Sneeuvlokkies in Qazaqstan

Kyk ek dreig nou lankal om hierdie een te skryf. Daarom gaan ek so bietjie van my navorsingsartikel vergeet en eers hier konsentreer. Om oor sneeuvlokkies te skryf.

Vergewe my maar. Almal weet seker teen die tyd dat ek ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse vrou is. Het naby die Goudstad, Chrissiesmeer en Ermelo grootgeword. Daarna het ek bykans my hele getroude lewe in Welkom gebly, maar ons was die laaste dertien jaar Gautengelengers, soos Leon Schuster sing. Wat ek probeer skryf, is dat sneeu in al die jare ‘n raarheid was.

Iets wat ek net een keer goed beleef het. Toe dit in 1996 in Welkom gesneeu het.

Hoe kan ek die datum onthou? Wel, Dollatjie was in standerd 6 of graad 8. Ons het pas na Welkom verhuis nadat ons ‘n jaar lank Gautengelengers was. En toe sneeu dit! In die Vrystaat wat mens seker eerder as dor as nat sou beskryf. Ek verbeel my dit was in Meimaand.

Ons is almal in die tuin in die dag. Om ‘n sneeuman so hoog soos manlief te bou. Hy het, nodeloos om te skryf, nie lank gehou nie. Die felle son het hom gou laat smelt. Maar dit was wonderlik!

Ma se kind, kyk manlief se sweetpak. Dit verklap ons ouderdom … Ons het sommer dik kouse oor ons hande gesit om die man te bou. Sjoe, ek sien nou eers hoe dik die sneeu op ons bome was!

Dit was hemels om op te staan in ‘n huis wat vreemd stil was. Uit te kyk en pienk lug te sien. Pienk, mooi pienk. Almal was soos kinders, almal het foto’s geneem en in hulle tuine gespeel. As jy het, deel asseblief in die kommentaar.

Dit was een enkele dag wat ek nou nog onthou. En ons praat van amper dertig jaar gelede.

Ewenwel, toe trek ons mos 5 Maart 2019 na Qazaqstan. Nadat ons eers kom kyk het hoe dit hier lyk. Nadat ons self beleef het hoe -40°C voel. Ons het die sneeu orals gesien. Maar nie gesien het hoe dit val nie. Dit het in daardie week in Januarie 2019 nie gesneeu nie.

Ons was egter gerus, mens sal nie hier verkluim as jy die natuur in ag neem nie. In die huise is dit warm. En toeps waarsku ons voortdurend as die temperature daal en wanneer dit gaan sneeu.

Toe pak ons vier groot tasse en vier kleintjies, of liewer drie kleintjies en Thermie in haar drasak, en pak die lang reis na Öskemen, ala Ust’-Kamenogorsk, aan om hier, naby die grense met Mongolië, Sjina en Rusland te kom vestig.

Nou sien ek sneeu weekliks. In die winter. Wat van November tot April strek.

En dink ek ek kan al amper soos ‘n kenner daaroor skryf. So, hier kom dit …

Sneeuvlokkies is die mooiste goed op aarde. Selfs mooier as die ongeskonde vere van voëls wat ek optel terwyl manlief gholf speel.

Siestog, hy dink ek help balle soek as dit in die rof in is. Ek neem foto’s …

En as sneeuvlokkies vir my mooier as daardie vere is, dan moet jy weet. Sneeuvlokkies is pragtig.

(Kan ek nou net eers bylas dat sneeu nie mooier as my manlief, kinders en kleinkinders is nie? Weet dus ek praat van die mooiste ding in die natuur, mense uitgesluit.)

Sneeuvlokkies bestaan uit individuele yskristalle wat gewoonlik in wolke gevorm word en begin blykbaar aarde toe sak wanneer hulle ‘n milimeter groot is.

Om die aarde kristalletjie vir kristalletjie spierwit te maak.

Die Here het, nadat ek gister oor sneeu begin skryf het, vir ons ‘n goeie dosis gestuur. Dat ek baie foto’s kan neem.

En sowaar, op hierdie een wat vanoggend geneem is, kan jy uiteindelik sien dat sneeuvlokkies spierwit is!

Foto (vanoggend 20/2/2020) voor ons woonstel afgeneem.

Die dame wie se oppasbeurt dit vandag is, het die trappies skoongevee. Daardie hele hoop sneeu het deur die nag op ons trappies geval. Ek is jammer om dit te skryf, maar ek is dankbaar dit is nie my werk nie.

Sneeuvlokkies lyk nie soos reëndruppels nie. Hulle is nie rond of rond met ‘n gepunte bokant nie. Ek verstaan sneeuvlokkies het ‘n heksagonale vorm, maar vir my lyk hulle lyk alles behalwe eenvormig of seskantig as hulle val.

Foto: 20/2/2020 langs ons woonstel geneem.

Maar my mens, toe ek vanoggend die sneeu op die stoep afneem, kan ek sowaar die puntige, sterretjie-agtige sneeuvlokkies in die foto hieronder herken!

Foto vanoggend op ons stoepie geneem (2/2/2020).

Hulle lyk sowaar soos die prentjies.

img_0139

As mens hulle afneem nadat hulle geval het.

Sneeu vorm, net soos reën, rondom stof en roetdeeltjies in die lug. En van beide is in Ust genoeg. Sneeu bestaan egter, anders as reën, uit bevrore water.

Sommige sneeuvlokkies is ragfyn, ek moet mooi kyk om hulle raak te sien. As dit so vaal soos gister buite lyk, dan kan ek maar by die venster staan. En kyk.

Sodra my oë aan die witgrys gewoond raak, sien ek die yskristalletjies in die lug. Hulle lyk of hulle nie veel kan doen nie, maar hulle dwarrel aanhoudend grond toe.

Om ook alles wit te maak. Sweef eintlik. Op en af en heen en weer. Hulle val nie net sommer soos reën nie. En as jy weer kyk, lyk die voorruite en dakke van motors asof iemand met spuitverf besig is. Dit word wasig wit, bou op en vorm ‘n laag oor die motors.

En alles op die aarde. Selfs ons mussies en jasse as ons buite stap.

Die eerste foto is juis vanoggend geneem, ek was skaars drie minute buite om weer foto’s te neem. En moenie stres nie, my hande is warm gehou. En by die huis weer deeglik onder warm water warm gemaak. Ek leer uit my foute

Ons ry lankal op sneeu. Ons stap op sneeu. Die aarde om ons is al van Mid-November spierwit. Die sypaadjies word gereeld skoongeskaap.

img_3588

Maar dit help min as dit aanhoudend sneeu, soos die afgelope twee dae. Kyk net hoe diep het die sneeu deur die nag geval. En kyk net die voetpaadjie wat ons daardeur stap.

img_6638

Foto 20/2/2020 voor Da Vinci-restaurant.

Gistermiddag het ek nog op ‘n skoon sypaadjie gestap!

Sommige strate se sneeu word afgeskraap, sommige paaie kry ‘n laag sout om die sneeu te smelt. Die pad en sypaadjies self sien ons nie sommer weer nie. Behalwe waar motors voortdurend ry.

Foto: 15/02/2020.

Dit is ‘n hoofstraat in Öskemen, die een na ADK waar ons soms gaan medisyne en kos koop. Die sneeu waai soos stof rond wanneer motors oor hulle ry.

Sommige sneeuvlokkies is effens groter, dwarrel ook af aarde toe. Speels. Soos kinders? Dalk eerder soos ek die lammetjies op die plaas onthou. Huppelend en nie in formasie nie.

Sommiges gaan eers weer teen ‘n spoed in die lug op, asof hulle nog nie deel van die sneeulaag wil word nie. Maar dan daal hulle weer af. Almal wat nie op vensterbanke en telefoondrade en dakke gaan lê nie, daal dwarrelend stadig af tot hulle die aarde wit kan maak.

Foto 20/2/2020 van ons een vensterbank.

Die sneeuvlokkies is so klein dat hulle sowaar deur die gaas kom. Om teen die venster te kom lê.

Net so mooi soos sneeuvlokkies is, net so moeilik is dit om dit af te neem. Vra my. Terwyl hulle val, lyk hulle op my video’tjies swart of grys. Hulle is egter, glo my maar, spierwit. Ragfyn. Ek neem gereeld foto’s in ‘n poging om dit regtig vas te vat.

En toe help die Here my gister en vandag om hierdie foto’s te neem voordat die plasing deurgaan.

Met sneeu soos ek beskryf het …

Foto 20/2/2020, sneeustorm.

Mooi datum is dit nie? As jy mooi kyk, kan jy die wit sneeuvlokkies sien.

Soms is die sneeuvlokkies groter, baie groter. Nie soos groot druppels nie, want die goedjies het mos stekelrige punte. Hulle haak aan mekaar vas en dan sweef sommiges groter as ander deur die lug.

Om ook aarde toe te dwarrel. Amper soos velletjies ragfyn papier. Hulle dartel ook op en af en heen en weer en sak so stadig aarde toe. Want dit is waar hulle wil wees. Om alles, soos die Heer se genade, onder toe te vou.

Ek het hierdie video’tjie ook gou geneem, dus ook op 20 Februarie 2020.

Video van sneeu 20/2/20 vanuit ons woonstel op die 8ste vloer. Mens sal sweer dit is muggies soos hulle op en af beweeg.

Dit is asof die Here dit geniet het dat ek bietjie oor die sneeu skryf, sedert gister val die sneeu baie en genoeg vir video’s en foto’s vir hierdie joernaalinskrywing.

Dankie Liewe Heer.

Die vallende sneeu laat my aan herfsblare in die wind dink. Miniformaat en eenkleurig. Die video is nie geredigeer nie, dus hoor jy die voëls, hulle is lief vir die sneeu. En die skraapgeluide is mense wat die sneeu voor hulle garage wegskraap sodat hulle kan ry.

img_6600

Foto 20/2/20 vanuit ons woonstel geneem. Kyk hoe skraap daardie vrou die sneeu voor die garage weg. My hande sal dit nie vat nie, ek is mos volgens my een Qazaq vriendin ‘n “tender African flower …” Ek sê jou, voordat ek dit doen, bestel ek ‘n taxi. Daardie werkie sal ek doen wanneer die son weer skyn … Vir haar gaan ek nie hier verkeerd wil bewys nie.

Hierdie sneeu val vyf dae voor manlief se eerste verjaarsdag in Qazaqstan. En hoe verskil ons verjaardsae net nie? My eerste verjaarsdag verlede jaar Augustus hier gehad. Syne in ‘n wit landskap, myne met blommetjies waar die sneeu nou dik opgestapel lê.

Die meeste sneeuvlokkies val nie teen ons huise se vensters nie, hulle gaan land speel-speel op die vensterbanke. Het seker iets teen vensters, want die vensters is baie groter as die vensterbanke. Hulle dwarrel rond soos fitterige meisies. Dwaal rond tot hulle ‘n geskikte plekkie het waar hulle wil gaan lê. En dan word vensterbanke sommer vinnig wit. Net om my verkeerd te bewys, het ‘n paar van die vlokkies sowaar vandag teen die ruit kom rus om druppels teen die een ruit te kom maak waar hulle vasgedwarrel het.

Foto 20/2/2020. Kyk hoe hoog het die sneeu teen die venster opgehoop. En dit hoop steeds op … Ons skat dit het al 25cm diep vir die dag geval, ek dink dit gaan veel meer word want die sneeu val steeds en dit is al 11 uur in die oggend.

Ons het die voëls so jammer gekry toe sommiges van hulle besluit het om in Qazaqstan te bly, hulle gaan nie verder na sonskyn soek nie.

Hoe oorleef hulle in die koue? Hulle kuier langs die rivier.

Foto 7/02/2020. Die twee het by my kom sit. Ek het die boodskap blykbaar nie gekry nie, want ek het niks saamgevat nie. Hulle soek kos! Sal volgende keer broodkrummels saamvat. As dit sneeu, sweef hulle tussen die sneeuvlokkies deur.

Foto 19/02/2020. Nou weet ek hulle geniet dit, hulle speel soos kinders in die lug wanneer dit sneeu, so tussen die vlokkies deur. So asof hulle self veertjies is. Dalk kry hulle ‘n sneeuvlokkie of twee in? Ek neem aan dit is nie so koud soos die sneeu wat op die aarde lê nie?

In ‘n sneeustorm sweef die sneeu steeds, maar hulle daal dan net vinniger aarde toe. In groter hoeveelhede. En hulle is heelwat groter, dartel minder rond. Hulle het ‘n werk om te doen. ‘n Passie om uit te leef. Om alles, maar alles, toe te vou.

Dan kan mens nie ver voor jou uit sien nie. In motors is dit gevaarlik, want hulle gaan plak aan die ruite vas. As mens weer hoor, het die sneeuvlokkies ‘n hele pad toegeval. So diep, dat mens se brein dit nie regtig wil verstaan nie.

Ek het aanvanklik gedink dat sneeu nie veel skade kan aanrig nie. Dit val mos maar en lê waar dit lê? Behalwe natuurlik teen hellings in berge, waar hulle avalanche vorm en teen ‘n spoed teen die hellings afgly. Maar daardie is ‘n ander saak.

Nou weet ek dit kan baie skade aanrig. Sneeu wat hier by ons by ‘n oopgroefmyn teen die helling afgegly het, het een van die werkers begrawe. Sonder die sekuriteitskameras sou hulle nie geweet het waar om hom te soek nie. Ongelukkig is hy oorlede.

As mens nie na die waarskuwings op jou foon lusiter nie, kan een sneeustorm jou motor onder die sneeu wegbêre. Op ‘n hoofpad. Omdat jy moet stop omdat jy nie kan sien waar om te ry nie. En niemand wil van die sneeu afgly nie. Maar ook in parkeerareas. Ons kry videos en foto’s van mense wat in sneeu vasgeval het. En uitgegrawe moet word.

En glo my, as die weervoorspeller sê dit gaan sneeu, wil ek nie op ‘n pad tussen hier en nêrens wees nie. Ons weet wanneer dit gaan sneeu, ons toeps stuur selfs boodskappe na ons fone toe om ons te waarsku. Paaie word so vinnig soos blits toegemaak. Nou die dag was die hele hoofweg tussen ons en Almaty toegemaak. Duisend kilometer ver. Kan jy dit oorvertel?

Het ek al vertel dat die groter dorpe so 200 – 300 km van mekaar af is? Waar oornag mens as die sneeu jou langs die pad vang? Die gehuggies lyk soos mense se huise, ek sien geen B&B’s en hotelle nie. Geen advertensies van so iets langs die pad nie. Jy is op jou eie. In jou stryd met ‘n wit massa wat jou graag wil toegooi. Om alles mooi wit en glad te maak.

Soos vandag. Spore en wiele se spore is mooi gladgemaak deur die nag.

Om almal vanoggend van voor af te laat begin om hulle spore te laat. Ewigdurende stryd tussen mens en natuur. En hoe dik lê die laag sneeu weer op die dakke.

Dit het verlede jaar in Meimaand nog steeds gesneeu. Nou wel net sulke kort uitbarstinkies wat amper dadelik weer begin smelt het. Maar dit het toe nog gesneeu. Die laaste stuiptrekkings van ‘n moedswilllige yskoningin.

Volgens die inwoners het ons vanjaar ‘n onnatuurlik-warm winter beleef. In Desember 2018 het die temperatuur lank onder die -20’s gedaal. En geneig na -30 en meer. Daar was ook minder sneeu.

Hierdie jaar was dit baie warmer en saam met die warmer temperature kom meer sneeu. Sou dit regtig, soos mense beweer, met aardverwarming verband hou? Of is dit maar net El Niño en La Niña wat ook hier hulle deel doen om die natuur te beïnvloed.

Natuurlik moes ek nou eers gaan oplees. As die seewater warmer as normaalweg is, ontwikkel El Niño en wanneer dit kouer as normaalweg is, ontwikkel La Niña. Hierdie twee sisteme beïnvloed weerpatrone wêreldwyd. En die Amerikaners kan seker na ons temperature kyk, want hulle is ‘n hele twaalf ure agter ons. Hoe vreemd klink daai? Dat Amerika, wat dink hy is met alles voor, eintlik 12 ure agter Rusland is …

Die warmer seewater wat met El Niño gepaard gaan, veroorsaak dat die lug in die winter vogtiger is en dit veroorsaak dus meer sneeu in die winter in die noordelike halfrond. Lees gerus hierdie artikel oor die effek in Washington. Ek het die grafiek hieronder daar geleen.

Uit die grafiek kan nie afgelei word dat aardverwarming die oorsaak vir meer sneeu is nie. Die verskil in sneeuval tydens ‘n sterk en ‘n swak El Niño (warmer seewater) is baie klein en dit sneeu ook minder as tydens ‘n matige El Niño. Alhoewel die meeste sneeu tydens ‘n matige El Niño val, val die tweede meeste sneeu tydens ‘n matige La Niña, wanneer die seewater kouer as gewoonlik is. Dit sneeu ook meer tydens ‘n matige La Niña (seewater kouer as gewoonlik) as tydens ‘n sterk of swak La Niña. Daaruit kan dus nie afgelei word dat aardverwarming ‘n effek op meer sneeuval uitoefen nie omdat beide kouer as normaal en warmer as normaal seewater meer sneeuval veroorsaak.

By ons sneeu dit wel as dit koud was en dan warmer word. Volgens die literatuur gebeur dit wanneer warmer lug tussen die kouer, sneeudragtige lug inbeweeg.

Maar, ek het opgemerk dat die warmer weer met sonskyn gepaard gaan. Dit is die dae wanneer die son dit regkry om deur die wolknewels te breek om die aarde warm te maak. Ek het raakgelees dat die hitte van onder wel sneeuval veroorsaak. Ek sal bietjie volgende keer oor die impak van sneeu op tempartuur gaan oplees. Wat ons wel vind, is dat dit baie kouer is wanneer die sneeu ophou val. En ek toevallig raakgelees dat dit is omdat die atmosfeer sy hitte gebruik om die sneeu te laat smelt.

Wel, die teenoorgestelde gebeur daarna, want die smeltende sneeu word bevrore ys soos wat dit kouer word.

Foto 8/2/2020. Kyk hoe lyk die opgehoopte sneeu langs een straat. Glad soos seep teenoor die vars sneeu waaroor ons gemaklik kan stap terwyl dit onder ons skoenskole kraak.

Vreemd om so daaraan te dink. Die warmer weer veroorsaak dat dit makliker sneeu. En dan is dit weer koud. Sodra dit warmer word, sneeu dit weer, dan begin die siklus van voor af. Wat mens wel in gedagte moet hou, is dat daar vog in die lug moet wees om presipitasie (reën of sneeu) moontlik te maak. En daarvan het ons die hele jaar genoeg. Daar val elke maand een of ander vorm van vog uit die lug. Hier in Qazaqstan is nie ‘n tekort aan water nie.

Kan jy glo? Lees ek nou raak dat die sneeu ‘n geïsoleerde laag waaronder plante en diere die koue kan oorleef! Ek het dan gedink dit vries die gras, maar nee, dit vorm ‘n beskermende lagie!

Wat sneeu op die aarde betref, kry mens blykbaar droë sneeu (ha-ha-ha), nat sneeu en tussen-in sneeu. Ons s’n is droog, daarom waai dit soos stof weg as die wind daaroor waai. Hoe vreemd is dit? Dit is miskien ook waarom ek nog net een sneeman hier gesien het. Wat nie naastenby so groot is soos die een wat ons in Welkom gebou het nie.

Ook nie so mooi nie. Tog moes die sneeu ten minste van die tussenin soort gewees het om aan mekaar vas te plak dat die sneeuman gebou kan word.  Nat sneeu kan sneeuballe vorm as mens dit saamdruk en tussenin sneeu is nie nat-nat nie maar kan ook nie wegwaai as die wind daaroor waai nie. Ons sneeu is dus so bietjie droog vir sneeumanbou? Ek dink nie so nie, dit is seker eerder dat hulle so gewoond aan sneeu is dat hulle nie meer sneeumanne bou nie?

Die sneeu om hierdie sneeuman is al ongeveer ‘n meter diep.

Ons sneeu is egter ongelooflik mooi. Dit is spierwit, maar, as jy teen die regte hoek kyk, dan sien jy blinkertjies in hulle.

En lyk dit nogal blouerig. Glo my maar, daardie is skaduwees. Sneeu is spierwit. Hierdie foto is op ons stoepie geneem. Kan jy sien hoe los is die sneeu van mekaar? Amper soos soutkristalle.

Hier het ek hulle so bietjie deurmekaar gekrap. Net om te wys, dat hulle nie aanmekaar vassit nie, hulle bly individuele kristalletjies. Van ys.

Terwyl ek nou tussen gister en vandag gesit en skryf het, het my vensterbank weer spierwit geword. Ek moet dit altyd afneem.

Die sneeu het na die daglange sneeu weer teen die vensters begin opbou, dit moet al weer lekker dik buite wees.

img_6591

Foto: Vanoggend 20/2/20.

Toe is ek eers uit om foto’s te neem.

By ons val dit nie so dik op ‘n slag nie, ek skat 10 – 30 cm is die dikste wat op een slag geval het.

Ek het egter al foto’s van ander plekke gesien waar mense hulle voordeur die oggend oopmaak om in ‘n muur van sneeu vas te loop! Asof die deure toegebou is deur die nag.

Dit verklaar waarskynlik waarom al die ou geboue se deure na die woonstelle ongeveer ‘n meter bo die grond is, met trappies boontoe. Plek vir die sneeu om op te hoop voor dit by huise se deure wil in …

Ek moet eerlik wees, so ‘n gesig sal my spoed breek. Hoe kom mens buite? Die sneeu is dan dieper as wat jy lank is. En glo my, daarop kan jy nie loop nie. Ons voete sak in die 20cm weg … Toe maak ek vanoggend my stoepdeur oop …

img_6622

Foto 20/2/2020. En wat wag my in? Sneeu wat stadig maar seker besig is om teen die deur op te hoop. Ek dink ek skrik my uit my geweste as ek na die deur toe stap en sien dat hy al goed besig is om toegebou te word.

Die lagie voor die vensters word ook al hoe hoër.

 

En kyk hoe druk dit lagies soos wat dit swaarder op mekaar druk.

Ek het ook al foto’s gesien waar motors buite oornag onder ‘n laag sneeu gelaat word.

Dan gaan jy mooi moet onthou waar jou motor gisteraand was. Om dit weer op te spoor.Ek hoop jy het die foto’s geniet. En die vertelling. Gesels asseblief saam …

Ek sing saam met Dean Martin: Let is snow, let it snow, let it snow …

11 gedagtes oor “Sneeuvlokkies in Qazaqstan

  1. Terug pieng: Sneeu96 – WhimSickle
  2. Baie, baie interessant. Julle is baie dapper om al die sneeu te trotseer.

    Liefde en warmte vir jou!

    On Thu, 20 Feb 2020, 07:00 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: “Kyk ek dreig nou lankal om hierdie een te > skryf. Daarom gaan ek so bietjie van my navorsingsartikel vergeet en eers > hier konsentreer. Om oor sneeuvlokkies te skryf. Vergewe my maar. Almal > weet seker teen die tyd dat ek ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaan” >

    Like

      1. Wanneer gaan die lente dan nou uiteindelik daar by julle finaal aanbreek? Is die lente daar ook so mooi soos op die hoëveld?
        Ons bly op die hoëveld, maar ons dorp, Middelburg, lê meestal in ‘n kom. Die humiditeit en hitte in die somer is baie erg. So, ons soek nou net waaiers en water en ys!

        Baie liefde!

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.