steeds so lyk, dink ek nie dat dit ooit klaarkom nie.
Moedeloos roep ek en wys vir die een my foon en hy vat aan. Ek praat Engels en hy gee die foon vir ‘n ander een aan, ek neem aan dit is die leier van die span.
Die agent praat met hom, hy is kwaad. Beduie hard en kwaad en gluur my aan.
En ek dink daaraan dat hulle drie teen een is, wat het ek gedink?
Die ander twee kom nader, en ek staan my staan. Die Qazaqs is nie kwaai mense nie, en ek sit ‘n vriendelike gesiggie op. Met groot moeite, ek sukkel as ek kwaad is.
Sy raak ook kwaai en ek dink daaraan dat sy geen idee het hoe groot en kwaai hierdie drie manne lyk nie. Maar ek is braaf, hulle weet mos ek het versterkings … op die foon.
Dan gee hy in, wie kan teen ‘n vrou baklei en wen?
Die agent rapporteer.
Twee weke, dan is hulle klaar.
Ek weet, bouers lieg erger as tandetrekkers, die gemors kan nie in twee weke reggemaak word nie. Selfs die vloerbedekkings is uitgekap! En die plafonne, dit is een grys gemors.
Maar, dit help. Dit troos as mens verby kwaad is. En as jy weet dat dit onmoontlik klaar kan word, ek het self gesien watter groot gemors bo aangevang is.
Hulle sal tussen 12 en 2 nie boor nie.
Dit is iets. Ek sê спосибо (Dankie) plak ‘n glimlag op en hy grynslag.
Toe ek uitstap, volg hy my en sluit die deur.
Geen onverwagte gaste verder vir hom nie!
Mens moet seker dankie sê, maar 12 tot 1 is etenstyd. Tog gee dit vir manlief van 1 tot 2 om te hoor wat in sy virtuele vergaderings aangaan.
Toe ek sê ek gaan nou op om die probleem op te los, sê manlief dat dit hom nie eintlik pla nie, hy het musiek in die sitkamer waar hy lessenaar ingesit het om te werk. Hy raak so bietjie hardhorend.
Nou sê hy die tye help nie veel nie en ek lag vir hom. Anders gaan ek baie kwaad word. Sowaar, ek dog dit pla net my, nou moet ek hoor dat die groot ding wat ek reggekry het, nie veel help nie.
En sowaar, hulle dril en kap en boor sagter. Ek hoor hulle nie meer asof hulle in ons huis kap nie!
So, wat ek eintlik wil vertel, is dat daar nou vrede in my gemoed is. As ek weet hoe lank ek moet uithou, is dit makliker as wanneer ek nie weet nie.
En dit is een ding wat ek wens ek op die oomblik van die dak van ons woonstelgebou af kan uitskree, dat die klank regoor die aarde strek en weergalm.
Hoe lank nog?
Dit is al wat ek wil weet. Dan kan ek myself regmaak daarvoor.
Ons winkels het 5 Julie gesluit. Vir twee weke. Dit is nie lekker om in groot afwagting te wees dat ons winkels uiteindelik gaan oopmaak en dan te hoor ‘another two weeks en weereeens another two weeks in August’ nie.
Dit werk net nie meer vir my nie. Ons kan kos koop, medisyne gaan koop en ons kan buite restaurante uiteet. Ons kan stap en ry waarheen ons wil, behalwe uit die stad, lyk dit my, maar ons kan nie klere en sulke goed koop nie.
Al het ek gesê ek het geleer om daarsonder klaar te kom, bluf ek myself. Ek soek twee bloese, wat dun genoeg is om nie so warm te kry as ons buite is nie. Kan nie eens maak nie, die materiaalwinkels is ook toe.
Net so min as wat SA se maandeliks ding vir my werk. Tog voel die tweeweeklikse ontsteltenis vir my beter as ‘n maandelikse een. Gelukkig werk hierdie ratte heel maand en nie net die dag voor die einde van die maand nie.
Om twee weke te wag is nie so erg soos om ‘n maand te wag nie.
Of is dit?
Elke twee weke voel dalk tog erger, dit voel of ek die hele tyd slegte nuus kry. Veral as ek weet dat ek soveel het om voor dankbaar te wees. Die Bybel sē uitdruklik moenie oor die dag van môre bekommerd wees nie, jy kan niks daaraan doen nie. Geniet die nou.
En het ek nie soveel rede om die nou te geniet nie … Ek kan met my gesin en familie kommunikeer, ons kan selfs per video gesels. Ek moet net glo. Een van die dae sien ek hulle weer, kan ek druk en soen en liefhê soos ek wil. Dit is nie die Here se wil op die oomblik nie.
Foto: Sonsondergang, 30 Julie 2020, Almaty, Qazaqstan
Ek hoop daai kwaai Russe rus binnekort.XXX
On Wed, 05 Aug 2020, 2:05 PM Dr. Christa van Staden, wrote:
> Dr Christa van Staden posted: ” Ons woon in ‘n pragtige, groot woonstel > hoog in ‘n woonstelblok in Almaty. Sommer binne die eerste dae verlede jaar > in Qazaqstan het ons besef waarom ‘n woonstel baie lekkerder as ‘n huis is. > So vertel my sus vandag vir my, asof ek nie in ‘n stad geb” >
LikeLike
Ek ook, dit is allebehalwe lekker. Hulle was vandag weer erg op hulle stukke. `selfs water toegemaak vir die vinkwyfie.
LikeLike
Sjame,man.
LikeLike
My kop wil vanaand bars …
LikeLike
🤔🙏
LikeLike
Dit klink my die bouers en julle regering se twee weke lyk dieselfde, sterkte
LikeLike
Positief, ja, ne, ek het nie eens so daaraan gedink nie. Gaan nie verby nie.
LikeLiked by 1 person
Genade, jou geduld word omtrent beproef! Ek bid vanaand weer dat jy net kan huis toe gaan en liefhê soos jy graag wil. Ek is baie jammer vir jou! Sterkte! 💙
LikeLike
Dankie, gedihgte, hulle was vandag weer erg. Ek wil ook huis toe gaan, om eers af te koel van hierdie lawaai.
LikeLike
Christa, julle het voorwaar baie uitdagings! Gelukkig is jy sterk en braaf, maar mens kan ook net sò lank uithou.
LikeLike
Mens se geduld word erg beproef as dit so lawaai. Ek sal graag so wil aangaan by hulle huise, as hulle moet werk. Maar ai, ek dink hulle sal die lief ….
LikeLike
Dis sleg, veral omdat jy van die huis af werk. Wat die gesels met jou mense betref, wees bly en dankbaar dat jy dit kan doen. Dink net hoe erg dit sou wees as daar geen kontak was soos in die tyd voor al die moderne hulpmiddels nie.
LikeLike
Ek weet daardie. En ek is dankbaar.
LikeLiked by 1 person