Ek spog nie, nood leer bid. Ek het aanvanklik slegs een artikel per jaar geskryf, dan kan Jan Taks mos so min as moontlik van my verwag?
Toe aanvaar ek aanstelling as navorsingsgenoot wat 2 artikels per jaar vereis. Dit is mos eenvoudig is dit nie?
Eers het ek hoofstuk vir boek en artikel gedoen, maar agtergekom dat dit nie lonend is nie. Mens kry nie tantieme uit verkope nie, en baie minder vir ‘n hoofstuk as ‘n artikel weens die gekrediteerdheid van artikels.
Nog nooit het ek so gestres soos vanjaar oor my artikels nie.
Die eerste een is al 5 Augustus 2022 in, maar sou eers Maart gepubliseer word. Dit het ek geweet. Wat ek nie geweet het nie, is dat die artikel op die stelsel gelê het omdat die tweede keurder meer as drie maande laat nog nie ingedien het nie. Dit is toe nie Maart 2023 gepubliseer nie, eerder nader aan Junie. ‘n Hele tien maande in die proses, waar hulle draai en ek aangejaag word as dit my beurt is om goed te keur. Met ‘n medeskrywer kry ek net 50% van my inkomste, dus sou ek druk vir drie artikels vanjaar om nie skade te lei nie.
Die tweede artikel is Maart 2023 ingedien, maar dit het ook gedraai en is eers September 2023 gepubliseer. Ses maande in die proses, waar dit voorheen drie maande was. Dit was ‘n moeilike proses, dus was ek dankbaar toe dit afgehandel is.
Toe werk ek hard aan artikel 3, meer as drie maande van swoeg en sweet, wat bykans gereed in lêer 99 lê. Sedert Julie. Weens onvoorsiene omstandighede aan medeskrywer se kant. Ek dink nie hy gaan vanjaar ingestuur word nie …
Toe skryf ek artikel 4, omdat artikel 2 in die stelsel gedraai het, en artikel 3 in lêer 99 lê en waarskynlik nie vanjaar die lig gaan sien nie. Vir veiligheid is die artikel by ander redaktrise/plek/afdeling ingedien. Maar o weë, ek het my erg misgis. Dit draai erger as artikel 2 in die stelsel, ek het geen verwagtinge dat dit vanjaar gepubliseer gaan word nie. Twee maande later, toe ek ‘n e-pos kry, is dit nog nie eens na die keurders toe nie!
Ek het wel my kwota bereik, maar weet nie of dit as twee gaan tel of as een en ‘n half nie.
Dus spring ek weereens agter my rekenaar in en doen artikel 5. Hierdie keer toets ek ander vaktydskrif, dien aanlyn in. En kry bykans onmiddellik antwoord. Die artikel is goed genoeg, hy is na keurders uitgestuur. Maar, die proses 3-6 maande duur, en oor ses maande is dit ongelukkig te laat vir vanjaar.
Weereens spring ek agter my rekenaar in, en artikel 6 is gister ingedien. Weereens aanlyn, hierdie keer na ‘n oorsese vaktydskrif waarin ek sedert ek begin het so graag wil publiseer. Die tydperk vanaf indien tot eerste uitslag is 23 dae, dan 43 dae tot ek weer terugkry en as ek weer indien, net ses dae om gepubliseer te word. Dus is daar ‘n kans dat hierdie artikel vanjaar gepubliseer sal word! Kans, want hy moet eers goed genoeg wees om na die keurders te gaan … en ek mik, soos die Arendvleiers gedurig sê, HOOG!!!!! Dit is dié vaktydskrif in my veld.
Gister gaan loer ek aanlyn in by artikel 5, dit is die lekkerste lekker om nie ‘n redakteur of redaktrise te kontak nie, maar om aanlyn te kyk hoe my artikel vorder. En kry die verrassing van my lewe, die eerste keurder se werk is in, die tweede een is laat. Ek weet hulle kontak keurders dan, maar, as ek so kyk, kry ek vaanjaar nog ‘n antwoord.
Ek dink die laaste 4 artikels behoort almal aanvaar te word. Ek het hard gewerk en dien nie in voordat ek heeltemal tevrede is nie. En dan gaan ek steeds weer en weer en weer daardeur voor ek die finale stuur knoppie druk.
Goeiste, en nou sit ek met drie artikels in die pyplyn.
En as ek so kyk, gaan die vyfde en sesde een, wat maande na die vierde een geskryf en ingedien is, eerste deur die proses wees.
Wat ookal gebeur, ek het pen neergesit.
My oë is moeg, my hart is moeg, my verstand is moeg.
Ek dink eers weer volgende jaar aan ‘n artikel.
Jy verstaan tog? Dit is nie ‘n blogskrywe soos hierdie nie, dit is een lang navorsingsproses. Dink aan titels wat aanvaar kan word weens die nuutheid van my idees, dink aan raamwerke wat gaan werk. Samel data in. Speel daarmee, soek die bevindinge wat saak gaan maak. En skryf en hersien en skryf en hersien ,,, En sorg dat ek nie in twee artikels iets soortgelyks skryf nie – wat moeilik is as dit by teoretiese raamwerk en metodologie kom …
Ek is op!
Toe nie. Want raai wat, ChatGPT het so pas beter geword, en ek moet net kyk wat dit kan doen … Dus jeuk ek om agter my rekenaar in te skuif. Dwing ek myself om huis te skuif, aan etes te dink, belofte aan myself te verbreek.
Ek moet egter eers rus,
Wag.
Kyk.
Drie in die stelsel, by drie verskillende vaktydskrifte gaan aan my nerwe kou.
Of wag, as daar vierde en vyfde een in stelsel is kan ek minder stres oor watter vaktydskrif hoe lank vat?
Goed dan, maar ek gaan steeds eers rus.
Maar nie te lank nie.
Voordeel is dat hier nou 4 artikels is, drie ingedien en een wat net finale goedjies nodig het om ingedien te word. As dit nou nie vanjaar so werk nie, is daar vier gereed vir volgende jaar.
En kan ek die hele volgende jaar nog skryf.
Al is daar dan sommer klaar genoeg gedoen vir die jaar …
Iedergeval, ek het die breek nodig.
Sommer baie.
Maar, ek kan nie verstaan hoe daar mense is wat 10 en meer per jaar geskryf en gepubliseer kry nie. Ek dink dit is nogals onmoontlik.
Tog het ek iets nuuts geleer oor myself. My artikels is gewoonlik baie na aan 20 000 woorde, want dit is hoeveel ek nodig het om my sê te sê.
Toe nie.
Artikel 5 het ‘n maksmimum woorde van 8000, en dit was heerlik om te sny en te dink en te pas tot daar net 8000 woorde is. OK, ek weet, dit is die maksimum, maar ek het 20 000 nodig, dus is 8000 baie minder …
Artikel 6 het ook ‘n 8000 woordbeperking – en die keer het ek in die rooi taal geskryf – en dit amper makliker as Afrikaans gevind.
Nie oor die taal nie, maar oor die belaglike vereistes oor die rigting van die ‘n se tekentjie as jy by Afrikaanse vaktydskrifte indien. Hulle soek die ‘ moet andersom lê, en weet jy hoeveel ‘n’s gebruik ek as ek skryf?
Toe vra ek sommer: “Leer my” en kry ek ‘n e-pos met ‘n makliker metode. Ek kan nie elke keer die simbool gaan soek nie. Nou is dit sommer net Control+die ‘ se strepie twee maal vinnig na mekaar gedruk. En voila, daar werk dit. Ek leer dit nou sommer aan, dt ek nie per hand deur 20 000 woorde hoef te gaan om die ‘n’s te soek nie …
Lekker werk, ek hoop jou werk is minder stresvol as myne.
Sjoe, jy is omtrent besig. Ek kry nie eens tyd om blogs te skryf nie☺️🤣😁
LikeLiked by 1 person
Maar, jy het darem ander werk. My werk is artikels, twee per jaar om my kontrak te behou. Die blogs word korter en korter …
LikeLike
Ek haal my hoed vir jou af!
LikeLiked by 1 person
Dankie Seegogga, nou moet my voorkomingsmaatreëls net werk. Vir nou is ek baie ongelukkig, maar ook baie tevrede met wat ek kon vermag. Ek vermoed ek kan nie meer as dit doen nie.
LikeLike
Maggies maar jy wikkel daardie artikels, g’n wonder jy’t ‘n blaaskans nodig nie. Baie jammer dat die keurders so baie tyd vat om artikels te lees en terug te stuur. Sug, maar wat kan mens maak nê? Gaan jy nou bietjie vakansie hou?
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die empatie. Al wat ek kan doen, is om beter te beplan. As alles in Januarie, laatste Februarie ingedien word, is daar 10 maande om te wag, hopenlik is dit genoeg tyd? Ek dink eggter ek gaan maar by twee per jaar hou, en iets anders begin om geld te verdien. Hierdie stres, met gelde wat eers twee jaar later inkom, is nie vir my lekker nie. Dan doen ek eerder net wat van my verwag word, en beskou dit as bonus, eerder as inkomste. Dit sal stres baie verlig, my oë ook stadiger laat swakker word.
LikeLike
Dit is beslis ‘n uitdagende tyd en ‘n intense navorsingsproses wat jy deurgaan. Ek kan duidelik sien dat jy ‘n passie het vir jou werk en ‘n toegewyde navorser is. Dit is inderdaad ‘n veeleisende proses om artikels te skryf en te publiseer. Sterkte.
LikeLiked by 1 person
Hi Dean! Baie dankie, dit was werklik moeilik, maar nou sit ek met drie artikels in die proses. Ek moet maar net beter beplan. Hoe gaan dit met jou?
LikeLike
Hoe gaan dit met jou eie navorsing?
LikeLike
Dis ‘n goeie plan om dit net as ‘n bonus te doen en dan liewers iets anders as hoof inkomste te doen. Sterkte vir jou, stress is nie goed vir liggaam en gees nie.
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam, die stres is baie sleg.
LikeLiked by 1 person
Dis wonderlik dat jy so vasbyt en bly skryf, Christa. Ek haal ook my hoed vir jou af.
LikeLiked by 1 person
Dankie, ek sien ek stres heeltemal te veel.
LikeLiked by 1 person
Ek dink om te skryf, moet ‘n mens geweldig uitput. As my verstand gewoonlik moeg is, is ek ook sommer lewensmoeg! Baie geluk dat jy so fluks vorder … en ja, ‘n ruskans klink vir my goed 🙂.
LikeLiked by 1 person
Hi, dankie, dit is dalk hoekom ek so lewensmoeg voel. Dag en nag agetr die rekenaar, dinkend, soekend, swoegend? Ek het van twee terugvoer gekry …
LikeLiked by 1 person