Gepubliseer in Reisjoernaal

Skrik ek my alie af in Qazaqstan

Dit is veilig in Qazaqstan. Vrouens stap saans na tien in stil, donker state met kleuters aan die hand. Laggend. Nie vinnig en loerend nie. Dit is veilig.

Dus raak ek ook mak in Qazaqstan. Laat weet nie meer as ek gaan stap nie. Gaan stap net en geniet die natuurskoon.

Gisteroggend is ek vies vir my myself. Vies omdat my Apple Watch nie gelaai is nie. Sy neem my polsslag reg. Moet op my Garmin staat maak, al weet ek sy geniet dit om my polsslag verkeerd te neem. Dus stap ek sommer net gemaklik, niks jaag my nie, ek moet net 30 minute om kry.

Ek gaan staan telkemale stil om die klanke om my te geniet. In die middel van ‘n besige stad klink dit so om my!

Laggende kinders speel op die mure van die fonteine. Spat mekaar nat. Sonder toesig. Ouers is nêrens te sien nie.

Hoe wens ek my kleinkinders kon so grootword. Sonder dat mens hulle soos goudstukkies moet oppas in ‘n land waar malles kinders vermoor?

By die T-aansluiting van die straat langs Central Plain met die pad langs die rivier besluit ek om by die moskee oor te stap na die oewer van die rivier wat my elke dag soos ‘n magneet na die vensters van ons woonstel trek.

Daai blink deel anderkant die platdakgebou is ‘n deeltjie van die rivier wat vanoggend so in die sonlig skitter.

Eers toe ek aan die rivier se kant is begin my Suid-Afrikaanse brein praat. Wat vang jy aan? As jy hier afgaan, gaan niemand jou van die straat se kant af sien nie.

My avontuurlus wen. Presies! Niemand gaan jou volg nie. My brein raas dat ek nie vir manlief gesê het nie. Nuuskierigheid wen egter die bekgeveg. Ek gaan mos net vinnig kyk?

Toe ek met die steilte afgaan wat my intens na ons plek langs die Vaal laat verlang, weet ek sommer dit is anders. Dit voel en ruik soos Knysna se bos. Maar my brein is steeds op haar hoede. Maan my om oral te kyk.

Agter my sien ek dat ek nou van die straat afgesny is.

Voor my is ‘n paadjie langs die rivier. Links en regs lyk alles veilig.

Ek stap oor die paadjie, om ‘n foto te neem van die rivier wat nou rustig voor my lê. Laas week was sy in vloed, na een dag se reën.

Dit is so mooi! Die water is anders as die Vaal s’n. Deurskynend mooi. Soos ek van ‘n rivier hou. Moet die grond sien as ek ingaan.

En toe hoor ek ‘n man se stem. Ek vlieg om die boom waar ek gestaan het en sien hom regs af in die paadjie staan. Daar waar ek so pas niemand gesien het nie. In ‘n blou overall.

Met sy rug na my toe besig om in die bos in te kyk. Pratend op sy selfoon.

En toe hardloop ek! Oor die paadjie, op teen die steilte. Terwyl ek vir my brein vertel dat sy simpel is. Vir wat vlug ek? En sy vir my vra: Wat is in die bos waarna hy gestaan en kyk het?

Bo stap ek dadelik stadig verder. Hierheen kom ek terug. Saam met manlief. Om die skielike verlange na die rivierhuis stil te maak.

Hier lê BB in haar gusnteling posisie by die rivier. Desember geneem toe Qazaqstan nog nie geroep het nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Skrik ek my alie af in Qazaqstan

  1. Dis pragtig daar! Ek kan verstaan dat jy geskrik het. Ons is so op ons hoede vir gevaar, dat dit seker lank sal vat om daardie knoppie af te skakel. Die video se klanke maak mens rustig.

    Like

  2. Christa, dis vreeslik hoe ons seer, kwaad land bykans geneties angs in ons programmeer. Sjoe dis mooi daar waar jy is. Jy mis sekerlik jou Schnauzer kinders. Myne is gister geskeer, toe dink ek aan jou mooi foto’s met jou span vars geskeer. Groete. Ek lees lekker aan jou vertellings Dis ontrent ‘n avontuur.

    Like

  3. Dis baie mooi daar en die kinders geniet dit omtrent. Pragtige foto’s ook. Ma sê ja, hier by ons kan ek en sy ook redelik veilig in die oggend op die strand sit, maar mens bly maar versigtig. Dis seker maar in ons ingeteel. 😅

    Kyk net hoe lekker lê BB! Julle kon haar seker nie saamneem nie?

    Like

    1. Ons sou BB en Sobek en Shilo saambring. Sou R65 000 gekos het. Maar dit is 7 maande van die jaar baie koud hier. Toe bied my seun aan om hulle op te pas. Nou kan ons baie langer Suid-Afrika toe kom. En hulle hoef nie vir 35 uur lank hierheen te vlieg nie. Ek gaan hulle baie druk as ek daar is. Is sommer siek van verlange na hulle.

      Liked by 1 person

      1. Sjoe ja, dit is baie geld. Ma sê sy sal my sommer in haar handsak indruk, maar sy sê hulle hou ons vir kwarantyn en sy sal dit nie oor haar hart kan kry. Ek ook nie. Ek en ma is altyd bymekaar en sy gaan nêrens sonder my tensy dit nou regtig dringend is, dan bly ek maar by een van my mensboeties.

        Ek kan dink hoe jy jou doodverlang na hulle maar dis goed jou seun kyk na hulle. Ek dink hulle sal jou oplek as hulle jou weer sien. En dis ook baie lank om te reis. Ek dink ook nie hul sou daarvan hou nie.

        Like

          1. Ek kan dit glo. Ons dink aan jou en hulle, en vir eers stuur ek vir jou baie nat soene sodat jy nie so erg verlang nie hoor. 😘💕😍

            Like

  4. Dit klink na paradys – om nie heeltyd die oë agter jou kop tot die uiterste in te span nie. Kan daar werklik nog sulke vreedsame plekke wees? Dis ‘n pragtige foto van die rivier.

    Like

  5. Lieflik… Maar ja, ons vat altyd ‘n stukkie van ons vaderland saam met ons, ongeag… miskien is daar ook ‘n splinter van op jou hoede wees wat jy nogsteeds saam met jou dra , ongeag die mooi landskap waarin jy jouself bevind.
    Geniet jou tuiste, waar misdaad verseker nie ‘n alledaagse verskynsel is soos hierby ons nie. XXX

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.