‘n Stappie word ‘n onverwagte uiteet in Almaty

Vanmiddag nadat manlief gewerk het, vra ek dat ons bietjie gaan stap. Ek is lus om af te stap om te gaan kyk wat tussen die twee geboue ver onderkant ons is. Die twee wat amper soos ‘n hek gebou is, na mekaar gedraai aan weerstante van ‘n straat staan. Amper soos daardie hekke by die ingang van imposante wonings.

Ek het nie een mooi foto waarop mens dit kan sien nie. Kyk na die twee wit geboue agter, met die bruin goed op hulle dakke. Hulle kan die hekpale wees.

Kyk dan na die lang deel langs die regterkantste een, aan die kant van die linkerkantste een is sy maatjie, net omgekeerd, soos die twee mure langs ‘n hekpaal van ‘n imposante plaasingang. Sien, dit is waar ek wil gaan stap, tussen daai twee geboue deur.

Op 2GIS lyk die hekgeboue so: nommer 15 en nommer 13.

Ek wil sien wat is die twee blou driehoeke, en in daardie laning gaan stap. Ek wil ook sien wat dit is wat die deel soos ‘n vuurpyl lyk wat daar neergesit is, die deel wat wegstrek van die driehoeke af, lyk soos die lyf van ‘n vuurpyl. Ek wonder of dit ooit kan waar wees, dat dit wel simbolies is. Qazaqstan se geskiedenis vertel?

Kan so iets voorstel, want Rusland en Amerika het hulle bemande vuurpyle mos van die Baikonur Cosmodrome lanseringstasie in Qazaqstan af die ruimte ingestuur. Rusland het die stasie gebou voor Qazaqstan onafhanklik geword het. En nou is Rusland besig om sy eie stasie op sy eie land te bou. Om nie so afhanklik van Qazaqstan te wees nie. Iedergeval, ek het dit nou eers gelees omdat ek iewers raakgelees het dat bemande vuurpyle vanaf Qazaqstan gelanseer word.

Dit vat die veel nie, dus is ons gou gereed om te gaan. Toe ons buite kom, lyk die weer of dit gaan reën. Maar ons bly mos al amper ‘n maand hier – kan jy glo? En in die tyd het die wind gewaai, die wolke opgekom, maar die reën net tot naby ons gebou gekom. As ek my hande by die vensters uitgesteek het, het die druppels soos stoom gevoel. As stoom koel kan wees? Sproei dan eerder?

Regtig! Dit vorm sulke pieperige druppeltjies teen die ruit. En dan het dit klaar gereën.

Dus vat ons die pad. Manlief sê dit gaan nie reën nie, al val die sagte druppels om ons om ons natterig te maak.

Ons stap eers in die rigting van Ramstore, waaroor die agent baie lag omdat ons die woord reg kon uitspreek. Moet mos kophou met die Russies – рамстор – word nie as Pamstop uitgespreek nie, ma as Ramstor. By die hoek draai ons links om al langs die president se Almaty huis langs af te stap. Dit is so drie blokke lank, maar net een massiewe blok afdraende.

Daar was net een harde slag, toe sous dit. Nou nie so erg soos in Suid-Afrika nie, maar ons het sopnat gereën. By die robot het ons twee keuses gehad, stap reguit oor en eet daar uit.

Of draai regs en gaan dan oor die straat, draai links om oor die hoek te stap en draai dan weer regs om by een van die eetplekke in daardie straat uit te eet.

Want ons beplande oefenstappie het so pas ‘n onbeplande uiteet geword. Om beskerming teen die reën te kry.

Manlief kies reguit oor, hy onthou ‘n restaurantjie daar. Ek is vies, want as hy verkeerd is, gaan ons moet omdraai en nog natter reën.

Ons twee klim toe soos natgereënde hoenders die trappies op, draai regs en stap onder die verwelkomende tent in wat oor die stoep gestrek is. Ons mag mos uiteet, as dit buite is. Gelukkig is dit nog warm.

Toe ons sit, hou die reën op. Maar ons het klaar tee bestel, dus moet ons maar bestel en eet.

Die plek se naam is Bochonok, maar dit is moontlik dat een van die o’s as ‘n a uitgespreek word. Slaat my dood met ‘n slap snoek, ek weet nie watter een nie. Ook nie waarom die o nie sommer ‘n a kan wees en klaar nie. Sien dit beteken ‘batson’, maar ek weet ook nie wat dit is nie. Ek neem aan dit verwys nie na die wetlike term ‘batson challenge’ nie?

Ek kies ‘n hoender shashlick, wat ‘n soort sosatie is. Nie die netjiese blokkies wat ons ken nie, dit kan selfs ‘n hele hoender op ‘n 60 mm lange swaard hê. Vir die prys skat ek dat dit nie te groot kan wees nie. En groente, wat altyd uit groot murgpampoentjies en eiervrug bestaan.

Kan jy nou meer? Ek dink my skoondogter of my dogter het my net voor ons hierheen gekom het aan eiervrug bekendgestel. En ek het so bietjie daarvoor gegril. Die sagte vleis was onbekend. En natuurlik die werk daaraan verbonde.

Laat dit eers lê met sout op om die bitter uit te trek, Spoel af en dan kan dit eers gebraai word. Ek het altyd te min tyd daarvoor. Intussen het ek hier geleer dat my eiervrug nie so ‘n pieperige vrug is nie. En by een restaurant het ek ‘n ander smaak bygekry. Soeterig.

Nou sny ek my eiervrug nie meer in ringe nie, maar die ringe word weer in kwarte gesny. Dan smeer ek ‘n mengsel van olie, mosterd, bruin suiker, sout en peper daaroor. En braai die helfte in ‘n pan tot gaar. Stadige hitte dat dit nie brand nie. Deksel op dat dit nie uitdroog nie. Ek eet my vingers af, al het ek dit glad nie laat uitbitter nie. En ek proe nie bitter nie, dus is dit ‘n wen-wen. Vinniger proses. Lekker groente.

Iedergeval, manlief bestel toe fillet. Het ek vergeet om te vertel? Ek kon ‘n Engelse menu vra met Angleskie Menjoe? En toe kry ek een. Ja, jy het reg gelees. Hy kon ‘n fillet minion bestel.

Op my aparte bord met groente was drie skywe mielies, hoe het dit ons altwee nie na Suid-Afrika laat verlang nie? Braaivleis by die huis. Al maak ek selde mielies gaar. Manlief hou daarvan, ek minder. Ek moet dit mos vermy weens ‘n allergie.

Die Qazaqs bring die kos mos soos dit gaar word. Dus was my kos al amper op toe manlief s’n opdaag. En raai wat? Langs sy fillet wat verkeerd gesny is, staan ‘n ewe groot mielie regop! Manlief sê hy gaan aanbied dat ek hulle leer om fillet reg te sny toe hy begin sny om te eet.

My pa sal seker trots wees om te hoor dat skoonseun dink dat sy dogter die rol van ‘n slagter kan inneem. Maar dit is waar, ek weet hoe om ‘n fillet te sny.

Die kos was heerlik, manlief noem dit nou die mielie restaurant.

Die kelner het vir ons komberse gebring. Hoe lekker is dit?

En dit laat my dink aan die een restaurantjie waarheen ons toe nie gedraai het nie. Raai wat staan op sy rooi kombersies? Lillet. Gelukkig sonder die s, maar na genoeg dat ek in ‘n giggelbui oorgeslaan het toe ons daar geëet het. Veral omdat manlief verstaan het waaroor ek giggel. En asof die meisies om my sou verstaan wat die snaaks aan die naam op die kombersies is.

So het ek onder die kombers warm en droog geraak. Teen die tyd wat ons huis toe gestap het, was ons weer droog. Maar nie meer lus om die rondte te stap wat ons wou nie.

Môre is nog ‘n dag.

Almaty is heelwat kouer as Ust na reën. Ek vermoed dit is omdat die berge se pieke reg by ons nog dik van die sneeu lê.

Ek het juis so verby manlief die berge as skilderdoek gesien. Eers was hulle agter waas van die reën weggesteek, toe sak die waas weg om die berge in ‘n donkerblou agter te laat. Ek. oes dit net kliek.

Dit laat my aan die Kaap dink. En dit laat my na Suid-Afrika verlang, veral omdat ek onder eikebome afgestap het en weer terug. Op pad het ek drie akkertjies opgetel. Om hierdie foto te laat.

En ek onthou skielik dat ons die doppies van akkers gebruik het vir tee- en koffiekoppies toe ek nog ‘n kind was. O my jitte, hoe maklik trek ‘n foto mens terug in die verlede in. Om te kan onthou.

Regtig, hierdie stad laat my aan Stellenbosch en die dorpe met berge om Kaapstad dink. Daardie dorpe met die akkerbome en die berg wat agter jou is.

En nou weet ek, nee, dit laat my beslis aan Stellenbosch dink. Aan die uitsig vanaf die sportvelde, wanneer jy oor die hokkievelde na die berge daar agter kyk. Ek skat hierdie berge kan dalk hoër wees, maar ek is nie seker nie.

Ek weet ook waarom ek bly is dat ons woonstel nie oor die berg kyk nie, nie suid nie. Dit sou my nog meer ingehok laat voel het. Want dan het ek geweet my huis en land en kinders en kleinkinders en woewe is iewers Suidwes, maar ek kon nie ver sien nie, want die berge versper die uitsig.

Vir nou is dit lekkerder om oor die stad in die lughawe se rigting te kyk, die maklikste en vinnigste manier om huis toe te gaan.

Tuis gekom, het ek my weer aan die sonsondergang verwonder as dit reën.

As ek dit in ‘n gallery sien hang het, sou ek nie gedink het dat dit eg is nie. Dat die natuur so lyk nie. Want dit is kompleet asof die Skilder vies vir sy sonsondergang was. Toe trek Hy sommer grys hale daaroor om dit te weg gooi.

Ek het al foto’s gedeel waarin die grys strepe selfs dikker en vieser lyk.

Mooi loop tot volgende keer …

14 gedagtes oor “‘n Stappie word ‘n onverwagte uiteet in Almaty

  1. Dis lekker on saam te stap, uit te eet, met akkers te boer 🐿🐿 en ek was nog net ver weg van enige stad af. Die benoude geboue in Seepunt het my engtevrees gegee.

    Eiervrug. Ons eet skaap as ons groente wil hê. 🙃

    Like

  2. Jamie Oliver het nou die dag eiervrug gaar gemaak. Sommerso lekker en maklik. Ek het nooit regtig akkers in my lewe teegekom nie maar hier is baie akkerbome en elke akker fasineer my. Al is jy doer ver geniet jy darem elke oomblik wat alles op einde die moeite werd maak.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.