As ‘n muis nie wil hoor nie …

Hierdie bloginskrywing vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die vertellers uitgedaag word om ‘n klomp vetgedrukte woorde te gebruik om ‘n humoristiese storie te vertel.

In myne word die waarheid met die naarheid vermeng. Lees dus met ‘n groot knippie sout tussen die lagtrane heen … Hmmm, ek hoop jy lag, anders het ek die bal misgesit …

***

My pa en die meeste van my ooms was so ekkerig, jy weet mos wat dit beteken? Dit is daardie soort mense wat glo ek-doen-dit-sommer-self, dan weet ek dit is reg gedoen.

Goeie mense. Sout van die aarde. Maar, dit skep ‘n probleem as twee ekkerige mans saam in ‘n garage aan ‘n kar werk.

So staan my pa die een dag by sy oudste broer in die garage op die oom se plaas. My pa moet net kyk, hy mag nie help of raadgee nie. En hy moet aangee.

Alhoewel my pa self ekkerig is, het hy nie sommer ingemeng as sy oudste broer sê dat hy iets self kan doen nie. Veral nie omdat my pa die agste, of is dit nou die negende? kind was nie.

Want sien, met soveel kleiner boeties en sussies het sy oudste broer nie nonsies van kabouters gevat nie. Hy het net so maklik soos oupa en ouma ‘n oorveeg uitgedeel.

Dus het my pa, al was hy toe al self die pa van vyf dogtertjies, geluister as oom Ouboet daar van onder die kar die name van goed uitskree wat aangegee moes word. Om die kar weer aan die gang te kry.

My oom het nie baie woorde gebruik nie, hy en my pa het mekaar goed geken.

As hy sleutel skree, het my pa teen die tyd al geweet hy praat nie van die kar se sleutel of die huis se sleutel of enige ander sleutel nie. Want sien, my pa het geweet hy soek die moersleutel as hy onder die kar werk. Daardie een wat boute losdraai. En weer vas natuurlik.

Dit is toe my pa die sleutel raakvat, dat hy ook ‘n muis raakvat.

Nou kyk, my pa het geweet dat my oom vir niks bang was nie, behalwe vir muise. En my pa sal dit nooit erken nie, maar hy is ook bang vir muise.

Hy en die twee kraalogies het mekaar so verskik in die oë gekyk. My pa het albei laat los, die muis en die moersleutel.

Omdat die moersleutel baie swaarder as die muis was, het dit die garage se vloer eerste en kletterend getref.

Die muis het sy alie afgeskrik en die eerste beste wegkruipplek gesoek. Voor my pa dit nog kon probeer wegja, het die muis links geswaai en is die muis woerts by my oom se langbroek se een pyp in.

My oom is soos blits onder die kar uit. Hy het die muis so in een beweging probeer keer om hoër as sy knie op te hardloop.

Maar die muis wou nie rede verstaan nie. Hy wou op! Weg van die moersleutel wat steeds geklingel het.

En dit was ‘n gesukkel, want daardie tyd het die boere se broeke baie los om die bene gesit. My oom moes hier keer en daar keer om die paadjie hoër op te sluit. Om die muis te stuit!

My oom het die muis uiteindelik vasgevang en gesmoor vir al wat hy kon.

Maar die muis was ‘n kanniedood. Dit het soos ure gevoel voor die egalige gedruk veroorsaak het dat die arme muis die aarde groet.

My pa het die hele petalje eweso gade geslaan. En nie gelag nie. Al het hy gesukkel om sy lag te bedwing toe die arme muis soos een van daai bloedlose fossiele uit die broek geskud word. Toe my oom die broek uitgepluk het.

Want sien, die essens van die saak staan so. Jy lag nie voor jou ouboet vir sy sorge nie. My pa het iets van broek gaan haal gemompel voor hy vinnig uit is om ‘n skoon broek te gaan haal. En al die lag uit te lag voor hy teruggaan!

Adoons, die helper by die beeskraal, moes die broek wat vol blertse van die arme muis was, eers by die krip gaan afspoel, voor dit na ou Sanna geneem is om gewas te word.

Adoons en Sanna is die dood voor die oë gesweer as hulle daaroor sou praat. Vrou en kinders moes niks daarvan hoor nie.

My pa het ‘n ander broek in die huis gaan haal, sonder dat een van die vrouens ‘n tikseltjie agterdogtig geraak het.

Die broek is sommer bo-oor syne aangetrek. Dat niemand iets agterkom nie. Hy het die geheim goed by my oom se huis goed bewaar, want hy het die groeipyn reeds beleef, al sou sy broer nie meer waag om hom ‘n oorveeg te gee as hy sou nie oorvertel nie.

Die twee is daarna in die kelder in. Om van oupa se doepa vir die senuwees te drink.

Die middag op pad huis toe, was kon my pa nie wag dat ons vyf dollatjies lomerige dollatjies raak nie. My ma moes elke nou en dan loer of ons slaap.

Ek het in die kantspieëltjie my pa se glinsterende oë gevang. En ek het geweet, hier kom ‘n storie wat nie vir husse met lang ore bedoel is nie. Toe maak ek my oë toe en maak of ek slaap. Het sommer so ligte snorkie ingesit.

Toe my ma dink sy is seker dat almal slaap, dat dit lyk of ek slaap, hoor ek hierdie storie toe my pa dit oorvertel.

Die twee het lekker gelag en my ma het uitgeroep:

Slaat my dood met ‘n slap snoek!

Regtig, hierdie is nie ‘n klug nie.

***

Onthou net ek het ‘n ryk verbeelding, ek kon vreeslik aangedik het. Moes baie aandik om al die woorde van die bloguitdaging te gebruik. Die basiese feite is reg, soos my pa dit aan my ma oorvertel het. Ek het nog nooit in my lewe so gesukkel om my lag te bedwing nie. Want ek het mos kastig geslaap.

Hierdie staaltjie het my sommer lekker vol heimwee gemaak. Ek was en is besonder lief vir hom, tannie Ousus en my neefs en niggies aan sy kant, al was hulle heelwat ouer as ons kinders omdat my pa baie jonger as my oom is. My oom is onlangs in ‘n rype ouderdom van meer as 90 jaar oorlede. My pa is vir ons gespaar en is al diep in die 80’s.

‘n Muis is wel so voor my pa se oë in my oom se broekspyp se binnekant op. En my oom het geen ander keuse gehad as om die muis pap te druk nie. Die muis wou op, het geweier om om te draai!

Foto-krediet: Ricky Kharawala, unspash.com

22 comments

      1. Dankie Vuurvliegie, ek het die uitdaging geniet. My brein is besig met aansoek vir NRF gradering as navorser. En ek moet ‘n hele paar narratiewe skryf. Dit is tydrowend, dus het ek my brein vanoggend in ander rigting gestuur voor ek weer begin het daarmee. En dit baie geniet. Kon sowaar elke woord inpas. Al moes een of twee verbuig word.

        Like

      2. Nee jong, en dit is waar die knoop sit. Ek is nie so goed met brag nie, ons is geleer om nederig te wees. En nou sit ek met dié dilemma. Moet oortuig dat my werk belangrik is. Dit is vir my wel baie belangrik. Maar ek moet ander oortuig. My CV het so met tyd ontwikkel. Omdat ek navorsing geniet.

        Liked by 1 person

  1. Nee hoor….jou pa kon maar die medalje gekry het vir “pose” hou, want ek sou nie so besadig gebly het nie…..kostelik

    Like

  2. Ek het nou lekker gelag vir die toneeltjie wat jy geskets het. Moenie dat die aandikkery jou gewete pla nie. Mens mag nie toelaat dat feite in die pad van ‘n goeie storie staan nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.