Onverwagte verandering van haarkleur…

Hierdie artikel is anders as my artikels, dit vorm deel van ‘n bloguitdaging wat Hester begin het. Sy is mos my towerinvriendin.

En sy dink ons moet so bietjie lighartig raak om spanning rondom die verspreiding van die SARS-CoV-2 te verlig. Vir ons self. Ek dink almal weet teen die tyd dat ek ligsinnigheid oor die pandemie moeilik hanteer, ek leef nou al drie maande langs Sjina waar die virus in Desember 2019 begin amok maak het en stadig na die res van die wêreld versprei het. Dus het Suid-Afrikaners tot verlede week nog grappe oor die virus aangestuur, wat my regtig ontstel het.

So hier dit … hoop dit sal wel iewers ‘n lagspier kielie, anders het ek die pot misgesit. Die konteks is Qazaqstan, my huidige tuiste. Dit is sommer ‘n verbeeldingsvlug na ‘n verre land …

***

Ek was weke gelede buite die woonstel, ons het genoeg kos gekoop, plus genoeg vir twee weke self-isolasie as dit nodig sou raak. Dalk so bietjie langer. Die kos het langer gehou as wat ons gedink het dit sou, daar is nog baie van alles.

Veral wors, ons het twee weke na mekaar wors gemaak en die vrieskas het ‘n berg wors in. Nou goed, nie ‘n berg nie, maar dit hou al langer as twee weke, dalk omdat ons minder kos eet en meer lekkernye terwyl ons self-isoleer. Ons gaan na die self-isolasie groter klere moet koop, ek gee heeltemal te min treë per dag dat klere lank gaan pas.

Daar broei egter ‘n ander krisis.

My haarkleur is besig om uit te was. Langs my slaap is ‘n paar grys hare wat hulle kleur afgegooi het. Soos herfsblare, kan nie weer terug nie. Net soos bome staan die grys hare kaalbas nadat die kleur afgegooi is.

Anders as bome, wat hulle stamme donker en onsigbaar probeer maak, blink hierdie grys hare soos diamante tussen die swart hare rondom dit. Maak nie saak hoe ek probeer om dit mis te kyk nie, hulle vang die sonlig dat ek hulle net moet raaksien.

Ek kan nie verstaan hoe dit gebeur het dat ek nie haarkleur gekoop het nie. Ek vermoed dit was op die lysie in my kop, toe ons gaan koop om vir twee weke isolasie voorsiening te maak. En ek vermoed manlief het my by die rak terug gestuur om iets in ‘n ander ry te gaan haal en woerts hy daar verby. Want ek loop nooit verby die rak as ons inkopies doen nie.

Van laas week af staan ek elke oggend voor die spieël, daar is sowaar nog ‘n grys haar wat oornag kleur afgeskud het, langs my slaap. Daar kan mos nie oornag lang hare bykom nie?

Die ander hare se kleur lyk nog goed, maar die grys hare gooi mos die kleur vinniger af as wat my Husky sy hare in die tuin afgeskud het.

Nie so sigbaar nie, as ek vergeet om my bril op te sit, sien ek eintlik niks. Maar dit vergeet ek selde. Daarom pla elke grys haar wat verder ontbloot word my intens. Ek kla egter met wit brood onder die arm, dink ek so by myselwers. Bo-op my kop groei geen grysbhare uit nie, daai sou probleem groter gemaak het.

Ons mag nie winkels toe gaan nie, maar ons mag aanlyninkopies doen. Om elektrisiteit en mannekrag te spaar, is daar geen prentjies by die produkte wat ons wil aankoop nie. Net woorde, in ‘n taal wat ek nie verstaan nie. Russies. En ek en die landlord het agtergekom ons toeps vertaal nie altyd so lekker na Russies nie. Na Engels ook nie.

Ek soek A+ Store se aanlynwinkel en soek deur die lyste name na haarkleur, die woord het ek eers opgesoek om dit tussen die Russies te gaan soek.

My gunsteling kleur is Sjokolade en ek soek onder die lang lys van name Sjokolade. Die prys is reg. Kliek op die produk, betaal en sien dat ‘n robotmannetjie dit oor vyf dae by ons woonstel, sal kom aflaai. Hy werk nie naweke nie, dus amper ‘n week later. Ek moet dit dan onder gaan haal.

‘n Week later is ek vroeg oggend al af onder toe, niks.

Elke uur af ondertoe en toe lê die pakkie met my naam op drie-uur op die rakkie waar ons goed kan afhaal. Opgewonde is ek op boontoe, tyd om my hare reg te ruk.

Toe ek die pakkie oopmaak, lê ses groot plakke sjokolade vir my en kyk. Verstom kyk ek daarna. Sjokolade? Ek het dan sjokolade kleur gesoek?

Teruggee mag ek nie, die pakkie kan nou vol virusse wees as ek dit gehad het. Daardie kanse wag maatskappye nie, dus moet ek die sjokolade maar eet of iets. Eet gaan ek seker nie, dit is 70% sjokolade, te bitter om ooit vir my lekker te wees.

Dan maar terug na die rekenaar. Soek weer haarkleursel. Soek ‘n ander kleur wat geen Rus of Qazaq kan verwar nie. Swart. Nou kyk, ek weet daar is verskillende soorte swart. Pikswart, raafswart, blouswart, rooiswart, ligte swart. Kanse gaan ek nie waag nie, tik die woord Tsjornie in en kry ‘n lys van produkte. Kies een wat nie te duur is nie, en voltooi die proses.

Weereens wag ek amper ‘n week, lekker opgewonde oor die haarkleur wat op pad is. Ek het gewonde swart gekies, daar kan nie fout wees nie. Het oral seker gemaak onder die punte. Hare. Haarkleur. Swart. Daar kan nie fout wees nie, vertel ek vir die grys hare wat vir my skitter as ek verby die spieël loop. Julle dae is getel.

Toe nie, die pakkie is wel vir hare, swart hare, sjampoe vir swart hare.

Ek kyk so vir die pakkie in my hand, baie lus om dit van die 8ste verdieping af met ‘n boog na onder te gooi en te kyk hoe dit oopbars en al die sjampoe op die dak van die garage onder ons uitloop om die dak in die sagte reën silwerskoon te was.

Blinkskoon.

Ek soek dit nie.

Maar dan besluit ek om dit tog te hou, hopenlik was dit die hare blink. Lyk of dit bedoel is om my hare so blink soos ‘n perd se vel te was. Dit doen toe ook, my hare blink soos ‘n perd se stert as ek verby die spieël stap, die gryses is sowaar verberg.

Na een of twee wasse skitter die gryses weer in die spieël. Om vir my te lag.

Ek en die Russies is weer nie maatjies nie, die toeps verstaan nie so lekker nie, die pakkers in die virtuele winkel maak ‘n grap, hulle organiseer die goed verkeerd. want ek het haarkleursel gesoek, onder dit afgeblaai na swart, hoe moeilik is dit om dit asseblief tog net vir my maklik te maak?

Intussen raak manlief se sjampoe is klaar en hy gebruik sommer myne terwyl hy wag. Sjampoe is mos sjampoe is dit nie?

Nou kyk, manlief se stortery is ‘n hele ritueel. Die gordyn word toegedraai, die water word oopgedraai, en dan klim hy in as die water reg is. Warm genoeg dat elke korona sal afspring en opmdie rand van die bad vir my sal wag. Kokend warm. Dan stort hy lank. Baie lank. Dit is hare was, afspoel, lyf was, afspoel. En staan dat die water oor elke deel van sy lyf soos ‘n waterval kan afstroom. Dan droog hy af, rug na die spieël en laastens begin die ritueel voor die wasbak, by die spieël. Anders as ek kyk hy nie eerste in die spieël nie, sê hy.

Vandag moet ek hom glo, want die water het lank in die wasbak geloop voor hy gil.

‘n Lang uitgerekte gil. En nog een voor ek behoorlik wakker is.

Ek het intussen opgevlieg om te gaan kyk waarom hy soos ‘n meisie gil.

En toe kry ek die skuld:

Christa! Wat het jy aangevang?

Ek het so pas opgestaan, het niks gedoen nie. Hy het my wakker gegil!

Ek sien ook niks fout nie, wat die man te vieste in maak.

Nou kyk, ons badkamer is nie deel van die kamer nie, maar soort van. Die deur is oorkant die kamerdeur, maar mens loop reguit daarna deur die voorportaal. Links van jou is die buitemuur na die gang se kant toe en die voordeur en regs van jou die groter ingang na die kombuis-eetkamer-sitkamer met baie vensters.

Voor my staan manlief met sy handdoek om sy onderlyf, soos altyd nadat hy gebad het. Die gesiggie is skoon geskrop. Die tande blink skitterwit. Niks lyk fout nie.

Ek vra ongeduldig wat ek nou weer volgens hom aangevang het. As die bure se kinders se kat kleintjies gekry het, is dit ook my skuld. Die skrik is verby, hy het nie geval en ‘n arm of been gebreek nie.

Hy wys na sy armhare en sy kop, maar ek sien nie iets wat pla nie, die lig skyn van agter en ek sien net ‘n silhoeët, met skitterende randjies. Amper asof hy ‘n kroon op sy kop gesit het, en ‘n blink pakkie aanhet.

Droog jy nie af nie? Jy is nog papsopnat!

Manlief marsjeer om die hoek sitkamer toe, na die lig toe en toe borrel my lag op. Ek kan nie keer nie. Onderdruk en proes toe hy begin omdraai.

Skuus, maar ek lag altyd as ek sien niemand het seergekry nie.

My liewe, bles manlief lyk soos ‘n vreemde wese.

Sy welige bos hare op sy agterkop is blinkswart. Sy armhare is blinkswart en ek vermoed die beenhare onder die handdoek ook. Tot die wimpers, haartjies in sy ore, baard en snor wat hy nie wil skeer nie en die haartjies in sy neusgate is blinkswart toe hy omvlieg en kwaad vir my kyk.

Ek lag steeds.

Hy sien geen grap nie. Hy moet gaan werk, het video-vergadering met almal, van hoofkantoor, tot die myn tot die ander hoofkantoor. En die blinkswart hare is vir hom een te veel, hy was ‘n blondie, het nog nooit die kontras tussen sy eie vel en hare so deeglik gesien nie.

En verstaan nie waarom sy hare die swart sjampoe so ingeslurp het nie.

Dit moet baie meer porieus as my eie grys haartjies by die slape wees.

Vir hulle wil ek met mag en mening swart hê, maar nee, hulle gooi kleursel af, binne dae is hulle weer blinkgrys. En vir manlief werk dit soos ‘n bom. Sy hare is blinke en swart. Raafswart.

Ek verweer:

Het jy my sjampoe gebruik?

Ja, wat het jy met die sjampoe aangevang?

Ek het niks aangevang nie, dit is so gekoop. Vir swart hare. Blinkes wil ek verduidelik, maar doen dit liewers nie. Want hy is nog nie reg om oor die ramp te lag nie.

Elke keer wat hy sy arm of kop skud, blink die pikswart hare soos swart pêrels en ek verkyk my aan manlief.

Mooi lyk dit gewis nie, hy was altyd blond en is al die afgelope 30 jaar grys, aan die swart gaan ek sowaar nie gewoond raak nie.

Ek het al geterg dat hy kan kleur om weer blond te voel, as die grys hom mismoedig maak, maar hy is teen kleur soos wat ons altwee teen die eet van perdevleis is.

Dit gaan nie gebeur nie. En as iemand ons in daardie een in bedrieg, gaan die persoon spyt wees. Vriendskap sal na die maan wees. Vriende doen nie sulke goed aan vriende nie. Gelukkig het hy self besluit om my sjampoe te gebruik, anders was ek op die eerste vliegtuig terug huis toe …

Vrouens kleur hare, mans nie. En eintlik sal hy nie omgee as ek nie meer kleur nie.

Ek troos dat die kleur na een was sal uitwas en hy vlieg terug in die stort.

Gebruik sommer wasgoedseep as sjampoe, dit haal tog vlekke uit wasgoed uit?

Maar nee, dit was niks uit hare uit nie.

Die swart hare skitter selfs mooier, dit het nou so ligblou skynsel by van al die Ariel wasgoedseep.

Dit sê ek nie, manlief is te ontsteld. Hy dink dit lyk nou so bietjie ligter …

Manlief staan lank voor spieël as hy mooimaak, maar die dag het dit soveel langer gevat. Die snor en baard is af, soveel keer geskeer dat die haartjies in die vel verdwyn het, volgende keer seker weer gaan moet sukkel om gaatjies deur die vel te druk. Maar die blouswart baard en snor is weg. Dit is net baie pienk waar dit was, maar ek het liewer stil gebly, getroos …

So is hy op ‘n baie warm dag, zero (0) is vir ons warm, kantoor toe vir die video-konferensie. Hulle verstaan nog nie dat Zoom gebruik kan word om die konferensie van die huis af te hou nie … En so gou gaan ek hom nie kan leer nie.

Met ‘n mussie laag oor sy ore en ooghare getrek, ‘n serp om die nek en handskoene. Lang onderbroek ook, net vir ingeval ‘n broekspyp met die sit opskuif en ‘n stuk been tussen kous en broekspyp ontbloot.

Die kleur het na een week uitgewas, manlief se kwaad het darem na die eerste dag verdwyn. Eers toe niemand agtergekom het dat hy met mussie op die kop gewerk het nie. Handskoene in hierdie tyd van die pandemie is ‘n moet, dit het ook nie gepla nie. Niemand het van sy penarie geweet nie …

Dink hy. Die een vrou wou by my weet watter soort naskeer manlief nou gebruik, hare het gevra ek moet vra. Ruik lekker, half bekend.

Ek het verduidelik dit was die Arial wat hy geruik het, maar nie hoe dit so skerp was nie. Sou sou serpe en mussies volgende keer beter afspoel, het ek geantwoord. My lippe was gezip, al sou hy my nooit uit so ‘n penarie red nie.

Toe kon ek verduidelik dat ek ook ontsteld is, dit is nie wat ek wou koop nie! Die aanlynwinkel is ‘n nagmerrie, hoe gaan ek ooit die regte goed gekoop kry?

Manlief het dadelik weer ridder gespeel, sy tolk aangesê om die regte goed te koop en my hare is uiteindelik weer die regte kleur, vir ‘n rukkie lank.

Ek wonder hoe hy vir arme Ruslan oortuig het om my goed aan te koop, want hy wou mag nooit toelaat dat ek vir Ruslan vra om iets vir my te vertaal nie … Ek weet egter wel dat hy nie van die swart hare sou verduidelik nie …

Manlief gebruik nou niks wat ek gebruik nie, nie eens tandepasta, handeroom of mondspoelmiddel nie. nrt vir ingeval dit iets perfek aan hom doen, vir dae lank, wat dit nie so goed vir my wil doen nie …

Fotokrediet: https://www.arabianbusiness.com/the-bald-truth-10-reasons-why-you-are-losing-your-hair-561978.html

***

Soos bo geskryf, vorm hierdie artikel deel van ‘n bloguitdaging om die spanning in my eie lyf, en dalk joune, te verdryf. Vir ‘n rukkie, want die virus is nog nie versmoor nie. die res van die towerinne se inskrywings kan hier haarkleureskapades gelees word. Jy kan natuurlik ook aan die uitdaging deelneem:

Hester nooi jou so:

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

25 gedagtes oor “Onverwagte verandering van haarkleur…

      1. Hierdie is so snaaks. Laat my dink aan die X. Een aand soek hy room, natuurlik in my badkamerkassie en in die donker. Volgende oomblik hoor ek gille, hy het een of ander detox room oor sy hele lyf. sulke chilli goed wat veronderstel is om vet weg te brand. Hy het ver van my kassie weggebly van toe af.

        Like

  1. Christa, jy het my dag nou heelwat ligter gemaak. Ek moet vandag besluit of ek my vliegtuigkaartjies gaan kanselleer – ek dink nie ek kan by my kind gaan kuier daar in JHB in hierdie dae nie. Toe laat jy my so lekker giggel oor die grys hare. Ek ken daai hare wat so blink – as ek in die son loop, lyk dit asof ek egte silwerdraadjies in my hare het. Maar dat arme blonde manlief so ‘n blinkswart haredos oor sy hele lyf opgedoen het, was die hoogtepunt. Ns. Jy kan maar daardie plakke bitter sjokolade vir my aanstuur. Dit sal my isolasieproses ‘n fees maak.

    Like

  2. Jammer dit is nie ‘n ware storie nie… dit sou so snaaks gewees het as jou man so blinkswart uit die stort geklim het 😁😁😁 Goeie verbeeldingsvlug.

    Like

Laat 'n boodskap na woordnoot Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.