21 dae, soveel dae neem dit om ‘n gewoonte aan of af te leer

Dit neem 21 dae om ‘n gewoonte aan of af te leer. Die afleer is na my mening die moeilikste van die twee.

Toe my lyf uiteindelik besluit ek luister nie nadat ek al soveel waarskuwings gekry het nie, het sy gestaak. Die oomblik as ek laktose inkry, moes ek die naaste badkamer soek. En lank daar bly. Iets soos as mens nie wil hoor nie, moet jy voel.

Ek het dit aanvanklik aan enige iets anders toegeskryf. Ek gaan maar nie opnoem nie, mense gaan beslis dink ek het paranoia. Maar ja, as dit met jou gebeur en daar kan geen verklaring gegee word nie en die dokter weet nie wat fout met jou is nie en hy sit jou op ‘n sterk senuweepil want jou senuwees is die probleem, dan soek jy self verder.

Toets jy naderhand kos. Bietjie vir bietjie vir bietjie. En dan weet jy uiteindelik wat die probleem is. Melk, eiers, sonneblom, koring en mielies moet uit die dieet gesny word. Snkaas hoe mens se lyf weet, ek het nooit van mielies gehou nie, nie eens as dit oor die vuur gebraai is nie. Die toetse het bewys dat die vier goed die grootste sondebokke is, nog lank voordat my lyf besluit het sy gaan my ‘n les leer.

Dan ontdek mens lekker goed: soos brocolli, wortels, ertjies, kersies, appels, kos wat maklik die plek van die genoemde bestanddele kan inneem. En eet jy eitnlik lekkerder as voor die tyd, want jy voel nie skuldig oor die goed wat jy eet nie.

Intussen het ek ontdek dat ‘n daaglikse pro-biotika help, as ek daardie produkte ook uitskakel. Maar mens raak mos maar waaghalsig soos die tyd aangaan. Nou kry ek ‘n vinnige nood, maar dit gaan ook vinnig verby. En so raak mens steeds waaghalsiger.

Tot jy weer ‘n roomys saam met manlief eet. Al sê jy nou meer as ‘n jaar lank dankie, maar nee dankie, ek is tevrede met hoe ek op die oomblik voel.

Bo staan 100% sjokolade, maar kym na die roomys, dit is onmoontlik. Die smake is amandel, sjokolade truffle en brunette … Ek sal maar by manlief hoor hoe die ander smake proe. Want toe kry ek twee slegte verrassings:

Die eerste een is dat roomys nie meer so lekker is as wat ek dit onthou nie. Ek het sukkel-sukkel klaar geëet, al was dit die Russiese weergawe van die Suid-Afrikaanse Magnum, my gunsteling van alle soorte roomys.

Die tweede een is dat dit dan weer die laaste strooi was wat die kameel se rug gebreek het. Ek voel hondsiek, nie ‘n goeie siek voel as die SARS-CoV-2 ook nog ‘n onbekende werklikheid is hier waar ons woon nie. Ons getalle is waarskynlik skeef, want hier word nie getoets nie. Wel maatreëls getref: handjies word by die mall gespuit en temperatuur word gemeet. Maar almal word nie vir Covid-19 getoets nie, dus weet mens nie of die virus al hier is nie.

Die vorige keer het ek die probleem opgelos met die 21 dae idee. Dat dit net 21 dae vat om ‘n gewoonte af te leer. Want eintlik is die goed wat ek noem bloot gewoonte. Kan nie daarvan wegkom nie, want ek maak manlief se kos. En myne moet elke dag anders lyk.

Nou is ek weer op die 21 dae plan.

Geen melk, geen eiers, geen koring, geen mielies, geen sonneblom. Wat natuurlik ‘n magdom kos uitskakel. Enige koek, brood, sous, sop, dink maar, dit is van die baan.

Het ek gesê dat dit moeilik is om vir 21 dae lank iets te los waarvan jy baie hou? Nee, ek het dit vir laaste gelos, want ek weet wat gaan kom.

Ek het ‘n toep op my foon gelaai wat 21 dae aftel. Soms het ek tot by dag 7 gekom, dan moes ek voor begin omdat ek iets ingekry het wat ek nie geweet het nie omdat ek uitgeëet het.

Soms het ek net tot by dag twee gekom, soms moes ek dieselfde dag oor begin. Toe maak ek ‘n ander plan. Stel die toep, maar kyk nie daarna nie. Sodat dit aftik, sonder dat ek elke keer daaraan herinner word dat ek goed moet los.

Want ek dink die herinnering bring juis ‘n lus vir die kos aan. Nou het ek besluit dat Suid-Afrika nou eers in #4 van ‘n 21 dae afperking is. Die dae word namens my afgetel, dit word nie onder my neus ingedruk nie.

Dit herinner my nie aan wat ek moet los nie, daai weet ek goed. Na ‘n jaar is ek goed met los wat ek nie mag eet nie. Dit help my net om die 21 dae saam met Suid-Afrika af te tel, en dan net 4 daggies verder die pad alleen te stap.

Nou daag ek jou uit. Speel saam met my …

Is daar ‘n gewoonte wat jy moet aanleer? Of dalk af?

Hierdie 21 dae van isolasie in jou eie huis, met die staat wat die dae namens jou aftel, skep die geleentheid om jou aandag daarop te vestig. As jy wil, kan jy in die kommentaar skryf watter gewoonte jy aan of af wil leer. Dan tel ons die dae so saam af.

Vir my is dit noodsaaklik, die liewe roomys gaan een hele week sy kloue in my lyf inslaan en my goed siek laat voel. Die ding is: my lyf het nie die ensieme om die soorte kos te verteer nie, nou kom sy in opstand daarteen, want dit hoort nie daar nie. Wat ek wel weet, is dat ek na ‘n week beter gaan voel. En dat 21 dae die ding gaan doen om weer lekker te voel.

Daar is nog goed op my lysie vir die 21 dae:

  1. Om my nie so gou vir manlief te wip nie, hy geniet dit, ek nie
  2. Om elke oggend vir my ma en pa ‘n boodskappie te stuur, soms gaan ‘n paar dae verby sonder dat ek kontak gemaak het
  3. Om sosiale isolasie te handhaaf al word dit nie hier verplig nie, ek wil huis toe gaan sodra ons kan om ons nuwe lid van die gesin te verwelkom, siek moet ek asseblief nie word nie.
  4. Om dalk juis siek te word, sodat ek gesond is teen die tyd wat ek op ‘n vliegtuig klim. Probleem is, mens weet nie of jou gestel dit kan hanteer nie.
  5. Om meer aandag aan my Christenskap te gee, meer so te leef.

Speel jy saam?

18 gedagtes oor “21 dae, soveel dae neem dit om ‘n gewoonte aan of af te leer

  1. My 21 dae plan was om reg te eet, meer af te sonder, minder whatsapps te lees….les bes….daar is 17 dae oor, en ek twyfel of ek nou daai goeie dinge gaan aanleer….

    Like

    1. Dit is moeilik om te begin, so ons twee kan more oor begin. Dan tel ons net vier dae by aan die einde, daardie dae wat ons in vervoering is omdat dit verby is. WhatsApps? Hmmm, ek verstaan, dit vat tyd. Beter eet? My plan ook, maar dit gaan deur die mat val, ek eet ongesonder as ooit. Meer af te sonder, ek doen goed met daardie een. Na vier maande se oefen in die winter … Sal ons more oor begin?

      Like

  2. Mmmmm, nou praat jy. Ek het nou al n hele week sonder my drie/vier blokkies donker sjokolade klaar gekom. Probleem is ek het Sondag my bestelling vir kruideniersware ingesit en twee blokke gekoop! Dit kom Vrydag. Ek het bv ook sekere kos wat ek nie eet nie omdat dit rumatiekpyne aanhelp. Tamatie is onder andere een. Ek vermy dit sover ek kan maar tog gebeurdit dat daar tamatie in kos is en dan voel ek die gevolge die nag of vroeg oggend. Nee wat ek het besluit ek gaan nie 21 dae gebruik om op te hou of te verander nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.