Manlief is na Almaty verplaas. ‘n Verplasing waarna ek natuurlik begin uitsien, maar heelwat water moes nog in die see loop voor dit kan gebeur. Soos om ‘n woonstel te gaan soek in Almaty.
Laat ek eers van Almaty vertel. Almaty is die hoofstad van Qazaqstan, 1000 km suid van Ust-Kamenogorsk waar ons sedert Maart 2020 woon. En dit is beslis iets om na uit te sien, omdat ons dan een hele vliegtuig nader aan Suid-Afrika sal wees. Ander redes natuurlik ook, Almaty is Qazaqstan se grootste stad, dus gaan ek waarskynlik makliker goed daar kry as wat ek in Ust kan kry.
In Ust is min materiaalwinkels, en ek het in Maart in Almaty ‘n baie groot een ontdek. Ek sou waarskynlik nou een of ander tyd soontoe gevlieg het om te gaan koop. Nou gaan ek daar woon, dus kan ek sommer taxi of bus soontoe neem. In Ust word vleis op een manier te koop aangebied. Op die mark, die twee vreemde snitte waarvan ek al vertel het. In Almaty kan mens blykbaar steaks kry. O my genade, dit gaan lekker wees om dalkies iets vir die braai op te spoor …
Dit vir eers daar gelaat. Voor ons kon trek, moes ons eers gaan huis soek.
Die maatskappy het vir ons ‘n agent gegee en ek het vir haar ‘n lysie gegee van wat ek soek. Nie te hoog nie, 2 slaapkamers, verkieslik twee badkamers, stort en ‘n beperking op die prys. Daarsonder kan mens in Almaty maklik R50 000 per maand vir ‘n woonstel betaal. En meer. Iets wat ons twee beslis nie gaan doen nie. O ja, en as dit kan, naby manlief se werk dat hy huis toe kan stap vir middagete – soos hier.
Sy stuur voorbeelde naby die werk, ek antwoord, nee gits, soek dan maar verder weg. Dit is op besige straathoeke, mens sal koekoes raak van die verkeer as die vensters oop is, of anders moet jy maar vensters dig hou. Ek is ook bekommerd oor uitlaatgasse, het genoeg van ‘n huis vol swart stof. Hier in Ust.
Sy stuur ongeveer 8 voorbeelde, ek is tevrede sy verstaan wat ek soek. So vlieg ons toe Vrydagaand af na Almaty toe. Jip, jy het my reg gehoor, ons kan al weer binnelands vlieg, net soos ons wil. Nie volgens belaglike regulasies soos in SA nie.
Op die lughawe is alles effens anders as wat ons gewoond is. Oor elke tweede stoel is ‘n rooi kleefband geplak, ons mag net op elke tweede stoel sit. Natuurlik moet ons ook maskers dra, voorvereiste. En toe vlieg ons Almaty toe. Lekker, die nuwe vliegtuie word mos nou binnelands gebruik omdat internasionaal vlieg nog beperk is. Ons mag egter al na ‘n paar internasionale lande vlieg. Kos word steeds bedien, maar ons moet net eet en dan weer die maskers dra.
Ons kom moeg in Almaty aan, dit was darem al halfnege in die aand, al het die son nog geskyn. Maar, ek is te opgewonde, kan nie slaap nie. Die volgende oggend twaalfuur kom die agent ons haal. Sy het net vyf van die woonstelle uitgekies omdat die eienaars van die ander nie beskikbaar was nie.
Die eerste woonstel is nie te hoog nie, maar ek sal elke ruit moet toehou omdat dit uitkyk op ‘n baie lelike gebou baie naby aan ons. Ek en die inwoners sou vir mekaar kyk. Mens sou altyd ten volle gekleed moet wees. Pragtig gemeubileerd. Ek hou niks van die plek nie, manlief is mal oor die plek. Daar is ‘n karwas.
Die tweede woonstel het die allermooiste uitkyk op die bergreeks rondom Almaty. Vensters van die vloer tot die dak, ek sou ‘n veel mooier lewendige skildery kry as wat ek hier het. Vanuit elke kamer van die plek. Maar, dit is hondwarm, ek staan en sweet by die voordeur en wil net uit. Daar is lugverkoeling, maar dit is nie aan nie. Pragtige plek, stort in bad. Manlief skop vas, geen uitsig vir my nie, hy moet stort. En dit is ‘n nee!
Die derde woonstel is ook laerig. Pragtig gemeubileerd, uitsig op bome. Alles in roomwit, twee badkamers. Ek hou van, manlief dalk.
Die vierde woonstel kon ons nie gaan sien nie, die strate om die woonstel is vir ‘n ralley toegemaak. Regtig! Ons ry weg, na die een naby die werk. Agent sê ons kan die woonstel maar los, hy ruik na sigaretrook. Nou kyk, enige iemand wat my ken, sal weet dit behoort my af te sit. Maar ek het ‘n huis om te soek en ek en manlief sit vas in die kar.
Hy kies een, ek kies twee. Ek sê ek soek nie een nie, hy sê hy soek 1, en probeer die saak wen met sy alewige “I pay, I say” wat my, soos altyd rooi laat sien. “Laai my dan af dat ek rustig in ‘n koffiewinkel sit en lees aan my vriendinne se blogs, jy kan sommer self verder soek.” Waarom gaan ek nou verder kyk as my stem nie tel nie, dit nadat hy die oggend gesê het ek is heel dag by die huis en dat ek tevrede moet wees.
Iedergeval, ons sit mooi vas en die agent sien dat ons nie gaan ooreenkom nie, maar verstaan niks van wat ons praat nie. Hoor net die drif in ons stemme.
Ek sê ek wil die foto’s van die plek sien wat ons weens die ralley nie kon sien nie. Agent gee aan en ek en manlief sien alles wat ons soek – en meer.
Ek sê sy moet afspraak vir later die dag maak, ek wil dit sien.
Vierde plek sit ons altwee dadelik af. Hekkie op straat, geen parkeerplek nie, mens parkeer sommer in die straat. Pragtig binne, goeie bed, ek en manlief kon al by die instap sê dit is nie ons keuse nie. Onthou, die vyf plekke kos eweveel.
Ek stel voor ons drink koffie en dan is die ralley dalk verby. En ja, terwyl ons eet sê die eienaar die paaie is oop. Sy gaan uit, sy los die sleutel sommer in haar oop poshokkie. Regtig, hier word goed mos nie gesteel nie!
Ons betaal en ry terug na die woonbuurt waar ons wil gaan bly. Wat al ons myn se expats blykbaar verkies. Samal. Ons kan sommer na mekaar toe stap in die yslike groot stad.
Met die aankoms by die vyfde woonstelblok is ons beïndruk.
Mooi baie breë stel trappe wat na die voordeure lei. Deurknoppie waar gaste aanmeld. Goeie hysbak. O ja, skuus, die eerste drie het ook goeie hysbakke. Ust het mos nie so iets nie. As die woonstel drie vloere het, is daar geen hysbak nie. Gym en supermark in die gebou. En eie parkering onder in die gebou.
Toe die deur oopgesluit word, is dit ons huis. Jy weet, daardie gevoel wat jy kry as jy weet jy kan daar woon? Al is dit op die veertiende vloer (ons 15de) van ‘n wolkekrabber?
Daar is ‘n aparte kombuis, twee groot slaapkamers, elke slaapkamer het ‘n toegeboude balkon. Twee badkamers en ‘n yslike TV-kamer, met ‘n eetkamerstel. Mooi kleure muurpapier, ek gaan nie daarvoor moeg word nie. En aparte kombuis. Sjoe, ek is beïndruk. Sy deur kan ook toe.
En … jy het dalkies net reg geraai, ‘n uitsig oor Almaty tot in die platteland om Almaty. Oral sien ek groen. As ek skuins by die een venster uitkyk, sien ek ‘n gedeelte van die berg.
Maar, as ek by die woonstel uitgaan en op die oop stoep aan die ander kant gaan staan (seker so 50 treë weg), sien ek die berg. Selfs mooier as uit woonstel 2. Waar ek vergaan het van die hitte. Ek wonder of die huurder dit aspris gedoen het? Die ander woonstelle was nie so warm nie.
Iedergeval, op woonstel 5 het ons ons harte verloor. Binne ons prysklas, ons hoef nie hoër te soek om iets te vind wat ons pas nie.
En skielik is ek opgewonde om te trek. Daar is soveel redes. Baie nader as my kinders wil kom kuier. Maar mag ek dit noem? Ook baie warmer as Ust. Daar is een of twee dae ‘n jaar onder -20 C, hier speel die temperatuur sommer net vir die grap gereeld in ‘n tydperk van ses maande om -38 C. Is -15 eintlik lekker warm, al vries my tone, gesig en oë.
Ek gaan my vriendin hier mis, maar ons moet een keer per maand vir vyf dae hier kom bly. Dan sal ek haar steeds sien en lekker kuier.
Vir nou is ek net dankbaar vir die voorreg om in hierdie land te mag bly.
Ek wens ek kon die vrede, geluk en liefde en wetsgehoorsaamheid van hierdie land na Suid-Afrika stuur.
Ek wens ek kon die regering se houding teenoor sy inwoners na Suid-Afrika stuur.
Hooffoto: Ons woonstel is op die 14de vloer van die ronde gebou verste van kamera op die hooffoto.
Uitsig vanuit die woonstelblok:

Boonste foto en eerste een in tweede ry: uitsig vanaf die oop balkon buite die woonstel
Volgende drie foto’s – uitsig vanuit die woonstel self. Die groot wit gebou op die laaste foto is die president van Qazaqstan se huis wanneer hy in Almaty is. Hy woon in Nur-Sultan sedert die hoofstad daarheen geskuif het. Al wat kort is die see, die berge laat mens na Kaapstad verlang. Reuse berge, die hoogste piek van een daarvan is, soos ek verstaan, die hoogste in Asië. Ek moet weer gaan oplees wanneer ek kans kry.
Ek hoop jy gaan baie lekker hier woon Christa. Dis werklik ‘n mooi omgewing. Hierdie post van jou het nie in my WP Leser verskyn nie – ek het dit van FB af gevolg. Dalk moet jy die skakel op Whatsapp plaas?
LikeLike
Dankie, Hester, ons hoop ook so. Nader aan die huis is klaar beter vir ons. Ek sal bietjie uitvind waarom nie. Dankie, hoor.
LikeLiked by 1 person
So amper het julle hierdie juweel gemis! Ek glo julle sal lekker woon hier
LikeLike
Ai seegogga, ek sou lekker ongelukkig gewees het. Maar ons sou op 3 kon saamstem. Hierdie een is baie hoog, ek hoop maar ek gaan nie aan hoogtevrees lewe nie. Hulle vertel egter dat dit laer af baie koud is …
LikeLike
Dis maar n gedoente om ooreen te kom in sulke gevalle. ek sit juis nou met dat die kinders plaas wil koop. Baie mooi plasie gesien wat albei van hou op einde. Ongelukkig(gelukkig vir my) kan hul nie nou n lening kry om dit te koop nie. Dis jammer want dis n pragtige plek en ek sou op einde n eie skeepshouer huisie kon kry. Nou bly ek nog maar weer hangende hier waar ek is. My hande is afgekap want ek het geen geld meer om my eie ding weer te begin en is afhanklik van my seun se support soos hul dit noem. Gelukkig worry ek nie meer so erg oor die dinge nie. Sal nog uitwerk netsoos julle 5 de keuse gaan uitwerk. Lekker bly.
LikeLike
Haai Scrapy, skuus jong, ek klink seker soos ‘n vinkwyfie. Mooi bly,
LikeLike
Nee wat, ten minste laat jy beslis jou mening hoor.
LikeLike
Dankie, vriendin.
LikeLiked by 1 person
Ek het my kinderboek se storie klaar geskryf in die 21 dae. Nou moet ek besluit of ek self gaan illustreer of ten duurste iemand kry om dit te doen. Ek dink ek moet dit op my Kreukels en plooie sit sodat die naaste vriendinne dit kan lees en kommentaar lewer. Wat dink jy?
Dis in Engels
LikeLike
Ek dink jy moet, ek sien beslis uit on te lees.
LikeLike
Okay, maak so. Het gister nog weer veranderinkies gemaak. Ook sommer begin om rowwe sketsies te maak. Dit sal ek vir eers nie opsit nie. Te veel van gekrabbel. Moet eers die spinnekop en wesp se lywe bestudeer.
LikeLike
Spinnekop? Sien uit, maar nie na spinnekop nie.
LikeLike
Ek het jou nuus opgeslurp! Die nuwe woonstel klink heerlik. En die uitsig is pragtig. Dink aan al die mooi liggies in die aan ook.
Mag alles net vlot verloop met jou trek.
Ek wonder of jy my gedigte by ‘n uitgewer sal kan aanbeveel? Dit sit my erg af dat uitgewers nie gedigte wil aanvaar wat internet geplaas is nie.
Wat eintlik my hartsbegeerte is, is dat skole en universiteite my gedigte sal voorskryf. Weet jy nie hoe ek daarby kan uitkom nie?
Baie dankie dat jy my so aanmoedig.
Liefde San Dreyer
On Mon, 08 Jun 2020, 12:52 Dr. Christa van Staden, wrote:
> Dr Christa van Staden posted: ” Manlief is ‘n maand gelede na Almaty > verplaas. ‘n Verplasing waarna ek natuurlik begin uitsien, maar heelwat > water moet nog in die see loop voor dit kan gebeur. Soos om ‘n woonstel te > gaan soek in Almaty. Laat ek eers van Almaty vertel. Almaty is die ” >
LikeLike
Hi San, ek ken. ie uitgewers nie. Of wag, ek weet dalk van iemand. Laat my gedagtes net so bietjie gaan.
LikeLike
Doodreg. Ek wag in spanning.
LikeLike
Jy gaan my ook net weer moet herinner. My kop vat nie grond die week nie. 😊
LikeLike
Doodreg. Ek is nie haastig nie. Trek eers klaar. 💙
LikeLike
Dankie jong, ek gaan tog bietjie uitvind
LikeLike