Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Om wasmasjien te laat diens in Qazaqstan

Die wasmasjien het besluit sy gaan ook my gebrek aan Russies beproef deur net een wassiklus toe te laat.

Die een wat twee ure lank is. Die warm was. Te warm vir my klere. Maar manlief s’n moet langer was. Hy mors op sy klere as hy eet. Nie aspris nie, volgens hom. Ek wonder soms.

T erug by die masjien. As ek ‘n korter was kies, begin sy, maar 9 minute voor die tyd stop sy. Gereeld soos klokslag. Met ‘n ping-ping geluid om my te koggel. Daarna wil sy niks doen nie. Steeds soos ‘n donkie.

Dan haal ek maar die halfnat goed uit en hang op. Hulle drup mos binne ‘n oggend in ons huise droog.

Manlief moet dan eers weer in haar gaatjies vroetel om haar weer die een wassiklus te laat doen. Of altans, na groot gesukkel het ek uiteindelik gekop dat sy net die 2 uur-siklus voltooi.

Mens mors mos nie so met water nie? Al is hier heeltemal te veel water in ons stad. En my sagte kleerjies soek nie so lang was nie. Nog minder ‘n te warm was.

Manlief sê nee, moenie die landlord pla nie, hy sal regkry, maar hy is nie ‘n Samsung tegnikus nie. En die masjien het my na aan moedopgee. En gewip. Stertjie goed in ‘n krul gepluk.

Dus sms ek Vrydag vir die landlord. Kom help asseblief.

Ek het boodskappe vir die vorige landlord eers in Russies vertaal en toe gestuur. Toe laat weet hy nee jitte jong, daai vertaal is onverstaanbaar. Ek moet in Engels tik, hy sal self vertaal.

Dus skryf ek vir die nuwe landlord nog altyd in Engels:

Hallo, sorry to bother. The washing machine gives problems. It starts, then it stops and makes a ping-ping sound to tell me there is a problem. We have cleaned the filter. But it helps for one wash. And only the 2 hour wash. And then it gets stuck again. I think it needs a service. Husband will be here after 17:00.

Geen idee of my Engels so goed is nie. Nog minder hoe dit vertaal.

Hy verstaan my nood, wasmasjiene is belangrike goed in ‘n vrou se lewe. En hy antwoord:

Good morning good Today I phoned in Master drives up to you

En ek verstaan waarom mens maar liewer in jou taal moet skryf dat die ontvanger self vertaal. Ek verstaan darem dat hy die tegnikus gebel het en dat dié na my toe sal kom.

Dankbaar dat die landlord nie ook self probeer nie.

Volgende boodskap is ook ontsyferbaar:

Please make a photo that gives an error and model cars

Manlief sou nou geantwoord het dat dit nie die kar is wat probleme gee nie, dit is die wasmasjien. Ek verstaan ons twee is nie so bietjie “lost in translation” nie. Die toep vertaal net aan sy kant sleg. En ek verstaan.

In Russies is ‘n masjiena ‘n kar. En as hy masjien na Engels vertaal, gaan hy kar kry. Hy praat van die wasmasjien. Dit is tog waaroor ons twee praat? En hy het niks met ons kar te doen nie.

Dus antwoord ek:

Started machine. Will send error code as soon as it stops

Want sien, sy moet mos nou eers tot by 9 minute kom voor sy ping.

Na ‘n ruk besef ek ek moes die korter was gekies het, twee ure is lank.

Stop en begin weer voor.

En sy laat my nie soos ‘n aap voel nie. Of hoe sê die kleurlinge in my gunsteling sepie (Arendsvlei):

Sy vat my nie vir ‘n pop en werk mooi saam. Gooi op 9 minute haar vloermoer en ping vir my. En ek stuur die foutfoto.

Hy verstaan.

En ek laat weet ek is heel dag tuis.

Hy antwoord:

repairman of cars will arrive approximately at 11 o’clock in the afternoon you will be at home

En ek verstaan weereens die regte mens gaan kom, maar hier is probleem wat uitgesorteer moet word. Afternoon.

Want sien, die Qazaqs werk van 10 tot 10. En as die ou na ure kom, is dit 11 uur in die nag. Wanneer ons twee lankal in droomland is.

Dus moet ek seker maak: Oggend? En hy antwoord:

Yes, he’s a half hour you can drive

Nou goed, ek gaan nie verder vra nie.

Ek besluit toe maar om op die yes te gaan. Ek gaan nêrens heen nie. Die man kom na my toe.

Dié bewys net ek moenie na Russies vertaal nie. Ons sal mekaar verkeerd verstaan. Ek verstaan sy verkeerde Engels reg.

Dié man sal my nooit reg verstaan nie. As hy na manlief aard. Ons vrouens kan verkeerd reg verstaan. Ons praat in konteks.

Ek vra net dat die man hard klop, ek hoor nie die klop nie.

Nou kyk, as landlord self kom, is dit nie probleem nie.

Hy klop een keer en dan sluit hy oop en kom in. Ek het my die eerste keer amper uit my geloof geskrik toe my deur oopgesluit word. Ek het daarvan vertel in ‘n vorige plasing.

Daar is mos twee deure. Toe ek die klop hoor en die eerste een oopmaak, toe staan hy sentimeters van my af. Ek het gelukkig “n goeie hart al het ek lyk my ”n swak geheue. Ek het hom nie herken nie.

Dié man sou nie sleutel hê nie. Hy antwoord weer in hiërogliewe dat hy my sal kontak omdat die ou bestuur. Hier is op die foon wees as jy bestuur regtig teen die wet:

Well I’ll give your telefonchik it or I’ll call you as he will drive

Hy het toe gebel. Dus weet ek steeds nie wat telefonchik is nie 🙈.

Ek dog ek sal daai ene uitwerk as hy die keuse kies.

Die jonge man het toe opgedaag. Alte vriendelik, wil net gesels. Loop hom vas teen boervrou wat nie verstaan nie. Hy kan nie Engels praat nie.

Ons doen die lyftaal ding. Nee wag, gits, die gebaretaalding.

Ek sukkel steeds so bietjie met die tradisie. Man wat in my huis instap, baadjie uittrek en dan die skoene.

In Suid-Afrika sal jy hardloop en toesluit en polisie roep. Hier is dit algemene praktyk. Hulle loop nie op hulle skoene in ons huise rond nie. En ons huise is tans baie, baie warmer as buite. Jy sal omkap met jas aan.

Ek het al gespot oor wat Suid-Afrikaanse vriendinne sal dink as hulle kom kuier en veeemde man se skoene en baadjie lê by my voordeur.

Veral as hulle die boudjies sien wat so in die lug staan terwyl hy my wasmasjien reg dokter.

Ek het gaan sit en werk aan my artikel. Maar hy het elke paar sekondes hulp nodig. Dus maak ek of ek lees, ek wip my goed as ek skryf en iemand praat tussenin. Hy moet praat.

Roep my. Wys met groot handgebare na nat grond en dan maak hy asof hy lap draai om te wys hy soek lap om droog te maak.

Ek gee my mop aan.

Hy haal die lap af en droog die vloer daarmee op. Hoe vreemd is dit? Ek loop weer.

Hy roep weer terug. Die wasmasjien is ver weggestoot. Hy wys na die vloer en vra of ek wil skoonmaak.

Oulike ding! Verstaan ek skuif nie masjiene rond om onder dit skoon te maak nie. Die ding is te swaar vir my. Ek maak die mop weer ‘n mop en maak skoon.

Hy vra: Teacher?

En jammer, ek het geen idee hoe hy daardie sommetjie gemaak het nie. Hoe bring hy onderwysers met vloere skoonmaak in verband? Hier is skoonmakers ‘n betalende beroep.

Ja, knik ek, soort van, antwoord ek.

Hy vra: Rabota? Gde?

Waar werk ek? Hy gaan nie verstaan dat ek een was nie. Dus skud ek net my kop ontkennend.

Nee, ek werk nie. Makliker antwoord.

Maar daai is verkeerd.

Ek werk. Ek sukkel om my artikel klaar te kry. Die fokus is nie skerp genoeg nie. En daar is soveel wat ek wil skryf. Hoop ek kan binne 20 000 woorde geskryf kry wat ek moet skryf.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Om wasmasjien te laat diens in Qazaqstan

  1. Jou spitsvondigheid het my laat skaterlag lank voor ek koffie gehad het! Ek verstaan die pyn, moes baiemaal die General Electric regmaak as dit General Failure geraak het. En die middelste kind…….

    Só het ‘n 1973 Audi 100S my agterplaasvakleerlingskap geborg. My alles van motors geleer. Totdat ek later tydren- en veldrenmotors kon bou.

    Ek wantrou vandag nog kraggereedskap en toestelle.

    Like

    1. Ek moes iets probeer, Petro, ek skat ek is nie goeie onnie nie. Wys my weer hoe ‘n skoon hemp moet lyk werk nie na soveel jare saam nie. Ov liewer, die afgelope vyf jaar wat ek self stryk. My vorige huishulpe het seker ook so gevoel na ‘n ruk. Ek het nou empatie met hulle.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.