Ek en manlief sit ons gereeld en verstom oor die manier waarop Qazaq-kinders hulle in restaurante gedra.
Nou moet ek eers vertel waarmee ek vergelyk.
Ons is gewoond daaraan dat dit een kakofonie van klank is wanneer ons saam met ons kleinkinders na ‘n sogenaamde familie-restaurant gaan.
Hoor en sien vergaan terwyl ouers gesels en kinders lag en speel. Kinders hardloop gillend tussen die tafels deur. Vrolik en opgewonde oor die uitstappie.
En die meeste restaurante het speelplekke waar die kinders besig gehou word. Met oppassers.
Ons gaan nooit na familie restaurante as ons twee alleen is en lus is vir uiteet nie. Dan soek ons stilte en sagte musiek dankie en asseblief …
Veral omdat die gesegde van lekker lag kom lekker huil gereeld in familie restaurante bewaarheid word.
Dan kom kinders huilend na ouers aangehardloop as iets iewers verkeerd gegaan het. Met die gevolg dat ouers al uit restaurante verban is toe hulle by die saak inmeng. Spur …
Na ‘n uitstappie saam met die kinders en kleinkinders na ‘n familie restaurant is ons ore moeg, maar ons harte vol. Elke stukkie weer volgepak.
Ek is meer een vir stilte, dus verkies ons kuiers by een van die gesinne aan huis. Sommer myne, dan kan die kleinkinders lag en speel en raas en baklei en huil en drukkies gee. Ek maak met ‘n lied in my hart skoon as hulle gaan.
Liefietyd word nie aan skoonmaak gekoppel nie.
Wel, hier eet ons gereeld in familierestaurante. En ons ore word nie moeg nie.
Die eerste keer toe ons in ‘n restaurant in is waar kinders is, wou ons sommer omdraai en loop.
Die ding is, dit is lekker as dit saam met jou kleinkinders is. Dan skakel jou hele lewe in ouma-rat in. As jy kon, het jy saam gehardloop en gelag en gespeel.
Hier is nie gillende, jillende kinders nie. Nie in restaurante nie. Niemand hardloop hier rond in restaurante nie.
Die outjie in blou het net so stil op die stoel in KFC gesit terwyl sy ouers bestel het. En glo my, bestel is ‘n proses in ons KFC, niks word gou gedoen nie.
Natuurlik wil ek weet hoe die ouers dit regkry.
Ek was goed kwaai toe myne klein was. En ‘n hou op die boud het gehelp om hulle te laat luister as hulle wil rond wil hardloop. Want sien. Hulle moes tafelmaniere leer.
Hier lyk ma en pa nie kwaai nie. Tog sit die kinders die hele ete by hulle aan tafel. Drie foto’s is by die nuwe mall geneem (twee bo links en een onder).
Daar wag mens vir jou kitskos. Almal sit, eet en stap later saam met hulle ouers uit. Hoe doen hulle dit?
Volgens my vriendin het hulle almal fone voor hulle om hulle besig te hou.
Ons het dit nog nie gesien nie. Inteendeel, ek het al ma’s op hulle fone gesien wat geen aandag aan die kinders by hulle gee nie. En die kinders is steeds soet en vroom aan die tafel.
‘n Moontlikheid is dat die gemeenskap saam kinders groot maak. Hoe kom ek daarby uit?
Volgens my Suid-Afrikaanse vriendin hier is sy al in ‘n restaurant aangespreek om te sorg dat haar kinders stil sit by die tafel.
Die gemeenskap neem dus oor om pa’s en ma’s met die opvoedingsproses te help. Deur seker te maak hulle weet hoe om in restaurante op te tree.
Ek wil nie eers dink aan die fiasko wat in Suid-Afrika sal volg as ‘n ouer oor ‘n kind in ‘n restaurant aangespreek word nie.
Tog wonder ek, is dit hoe goeie maniere aangeleer word? Wat sê daardie een Engelse gesegde?
It takes a village to raise a child?
Hierdie village doen goed daarmee. Ek wil dan net sê:
Doet so voort!
Ek moes net die grootste foto op die collage plaas. Die tweetjies het mekaar met sneeuballe gegooi terwyl hulle op die bus wag. Kyk net die mooie kleertjies om hulle teen die wind en weer te beskerm.
Hooffoto: ‘n Huisie in die stad, verdwerg agter hope sneeu! Met twee kinders wat in die koue op die sneeu baljaar. Al glyend van die hope sneeu af …
Dis so interessant, Christa. Tog, soos jy sê, hier by ons gaan dit nie werk nie.🙉
LikeLike
Nee, dit gaan nie werk nie …
LikeLike
Ons het nooit ons kinders in ‘n restaurant laat rondhardloop nie. Ek dink wel dat die speelareas by sulke plekke, verantwoordelik is vir ongedissiplineerdheid. Ek sien dieselfde ding gebeur met kuiertafels by kunstenaaroptredes. Mense sit en klets en eet terwyl die sanger sy bes doen om gehoor te word. Hy/sy word gereduseer tot agtergrondmusiek.
LikeLike
Daarmee stem ek saam. En dit irriteer my omdat ek gaan om te luister. Myne smoes ook sit en eet, maar ek dink amper daar was nie iets soos speelplekke daardie tyd nie. Wel plekke waar kinders minder welkom gevoel het.
LikeLiked by 1 person
Ek vermy ook maar liewer kindertjies wanneer ek uitgaan.
LikeLike