Ek het nie van brei op skool gehou nie. Wie sou? Ons moes bababaadjies brei, met dun wol, wye goedjies vir babas wat ons nie geken het nie, niemand gehad vir wie dit gebrei word nie. En ek het elke steek gehaat.
Toe gaan ek universiteit toe. Maats van stad trek pragtige truie aan. Peperduur vir ‘n plaasjapie. Maar ek kon ook mooi aantrek, selfs mooier as hulle. Want ek kon brei. En nou het ek ‘n mens gehad vir wie ek kon brei. En so ontdek ek dat brei nie net vir ‘n persoon is nie, brei is terapeuties.
Veral as ek ‘n patroon kies. As my kop raas, kies ek ‘n patroon wat al my aandag nodig het. Iets soos kabels. Want jy moet tel en kopbou en onthou wanneer steke voor of agter gelos moet word om die kabel te vou.
As ek sommer net rustig wil brei, so in geselskap, kies ek wol wat verkieslik nie vir patrone bedoel is nie. Omdat die tekstuur of kleur die patrone vorm. Soos wol met bobbeltjies in die draad. Of met ‘n onegalige kleur.
Dan kan ek saamgesels, ek moet net aan die begin van elke ry onthou of ons nou by regs of aweregs is. En dan word die steke outomaties gebrei.
Soms gaan jare verby voor ek weer aan naalde raak. Maar ek hoef net wol te koop, want my breinaalde is heilige goed in my huis. My kinders kon met enige iets speel, breinaalde was uit.
Want daar is min goed so sleg soos ‘n afgebreekte punt, of skade aan die skag van die naald wat veroorsaak dat die wol daar vashaak.
Ek het baie dun naalde, vir die kere wat ek ragfyn wil brei. In ou terme dink ek hulle was 14’s. Kan nie nou dink wat hulle in nuwe terme is nie. En ek het dik naalde, vir die kere wat ek lus is om vinnig klaar te kry. Darem ook omdat die wol hom tot growwe breiwerk verleen.
Ek brei selde van ‘n patroon af. Want ek gaan kreatief met die wol en naalde te werk. Daarom is daar nie vir my ‘n spesifieke naalddikte vir ‘n spesifieke wol nie. Ek speel met die wol en naalde tot ek van die gevoel van die prentjie wat onder vorm hou. En dan is dit die regte naald vir die spesifieke wol.
Of, ek hou van die patroon, maar nie van die patroontjies nie. Dan kan ek besluit om in plaas van kabels iets met gaatjies te kies. Wat by my idee van die eindresultaat pas.
Toe ek manlief ontmoet het, kon ek nie hekel nie. Nadat hy my by sy ouma verkla het, het ek die kuns ook aangeleer. Sal bietjie later daarvan ook vertel.
Ek het jare laas gebrei. Dit was my go-to ding toe ek nog skoolgehou het. Om sessies tussen toesigsessies om te kry. My kop skoon te maak van die lawaai om my. Dalk ook om iets moois te skep as ek sien hoe die kinders my keuses vir opsteltemas misken het. Vir my geen kreatiewe werk daarmee geskep het nie.
Dan het ek gaan skep. Omdat skryf vir my ‘n moeisame proses was. Iets wat ek nie kon doen nie. Tog ook iets waarvan ek baie geweet het. Omdat ek ‘n huistaalonderwyseres was.
Hier is warm goed nodig. Nie truie nie, ek het nie ‘n enkele trui wat my teen minusse beskerm nie. En hier is ons reeds by -6 soggens. Ek het serpe nodig. Mussies. En die goedjies wat ek hier sien, is in vaal kleure.
Nou ja toe, almal wat my ken weet ek lief swart. Vlootkleur. My brein wil nie hier toelaat dat ek in sulke kleure getooi word nie. Sy soek kleure wat kleur aan die winter kan gee.
Dus het ek Julie Suid-Afrika toe gegaan met die idee om wol te koop. Want hier is dit ‘n hele proses.
Eerstens is die wol in piepklein winkeltjies agter toonbanke, dus kan ek nie gaan voel en vat tot ek het wat ek wil hê nie.
Tweedens moet ek op my Yandex Translate staatmaak om vir ‘n vrou wat geen woord Engels of Afrikaans verstaan nie, te verduidelik watter een van die wolle sy moet aangee. Teen die tyd wat sy verstaan watter een ek wil hê, is ek al mooi vies vir die koopproses. Dan voel ek net en as dit nie reg voel nie, sê ek спасибо (dankie) en vat ek koers. Sonder die wol.
Toe is daar nie tyd om te koop nie. Ons het gepak om uit die huis te trek, kleinkinders het dae lank gekuier en ek sou dit nie vir ‘n bolletjie wol verruil nie. Terug is Qazaqstan is ek weer die winkels in.
Ag speel ek nou met woorde! Ons stad het nie winkels soos mens in Suid-Afrika en baie ander lande het nie. Ons het groot geboue wat in stalletjies verander is. Sommiges is met glas afgeskort aan die voorkant, dan is daar ‘n deur.
Ander nie. Daar is ‘n toonbank wat die ingang afskort. Met rakke agter die verkoopsdame. Dan moet jy jou woorde gebruik om haar na die regte ding op die rak te stuur!
Weet jy hoe irriterend dit is? Ek sal bietjie oor my teekoop van die week vertel. Dit is irriterend! Want mens weet nie wat die toep vir jou vertaal het nie. Aan die vrou se gesig weet jy egter dat sy nie verstaan nie. Of die kat aan die stert beet het. Maar ek sal later daarvan ook vertel.
Hoe lyk die serp in wording vir jou? Snaaks hoe vinnig mens kan brei as jy weet wat jy brei. En iemand in gedagte het vir wie jy jou vaardighede wil gebruik om iets te skep.
Oeps, ek brei selde vir iemand anders as myself.
Ek sal dit nie kan verdra as ek ure afgestaan het om ‘n kunswerk te skep en die ontvanger hou nie daarvan nie. Of dra dit nie.
Foto: Ons tweetjies by die boonste stasie van Shymbulak ski-oord in die somer. Almaty, Qazaqstan. Die kleure van die berg het vanoggend so mooi met die wol saamgegaan dat die foto net in my foto moes wees. Sien, winter hoef nie vaal te wees nie.
Dis die allermooiste wol, Christa.
LikeLike
Dankie Una, dit is regtig mooi wol.
LikeLike
Hoe koud is dit nou al daar by julle, Christa? En hoe gaan dit met die verlang huis toe?🌹
LikeLike
Hi Una, word nou minusse, baie in nag en selfs in die dag minus. En dan is dit weer warm.
LikeLiked by 1 person
My selnr is 082 320 8374.💖
LikeLike
WA wil hê ek moet jou invite.
LikeLike
Reg so. Moet ek iets doen?
LikeLike
Ek sal stuur, sommer van my SA nommer af
LikeLike
My ma kon so in die geselskap sit en brei, Christa. My dogter het nou nog van die truitjies wat Ouma vir haar gebrei het. Ek bewonder mense wat hierdie kuns kan beoefen. Ekself het net met ‘n breimasjien gebrei en my kinders was altyd mooi geklee in hulle gebreide truie, maar dit was jare gelede – deesdae dra ons gekoopte baadjies teen die winterkoue.
LikeLike
Lekker nuus van jou af, Hester. Dit is nogal lekker, soms moet ek lostrek as ek te lekker gesels.
LikeLiked by 1 person
Dit lyk snoesig. Ekself brei en hekel graag en al vir jare. En raak vies vir ander vrouens wat katterige aanmerkings daaroor maak. Al is dit outyds is dit baie terapeuties.
LikeLike
Woestynkind, ek stem saam! En dan is dit nog kreatief ook. Hemels
LikeLiked by 1 person
Die waarheid is dat dit nou weer hoog
mode is om te brei of hekel en om dit te dra. Mense wat hulle neuse daarvoor optrek, is sowaar agter die tyd. 😁
LikeLiked by 2 people
Klink goed! Ek doen net vir die lekker.
LikeLiked by 1 person
Ek is ook mal hieroor. 😁
LikeLike
Dit is prgtige wol. Is daar egte wol in vir die koue?
LikeLike
Nie in hierdie nie, hulle is vir herfs. Ek het gister gekoop met wol in. Alte mooi
LikeLiked by 1 person
Dis pragtig en die samestelling van jou foto en breiwerk is ‘n kunswerk opsigself!
LikeLike
Dankie perdebytjie, ek het probeer.
LikeLiked by 1 person