Die afgelope twee maande het ek my nogal vervies oor hoe stadig ek ‘n nuwe taal aanleer. Maar dan gebeur sulke oulike goed tussen groot mense dat mens van die moeilike aanleer van Russies vergeet en hardop in die straat aan die lag gaan, in so mate dat die mense om ons seker dink dat ons koekoes is.
Verlede week durf ons vir die tweede keer wat ons hier is die Fresh Market aan. As mens in ag neem dat ek in ‘n slaghuis grootgeword het, sal mens verstaan waarom die aankoop van vleis ‘n probleem is. Sover sien ek nie veel meer as drie snitte nie.
Die een lyk soos ‘n skaapboud choppie, maar dit is ‘n bees s’n en genoeg vleis vir ‘n paar dae. Ons het byvoorbeeld van een 8 stukke biltong gemaak! Die tweede een lyk soos ‘n tipe van ‘n T-been, maar dit is massief en iewers oor die rug gesny as ek so kyk na waar die vrou op haar eie lyf beduie waar die stuk vleis vandaan kom. Die laaste snit lyk soos iets tussen die twee en ek weet eerlikwaar nie hoe mens hierdie vreemde snitte gaarmaak nie. Proe egter of ons reg is as die een wat soos massiewe skaapboud chop lyk, gebraai word. Maar dit is nie die storie nie.
So staan ek en manlief al weer voor die gevreesde vleiskoopproses. Ons wil biltong maak, maar kan nie in woorde verduidelik nie. Dus bekyk ons die vleis. En die vrou wil dit aan ons verkoop, dus praat sy haar prate, wat ons nie verstaan nie. Ons vra of sy Engels verstaan en sy doen nie, maar sy weet darem hoe om aan ons te verduidelik wat sy te koop aanbied. Die vingers vlieg op na haar kop, maak twee horings daaren so verduidelik sy vir ons dit is nie perd nie, dit is bees.
Gedagtig daaraan loop ek en manlief twee dae later in die straat. Ek dink aan hoe kinders taal aanleer en hoe onnosel ons vir hulle moet lyk as ons met ons vingers horings maak om te verduidelik dat dit ‘n bees is. En ek kan nogal raai waarom klein kinders mens so skeef aankyk. Hulle dink dalk ook dat hulle nie dom is nie en dat hulle die taal nog net nie verstaan nie …. so vra manlief waaroor ek lag. Ek vertel en hy lag al harder saam. Hy wil graag weet hoe hulle vark aan ons gaan verduidelik? Met ‘n snorkgeluid en opgetrekte neus?
Maar alle grappies op ‘n stokkie, dit vat veel langer om die taal aan te leer. En ek vermoed dat dit met die taalklasse te doen het. In plaas daarvan om net in te spring en te begin praat soos ek leer, is ek half versigtig vir foute. Want ek moet weet of dit manlik, vroulik, of neutraal is as ek van iets praat. En dat ‘n woord meer as een o kan bevat, maar dat net die een wat klem dra as ‘n o uitgespreek word. Die res word as a’s uitgespreek. Simpel as jy my vra, die taal het tog a’s? Waarom moet mens so verwar word?
Intussen het ons tweetjies ‘n besluit geneem. Aangesien die mense in Ust’-Kamenogorsk nie Engels kan praat nie, gaan ons ook nie die rooi taal hier praat nie. Hou in elk geval nie eens daarvan nie. Hoe meer dit in my keel afgedruk word, hoe minder hou ek daarvan. Dus praat ons Afrikaans. Dit is lekker om met ‘n dankie te loop as ek iets gekoop het, en die verrassing te sien. Hulle hou ook nie van Engels nie. En ons twee tale het soveel gemene faktore dat ons net sowel aan mekaar s’n blootgestel kan word.