Mens dink mos maar jy is nie beïnvloedbaar nie. Jy is ‘n mens op jou eie, ander word beïvloed, nie jy nie …
Tog vind ek gereeld uit dat ek baie beïnvloedbaar is.
Net anders as wat ander mense beïnvloedbaar sou beskryf.
Dit word mos eerder in ‘n sin gebruik waar kinders deur maats beïnvloed word om te rook en drink. Of dwelms te gebruik.
Of vir mans wat nie vir hulle maats by die gholf totsiens kan sê nie. En eerder by die 19de gaatjie verder kuier. Soms seker sommer reeds tussen die 9de en 10de as hulle nie lekker speel nie. Daar praat ek nie uit ervaring nie, my manlief kom na sy gholf huis toe, as ek nie sommer saam gestap het nie.
Tog is ek beïnvloedbaar deur dinge wat om my gebeur, sonder dat ek bewustelik daaraan aandag gee.
Ek het al agtergekom dat ek my vir elke persoon op die pad vererg. Dink dat hulle skape is, nie kan bestuur nie en nie weet watter kant van die pad hulle moet ry nie. Dit, terwyl ek rustig opgestaan het, niks my gejaag het nie en ek eintlik in ‘n goeie bui was tot ek agter die stuur ingeklim het.
En dan tref dit my. Die musiek in die kar beïnvloed my bui.
Seun of manlief het my kar bestuur. En my musiek verander. Manlief s’n kan nog gaan, maar seun se radiostasies speel ‘n ander soort musiek. Nie die Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Jak de Priester soort musiek waarna ek in my kar luister nie. Nee radiostasies. Onbewustelik het die wilder musiek ‘n uitwerking op my gemoed. En as ek weer sien is ek sommer vir almal op die pad kwaad.
So kom ek vandag agter dat ander se kwaai joernaalinskrywings my ook beïnvloed. Ek het rustig opgestaan, alles teen my eie pas gedoen en toe lees ek eers van my die joernaalinskrywings wat ek volg.
Die skryfster het haar mening gelug oor iets waaroor sy baie sterk voel. En sommer geskryf dat mense wat nie saamstem nie, moet vergeet om kommentaar te lewer.
Later die oggend toe ek my eie inskrywing begin, kom ek agter dat ek kwaai is. Kwaaier as wat ek regtig oor die saak voel waaroor ek wou skryf. Sommer ‘n ongeduringheid in my het.
En dit het so gegaan …
“Ek het vanoggend heel rustig opgestaan, eintlik half pap want ek het met ‘n baie seer keel opgestaan. Ons het nie die lugbevogtigermasjien aangeskakel nie en die droë lug het ons albei se keelgate rou-seer gemaak. Ek het in die nag opgestaan om ‘n glas water te drink, maar dit help nie so dadelik nie. En half deur die slaap nie agtergekom dat die masjien nie werk nie.
Dit is manlief se werk om die masjien snags vol water te maak, ek dink ek sal ter wille van my keelgat die werk moet oorneem. Want ek kan nou regtig vertel hoe dit voel as jou longe dink dat jou keelgat afgesny is.
Die seer keel herinner mens daaraan om nie weer te vergeet nie. Ek was dus half geïrriteerd. Met die seer keel, nie noodwendig met manlief nie. Ek kan mos self water ingooi, moet die taak net oorneem en aangaan asof dit nog altyd my werk was. Dit is nou te sê as ek nie in die nag met so ‘n droë slukderm wil wakker te word nie.
Ek het saam met manlief in die sitkamer gesit waar hy gereed maak om werk toe te gaan. Hy lees op sy nuustoep (wat my grensloos irriteer omdat hy dink dat hy kan multi-task, maar nie kan nie en dus ook nie hoor en sien wat om hom aangaan nie). Ek hou myself nou maar liewer besig as hy nuus lees.”
Toe ek besef hoe geïrriteerd ek skryf, oor iets wat my glad nie so baie irriteer nie, het ek besef dat die oggend se storie wat ek gelees het steeds op my inwerk.
Toe gaan staan ek eers by die venster. Om by die venster uit te kyk na wat die natuur vandag weer vir ons inhou. En daarna gaan sit ek doelbewus om oor iets anders te skryf. Dit het nie veel gehelp nie.
“Die son het vanoggend hard probeer om die yskoningin weer weg te jaag. Want hy het die naweek hard probeer om die sneeu te smelt.
En toe is die yskoningin in haar element. Giggel om die hoeke van geboue en maak sulke spookgeluide terwyl sy die wind aanjaag om die sneeudragtige wolke oor die stad te kom neerplak om alles weer in wit te hul.
Daarna jaag sy die wind oor die sneeubedekte aarde aan om alles mooi goed koud te maak hier waar die sneeu alweer sentimeters dik lê.
In die haas om die koue oor ons te bring, het sy bietjie te vinnig te werk gegaan en steek die son vanoggend sy kop oor die berg uit om in ‘n bykans wolklose hemel sy gang te gaan.
En die son het skynbaar nou sy angel teruggekry, want dit skyn vanoggend met passie in die huis in om die huis te warmer te maak as wat die waterverwarmers langs die mure dit reeds gemaak het.
Ook maar goed, want dit is sowaar al weer -28°C.
Dit is hoe vinnig die temperatuur hier vanaf die plusse tot diep negatiefs daal”.
Hoe sê die Engelse? “I rest my case ….”
Nou lees ek ander joernaalinskrywings saans. Wanneer manlief die laaste nuus van die dag lees. En ek lekker kan lees. Sonder dat my onbewuste bui op my joernaal tot uiting kom.
Ek kan hier saampraat, Christa. Ek is baie versigtig met waarna ek kyk, luister en lees. Het jare gelede reeds besef my bui word daardeur beinvloed.
LikeLike
Sjoe Una, en voor mens weet is jy kwaaier as wat jy wil wees. Ek probeer nou daaraan werk. Daarom is ek ook maar versigtig wat ek lees. Of liewer, hoe ek daarna optree as klein dingetjie my irriteer
LikeLike