Voetgangers in Öskemen – algehele vertroue in bestuurders

Ag my aarde, van die eerste keer wat ek in Ust’-Kamenogorsk, of Öskemen, in die noord-oostelike hoek van Qazaqstan aangekom het, het die voetgangers se ongeërgheid my gefassineer. Hier word nie op skool geleer om links, regs en dan weer links te kyk voordat jy oor die pad stap nie.

Nee hier is voetgangers koning. Hulle kom aangestap, aangedraf en selfs op fietse aangery, kyk nie links of regs nie, en woerts is hulle oor die voetoorgange. Net so, sonder om links of regs te kyk.

Motors moet stop. En mens moet kophou as jy bestuur. Ek wil nie hier bestuur nie.

Ek kan dit in ‘n mate verstaan dat motors vir voetgangers moet stop. In die winter. Dit is onmenslik koud om by voetoorgange te wag. Die mense in die motors is mos veilig en warm.

Indien die bestuurder nie stop nie, is hy of sy in groot moeilikheid.

Maar mens, mens weet seker jou lyf en die van jou kinders is nie so hard soos die buitekant van ‘n motor nie. En ek hoef nie te raai wie tweede gaan kom as daar wel ‘n ongeluk is nie. Daarom stop ek, kyk ek regs, links en weer regs, want die verkeer van die linkerkant af is naaste aan my.

Ek kan wel verstaan waarom die mense in die winter nie links of regs kyk nie. Ek het in die winter probeer met die kappie van my jas oor my kop en ver oorgestoot om my gesig te probeer warm hou. Jy moet basies jou hele lyf draai om links of regs te kan kyk. En teen daardie tyd moes jy al weer gekyk het voor jy stap.

Manlief stap dikwels so sonder kyk, hulle moet mos stop. Ek nie, dus kry ek gereeld raas om te begin stap. By robotte.

Ons het egter die week ons asem weggeskrik toe ‘n motor met ‘n spoed oor die rooi robot by ons gejaag het. Gewoonlik begin ons stap sodra die lig groen is, want die mense is gehoorsaam. Ry nie oor rooi robotte nie. As ons gestap het, was ek nie nou hier om die storie te vertel nie. Om een of ander rede het ons die dag getalm voor ons stap. Ek kan net glo dat die Here se beskermengeltjies by ons was. Nog nie ons tyd om te groet nie.

Ek het hierdie video’tjie in Ust geneem. Toe ons bo in Pienta Restaurant in die ADK winkelsentrum gesit het. En afgekyk het op die verkeer om die sirkel. En natuurlik die voetgangers.

Voor ek dit wys, moet ek eers verduidelik. Die bestuurders wat oor die brug kom en draai, het geen uitsig op die voetoorgangplek nie. Niks. Zero. En hulle ry nie noodwendig stadig nie, dit is afdraende oor die lang brug wat oor die rivier span. En dit is dubbele bane na weerskante toe, dus moet mens darem seker seker maak dat al vier motors stop, of ten minste stadiger ry voordat jy die pad oorsteek?

Kyk ook hoe die motors so sonder bane in die sirkel ingaan. En geen ongelukkie nie. Verskoon maar ons twee se gekekkel tussenin.

Ons het vanaand na die Forum winkelsentrum gestap. Ons het recci werk gaan doen, eet Saterdag saam met vriende vroeë aandete saam met vriende by … Friends. Toe moes ons net eers die twee foto’s van ons neem.

Eendag gaan ek nog vra dat iemand anders my afneem. Weet nie wat manlief doen nie, behalwe dat hy nie vir my mik nie, maar vir iets anders. En dan lyk ek so op foto’s. Helfte sy grootte in die regte lewe.

Ewenwel, ek wonder wat dit met die blomme is. Van die ouer vrouens het met massiewe bosse blomme gesit of staan. Die een tannie het ‘n jong man by haar gehad. Die ander een ‘n man wat seker haar man is. Maar ek is nuuskierig. Dit was massiewe ruikers.

En die motortjie is ook vol blomme.

Ook naby ons, heeltemal ander rigting. En sommer by Coffee Boom geëet. Kyk wat kos ‘n Coke. Ek besef nou eers dit is regtig duur. 400 tenges is so R10 vir ‘n Coke. Wat kos dit nou in SA?

En ek lag so lekker simpel omdat ek nie weet wat manlief alles onder die tafel sien en saam afneem nie. Hy het net gelag en so gemik dat ek skaam gevoel het. En toe is dit net kuite en skoene. Kon dit darem uit die foto uit skuif. En lyk darem meer in normale proporsies op die foto 😊

Op pad terug moet ons ‘n besige straat kruis, vier bane en manlief begin stap. Sien, sê hy, die eerste motor stop. Ek sien nog een aankom in die een rigting en ‘n kar en ‘n groot, moderne groen bus uit die ander rigting,

Dus van ons regterkant af. Die bus in die heel verste baan ry nie stadiger nie en ek vertrou nie die vrede nie. Maar ons twee is op die voetoorgang. Hy sal moet stop. Manlief stap, ek wil stop. So in die middel van die straat. Gaan hy stop?

Ek stap vinniger en die bus ry net-net agter my hakskene verby. So voel dit in elk geval. Ek verpes dit. Daardie gevoel dat ek dit net-net gemaak het.

Nee, wat, regtig. Ek verkies om te wag tot hulle stop voor ek stap. Hierdie geryery soos jy op die video kan sien is regtig nie goed vir my hart nie.

Miskien is dit te goed in ons ingedril as kind:

Kyk links, kyk regs, kyk links en dan stap jy eers. Ek sukkel om te glo dt]at al die motors gaan stop. En om dan oor vier bane te stap …

Laat my dink aan my skoolkinders in Welkom. Ek het gereël dat die verkeerspolisie die verkeer soggens en smiddae reël as die kinders oor die hoofpad agter Welkom High se hokkievelde moes stap.

Die kinders het verby hulle gestap en net oorgestap waar dit hulle pas. Geen voetgangerstrepe nie. Die verkeer kom teen ‘n spoed aan. En mens vrees hulle gaan doodgery word.

Toe raas ek in die klas. En die antwoord? Die karre moet vir hulle stop. Toe sê ek maar net as ek so kyk, gaan hulle tweede kom as een nie stop nie – om hulle te skok. Het glad nie gehelp nie en die verkeerspolisie het geloop, hulle het beter dinge om te doen as om te kyk hoe kinders hulle ignoreer.

En ja, die video wys ek mis die ou stad, Ust, wat September sy 300 jaar verjaarsdag gaan vier. Hy gaan 300 word sonder ons wat nou in die groot stad bly. Tussen blink liggies, maar ook soveel duurder as wat Ust was.

Wil ek daar wees? Nee, gits, ek is die Here so dankbaar vir die skuif na Almaty. Dit is net soveel nader aan Suid-Afrika. En dit is pragtig. Ek kan nie wag vir volgende naweek nie …

Buitendien, dit is lekker om met mooi herinneringe van ‘n plek afskeid te neem. En … ek mis Mia, my teedrink vriendin in Ust. Ek verkyk my weer aan die ou busse, hier is die busse baie modern.

9 gedagtes oor “Voetgangers in Öskemen – algehele vertroue in bestuurders

  1. Ek is so bly dat ek vanoggend do ‘n opwindende stspervaring gehad het. In Üst, saam met jou. Ek huiwer ook by doe robotte.😅

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.