Dit is waarom SARS-CoV-2 ‘n virus is om te vermy

Die virus wat die Covid-19 pandemie veroorsaak het, is so pas as SARS-CoV-2 benoem, so genoem omdat dit akute asemhalingsprobleme veroorsaak (SARS), deur ‘n koronavirus veroorsaak (CoV) en omdat daar reeds ‘n SARS-virus was wat ‘n soorteglyke pandemie in 2002/2003 veroorsaak het, dus tweede een (2). Die siekte staan nou amptelik as Covid-19 bekend. Dus sal ek vorige plasings moet nagaan en die spelling deurgaans reg te maak.

Vir nou wil ek eers stilstaan by die rede waarom hierdie pandemie regerings noop om die bevolkings vir wie hulle verantwoordelik is met noodmaatreëls te beskerm.

Gister was die besmettingsyfer wêreldwyd minder as 200 000, vanoggend is dit 245 578, bykans meer as 20 000 meer gevalle in een enkele dag.

Die sterftesyfer het nou die 10 000 kerf oorgesteek en slegs 88 437 van die mense het totaal herstel, wat impliseer dat bykans 150 000 mense rondloop met ‘n virus wat ander kan besmet. En dit ook doen, gemeet aan die nuwe gevalle daagliks.

Ek het aanvanklik gevrees dat Suid-Afrika ‘n Zuma op die mense gaan trek, vir hulle sê dat jy nie die virus kan kry as jy genoeg stort nie. En ek was opgewonde toe die Suid-Afrikaanse regering onmiddelik gereed was om die noodsituasie te hanteer. My gesin, my mense, my volk, my land besef die gevaar, meer kan mens nie vra nie. Behalwe om te bid dat die Here almal veilig bewaar.

Hier, waar ek in Qazaqstan woon, is streng maatreëls van toepassing vandat die virus einde Desember 2019 amok in Sjina begin saai het. Ons regering het, net soos Suid-Afrika, dae voordat die virusbesmetting as pandemie verklaar is, die eerste gevalle geregistreer.

En, soos Suid-Afrika, dadelik regeageer om die tempo van besmetting af te plat om die bevolking te beskerm.

As Suid-Afrika en Qazaqstan, soos Italië en Europa geglo het dat die virus bloot gaan verdwyn, was daar reeds amok in die twee lande omdat ‘n groot deel van hierdie land aan die Sjinese grens lê.

Ek het gebid dat Suid-Afrika, net soos Qazaqstan, intelligent genoeg is om uit die lesse van ander lande te leer. En hulle was.

Sjina het die uitbreek van Covid-19 aanvanklik probeer wegsteek, selfs die dokter wat die virus ontdek het, verplig om by ‘n polisiestasie skriftelik te gaan erken dat hy soos ‘n tandetrekker gelieg het. Hy het so gemaak, maar hy het nie gelieg nie. Die virus het soos ‘n veldbrand van mens tot mens versprei omdat daar nie dadelik opgetree is nie. Sjina het die geld gehad om vinnig hospitale te bou om die noodgevalle te hanteer. En stede is te laat onder kwarantyn geplaas om te verhoed dat die virus die hele Sjina besmet. Gou is die besmetting tot 80 000 beperk, die sterftesyfer is ook beperk.

Baie ander lande het nie.

Hier is Italië ‘n sprekende voorbeeld van ‘n land wat onverantwoordelik opgetree het. Hierdie land het aanvanklik niks gedoen om die verspreiding van die virus te hanteer nie. Vandag het Italië die tweede meeste gevalle (41 035), meer as die helfte van Sjina s’n (80 967). En Sjina meet reeds sedert Desember 2019, Italië is eers onlangs begin meet nadat hulle getref is.

Hoe kan mens die impak van die besmetting van die twee lande vergelyk word? Italië is baie kleiner as Sjina en het ‘n baie kleiner bevolking. Persentasiegewys is die sterftesyfer van hierdie land (8,338%) egter dubbeld dié van Sjina (4,00%). Italië se sterftesyfer (3 405) het Sjina s’n (3 248) so pas verbygesteek. Die getal mense wat baie siek is (2 498), is nou ook meer as in Sjina (2 136). Sjina se gevalle is aan die afneem, die ander land se streftesyfer is aan die toeneem. Tweehonderd mense per dag. Daar is reeds aanbevelings dat dokters besluite oor lewe en dood moet neem: Wie moet gehelp word – en wie nie? Hierdie nalatigheid van die land se regering het daartoe bygedra dat die virus vanaf Europa na lande soos Suid-Afrika en Qazaqstan versprei het.

Daar is teorieë dat Qazaqstan lig van die saak gaan afkom omdat ons nou in die somer inbeweeg. Goed, laat ek eers verduidelik. Die teorie dra nie regtig gewig nie.

Ons winter is besig om pad te gee, ja en Suid-Afrika beweeg in die winter in.

Maar ons winter is baie kouer as Suid-Afrika s’n, hier het ek presies geleer hoe koud subzero is, maar veral hoe koud temperature laer as -30ºC regtig is. Ons lente se temperature kan goed met Suid-Afrikaanse winter vergelyk. Of nee, dit is dalk selfs kouer as Suid-Afrikaanse winter omdat ek vanoggend nog met opgestopte stewels, ‘n mussie en ‘n dik wintersbaadjie buite gaan stap het. Dit het ek nooit in die Suid-Afrikaanse winter gedoen nie, my jas ses jaar gelede gedra.

As die virus van koue hou, kan die virus in ons lente teen net so ‘n vinnige pas as in Suid-Afrika se winter besmet. Daarom behoort die effektiwiteit van hierdie twee lande se beheer van die virus ‘n goeie idee te gee van hoe die virus versprei het, by nabetragting.

Laat ek nou net eers verduidelik soos wat ek lees en soos wat ek verstaan.

Wêreldwye besmetting deur die virus kan nie meer gekeer word nie, die virus het nou bykans elke land op aarde binnegeval. Hoe dit die land gaan tref, kan wel beheer word. Met geen sosiale isolasie steek mense mekaar teen ‘n spoed aan en kan hospitale nie voorbly om die baie siekes te help nie. Dus is sosiale isolasie die intelligente alternatief.

Nou waarom moet die verspreiding van die virus beheer word en waarom moet mense hulle aan sosiale isolasie steur?

Eerstens, is die virusbesmetting aansteeklik, daarom versprei dit teen ‘n geweldige pas wanneer dit eers van mens-tot-mens in ‘n land oorgedra word. In Italië het die land op 10 000 gevalle maksimum mediese kapasiteit bereik. Daar is nie genoeg ventilasiemasjiene vir mense wat sukkel om asem te kry nie, daar is nie genoeg dokters om na die mense om te sien nie en daar is riglyne op die tafel dat maatreëls wat tydens oorlogtye geld, toegepas word. Die medici moet mense help wat nog tot die ekonomie kan bydra, diegene wat reeds oud is of waarskynlik nie gaan herstel nie, moet gelaat word om dood te gaan. Sulke keuses is mos nie nodig nie as mense hulle aan sosiale isolasie steur.

Tweedens, veroorsaak sosiale isolasie dat die virus nie so vinnig versprei soos in lande waar geen sosiale isolasie plaasgevind het nie. Indien die verspreiding van die virus beperk kan word, af afgeplat kan word, kry pasiënte in hoësorgeenhede kans om te herstel om plek te maak vir die volgende groep siek mense. Wie kan teen so ‘n logiese oplossing stry?

Ek lees so oor die akteurs wat soveel en soveel geld spandeer het op produksies en nou is dit van die baan. Oor hulle eie sakke bekommerd, ten spyte van die gesondheidsgevaar en die potensiaal om die virus na klein dorpies te versprei – waar die mense nie noodwendig die regte mediese hulp betyds kan ontvang nie. Dit is darem baie selfsugtig. Ek glo dat die KKNK die fees wel later in die jaar gaan aanbied. Nie dat ek ‘n ondersteuner is nie, hulle boikot mos so maklik sangers. Dié keer boikot die virus hulle.

Ek lees so oor mense wat sê dat hulle nie maskers gaan dra nie, want die virus is nie airborne nie. Nou lees ek dit is wel. Wat kan mens glo? Ewenwel, hy word wel airborne wanneer mense in jou gesig hoes en die mikroskopiesfyn spoegdruppels op jou mond of neus land. Oefen voor ‘n spieël om te sien presies hoeveel spoeg saam met ‘n hoes uitkom, was net weer deeglik daarna. Ons vat tot 99 keer per dag aan ons neus en mond, so help ons die virus om in ons eie lywe nes te kom skop. As jou imuunstelsel goed is, gaan jy oorleef. Maar, ons dokters waarsku hier, mens gaan steeds baie, baie sleg voel. As dit nie is nie, is jy ‘n saak vir mediese sorg, selfs in hoësorgeenhede. Wat vinnig oorvol raak as mense nie verstaan dat die virus nie so vinnig moet versprei nie. Ek lees die fynskrif:

Gesonde mense moet dit verkieslik nie dra nie omdat daar nie genoeg maskers vir die siek mense en mediese personeel is nie.

Siek mense moet dit wel dra, want hulle spoegdruppels val oral en die virus kan tot 30 dae lank op gladde oppervlaktes oorleef. Loerend vir die volgende slagoffer. Daardie maskerloses wat onwetend aan besmette oppervlaktes vat en ingedagte aan hulle eie monde of neuse vat, dra die virus so aan hulself oor en steek ander aan lank voordat hulle siek voel. Ek lees dat gesigmaskers nie 100% veilig is nie. Ek vat die kans teen onbeskermd. Die Sjinese het …

Ek lees oor mense wat kwaad is omdat hulle in vrywillige sosiale isolasie geplaas moet word, selfs weier om dit te doen. Ek hou van wat ek lees, dat Suid-Afrika die polisie gestuur het om sulke mense verpligtend onder kwarantyn te plaas. Hoe kan mens weet dat jy positief is en weier om 14 dae op te offer om jou en jou naastes te beskerm?

Ek lees van mense wat steeds na gimnasiums toe gaan om hulle spiere te pomp, mense wat steeds funksies hou en so aan hou. Ek weet dit gaan nou baie ongevoelig klink, maar ek is nie lus om doekies om te draai nie. Ek hoop hulle weet van iets soos natural selection, waarna ook as survival of the fittest verwys word. Probleem is, hulle gaan onskuldige mense met hulle saamvat.

Ek lees die statistieke wat mense, wat nie verstaan nie, oor sterftesyfers van ander siektes gee om die huidige pandemie se sterftesyfer as minimaal te laat lyk. Ja, daar sterf kankerlyers, maar hoe lank was hulle terminaal voordat hulle gesterf het? Ja, daar sterf mense aan hongersnood, maar moet die krisis groter gemaak word omdat lande nou hulle grense sluit? Elke land vir homself oor onverantwoordelike keuses?

Die meeste lande is ingerig om noodtoestande te hanteer. Geen land is ingerig om ‘n pandemie te hanteer nie, daarom moet lande soos Suid-Afrika en Qazaqstan alles doen wat hulle kan om die pandemie se impak te verlaag, die verspreiding af te plat.

Ek lees so oor die ekonomiese impak van die virus op lande wêreldwyd. Daar word bereken dat die skade $ triljoene gaan beloop. Nou vra ek die eenvoudige vraag: Waarom laat regerings hierdie ekonomiese krisis toe, sluit hulle hulle grense, plaas hulle stede onder kwarantyn – as dit nie ‘n krisis is nie?

Dit help nie om te kom met syfers oor die sterftesyfers van plae en peste in vorige eeue nie.

Daar was nie ‘n internetstelsel waarmee kennis vinnig wêreldwyd versprei kan word nie, dus kon die mense pleit dat hulle nie geweet het nie. Ons weet.

Daar was nie goedingerigte hospitale om die krisis te hanteer nie, baie van die masjiene en toetstelsels is eers heelwat later ontwikkel.

Nuwe kennis oor die simptome van die virus kon nie so vinnig bekendgemaak word nie. ‘n Siekte soos Covid-19 sou amok gesaai het omdat die mense eers sou dink dat hulle bloot griep het. En nie sou besef dat hulle diegene wat hulle versorg in gevaar stel nie. Buitendien, tydens die Middeleeue het dodelik-siek mense selfs die gevaar geloop om doodgemaak te word as hulle vreemde simptome toon.

Vir diegene wat op datum met die verspreiding van die besmetting wil wees, deel ek graag hierdie skakel, dit word gereeld op datum gebring om ons op datum van die krisis te hou.

One thought on “Dit is waarom SARS-CoV-2 ‘n virus is om te vermy

  1. Baie interessante artikel. Ek hou van jou logika.

    ❤💖

    On Fri, 20 Mar 2020, 04:13 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: “Die Wêreldgesondheidsorganisasie het so pas > die virus benoem wat ‘n pandemie veroorsaak het – SARS-CoV-2, so genoem > omdat dit akute asemhalingsprobleme veroorsaak (SARS), deur ‘n koronavirus > veroorsaak (CoV) en daar reeds ‘n SARS-virus was wat ‘n pandemie” >

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.