Gepubliseer in Joernaal

Speelgoed as kinders

Twee van my blog vriendinne skryf die week oor hulle speelgoed as kinders. Ek het dit so geniet. En dit het my teruggeneem na my eie kinderjare. En my babapop.

Daardie tyd was babapoppe groot poppe met stywe arms. En stywe bene. Ongemaklike poppe. Hulle arms en bene kon so bietjie beweeg. En hulle oë.

En en my sus net jonger as ek het elkeen so groot babapop die een kersfees gekry. En ons was vreeslik ongelukkig omdat die middelsus ‘n pop gekry het wat kan loop. Want ons poppe kon net lê.

Ons was egter lief vir ons poppe. Ek onthou die reuk van my pop. Mens kan daardie lekker reuk nie eintlik beskryf nie. Soms kry ek dit in speelgoedwinkels as ek na die poppe kyk. En hulle nader aan my hou.

Iets soos plastiese poeier. As mens dit so wou beskryf.

Maar koop word dit nie gekoop nie, want sien, ek het net kleinseuns.

En hulle ruil ek vir niks nie. Hulle is my hele lewe, my hart se punte. Die drie weet nie hoe mens met ‘n pop speel nie.

My babapop is nog in my huis. Het dit iewers in my later jare by my ma gekry. En ‘n rot het op die plaas aan haar voet geknaag. Voor ek haar weer moes vat. Sy dra ‘n babygrow om die mismaakte voetjie weg te steek.

Toe ons in Julie gaan huis oppak het, moes babapop ook gepak word. Ek het haar bo uit die kas gehaal waar sy verwaarsloos gelê het.

Toe hoor ek dat my dollatjie vir haar bang was in haar tienerjare. Oor ‘n fliek waarin die pop kan loop en moor. Ag tog, is dit nou ‘n goeie ding dat ek daardie fliek se naam vergeet het?

Voel soos Charlie? Nee ek dink dit was Chunky? Wag net gou, ek moet nou eers gaan Google! Ja, dit is sowaar reg. Chunky het my ook laat wakker lê. Maar my pop lyk nie so nie.

Ek het die pop uit die kas gehaal. En op die bed neergesit. Om gepak te word.

Ek het al vertel dat my kleinkinders my help huis oppak het.

Ek het nie vertel dat hulle my babapop nie mooi sag hanteer het toe ek in die kamer inloop nie.

Hulle het haar vir mekaar gegooi!

O my word, my hart het so klop of twee gemis. Sy kan nie sommer breek nie. Maar dit was my pop. En sy was amper so oud soos ekke.

Ek het haar gekry voor ek standerd 4 was. En dit is baie, baie lank gelede. Ek kan nie eers onthou of sy ‘n naam gehad het nie. Ek dink sy het dalk. Maar ek kan nie onthou nie. Maar my kleinkinders kon haar nie gooi nie.

‘n Ander gunsteling speelding was ‘n popwaentjie.

Blou, die boonste deel van riet gemaak. Gevleg. Te klein vir ons babapoppe. Maar nie vir ons katjies nie.

Tot my ma se groot ontsteltenis is babaklere vir die poppe aangetrek. En dan het die katte op hulle ruggies in die waentjies gelê en aan die pop bababotteltjies gesuig. Regtig! Ons was baie oortuigende mammas toe ons klein was.

Ek onthou ook dat ons papierpoppe gehad het. Maar het dit eers onthou nadat ek hulle vertellings gelees het. Hulle klere het sulke klein deeltjies gehad wat oor die poppe gevou het. Soms het dit afgeskeer. Dan was die klere nutteloos. Ons het ook klere self gemaak.

En as jy nie mooi verpak nie, is die pop ook nutteloos as sy buig en nie weer wil staan as jy haar laat staan nie.

Ons poppe het mevrou mevrou met mekaar gespeel. En ons sussies het nie die kuns van buikspreek geken nie. Dit was meer iets soos ‘n gefluister deur die tande, maar ons het ure omgespeel.

Later het langbeenpoppe gekom, met lywe soos grootmeisies. Ek sien Barbie is op 9 Maart 1959 gebore. Sy was al in die wêreld voor ek gebore was. Maar peperduur. En met vyf dogters kon my ma ons nie met haar bederf nie.

Maar ons het nie omgegee nie. Ons maats en ons niggies het ook nie Barbies gehad nie. En haar klere het wel vir ons poppe gepas. Dus het ons so nou en dan ‘n kledingstukkie gekoop, maar meestal het ons in my ma se afvallappiekis gaan soek, bypassende gare en knope gekry en self die rokkies vir ons poppe gemaak.

Ons het ure lank met ons langbeenpoppe onder die lukwartboom gespeel. Met hout en bakstene en wat ons ookal kon kry, tafel en stoele en bed en spieëlkas en goed gemaak. Dat hulle ook meubels het.

Ek kan nie veel ander speelgoed onthou nie. Daar was blokkies om te bou en so aan, maar daar was nooit karretjies in ons huis nie.

Daarom het ons, as ons by ons baie nefies gaan kuier het, met hulle karretjies gespeel.

My groot gunsteling was nie my speelgoed nie. Dit was boeke.

Daar was min goed so lekker soos om eerste in my klas te staan. Want dit het met boekpryse gepaard gegaan.

Een van die boeke wat ek die meeste geniet het, was die Huis in Sonneblomstraat. En juffrou Google weet nie eens van die boek nie!

Ek sien Ena Murray het een oor Sonneblomstraat 7 geskryf. Maar dit is nie die boek nie.

Die huis was baie ontsteld omdat sy verkoop gaan word. En toe probeer sy kopers bang maak om haar nie te wil hê nie. Toe dit nie help nie, loop sy weg. En die eienaar het net ‘n gat in die grond waar die huis was. Dit het darem ‘n gelukkige einde gehad.

In my hoërskooljare het ek ‘n dik boek oor die Drakensberge van die skool gekry omdat ek die beste in Geografie presteer het. Was nogal Engels. Vir hierdie boeremeisie vir wie Engels slegs in die Engelse klaskamer saakgemaak het. So lekker dik boek. Wat nou die dag saam verpak is.

Tot ons weer teruggaan. Dan sal di twee boeke weer ‘n ereplek op my boekrak kry. Dan is dit ook tyd om baie van my boeke aan ‘n biblioteek te skenk.

Boeke is nie speelgoed nie!

foto: Pinterest, sal vervang met foto van my pop as sy eers gebad is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Speelgoed as kinders

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.