Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Waterfall Netcare Midrand was wonderlik

‘n Week gelede is my ma doodsiek per ambulans hospitaal toe. Sy het in Maart 80 geword en ek het by my pa gepleit. Asseblief, laat sy net medisyne teen die suiker en infeksie kry, moet haar nie inboek nie.

Want my vriendin se baas se pa is op 85 hospitaal toe in Covid-!9 tyd. En het nie weer daar uitgestap nie. Soos so baie ouer mensies in hierdie tyd. Ek wou eintlik ophou koerante lees, ophou luister as ander mense praat, ophou dink. Want dit het my in ‘n absolute paniek gelaat toe my susters saam met die hospitaal stem. My ma moet in en gesond word.

Die enigste hospitaal met ‘n bed was baie ver van hulle af. Waterfall Nedcare, Midrand. Met al Covid-19 se gemors om jou en die feit dat mens nie die mense in die hospitaal mag besoek nie, is daar ‘n onderliggende vrees dat mense doodgaan omdat hulle nie ordentlik verpleeg word nie.

Gelukkig het ek toe nog nie Woestynkind se ervaring met haar ma in ‘n hospitaal gelees nie. Wilgers is een van Pretoria se beste hospitale, of was. Wat het intussen verander, Woestynkind? Hoe gebeur dit dat ou mensies goed ingejaag word om hulle maag te spoel en dan nie tot in die badkamer gehelp word nie? Hoe gebeur dit dat ‘n laken – let wel – ‘n laken oor die gemors gegooi word en die pasiënte bloot na ‘n ander kamer geskuif word omdat niemand gaan skoonmaak nie? Ek wil nie eens aan die res dink nie, ek sou ook wens dat elkeen van dié verpleegsters in die hel gaan brand.

Daarom wil ek van my ma se ervaring vertel. Om jou te laat verstaan dat daar wel goeie hospitale in hierdie vreeslike tye is.

My ma is buite die hospitaal ondersoek en gestabiliseer. Daarna is sy na ‘n privaatkamer tot die Covid-19 toetsuitslae gewys het dat sy negatief is. Hemel tog, ek het so gebid dat sy asseblief nie positief is nie omdat hulle haar nie sou laat huis toe gaan nie.

Toe is sy na ‘n saal met drie mense, waar sy behandel is tot sy gesond is. ‘n Dokter Mahala het haar behandel, en sy het vir hom gesê sy weet wat sy van beteken. En hy het gelag en gesê ja, die ou mense met maar sulke vanne gegee. Gratis. Verniet. Pasella. Persentjie selfs. Kosteloos.

Wel, die dokter se dienste is beslis nie gratis nie, maar hy is vir my kosbaar. Want hy het my ma gesond laat word. My kosbare ma.

My ma het wel volgens haarself nie goed gelyk toe sy uitkom nie, want die haartjies het geen borsel gehad waarmee dit gekam kon word nie. Sy is onverwags en vinnig in die hospitaal in. Sonder die nodige goedjies gepak in ‘n tassie.

Maar sy kon die hele tyd met ons praat. Ons het die hele tyd geweet hoe dit met haar gaan. Want, my een suster se kliënt is ‘n suster in die hospitaal. En sy het ook elke dag gerapporteer nadat sy ‘n draai by my ma gaan maak het. Ons eie suster, wat ‘n hoogsopgeleide susters is, kon haar nie gaan besoek nie.

Hoe vreeslik moet dit nie vir mense wees om niks van hulle familie in die hospitale te hoor nie. Bel en geen antwoord kry nie. Om dan opgekommandeer te word met: Kom groet voordat dit te laat is. En ‘n geliefde te begrawe wat alleen en eensaam in ‘n hospitaal moes sterf.

Dit is ons gespaar. En ek glo met my hele hart dat my ma se geloof haar gered het. Sy was angsbevange toe sy hoor sy word ingeboek. En my smeking dat sy asseblief nie ingeboek moet word nie, het seker niks gehelp om haar beter te laat voel nie.

Sy het veilig gevoel in die privaatkamer, en toe hulle haar na ‘n saal skuif, was sy weer vreesbevange dat sy Covid gaan kry. Hulle het haar gerusgestel, die saal is skoon, sy hoef nie bekommerd te wees nie. En sy het my weer gerusgestel, sy is veilig in die saal. Niemand hoes nie.

En dit is juis Covid se skuld dat my ma doodsiek in die hospitaal in is. Sy het erge blaasinfeksie ontwikkel omdat sy nie wou dokter toe gaan nie, hulle word teen dokters gewaarsku. Mense bo 60 moet wegbly van plekke waar Covid kon versprei het. Soos raai waar? Jou dokter se spreekkamer. Die mens wat jou met die regte medisyne kan dokter om jou gesond te maak.

Hier in Qazaqstan vrees ek regtig dat ek positief sal toets. Want die mense word, soos ek verstaan, na spesiale veldhospitale buite die stad gevat. Ek glo dat ek die virus sal kan beveg, maar ek twyfel ernstig of 2 weke in isolasie in ‘n plek buite die stad met niemand om my wat ek kan verstaan nie, sal help dat ek gesond word.

Inteendeel, ek sal sukkel om positief te bly. En negatiwiteit is beslis nie ‘n goeie ding as jy gesond wil word nie.

Ek weet. Twee weke gaan op die oomblik baie stadig verby. Net om te hoor dat nog twee weke sonder winkels volg. Soos nou. Ek is veronderstel om na my verjaarsdag uit te sien. Nou is die kans dat ‘n verdere twee weke gaan volg, baie groot.

Met die huidige vervaldatum juis die dag voor my verjaarsdag. Sal ek steeds net kos en medisyne kan koop.

Maar kan ek kla? Nee ek twyfel, my pa, ma, dogter, skoondogter, en al my kleinkinders het nou in inperkingstye in afsondering verjaar. En kleinkindjie is in hierdie tyd gebore.

Wie is ek om anders te wil verjaar? Om net asseblief vir die dag uit die stad te wil gaan? Na ooptes en ruimtes en berge toe? Al redeneer ek dat Maart en April en Mei dalkies net makliker was om afgesonder te wees as hierdie tyd waarin mens begin glo dit gaan nooit eindig nie.

***

Ai tog, waar dwaal ek nou weer heen. Ek wou sommer net vertel dat daar wel hospitale in Suid-Afrika is wat hulle sout werd is. In hierdie tyd wat pasiënte aan hulle eie genade oorgelewer word. En, soos ek verstaan uit die inligting wat die staat self deurgee, binne drie dae in die hospitaal sterf.

Met verpleegpersoneel wat afgedank behoort te word. Omdat hulle die mense in die hospitaal verwaarloos.

Daar is egter verpleegpersoneel wat medaljes behoort te kry. Soos dié wat my ma so mooi opgepas het.

En my suster wat met matrone-kwalifikasies teruggekeer het na die versorging van pasiënte in die hoësorgeenhied van die Zuid-Afrikaanse hospitaal in Pretoria. Al het sy self ‘n ou klein dogtertjie tuis wat sy vrou-alleen grootmaak.

Ons hoor net altyd van die sleg, die swak, die verskriklike.

Daar is ook die goeie, die uitstekende en die wonderlike.

Selfs tydens ‘n pandemie.

Wat die ware kleure van verpleegsters na vore laat kom.

Die Florence Nightingales, sowel as dié wat nooit self in ‘n hospitaalbed sal wil wees nie. Omdat hulle vrees dat mense soos hulle hulle dood gaan veroorsaak.

‘n Pluimpie dus aan hierdie hospitaal en sy personeel. Ons ma is doodsiek veilig in ‘n hospitaal in. En veilig en gesond weer daar uit. Ek kan net die Here daarvoor dank.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Waterfall Netcare Midrand was wonderlik

  1. Wat ń goeie getuienis om te hoor, Christa, want na Woestynkind se vertelling was ek naar van skok. Ek besef nie aldag die spanning waaronder jy bly verkeer nie, en ek sal weer ernstig saam met jou bid vir krag en vrede. En gesondheid. En, dat julle spoedig kan huis toe toe kom.

    Like

  2. Christa, ek weet vrees vir die virus neem mens oor. Maar as mens gesond is soos jy, en mens doen die virus op, gaan jy regtig net ‘n erg verkoue kry. Ek was nog aan’t herstel van bronchitis toe ek besmet is, en daarom was ek so erg siek.
    Maar vrees is vrees en om dit uit te skryf, help in ons geval, vir ons wat lief is vir woorde.
    Sterkte.

    Like

  3. Dankie vir die positiewe stukkie oor hospitale. My broer (63) gaan in Sept vir ‘n heupvervanging na Zuid Afrikaans en ons is dood bekommerd. Sterkte vir jou in die vreemde. Ons vertrou jy bly gesond.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.