Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Lus vir potjie skaak in Qazaqstan?

Het ek al vertel? Dat die menu’s in die restaurante in ons stad in Russies is? Ek neem aan jy het dit so verstaan, want ek skryf gereeld dat Russies hier in Qazaqstan gepraat word.

Ek skryf ook dat baie min mense Engels verstaan. Engels is eers onlangs in skole ingebring. Met ‘n slag, waarvan ek later sal vertel. Dus skat ek 99,9% van die tyd verstaan mense nie Engels nie. Veral nie die ouer garde nie.

Wat ook waar is, is dat Russies baie van die mense se tweede taal kan wees. Want die amptelike moedertaal is Qazaq. En Qazaq is ‘n moeilike taal. Van ander afkoms as Russies. Turks. Dus is daar is min ooreenkoms tussen Russies en Qazaq.

Toe ons hier aangekom het en die Russiese alfabet geleer het, het ek die kennisgewingsborde en name van winkels en verkeerstekens gelees. En toe agtergekom dat mens ook daar verwar word.

Want daar het vreemde letters ingekruip. Soos ‘n K met ‘n afstrepie aan die skuinsbeen. En ‘n o met ‘n dwarsstrepie deur die o. Hierdie k word blykbaar tans deur ‘n q vervang.

Omdat die alfabet aangepas word. Om op sleutelborde van rekenaars in te pas. Tans word bykans elke sleutel gebruik. Syfers ook, omdat die Siriliese alfabet meer letters as die Latynse alfabet het. En Qazaq alfabet het meer as die Russiese alfabet.

So was ek baie tevrede met myself toe ek vir manlief se tolk op pad na die tandarts vra wat ‘n токта стоп (Tokta Stop) is. Want sien, ek kon dit al lees. En op baie plekke is wit bordjies langs die straat. Naby verkeersligte, waarop die twee woorde staan. Die een onder die ander.

Hy kan Engels praat, maar haak soms vas. Omdat Engels sy tweede of derde taal is. Dus kan mens nie lekker met hom redeneer nie.

Hy antwoord “stop?” want ek het стоп reg gelees, daar staan stop. ‘n C is mos ‘n valse vriend. Ons ken hom, maar dit word as ‘n s uitgespreek. Daardie pi-agtige simbool is ‘n p. Tokta lees maklik. Ons ken al daardie letters, die Russe noem hulle ons vriende as mens die taal aanleer. Omdat dit soos Engels (en eintlik meer soos Afrikaans) lyk en uitgespreek word.

Ek moet toe verduidelik dat ek stop verstaan, maar nie Tokta nie. En vra weer: “Ja, maar wat is ‘n tokta stop? Met die klem op Tokta. En hy kyk om, asof ek dom is, “stop?” En dit help steeds niks. Ek wil weet wat Tokta beteken. Wat moet daar stop?

Dit is nie by ‘n verkeerslig nie, maar ‘n entjie voor die lyn. Kon nie ‘n stop vir ‘n taxi wees nie, такси (taksie uitgespreek) klink soos Afrikaans. En kan maklik gelees word. Is dit ‘n stopplek vir ‘n bus? Trem? Iets anders? Toe vra ek maar wat die enkele woord Tokta beteken. En hy draai weer om, en kyk ongelowig asof ek heeltemal onnosel is. En antwoord: “stop”.

Jô, dink ek so by myself, en jy dink ek is onnosel? Wie skryf stop-stop op ‘n bord? ‘n Ent van ‘n verkeerslig? Wie moet daar stop? En ek voel ‘n giggel in my opborrel. Seker die spietkop van Leon Schuster? As hy sing: Stop. Stop. Ek is ‘n spietkop.

Die liggie gaan toe eers aan en hy verduidelik verder. Op baie van die verkeerstekens en winkels word beide Qazaq en Russies geskryf. Tokta is die Qazaq vir stop. En my liggie gaan ook aan. Alles wat ek lees is nie noodwendig Russies nie. Gelukkig het die Qazaks ‘n paar vreemde letters tussenin. En sien ek dikwels dat dit wat ek lees nie Russies is nie.

Later vertel manlief vir my die doel van die borde.

Motors mag nie verby die bord stop as hulle by verkeerslig stop nie. Dit is die no-go-zone omdat voetgangers oor die strate stap. Soort van veiligheidsone.

By verkeersligte is daar darem ‘n groen of rooi lig wat die tyd vir die voetgangers aftel. En hulle laat staan of stap. Nie by voetoorgange nie.

Daar is die reël dat motors vir voetgangers stop.

Het ek al vertel van die Qazaqs wat soos skape by die voetoorgange oor die strate stap? Sonder om links of regs te kyk? Glo-end dat die motors gaan stop? Geklee in oorwegend swart, is hulle nie maklik sigbaar nie. Daarom moet mens uiters versigtig wees as jy bestuur.

En hulle kom selfs aangehardloop en woeps oor die straat. Sonder om links of regs te kyk. Want motors moet vir hulle stop. Hier wil ek nie bestuur nie.

Ek verstaan na die eerste koue reëndag in my dik jas waarom. Met my kappie op het ek soos ‘n perd met oogklappe oor die straat gestap.

Glo my, jy moet jou nek omdraai om daarmee links of regs te kyk. Toe ek dit besef, het ek net daar in die straat staan en giggel. Dit is waarom die onus op die bestuurders is. Voetgangers moet die weer trotseer.

Bestuurders sit warm en veilig in hulle motors. Hulle kan maar kyk, my kappie maak dat ek nie kan rondkyk nie. Af kan ek dit nie by voetoorgange haal nie. Dit sous en dit is koud! Hulle moet kyk! En na ses maande in die koue gaan ek seker steeds met oogklappe loop. Al is die kappie weggepak.

Maar, ek stap nie oor ‘n straat voor ek seker is dat die man of vrou doodstop nie. Want sien, hulle stop en kruie na jou toe aan terwyl jy stap. Maak my bloed yskoud. Ek wag liewer rustig tot die persoon verby is. En dan stop hulle met houding! Wys ek moet stap. So ‘n lang teatrale gebaar oor die breedte van die kar. En veral dan wys ek net so teatraal, ry, ek wag!

Nou draai ek maar om, draai my rug, wag tot die persoon gery het. En stap rustig oor.

Ai tog, ek het weer lekker afgedwaal. Ek wil van die menu’s vertel.

Die menu’s is in Russies. Seker maar omdat Qazaqstan voorheen onder Russiese bewind was. Tot so onlangs soos 1991.

Qazaqstan het in Desember 1991 onafhanklikheid verklaar. Laaste van die Stan-kuikens om Moeder Hen se vlerkies te verlaat.

Aangesien niemand Engels verstaan nie, sukkel ons met menu’s. Ons ken nie Russies nie. Die menu’s is in Engels is eers in 2011 in kurtikula ingebring.

Maar, ons verstaan prentjies. En dit help (soms) as daar prentjies by is, om te kies wat ons wil eet.

Soms kry ons verrassings. Aangenaam of onaangenaam.

Soos in Kentucky. Hier is een, sowaar! Manlief staan verskriklik lank in die ry. Dit was ‘n vakansiedag. Ek sit buite op die muurtjie met pakkies. Binne is dit tot oorlopenstoe vol. En ek kry koud, daar was nog sneeu oral. Of sal mens dit ys noem? April vanjaar.

Manlief kies vinnig toe hy voor kom. Mense druk in en bestel as jy nie kan kies nie. Die menu is op die blad by die kassier. Dié op die TV’s teen die muur help niks! Dit verander voortdurend. Die ou verstaan verkeerd en ons gaan huis toe met ‘n paar vlerkies. Nie genoeg vir twee mense nie. Dikbek. En nie lus om weer in die ry te staan nie.

Maande het verbygegaan voor ons Kentucky weer aangedurf het. Kies ‘n bucket. Wys op die prentjie, sê adien (een), trots op onsself omdat dit so maklik een emmer te kon bestel. Vra niks ekstra nie. Toe nie.

Hy brabbel in tale, ons verstaan nie. Hy sê iets soos njet en ons verstaan daar is niks. Regtig? Hy blaai deur en kies ‘n ander emmer, een wat lê. Die ander een is nie te koop nie. Dit brand. Verstaan ons uit sie verduidelik. En die Qazaqs eet nie brandkos nie. Waarsku mens as dit kan brand. En mens kry nie brandsouse nie. Nie eens sterk kerrie nie!

Ons besweer die lus vir Kentucky daarna weer vir baie lank. Maar op ‘n dag is dit weer ‘n vinnige keuse. En kry ons die bestelling reg. Omgekeerde emmer. En hy vra ‘n vraag, ons verstaan niks. Iemand in die ry help. Eet ons daar of vat ons weg? Nou moet ons die vraag en antwoord leer.

Ons maak maar op Yandex Translate staat. Om die menu’s vir ons te vertaal. O ja, baie restaurante sit geen prentjies by nie. Maar dan is dit kleiner probleem. Ons vertaal en ons kry dan wat ons soek. Want dan kan ons nie lui wees nie en prentjies kies nie.

Die een dag kies ek prentjie met tee. O ja, tee is eintlik aftreksel. Regte bessies en mint en water. Lemoen en suurlemoen en water. Gemmer en suurlemoen en water. Kleurvol. Mooi. Soms teesakkies, maar net soms. Groot is my verrassing toe die tee kom. Dit proe vreemd. Ek bra manlief want ek dink ek proe alkohak. En ek is ref, dit het alkohol in. Warm alkohol. Manlief moes maar drink, was vir my nie lekker nie.

Almal wil weet watse Russiese kos ons al probeer het. Hallo, alles wat ons in restaurante kan bestel, word hier gemaak. Expats is in ons dorp vreemde verskynsels. Ons word aangegaap as ons Afrikaans praat. Ook as ons Engels praat. Ons eet wat hulle maak, toets net nie alle kos nie.

Net soos in Suid-Afrika. Daar is hoenderpootjies op die menu. Ons kies nie. Daar is vreemde slaaie op die menu. Ons eet dit nie. Daar is krokodil en vreemde visse en baba voëltjies op die menu. Ons hou verby.

Hier is gebraaide vleis in die vorm van T-bene en massiewe sjasjlieks. Sosatiestokke so lank soos my arm. Nie blokkies vleis nie, tradisioneel sommer hele tjop, paar ingeryg. Of hele hoender op een stok ingeryg. Daar is darem soms ook sosaties soos ons dit ken. My grootte blokkies.

Ek begin nou hulle soppe toets. Maggies, borsch is lekker. Groentesop met kool basis en beet vir kleur. Pienk sop, kan ook vleis insit, ek verkies daarsonder.

Ons sien egter interessante goed op menu’s raak. Soos gisteraand.

Gisteraand sien ek die ene op die menu. Moes dit net deel.

Lus vir potjie skaak saam met my? Ek wonder of jy gaan uitloop? Of uitgedra gaan word. Na ons potjie skaak. Want ek gaan as volg bestel. Bez alkohol. Daarsonder beslis.

Krediet vir die eerste foto.

Foto van menu my eie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Lus vir potjie skaak in Qazaqstan?

  1. Sal Qazaqstan toe trek agter kos aan wat nie brand nie. My bors het een keer onverwags toegetrek, iets wat nog nooit gebeur het nie, van zinger wings.

    Like

  2. Die enigste ding in Durban wat nie my tong verteer het nie, was roomys. Dit was 1999. Deesdae kry dit ook chilli in. Gits.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.