Vanuit my hoë huisie in Almaty

Ons woon nou vier weke in ‘n woonstelblok in Almaty, Qazaqstan. Nadat ons meer as ‘n jaar in Öskemen gebly het. Ons is seker al ingeburger?

My huisie is op die veertiende vloer, nie verdieping nie, hier is die grondvloer die eerste vloer. Werdo manier van woonstelle nommer, van 1 tot waar ookal, maak nie saak op watter vloer nie. Begin ook in ander blokke en gaan by ons blok net aan. Dus is 1 nie in hierdie gebou nie. En moet ek in Engels probeer verduidelik op watter vloer ons woonstel is.

Ek het al vertel dat ek ‘n 180 grade uitsig na die noorde van Qazaqstan het. Aangesien dit so plat is, en ons woonstelblok teen die hang van die Altau-berge geleë is, troon die woonstelblok nog hoër bokant Almaty uit as wat mens dink as jy op die aarde is. Ons kyk bo-oor Almaty se middestad en die huisies aan die kant van die stad tot in die vlaktes anderkant Almaty in. Van hier af kan ek ver en wyd sien, omdat ek ook ‘n 90 grade plus uitsig na die Weste het. En as ek aan die ander kant van ons woonstel op ‘n stoep uitgaan, kyk ek uit oor die berge wat Almaty soos ‘n croisant omvou.

Ek wonder hoe dit sou gewees het voor die pandemie die aarde laat stil staan het. Ek kan vliegtuie ver in die weste sien aankom om heel in die ooste van die stad te gaan land.

Hoe wonderlik was dit nie om die lughawe met sy aanloopbane van hier te herken nie? Ek kon eers nie my geluk glo nie. Al is dit baie ver van my af, seker ‘n goeie 25 km, kan ek die vliegtuig volg tot hy land en dan sy groot wit lyf volg soos wat dit op die aanloopbaan aankruie na die aankomsaal toe.

Mens kan dit nie mooi sien nie, maar die aanloopbaan lyk soos ‘n grasstreep dwars oor die foto, met Kazakhstan hotel die groot gebou nader aan my. Die blou dak is die nasionale munument, ek kon al daarin gegaan het met ons Almaty toer in Maart, maar ek was moeg en moeg vir stap in museums. Nou kan ek nie ingaan nie, hoe vreemd is dit? En dit is amper langs my. Die onderste foto is wat mens sien as jy inkom om te kom land. Huisies aan die rand van die stad.

Die eerste dag toe ek die aanloopbaan herken, was ek verras. Het ek gedink: So sal ek my kinders sien land hier in Almaty, of nee wag, hulle ma sal lank voor hulle wiele op die aanloopbaan vastrapplek kry, reeds by die lughawe wees. As dit soos by Lanseria was, kon ek selfs bo ‘n koffie drink terwyl ek vir my mense wag.

Toe onthou ek, dit sal seker nooit gebeur nie. Wie gaan dit waag om so ver op vliegtuie te wees om by my te kom kuier? Seun en sy vroulief sou, toe besluit kleinkind om hulle ouers (en ouma) se gebede te verhoor en kon hulle nie meer so ver vlieg nie. Dollatjie sal beslis nie met haar drie woelwaters die reis aanpak nie. Dit was egter ‘n mooi gedagte. Ek wonder hoe dit sou wees as die internasionale grense weer oop is? Ek neem aan Almaty se lughawe sal baie besiger wees as die enkele verdwaalde vliegtuie wat hier land?

Dan onthou ek hoe kwaad ek was toe Lanseria, wat so 20 km van ons huis in Roodepoort af is, se lugroetes verander het. Jy moet onthou dat ‘n vliegtuig teen daardie tyd skaars bokant die grond is. En die lawaai was oorverdowend soos wat vliegtuie uit al die windrigtings laag oor ons huis gekom het om te land en terwyl hulle opstyg.

Vliegtuie het ewe skielik vanuit enige rigting op ons huis afgekom. En omdat dit so heuwelagtig is, kan jy hulle nie op ‘n afstand sien nie. Dit is amper of hulle jou bekruip, asof daardie oorverdowende geluid nie hulle aankom aankondig nie. Nou wens ek vir ‘n vliegtuig, hoe ironies is dit nie?

Van hier af, kyk ek af op een van die groot strate, nie te besig nie. Nazarbajefstraat. ‘n Laning hoë bome aan elke kant. Soveel anders as in Ust. Ons stap asof in ‘n bos op die sypaadjies af na die eetplekke laer af in die straat. Dit is juis hierdie bome wat my uitsig belemmer, ek kan nie sien wat in die blok daaronder gebeur nie. En ek is so nuuskierig as wat kan kom.

Maar veral op die deel van die straat wat mens nie op die foto kan sien nie. Want … ek hoor ten minste een keer per dag ‘n polisiemotor se luidspreker. So ‘n effense geskree, en dan weet die arme drommel wat voor hom ry dat dit sy beurt is om afgetrek te word. As jy nie dadelik aftrek nie, praat die verkeerskonstabel met hom oor die luidsprekers/megafoon van sy kar. En verstaan my baie mooi, ek kan geen rede indink hoekom iemand op hierdie stuk oop pad, wat nie baie verkeer dra nie, in die moeilikheid kan wees nie. Dit tiekel my pienk en ek probeer elke keer sien waar die twee motors is. Sonder sukses. Die sondaar is onder die bome versteek.

Van hier bo af, kyk ek uit op pragtige geboue met die landsvlae op. Hoe vreemd hoe dit my na Ust laat verlang, dalk eerder iets soos heimweë? Klein in vergelyking met die massiewe vlag wat in Öskemen by die monument op die Hollywoordagtige Kazakhstan berg wapper. Hy waai ook nie so gereeld nie, ek neem aan ons gebou beïnvloed die vloei van die lug omdat dit heelwat hoër en breër is. Ek het maar eers so week of twee gelede ingesien dat ek sowaar in altwee die stede op ‘n vlag van Qazaqstan uitkyk/uitgekyk het.

Van hier bo af kyk ek vir die reën wat van ver in die noorde af aankom, sien ek die water wat val, sien ek hoe die mistigheid nader kruip en oor die middestad val. En besef ek dat dit selfde tot by ons gebou teen die hang van die berg kom.

Soms sien mens die water wat net so entjie uit die wolke val, ek neem aan die druppels verdamp sommer so in die lug. Ek het al vertel dat die lug in Almaty besonder droog is. Ek word snags met ‘n baie droë keel wakker. Ons slaap glad nie meer sonder dat die vogmasjien aangeskakel is nie. En sonder dat hy vol water is nie.

Van hier bo af, kan ek na die ander kant van die gebou stap om op ‘n groot oop stoep te staan om die berge agter ons te bewonder. En verstaan ek waarom dit baie warm kan word, maar as dit wind van die berg se kant af waai, byt hy jou in die rug omdat die pieke van die bergreeks steeds wit van die sneeu is. Al begin die bome se blare kleur om die begin van herfs aan te kondig.

Van hier bo af, verwonder ek my aan die sons-opkoms en ondergange in die ooste en die weste. In die ooste kom die son baie vroeg in die oggend (as ek nog slaap) oor die deel van die berg wat ek kan sien as ek by die venster uitkyk. Dus het ek tot my skande net een foto, die boonste ene. Saans gaan hy so naby nege-uur eers onder, met absoluut niks wat die son keer voordat hy oor die rand van die aarde kantel nie.

Geen berg, geen koppies, platter as die Vrystaatse platteland aan die westekant van die woonstelblok. Ek vermoed hy gaan begin skuif, die son het ongeveer 90 grade op die horison geskuif in Ust. Maar ek het geen idee of hy suid of noord gaan skuif nie. As hy suid skuif, gaan ek hom dalk agter die punt van die bergreeks sien sak. As hy suid skuif, gaan ek hom steeds sien. Nie sou nou eers teen 21h00 nie, dan kan hy dalk al teen 17h00 weg wees. Manlief werk tot vyf en hy het in die winter na donker tuis gekom!

Van hier bo af kyk ek af op die mense wat die tuin van die gebou oorkant ons en die park langsaan in stand hou. Pragtige blombeddings, hulle hou daarvan om patrone met kleur te maak. Hoe hulle gras sny met gewone grassnyers langs die helipad. Hoe ‘n stokou, pragtige vragmotor kom, een man uitklim en die massiewe slang vat om die gras met ‘n boog nat te spuit. Hoe vrouens gebukkend oor beddings staan om te spit en onkruid uit te trek. Dit voel so verkeerd om ‘n foto te neem, maar ek het tog in Ust. Die dames was baie ontevrede met my, het hande in die sye regop gestaan. En ek het soos ‘n skaap gevoel. Hoe verduidelik ek vir hulle dat ek vir ander mense wil wys dit is waarom die tuine so mooi is? Vrouens se kunstige hande?

Van hier bo af verkyk ek my aan God se skepping. Elke dag in Almaty besluit die Here om ‘n deeltjie van die aarde om wolke te verlig. Asof ‘n soeklig op daardie deeltjie van die aarde val. Net soos in Ust, ek het honderde foto’s van die beligting van die berg. Nie deur mensehande nie, dit is verseker. Dit is een massiewe soeklig vanuit die hemel.

Anders as in Ust, is die meeste geboue wit of witterig. Wat pragtig verlig as die son op- en ondergaan.

Langs ons is een massiewe gebou, eintlik drie wat een geheel vorm en oor die ander gebroue troon. ‘n Glaskasteel. Dit kan myle ver gesien word, dus weet ek al ons is naby die huis as ek hulle kan sien. Soms is hy blougrys, in die oggende is hy bruin(derde foto bo). Ek wonder elke keer hoe dit gedoen word. Moet iets met die kleur van die lug te doen hê, of dalk hoe die son op die ruite val.

Die glasgebou is soveel hoër as ons gebou dat ek sy punte kan sien bo-oor die deel van ons gebou in die eerste foto.

Ewenwel, van hier bo af is die pragtigste uitsig oor die hele aarde onder om ons. Veral toe ek vanoggend in ‘n koel, dalk eerder koue, stad opstaan met sagte, deurdringende reën wat die hele aarde onder my so nat maak dat ek die water hoor wat motors se wiele opspat.

Almaty se lug is baie, baie droër as Ust s’n. As dit in Ust reën, lê die water lank in groot poele in die stad. Ja, ek weet dit is so plat daar dat water nêrens heen loop nie. Hier is kanale langs die pad wat water wegvoer, want hier is op- en afdraendes. In enige rigting wat ek stap.

Maar, hier is ook plat plekke, soos parkeerplekke, waar water kan opdamp. Dit doen nie, as die son begin skyn, word die aarde onmiddellik droog. Ek kan nie oor die winter praat nie, maar Almaty se somerlug is baie droog.

Groete uit ‘n papsopnat Almaty. Al my vensters is oop, ek hoop die lug in die huis word vogtiger. My keel sukkel in hierdie kurkhoringdroë weer. Weereens goed wat mens van ander gehoor het wat nie waar is nie.

Is ek al ingeburger? Ek skat so, weet waar alles is, kry alles wat ek soek … en die stadstoer wat ek in Maart saam met ‘n vriendin en ‘n gids gedoen het, help om te weet wat ek sien as ek goed sien, hier uit die lug uit. Soos Kazakhstan hotel.

Ek kan van hier oor die stad kyk, verder in die verskiet, waar die hemel en aarde op die horisonne ontmoet.

Van hier af kan ek sien waarheen die wind my oor minder as twee weke gaan neem. As dit die Here se wil is. Ek kan nie wag nie, dit gaan wonderlike verjaarsdag wees.

 

29 gedagtes oor “Vanuit my hoë huisie in Almaty

  1. Jy wat nog slaap wanneer son opkom het my nou aan iets laat dink wat ‘n sendeling gesê het. Weet nie of jy al ooit sy getuienis The Pineapple Story geluister het nie. Wel daar in die boendoes was blykbaar die pragtigste sonsopkomste wat sy vrou nooit gesien het nie omdat sy dan nog slaap. Toe hy vir haar sê sy mis baie was haar antwoord as die Here wou hê sy moes dit sien sou Hy die son later in die oggend laat opkom het.

    Liked by 1 person

        1. Oorkom vir manlief se knie, gee probleme en dan weer terug kom. Om Desember weer huis toe te gaan. Nou wag ons maar … Weet nie waarom mens die kaartjies kan koop as die vlug gekanselleer kan word nie. Gelukkig het ons betyds gehoor en nie eers as ons op Istanbul is nie.

          Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.