Gepubliseer in Joernaal

My eie proteas – gewees …

Ons het proteas in ons stadtuin geplant, en dit was besonder mooi. Eintlik asemrowend toe die eerste proteas hulle kop uitgesteek het.

Die man van die kewekery het gesê dat daar glad nie rondom die wortels gepeuter moet word nie, en ek het dit so aan die tuinier oorgedra.

Toe kry ons nuwe tuinier, manlief wys vir hom wat hy in die tuin moet doen – en beveel ook dat onder die proteas gespit moet word. Dit was rampspoedig, maar die protea het dit gemaak.

Toe werk ‘n tuinier weer aan die wortels, en bedek ek die grond onder die boom met klippe dat daar nie gepeuter kan word nie.

Maar, die klippe word geskuif en gespit …

Ek was ontsteld, manlief het gesê ek praat twak, dit is nie so nie. En toe moet hy maar saam met my kyk hoe die proteas kwyn en verdwyn. Later moes die droë stok uitgehaal word, my proteas was nie meer nie.

Terwyl ek nou so koorsagtig deur my foto’s gaan om foto’s te verminder, kom ek op hierdie foto’s van my af.

En ek kan nie help om te onthou dat ek, soos met Shilo, ‘n rukkie gegun was om die wonder te aanskou nie. Ek het Shilo geteel, en hy is dood. Ek het die proteas geplant en beskerm, en hulle is dood. Beide gouer as wat hulle moes.

Shilo omdat kanker hom kom steel het en ek die ja-woord moes gee om hom te laat gaan. Die proteas is ook in die fleur van hulle lewe weggeneem. Daar het ek darem nie die ja-woord gegee nie.

Miskien daarom dat ek weer proteas wil plant, maar ek gaan nie weer woewe hê nie. As BB en Bekka besluit dit om my ook te verlaat om hemel toe te gaan, sal ek nie weer ‘n hondjie kry nie.

Vir daardie pyn sien ek nie weer kans nie. Ek weet ek moet nog twee keer daardeur gaan, dit is nou as ek langer as die tweetjies lewe. Maar dan is dit dit.

Ek is egter lus om weer ‘n koning protea te plant.

O ja, ek het speldekussings ook gehad, sal soek en dan foto van hulle ook deel.

Vir nou verwonder ek my net aan die skoonheid van my eie proteas se foto’s.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “My eie proteas – gewees …

  1. Ek het baie gunsteling blomme 😉, maar die protea is my gunsteling-gunsteling! Ons het ‘n fynbos tuin in die Kaap gehad, maar ek het gesukkel met proteas (die het ek maar later net in die wilde natuur gaan geniet). Jy gee my nou ‘n idee, dalk moet ek ook so bietjie deur die ou foto’s gaan blaai vir ‘n vir ‘n TB Thursday post! Jou foto’s is pragtig.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.