Gepubliseer in Joernaal

Kleinkindpret: As kleinkinders truie vra …

Ons was Juniemaand in Stilbaai, rondom die 14de. Sal die datum nooit vergeet nie, die dag toe ek Shilo se lewetjie moes kortknip.

Op pad Kaap toe het ek na ‘n luisterboek geluister, en gebrei. ‘n Trui vir myself. Heel jongste kleinkind is die heel kleinste, hy het twee truie gekry. Maar dra dit blykbaar nie. Dus is ek nie lus om weer aan ‘n trui vir iemand anders te raak nie.

Ek het nogal toe my eie kinders self klein was besluit ek brei net vir myself. Hulle het te gou uit die truie gegroei. En ek (het) nogal van brei gehou. Die afgelope baie jare, ek dink sedert ek ophou skoolhou het in 2007, het ek nog net gebrei toe ek in Kazakhstan was. Serpe en mussies waarvoor die winter gelag het – die koue het sy vingers dwarsdeur gesteeek.

Iedergeval, my drie ander kleinseuns het in Maart by my by die see gekuier, en hulle wou toe weet vir wie ek brei. Toe vertel ek vir jongste kleinkind. Hulle was verras dat hy sommer twee truie kry, hulle het nog nooit gekry nie. En ek verduidelik toe dat ek net klein truitjies brei. En vir myself.

Junie-maand kuier hulle weer by my en sien my denimkleurige trui wat in wording is. En toe bestel hulle, nadat ek geprys is oor my mooi breiwerk. Hulle sal weet, Voortrekkers het van hulle vereis om te brei en als.

Ek wyfel, dit gaan baie tyd neem. Maar die manne laat nie los nie. Bestel so tussen TV-storie kyk deur hoe hulle s’n moet lyk. Altans kleur. Groen vir oudste, blou vir middelste, rooi vir jongste. Ek neem mates, maar so bietjie soos my alie, dus sit ek tuis met mates wat kort.

Ek oortuig die manne dat oortrektruie die enigstes is wat ek gaan brei. ‘n Mou vat net so lank soos ‘n pant, ek het nie so baie tyd nie.

Ek en manlief is tuis winkels toe en ek het vir elke seun sy 4 balle Lollipop chunky van Krismet gekoop. Ons Wool Warehouse het so ‘n groot verskeidenheid dat ek skoon moeg gesoek was.

Toe begin ek brei, want naalde is mos nie probleem nie, daarvan het ek verskeidenheid in Kazakhstan gekoop. Ek het geen idee waar my ou naalde is nie, moet iewers in ‘n boks wees.

Die brei het vinnig gegaan, tot ek die moue en armgate se rib moet brei. En toe wyfel ek.

Is die truie groot genoeg? Dit lyk piepklein. En pas kan die manne nie pas nie. So los ek die truie in die sak, maar vat dit darem saam toe ons middel September wees see toe gaan.

Op manlief se aandrang.

Hulle kom kuier, en ek het regtig nie gedink hulle gaan onthou nie. Maar jongste is in my kamer in en kom met my trui uit. Dit is nou die een wat lankal klaar gebrei is, maar nie vasgewerk nie.

Ek het gesukkel met heel jongste kleinkind se vaswerk, en was nie lus om myne vas te werk nie. Ek sê toe nee, hulle s’n is nog in wording, en weer is hy kamer toe. Kom hy met die sak vol amper klaar gebreide truitjies.

Ek sê ek sal klaarmaak, mits hulle pas. Want ek het nie gedink dat dit gaan pas nie. Dit pas, is effens lank en effens breed, want ouma het so gebrei dat dit volgende jaar steeds gaan pas. Die winter is mos verby.

Toe ek die sak oopmaak om met middelste se trui te begin, kry ek die skok van my lewe. Sy twee balle blou wol is nog in die sak in my naaldwerkkas in Pretoria.

Ek maak die twee ander truie klaar, bekla my lot by my ma oor die vaswerk van die truie. Sy verduidelik oor die foon en ek wonder waarom ek haar nie in die werk gesteek het nie …

Maandag is ek en oupa eerste ding dorp toe, maar die piepklein wolwinkeltjie het nie eens die soort wol in voorraad nie. Dus kry ek die blink plan. Vra vir seun om by ons huis om te gaan en die wol met oornagpos vir my te pos.

Ek het die R250 met liefde betaal – dit is wat The Courier Guy my gevra het vir die bolletjies wol om oornag gestuur te word.

Dinsdag is hulle teen 8 al by skoondogter om op te laai, dus is ek opgewonde, die wol gaan betyds wees.

Toe nie.

My oornagpakkie, wat ek Woensdag verwag het, het twee dae later eers na baie kwaai e-posse by my in Stilbaai aangekom.

Iewers het hierdie koerierdiens lelik agteruit gegaan. Ek gebruik hulle gereeld vir oornagpakkies na my dogter te stuur, en dit is altyd die volgende dag daar.

Woensdag wag ek vir die pakkie, dit was Woensdag oggend al in George. Geen pakkie daag op nie. Toe ek later bel, moet ek hoor: “Mevrou het vir oornag betaal ja?”

Natuurlik het ek, dit is wat ek gesê het toe ek gebel het.

“Dit neem 2-3 dae mevrou!”

Ek vra haar sommer net daar of sy weet wat oornag beteken. En sy weet blykbaar. Toe sê ek dat sy moet verduidelik, want volgens my beteken oornag ek kry dit die volgende dag. Nie twee dae later nie.

Ek bel toe vir George om te hoor Stilbaai gaan haal self hulle pos by hulle, en hulle het my pakkie nie die oggend opgelaai nie. Dit is nou die pakkie waarvoor ‘n fortuin betaal is om dit oornag te kry.

Donderdag bel ek weer, net om te hoor my pakkie is steeds in George, dit sal eers Vrydagoggend opgelaai word, moet ek hoor toe ek Stilbaai bel.

Ek was rasend, ek het die wol dringend nodig, dit is tog waarom mens vir oornagpos betaal? Ek sê ook dat ons weer op pad huis toe is, en dat hulle my pakkie op eie koste al die pad terug sal moet vat as ek nie meer daar is nie.

Vrydagoggend kry ek e-pos, my pakkie het George verlaat. Ek bel, versoek dat ek onmiddellik gebel word as die trok by hulle opdaag, ek kom dit self afhaal, hoe laat gaan die trok daar wees?

Twaalfuur.

Tien voor twaalf bel ek weer, is die trok daar?

Dit is en ons ry dadelik na die kantoor toe. In die kantoor is ry mense wat pakkies wil stuur. En toe word ek gebel. My pakkie is daar …

Ek antwoord toe dat ek in die winkel is, en word dadelik gehelp!

Terug by die huis maak ek eers kos, en toe jaag ek teen die wind, die blou truitjie se rib vat toe baie lank. Ons moet 5 uur by hulle wees en dit is ‘n halfuur weg.

Vyfuur kom ons weg, met drie voltooide truitjies in die sak.

Ek het die hele week nie gekla ek wil see toe gaan nie, dit was vrek koud, daardie koue met die wilde see het die Kaap mos getref toe ons daar was. En die Sondag op pad huis toe het die wind ons al die pad terug aangejaag …

Iedergeval, my kleinkinders se gesiggies toe hulle die truie kry, was die moeite werd. Hulle was so opgewonde, kon nie glo dat ouma die truie klaar het nie. Middelste sê hy wou eintlik moue ook hê, en ek verduidelik vir hom moue is in die pad as seuntjies lekker wil speel.

Hulle pappa is net so opgewonde soos hulle, hy het by ons in Gauteng gekuier toe ek besig was om te brei. Dit is volgens hom “old school” en hy wil assebleif ook ene hê.

Toe ek weer sien, is ek in die ding, mits hy verstaan dat ek met dik wol brei. Ek gaan nie so ‘n groot ene met dun wolletjies brei nie!

Dogter waarsku, ma sal self moet meet. Sy het gesukkel, wat sy moes meet waar ek vergeet het om te meet.

Dit was so lekker om die truie oor te gee, ek sal elke keer weer brei as hulle vra!

Wanneer ek truie brei, brei ek die twee pante saam, ek het net nie tyd om die hele tyd seker te maak dat pante ewe lank is as ek apart brei nie. Op die ronde naalde (100 cm) is dit maklik. Dan brei ek ook patrone, soos kabels, want dit help om my te laat voel dat ek vorder as ek die 8ste ry die kabels moet vou. Die truie het agter ‘n mengsel van regs en aweregs steke sodat die truie invou by die aewersgedeeltes en kan uitvou soos hulle groei. Dat die truie darem langer as een jaar hou. Hulle groei soos bome wat kunsmis gekry het – baie!

So lyk die truie, ek sny hulle gesiggies uit, deel nie foto’s van hulle hier nie.

Die truie is netjies vasgewerk, en baie vinniger en makliker as wat ek met ander kleinkind se truie gedoen het. Wou mos na video kyk en nie net die vrou vra wat my leer brei het nie! Ek, wat glo dat mens by ander leer, dan soek ek aanwysings op Youtube!

Ek lief hierdie drie seuntjies so baie, dit is pret met hulle om my. Maak my lewe ryk.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Kleinkindpret: As kleinkinders truie vra …

  1. I started with a woollen cap for my youngest granddaughter, then her brother wanted one Then my daughter asked for one and later her husband wanted one too Then one of my brothers saw what I was doing and wanted one too … it is such a pleasure to knit for those who appreciate the effort and the love. I have since knitted blankets for each of my four grandchildren and am thrilled to see the well-used 🙂

    Liked by 1 person

        1. Hi, jy gesels groot dinge vandag, want dit het teer raakpunte. Ek het op ‘n keer klere vir ander vrouens gemaak, ook vir bekende prof wat so gereeld op die TV is – se vrou wat bestellings geplaas het. Fancy rokke, maar soveel moeite dat ek dit nie meer wou doen nie. Dit moes nommer pas sit, dan meet ek, maak en word sy maerder in die tyd – en laat weet my sy hoop dit gaan pas, want sy het gewig afgeskud. Dan moet ek afvat en gaan stik, om weer by haar te kom dat dit baie knap pas omdat sy weer gewig aangesit het. As ek maak, wil ek die plesier in die persoon wat kry se gesig sien – of hy of sy betaal of verniet kry. En as ek dit nie sien nie, wil ek nie weer deur die kreatiewe proses gaan nie … nie vir die betrokke persoon nie. Dalk om te maak en by ‘n mark te verkoop?

          Liked by 1 person

          1. Ek dink dis braaf om vir ander mense klere te maak (ek het baie respek vir naaldwerkers asook haarkappers). ‘n Vriendin van my maak die mooiste gehekelde opgestopte diertjies wat sy by markte verkoop en sy’s mal daaroor om dit te doen (en die kopers ‘love’ dit). Maar dis harde werk, veral as jy ook ‘n ander werk het … my opinie is altyd dat jou stokperdjie nie ‘n las vir jou moet word nie en dat jy dit moet geniet.

            Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.