Ons dog ons is pro’s met ‘n trekkery …

Soos ek in die vorige inskrywing vertel het, het ons die afgelope week uit ons stadshuis getrek. Wat ek nie vertel het nie, is dat ons die huis in die mark gesit het omdat ons na ons plasie wil trek wanneer ons na Suid-Afrika terugkeer.

Dus vertel ek vandag van snaakse oomblikke voor, tydens en na die trek. En sommer ook van ons lewe as mense wat gereeld getrek (het). Omdat ons veertien jaar laas getrek het.

Ons het gedog ons is pro’s omdat ons voor die laaste trek gereeld verhuis het. Omdat manlief ‘n mynbou-ingenieur is.

Mynbou-ingenieurs wat graad swot is tydens ons studentejare soos konings behandel. Een keer per jaar is ons in Johannesburg by ‘n black tie geleentheid gewine en gedine. Met tafels wat kreun onder die kos. En ons het met ‘n slag aarde toe gekom toe ons die mynlewe self tref.

Anders as diploma-ingeniers, is ons in die laagste vlak behuising geplaas. En soos manlief bevorder of verplaas word om ondervinding op te doen, moes ons na ander huise op selfde vlak van ander myne of huise op hoër vlak by selfde myn trek.

Ons het altyd gespot dat ons meubels in ‘n ry staan, gereed om te trek, as ons twee jaar op een plek was.

Trek was nie noodwendig sleg nie omdat ons ekstra tjek ontvang het om vir ongerief te vergoed. In die proses was my dogter tot in haar standerd 6-jaar (graad 8 nou) in 9 skole.

Haar negende skool was Welkom Gimnasium. Dit het daardie jaar in Welkom gesneeu. Ten spyte van al die skuiwe het sy uitstekend presteer, tog het sy viervoet vasgesteek, dit was haar laaste skool!

Gevolglik het ek, toe manlief Beatrix toe verplaas is, elke dag tussen die Virginia en Welkom gependel omdat ek ‘n juffrou by Welkom High was.

Met seun in St Helena laerskool, dogter in Welkom Gimnasium en ek by Welkom High het dit kophou gekos om ons almal betyds by skole te kry. Ons het die meeste van die tyd geslaag.

En, soos dogter versoek het, was Welkom Gimnasium haar laaste skool (1996-2000) en seun se enigste hoërskool (2001-2005). Nadat ek in 2002 daarheen geskuif het, was die ryery tussen skole beter. Veral wat na-uurse bedrywighede betref. En ons het in 2002 ons eie huis gekoop om die trekkery te beperk.

Ons laaste trek voor hierdie een, was einde 2005 na die stadshuis waaruit ons so pas getrek het. Veertien jaar in een huis. ‘n Rekord vir die Van Stadens.

Diegene wat my blogs lees, sal natuurlik nou vra wat van die trek van Qazaqstan, was dit nie ons vorige trek nie?

Voor ek vertel waarom nie, wil ek eers vertel van een trek wat ek geweier het. Manlief is in Virginia bevorder, waar ons in Merriespruit in ‘n lekker huis gebly het. En ek moes gaan kyk na die huis in Virginia wat vir sy hoër pos uitgehou is. Die tuin was baie groot, die huis nie so lekker soos ons s’n nie. Maar die groot probleem was dat sy direkte hoof agter ons gebly het. In ‘n dubbelverdieping, wat op my erf en swembad uitgekyk het. En dit het die huis onaanvaarbaar gemaak.

Sodra ek uit die huis sou gaan, was ek in hulle gesigsveld. Sonder om dit te weet. Manlief moes gaan verduidelik dat ons baie lekker bly omdat ons huis op ‘n laer vlak beter as daai ene was. Volgens ons. Die bestuur was vies en het ‘n ekspedisie uitgestuur om te kom kyk. Ek het die saak gewen. Ons kon bly, die huis se status is verhoog!

So nou die trek na Qazaqstan. Huise en woonstelle in Qazaqstan is ten volle gemeubileerd. Handdoeke, lakens, koekroller, die toetie. Ons is besigheidsklas oorgeneem, wat beteken het dat ons met vier groot tasse (32 kg elk) en vier klein tasse (8kg elk) kon trek. In dié tasse is ons beste kleertjies vir die koue weer, geen jasse (dit is te swaar en werk in elk geval nie daar nie) en enkele pare skoene gesit omdat skoene moeilik pak. Geen polvye nie, die mense daar dra tekkies. By alles, mooi fyn rokkies ook.

En nou by die trek. In veertien jaar gaar mens baie op. Ons het die hoeveelheid bokse wat nodig is te min geskat en ook vergeet hoe lank pak vat. Want sien, met daai paar besittings wat in Maart na Qazaqstan toe is, was die huis basies onaangeraak.

Ek het reeds vertel dat die kleinkinders ons help pak het. Vorige kere het ‘n bediende help pak. En ek skoolgehou. Nou moes ek alleen pak.

Ons het Vrydag gepak, Saterdag gepak, Sondag gepak en saam met kinders gebraai en Maandag gepak en Dinsdag so met die oplaai op die vervoerwa steeds gepak. En gesukkel, want vervoerwaens staan mos voor hekke en ons kon nie nog bokse gaan koop nie. Sommige goed is sommer los opgelaai, ander moes oorstaan tot Vrydag, wanneer ons die stadshuis sou kom skoonmaak.

Manlief is gewoonlik by die werk as ons laai, kom net na werk daar aan. Daarom skat hy dat ons teen twaalfuur op pad sou wees. Die laaste goed is eers halfses die aand gelaai. Nadat ons sommer help aandra het.

En ons kon eers daarna die waentjie haak om met ‘n vrag goed plaas toe te gaan. Die trok sou volgende dag aflaai. Vroeg. Sou 7 uur al daar wees.

Ek wou nie die nag inry nie, was van mening dat die waentjie swaar gelaai is en ‘n band kon bars. Wat toe ook gebeur. Skaars uit Randfontein. Daar waar ‘n voetoorgang is. Net voor die garage aan die regterkant. Met laekoste behuising aan beide kante van die besige pad.

My hart wou uitpop. Ons kon nie verder ry nie. Dit was donker. Van beide kante het groepe van ses swart mans die hoofweg gekruis. Reg by ons waentjie se agterkant.

In my gedagtes was die twee jong mense wat onlangs in Pretoria op ‘n oprit doodgeskiet is. Veral as die groepe mans ons bekyk voor hulle die besige pad kruis om na die ander kant te gaan. Nogal gevaarlik.

Ek het vir my twee kinders met WhatsApp ons location gestuur, gebid dat die Here ons asseblief bewaar. Met manlief wat op die grond lê, met sy gereedskapkis met gevaarlike wapens soos die goed waarmee wiele se skroewe losgedraai word langs hom. En ek met geen ding of krag om ons te beskerm nie.

En dan is die drie Schnauzers ook nog in die kar. Hulle het hulle so mooi gedra. Niks geblaf nie. Asof hulle geweet het dat hulle nie moet aandag trek nie.

En toe draai twee van ‘n groep van ses terug na ons. Deel ‘n sigaret terwyl hulle aangestap kom. Vra in Afrikaans of hulle kan help.

En ek staan versteen. Wat doen ek as hulle aanval? Spring in die kar en ry agteruit? Ek wat al hoeveel keer probeer het maar nie met ‘n waentjie in trurat kan ry sonder om dit te laat Jack knife. Maar manlief is danbaar vir die hulp.

En hulle vat die gereedskap, draai los, klim onder in, sit die Jack in, draai die spaarwiel los, sit op, help gereedskap terugpak. En ek jaag manlief aan, maar hy werk in super slow motion. As ek die krag gehad het, het ek hom in die kar getel.

En daar gaan ons. Geen spaarwiel. Ek bel Potchefstroom bandnooddienste. Sy man is uit, kan eers oor drie ure help. En dit is reeds baie laat. Ek vra hoe ver hy sal ry om te help as ons weer band bars, hy sê tot naby ons plasie.

En ons bid, ry in die geloof dat ons nie weer ‘n band gaan nodig hê nie. En die Here hoor ons. Die band hou tot op die plaas en weer terug stad toe. Maar ons sit eers ‘n nuwe spaarwiel op die rim.

Mens kry darem maar skelms as mens in die nood is. Nooddienste in Potchefstroom se kwotasie was R1200 vir die band. Ons het dit vir minder as R500 in Bothaville vervang.

Op die plaas het manlief help pak in die stoor, sommige goed in die huis ingedra om die plekkie beter te meubileer. En dit is ‘n bekommernis, want die plekkie het al twee keer halflyf diep in die Vaalrivier gestaan. Toe onbekwame mense in beheer van die Vaaldam se sluise geplaas is.

Veertien sluise is gelyk oopgemaak. En duisende huise rivier-af is oorstroom. In januarie 2010.

En mense leer mos nie uit foute nie, Januarie 2011 was dit weer sulke tyd. En kon mens kla?

Nee! Want wat is die alternatief as mens te lank vat om sluise stadigaan oop te maak? ‘n Damwal wat bars en alles voor die voet wegvee. Ons huise sou daai krag en watervloed nie kon hanteer nie. En nou is daar twee Januaries voor ons daarheen trek. Met ons wat 10 109 km weg van die plaas af is.

My vriendin in Qazaqstan het dit vir my uitgewerk! Met die location funksie van WhatsApp. Dit is eintlik veel verder, daai is soos die kraai vlieg.

Ek het al vertel dat ek soos ‘n heks lag as iets baie snaaks is. Gisteraand terug in die stad lê ek en manlief in dogter se huis in ons bed en gesels.

Manlief het gaan bad, en toe hy in die bed klim sê hy vir my. Jy sal my nie glo nie, ek het twee naels gebreek!

Uitgevang met daai prentjie van my? Dit was nie my naels nie. O my genade, dit was snaaks! Ek het in ons lang huwelik nog nooit die woorde uit sy mond gehoor nie.

Gewoonlik is dit ek wat oor so iets sou kla. My naels was egter perfek, moes net bietjie korter veil om te keer dat ek en manlief oor dieselfde ding kla …

6 comments

Lewer kommentaar op coetzee2014 Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.