Ek het ‘n nuwe liefde ontdek. Sitrustee. Mens kry tot sakkies met pomelotee. Van Tess.
Maar toe ontdek ek ‘n piepklein koffiewinkeltjie. Eintlik ‘n container wat in ‘n koffiewinkeltjie omskep is. Wat wegneem koffie en tee maak. En sitrustee.
Sy gooi sitrusstroop in die koppie, dan ‘n skyfie pomelo en dan ‘n teesakkie. En dan gooi sy kookwater oor. O my jitte, ek betaal die 690 tenges vir die koppie wegneemtee met ‘n glimlag!
Ongelukkig is dié stroop nie in die winkels te koop nie. Dit moet ten duurste van Almaty bestel word.
Maar ek het mos vir Thermie hier. En manlief het baie moeite gedoen om haar hier te kry. Dus moes Thermie maar weer ingespan word. Om die stroop vir my te maak.
Ek het resepte op die internet gesoek, aangepas met Mia se chefsuster se raad dat daar zest in moet wees. En Voila! Die resultate is heerlik!
Hier is die resep vir my eerste probeerslag om sitrusstroop te maak. In ‘n Thermie. Dit kan ook op die stoof gemaak word. Jy moet dan net die hele tyd roer. Tot die suiker opgelos is.
Bestanddele
- 1200 g suiker
- 600 g water
- Sap van een groot pomelo
- Sap van een groot suurlemoen
- Sap van een groot lemoen
- Gerasperde skil van die pomelo
- Gerasperde skil van die lemoen
- Gerasperde skil van suurlemoen
So maak mens:
Voeg al die bestanddele saam. Stel masjien as volg op.
Tyd: 6 minute
Temperatuur: 120 grade
Spoed: 2
Maak oop en roer tot onder om seker te maak dat die suiker gesmelt het en stel masjien dan as volg op:
Tyd: 25 minute
Temperatuur: 120
Spoed: 1
Dit lyk so as dit reg is.

Laat die sap afkoel sodra die proses voltooi is. En stel masjien as volg op:
Tyd: 60 semondes
Sooed: 5 en beweeg elke 10 sekondes op met 2 tot dit die laaste 10 sekondes op nommer 10 is.
Dit maak so 1,5 l liter stroop.
Gooi in bottels wat dig seël. Gebruik soos benodig.

As jy nie van die skil hou nie, gooi deur siffie voor jy in bottels gooi. Ek hou van die tekstuur.
Sitrustee met swart tee
Voeg een teelepels van die stroop by swart tee van jou keuse. Jy kan ‘n skyfie pomelo of suurlemoen byvoeg. Drink soos jy daarvan hou.
Pot Sitrus rooibostee
Gebruik twee sakkies rooibostee in plaas van swart tee. Voeg twee eetlepels stroop by. Laat trek en geniet.

Manlief gooi suiker by, sê dit is heerlik. Ek drink nie suiker nie, dus is die 2 teelepels soet stroop vir my genoeg.
Geniet die aroma van die sitrus wat uit die koppie opstoot terwyl jy die tee geniet. En dink aan my, hier in die verre Qazaqstan. Waar ek nie net na ‘n winkel kan stap om ‘n stroop te koop nie. Ek kla nie. Ek geniet die nuwe lewe wat met my Thermomix moontlik gemaak word.
Klink heerlik
LikeLike
Oe, dit is nogal baie lekker. Al moet ek nou self sê.
LikeLike