Gepubliseer in Reisjoernaal

So, wat doen ek gedurende grendeltyd in Qazaqstan?

Toe daar in Maart aangekondig word dat ons in ons huise sal bly, slegs elke tweede dag mag uitgaan as ons kos of medisyne kort en glad nie naweke met ons motors mag ry nie, het ek geweet ek is in vir ‘n ding.

Wat maak ek met myself? Met manlief wat van die huis af werk? In ‘n piepklein woonstelletjie op die agtste vloer van ‘n gebou. My grootste vrees was dat iemand in ons gebou sal siek word. En dat die hele gebou vir twee weke in kwarantyn geplaas sou word. Dit het gelukkig nie gebeur nie. Die Here was goed vir ons.

Ek kon skielik nie meer afgaan om tee te gaan drink saam met ‘n vriendin nie, maar ek is gelukkig ‘n alleenmens. Dit was nog baie koud, die sneeu het nog 1 meter diep gelê en ek hoef nie verskonings uit te dink as dit regtig vir my te koud is om uit te gaan nie.

Maar, dit is ‘n heel ander storie as die somer kom, die lekker warm buite raak, die sneeu smelt en ek nie met my spesiale reënstewels buite kon gaan stap om foto’s te neem nie. Want dit is my een passie, om foto’s te neem so ver ek stap. En dit moes maar agterweë bly.

Dus moes ek iets kry om my besig te hou. So kyk ek op die internet of daar voorstelle gevra word vir hoofstukke in boeke. Skryf voorstelle vir vier verskillende internasionale boeke in die hoop dat een aanvaar sal word. En word tot in my tande geskok toe al vier aanvaar word. Die hoofstukke moes binne een maand ingedien word.

So het Maart, April en Mei teen ‘n spoed verbygevlieg. Ek was besig met navorsing vir vier hoofstukke. Engels, dus moes ek kophou want Afrikaans is my passie, daarin kan ek skryf na hartelus. Engels hou my vas, nie te veel nie, net genoeg om meer te moet konsentreer. Die hoofstukke is in. Toe kom die wag … gaan die evalueerders dit aanvaar, of verwerp? Aan kommentaar is ek gewoond. Dit pla nie, inteendeel vandat ek self ‘n evalueerder is, weet ek dit is die evalueerder se werk om wel punte vir kritiek op te spoor.

Die eerste een is terug, aanvaar, ek moet ‘n paar goedjies hersien.

Toe kom die tweede een in, ook aanvaar. Ek moet ook ‘n paar vrae beantwoord.

Die derde een moes in terwyl ons pak en gelukkig het die huidige watsenaam-ookal-wat-die-wêreld-in-‘n-wurggreep-het, gesorg dat ander skrywers uitstel vra en kry, dus is hy amper klaar.

Die vierde een het ek onttrek, dit is net heeltemal te veel werk om vier hoofstukke in drie maande gereed te maak. Ek het probeer, maar kon net nie daarby uitkom nie.

Buitendien, die werk word gratis en verniet gedoen. Want sien, mens kry geen geld vir die verkope van die boeke nie, dit is ‘n ‘liefdesdaad.’

Intussen moet mens nog liefdesdade uitvoer, naamlik om die hoofstukke van ander outeurs te keur. Dit is ‘n moeilike proses, want jy moet mooi deurgaan om moontlike probleme te identifiseer. En ek kry vir elke hoofstuk wat ek indien, twee hoofstukke om te evalueer. Dit kan nie wag nie, dan word die publikasieproses opgehou! 

Ek het nou geleer om nie meer te kyk na die datums wanneer dit in moet wees nie, maar om op te staan en dit te doen. Anders lê dit soos ‘n dikbekdier vir my en wag. Ek ignoreer die dikbekgeid, maar dit word dan net deel van my spanning. Dus los ek alles, doen dit en gaan aan met my werk.

Interessant hoe navorsers baie geld spandeer om dit te doen, net om te sien hoe maatskappye met die geld wegstap. Dit sou wel goeie idee wees om wel op ‘n manier vergoed te word, al kan jy net ‘n boek gratis kry wat deur hulle gepubliseer is …

Gelukkig is ek ‘n juffrou, ons het die beroep gekies al weet ons dat ons meer geld gaan uitgee om die werk te doen as wat ons betaal word. Die betaling is in die passie vir die werk. Maar, sonder vergoeding vir jou navorsing, moet jy maar navorsing vir hoofstukke doen wanneer jy wel ‘n geldjie in die sak het om jou eie uitgawes te dek.

En daar kom ek nou by ‘n punt uit. Ek het daarvan gehou om take te doen op skool, maar artikels en hoofstukke is veel meer as ‘n taak. Navorsing is veel meer as ‘n taak.

Jy stel jou oop vir ander se kritiek, en dit is een ding wat jong en onervare navorsers nog moet leer. Ek help so hier en daar waar kennisse vra om te help.

Sommiges aanvaar die kritiek, ander voel dat ek dink dat hulle dom is as hulle werk aanvanklik onafgerond is en vir hulle amper soos ‘n swak leerling se opstel lyk as die ‘track changes’ aan is. En dit is nie waaroor dit gaan nie.

Dit is nie dat hulle swak werk lewer nie, maar eerder dat hulle nog nie verstaan waaroor akademiese skryfwerk gaan nie.

Dit is nie ‘n opstel nie, maar dit is nader aan ‘n beredeneerde opstel as wat dit aan ‘n taak is. Jy moet nie skryf wat in die literatuur staan nie, jy moet eerder bewys dat dit, wat jy wil sê, deur literatuur geboekstaaf kan word. Daarom kan ek jong mense wat ‘n beroep as navorser oorweeg, nogal aanmoedig om aan redenaarskompetisies deel te neem. Gaan kyk en leer hoe mens moet redeneer en bewyse bring dat jy wel iets het om oor te praat. Dat jy met ‘n ander hoek kom, en dat daar na jou punt geluister behoort te word.

Dus moet jy die literatuur gebruik om jou standpunt te regverdig en later in die bevindinge moet die literatuur help om jou werk geloofbaar te maak. Wat het jy gevind? En hoe stem dit met die literatuur ooreen.

Bewys dat daar nog mense is wat met jou saamstem, maar ook dat jy glad nie met ander se bevindinge saamstem nie.

En dit is hier waar die ‘pawpaw’ die ‘fan’ kan ‘strike’, want jy weet nie wie jou kritiese lesers is nie. Daarom kan jy nie beledigend of grootpraterig raak wanneer jy verslag oor jou navorsing lewer nie. Dit is nie die doel om ander te beledig nie. Die doel is om jou navorsing op die tafel te plaas. Vir ander om daaruit te leer. En daarop te bou.

Om elke gaatjie in kennis wat mens vind te probeer vul. En soos wat jy probeer, raak ander gaatjies oop. Of word nuwe dinge ontdek. En die veld brei uit terwyl almal saamwerk om literatuur te skep.

En … almal van ons doen dit vir die genoegdoening wat dit skep as jy ‘n artikel gepubliseer kon kry. Geen geld kan daardie gevoel vergoed nie.

Dit is juis hierdie passie wat deur publiseerders van akademiese boeke uitgebuit word. Jy word aan streng etiek onderwerp, en ek is nie so seker hoe eties dit is om slawe te hê wat die boeke skryf nie …

Dalk is ek eendag gereed om my eie boek te skryf. Om wel geld daarmee te verdien. Want sien, iewers moet mens kos op die tafel ook kan sit.

Wat ek eintlik wou skryf, is dat ek daarin geslaag het om myself met werk toe te gooi. Sodat ek nie daagliks daaraan herinner kan word dat ek nie na Suid-Afrika kan terugkeer wanneer ek wil nie. Nie soos verlede jaar gou kon teruggaan om die huis op te pak nie, of soos in November saam met manlief op ‘n besigheidsbesoek kon gaan nie.

Na al hierdie maande weet ek steeds nie wanneer ons sal kan gaan kuier nie. En dit raak ‘n moeilike saak. Een waaroor ons bid vir leiding. In hierdie onsekere tye waarin ons vandag leef.

Ons dominee preek Sondag oor goed wat die watsenaam siekte mens geleer het. Waarvan een dankbaarheid is. Dit is waar, ek het soveel om dankbaar oor te wees. Ons is gesond, geen siektes nie, ons leef gemaklik, geen probleme nie. My hoofstukke en artikels is nie verniet geskryf nie, ek het ten spyte van ‘n groot gesukkel om te konsentreer, tog daarin geslaag om keurders te oortuig om my werk as geskik vir publikasie te evalueer. Aan die einde van die watsenaamse tydperk sal ek tevrede kan terugstaan, ek het baie meer artikels en hoofstukke in een jaar gepubliseer gekry as in al die ander jare wat ek navorsing doen. Ek weet, ek het soveel om dankbaar te wees.

Maar daar is iets anders wat ek met my hele hart begeer. En dit kan ek nie kry nie, altans nie nou al nie. Ek weet die Here ken ons hartsverlange en dat ek net moet ontspan. Hy sal ons weer veilig na ons gesin terugneem. En Hy sal hulle ook veilig hou, al is ek op die oomblik te ver weg. Want ons dien Hom.

Foto: Sonsopkoms vanoggend oor die berg. Ek sien die son opkom en ondergaan vanuit hierdie woonstel. Dit is wonderlik.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “So, wat doen ek gedurende grendeltyd in Qazaqstan?

  1. Daardie ‘watsenaam siekte’ moet of aan ‘n einde kom, of ons moet almal leer om dit deel van ons lewe aanvaar. Gister lees ek oor die menigte mense wat hier elke jaar weens motor ongelukke doodgaan tog is die bestuur van voertuie nie verban nie.

    Like

  2. Sjoe! ‘n Baie insiggewende artikel. Eerstens, geluk met al jou hoofstukke wat aanvaar is.
    Tweedens wonder ek of jy nie beslis al gereed is vir jou eie boek nie? Toe man! Waag dit.
    Derdens bid ek dat jy gou jou famlie sal kan sien in liggaam. In lewende lywe. Soos jy so graag wil. Ek kan net dink hoe jy noual moet voel.

    Like

  3. Die skryfstuk het my op baie maniere geboei. Dit is interessant hoe akademiese artikels geskryf moet word.
    Ek word baie kwaad oor hoe skrywers en navorsers
    vergoed word!
    Ek het hartseer geword oor jou verlange. Mag julle vertroos en versterk word om positief te kan bly.💙

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.